|
LIFELINE BACK TO THE BIBLE
Slagoffer van grootste Sekte
www.jesus-is-lord.co.za consists also of Lifeline Back to the Bible & Old Landmarks (3 websites in one)
|
|
|
IS U 'N SLAGOFFER VAN DIE GROOTSTE SEKTE IN SUID-AFRIKA? ALLE BELANGSTELLENDES MOET ASSEBLIEF MET DIEONTVANGS VAN HIERDIE BOEK SOVEEL AS MOONTLIK EKSEMPLARE AFROL EN VERSPREI. INDIEN ALMAL HELP, SAL DAAR SPOEDIG DUISENDE EKSEMPLARE IN OMLOOP WEES.
INHOUDSOPGAWE
INLEIDING
3.1 DIE ROWERSPELONK SE VALS LEERSTELLINGS
3.2 KOLLEKTANTE
3.3 MEVROU-DOMINEE
3.4 HUURLINGE
6. 'N GESPREK MET PETRUS BY DIE HEMELPOORTE
14. SLOT
TERME:
Die volgende terme moet in gedagte gehou word wanneer hierdie werk deurgelees word:
1. Huurlinge
Dit is volgens Jesus valse herders wat nie die skape lei nie, maar verlei (Johannes 10:13).
2.Rowerspelonk
Dit is valse kerke wat deur huurlinge beheer word en waarin die evangelie nie verkondig word nie, maar dwalinge.
3. L.S.S
Dit staan vir die "ligsensitiwiteitsindroom" en verwys na persone wat nie vir die waarheid lief is nie.
4. Konstanyinisme
Konstantyn het die kerk met heidense filosofieë vermeng en die ware kerk van Christus geweldige skade berokken.
5. Verlore skape
Dié skape verwys na ongeredde mense wat huurlinge volg en in rowerspelonke 'n tuiste vind.
6. Vormgodsdiens
Dit is godsdiensbeoefening sonder 'n persoonlike verhouding met die Here Jesus. Dit is ook vormaanbidding gepaardgaande met dooie rituele wat sondaars uiters frustreer.
7. T.A.S
Dit staan vir die Twak-en-Alkohol-Sindroom
8. W.R.K.
Dit staan vir die Werklike Rigtinglose Kerk of Wêreld Raad van Kerke. Alle vervalle kerke sal eersdaags daaraan moet behoort. iv
VOORWOORD
Suid-Afrika is in 'n krisis van geweldige omvang gedompel. Oral word die fondamente van die Christelike beskawing omver gewerp, sonder dat enige noemenswaardige weerstand teen die proses van verval gebied word. Dit is ongelooflik hoe willoos en kragteloos ons volk geword het om die weg van die Here te bewandel en standpunt teen die magte van die duisternis in te neem. By nadere ondersoek is dit heel gou duidelik waaraan die gebrek aan geestelike motivering toegeskryf kan word - ons volk is soos nog nooit tevore nie die slagoffers van 'n dooie vormgodsdiens. Die siel van die volk het koud, afsydig en visieloos geword, en is nou besig om in sy binneste te sterf. Weens sy geestelike bankrotskap het die Afrikanervolk en die meeste van sy kerke en teologies kweekskole in 'n toestand beland wat deur die Bybel as "ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak" beskryf word (Op 3:17).
Wat die probleem nóg erger maak, is die gevaarlike tydsgewrig waarin ons leef. Volgens die tekens van die tye is ons reg aan die einde van die kerkdispensasie, en kan die hemelse Bruidegom enige tyd sy bruidsgemeente kom haal (Joh 14:2-3). Juis nou dat ons sterk moet staan, het die duiwel deur sy jare lange aftakelingsproses 'n toestand van geestelike bedwelming geskep waarin hy kans sien om nie net hierdie volk nie, maar ook die hele wêreld oor te neem, te regeer en te dwing om hom te aanbid. Hy daal met dubbele woede neer en wag net vir die gunstige oomblik om 'n noodlottige uitklophou op sy verwarde en kragtelose teëstander te plant.
In hierdie donker uur van die wêreldgeskiedenis laat die Here Homself, soos in die verlede, nie onbetuig nie. In 'n tyd van verskriklike verval net voor die sondvloed, was Noag die prediker van geregtigheid om God se oordele oor 'n goddelose wêreld aan te kondig. Hy het ook uitredding vir die regverdiges verkondig, maar daar was net agt wat waardig was om die oordele te ontvlug. In die tyd van Lot het net drie persone die vernietiging van Sodom en Gomorra ontvlug. Eeue later, in 'n tyd van soortgelyke afvalligheid en rebellie teen die Here, het Elia gedink dat hy alleen as 'n man van God oorgebly het. Te midde van die algemene verval en kompromie met die afgode was daar egter nog seweduisend manne wat die knie voor Baal nie gebuig het nie. Dit was 'n baie klein minderheidsgroep. Vervul met die Heilige Gees het Elia opgestaan, die 850 valse profete openlik gekonfronteer en die afvallige volk tot 'n nuwe oorgawe aan die God van hulle vaders opgeroep (1 Kon. 18:19-21).
Ons leef in tye wat deur die Bybel as soortgelyk aan dié van Noag en Lot beskryf word (Luk. 17:26-36). Ons kan verwag dat ons in hierdie haglike toestand van geestelike en morele verval op 'n baie duidelike wyse die waarskuwende stem van die Here sal hoor. Hy sal ons deur getroue getuies van Hom ernstig tot bekering oproep as ons die toorn wat aan die kom is, wil ontvlug. Tydens die eerste koms van die Here Jesus was die volk Israel ook in groot geestelike duisternis vasgevang. Toe het die Here vir Johannes die Doper gestuur om hulle tot bekering op te roep en teen die oordele van God te waarsku. Hy was nie Elia nie, maar hy het sy bediening teenoor sy volk in die gees en krag van Elia vervul (Joh. 1:21; Luk 1:17).
Elia was 'n spesiale profeet wat man alleen deur God gebruik is om in 'n donker tyd van afvalligheid sy volk na Hom terug te roep sodat hulle die ewige oordeel oor sondaars kan vryspring. In hierdie opsig was hy vir sy volk 'n beskutting teen die aanslae van die koninkryk van die duisternis, en in die besonder ook teen die heidense volke rondom hulle. Toe Elia in 'n storm na die hemel weggeruk is, het Elisa uitgeroep: "My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!" Elia was vir Israel meer werd as al hulle strydwaens en ruiters. Sonder 'n hoë geestelike peil sou die volk nie voor hulle vyande kon standhou nie, en sou hulle weermag nie die oorwinning in eie krag kon betaal nie. Daar moes 'n man van God wees wat aan hulle in duidelike taal die weg tot verlossing kan verkondig.
In 'n nog donkerder tyd wat vir Israel in die komende groot verdrukking voorlê, sal Elia na hulle teruggestuur word: "Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie" (Maleágie 4:5-6).
Die Here het al verskeie profete soos Elia in die wêreld uitgestuur - ook na baie ander volke. Omdat hulle so 'n kardinale rol in tye van hewige aanslae van die magte van die duisternis gespeel het, is hulle ná hulle heengaan geweldig gemis. Nadat die Here vir Elia weggeneem het, het Elisa spoedig voor die groot probleem van 'n vol Jordaanrivier te staan gekom, en uitgeroep: "Waar is die Here, die God van Elia?" (2 Kon. 2:14). Hierdie vraag is eintlik onnodig, want die God van Elia is nog altyd daar en naby aan elkeen wat Hom aanroep. Hy het ook nie verander nie, want Hy is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. Die vraag behoort te lui: "Waar is die Elia van God?" Die Here soek 'n man wie se hart onverdeeld op Hom gerig is, sodat Hy deur hom tot die volk kan spreek en die groot dade van sy verlossingswerk bekend kan maak. Hierdie man moet in die bres staan en die volk ernstig teen dreigende gevare waarsku.
In die uur van ons benoudheid moet ons na die Here soek, maar ook na sterk geestelike leiers wat die weg uit ons dilemma vreesloos kan aandui. Ons kan ook vra: "Waar is die Elia van God? Waar is die Jeremia, die Daniël, die Paulus en die Petrus van God?" In 'n meer moderne konteks kan ons vra: "Waar is die John Wesley, die Dwight Moody, die Charles Finney en die Andrew Murray van God?" Mag die Here vir ons herders en leidsmanne stuur wat nie 'n oomblik sal huiwer om die probleme in ons land en volk vierkantig in die gesig te kyk nie, die valse profete te ontmasker en van hulle trone af te ruk, en die oplossing vir ons krisis van die dakke af te verkondig sodat elkeen dit kan hoor!
Elke volk in die wêreld het sy eie kenmerkende dwalinge. Soms is dit valse godsdienste soos die Oosterse en Afrika-gelowe, soms is dit Christelike sektes soos die Rooms-Katolisisme, en in ander gevalle weer vervalle Protestantse kerke met 'n lewelose vormgodsdiens wat oppervlakkig reg klink, maar in werklik net 'n leë dop is wat met verloop van tyd vol dwaalleringe geprop word. In die Afrikanervolk se geval is dit laasgenoemde. Ons het 'n Elia nodig om ons teen die verderflike geestelike gevare van vervalle Protestantisme te waarsku. Kerke van hierdie aard is kwantitatief die grootste sektes in ons land, omdat die meeste lede van ons volk deur hulle in 'n onwedergebore toestand na die poorte van die hel begelei word. Kwalitatief mag daar sektes wees wie se dwalinge op papier erger klink, maar hierdie "groot" sektes eis by verre die grootste tol aan mense-siele in ons land, daarom moet die aandag byna uitsluitlik op hulle toegespits word.
Die skrywer van hierdie boek stel homself as "Elia" voor. Dit is inderdaad wat hy deur God se genade vir die Afrikanervolk wil wees. Ek ken hom al baie jare lank as 'n evangelis en apologeet wat geen kompromie maak en nooit huiwer om die volle waarheid te verkondig nie. Hy het die evangelie binnelands al in talle dorpe en stede en konferensiegronde verkondig, asook in die buiteland. Aan die Here al die eer vir die seën wat op sy bediening rus. Die kontak en ervaringe wat hy met 'n groot aantal predikante van verskeie kerke gehad het, het nie in 'n hoek gebeur nie, en is dus nie 'n veralgemening van slegs enkele insidente nie. Hy gee volle erkenning aan die uitsonderings wat daar is, maar stel sy saak met groot oortuiging dat die meerderheid totaal vervalle is, en vinnig besig is om die skip te sink.
Elia se raad aan elke lid van hierdie volk is kort, saaklik en baie ernstig: Maak jou saak met die Here reg, staak alle bydraes aan valse profete, verlaat dadelik die sinkende skip van vormgodsdiens, en dien die Here in opregtheid van hart saam met ander weergebore Christene. Ek onderskryf hierdie raad ten volle. Enkele Bybelse uitsprake ter ondersteuning van 'n strategie van hierdie aard is die volgende (beklemtoning my eie):
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards...mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af" (2 Tim. 3:1-2, 5).
"...mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense" (1 Tim. 6:5)
"Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk" (Titus 1:16).
"Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem" (2 Kor. 6:17).
Die grondslag van die Bybelse verlossingsleer is wedergeboorte. 'n Kerk wat dit nie duidelik verkondig nie en dié leer deur die kinderdoop ('n formalistiese verbondsteologie), uitverkiesing en aanneming vervang, is 'n valse kerk wat teologies op dryfsand gebou is. Die Here Jesus sê: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh 3:3). Geen werke-heiligheid, 'n goeie lewe, kerkbywoning of bydraes aan die kerk kan die plek hiervan inneem nie: "...nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees" (Titus 3:5). Kan u hiervan getuig en oorheers dit die geestelike klimaat van die kerk waarin u die Here dien? Lees hierdie boek aandagtig deur en verantwoord uself voor die Here.
Moenie voor die versoeking swig om Martin Gunther se boek as veroordelend of foutvinderig af te skryf en te ignoreer nie. Die ewige heil van u siel is op die spel, en genadetyd is vinnig besig op uit te loop. So dikwels in die geskiedenis is God se profete kwaai gekritiseer en vervolg as hulle die volk en sy afvallige leiers op die sondes wys, terwyl die valse profete gewoonlik skotvry kom. Elia van ouds het dit ook ondervind: "En net toe Agab Elia sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het en agter die Baäls aan geloop het" (1 Kon. 18:17-18).
Die bouers van ons volk het die hoeksteen Jesus Christus verwerp, en bou nou hulle regeringstelsel, onderwys en samelewingsorde op die bedrieglike sand van humanisme, terwyl hulle ook geen eerbied vir die dag van die Here het nie. Hulle heul met die valse godsdienste en kry geen teenstand op teregwysings van die vervalle protestantse kerke nie. Hulle het hierdie volk in beroering gebring, en sal noodwendig na die liefdevolle vermaninge én die bestraffinge van die Here moet luister.
Ek sluit hierdie voorwoord met die woorde af wat Paulus teenoor 'n vervalle en kompromiemakende gemeente uitgespreek het, en hoop dat u sal insien dat 'n valse profeet wat sy gemeentelede bedrieg, ter wille van ander onvaste siele in die openbaar 'n vervloeking genoem moet word:
"Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!...Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie 'n dienskneg van Christus wees nie" (Gal. 1:5-10).
Prof. J.S. Malan Universiteit van die Noorde
INLEIDING
Terwyl die God van alle heerlikheid die ganse heelal vir die persoonlike wederkoms van Jesus Christus in gereedheid bring, is daar 'n loflied in die harte van alle weergebore kinders van God. Enersyds; omdat hulle burgerskap in die hemele is en andersyds; omdat hulle hierdie dinge sal "ontvlug" om voor die Seun van die mens te staan. Hulle sal uit die uur van beproewing bewaar word wat oor die hele wêreld kom. Hulle is dankbaar om hemel toe te gaan, omdat dit 'n plek is waarin geregtigheid woon en geen valse profete sal ooit daarin kom nie. Hulle onuitbluslike verlange na Jesus Christus is nie slegs vanweë die feit dat hulle die boosheid wil ontvlug nie, maar om Hom te aanbid wanneer Hy sal kom om verheerlik te word deur al sy heiliges.
Die Rots van die eeue het dwarsdeur die geskiedenis onwankelbaar op sy eie beloftes gestaan dat Hy sy beloofde kerk sal uitruk uit 'n ellendige toestand. Hierdie toestand word sonder enige twyfel deur Lukas en Paulus beskryf:
"Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan". (Lukas 21:36)
"Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang". (1 Tim 4:1)
Alhoewel die huidige afvallige geestelike toestand 'n ongelukkige werklikheid is, veroorsaak dié toestand tog dat God se kinders meer verlang na die dag wanneer die môrester sal opgaan in hulle harte. Die ganse wêreld, veral die weste, wat gebuk gaan onder vervalle protestantisme, word meer as ooit tevore na die dood gesleep en wankel na die slagbanke. Die wêreld en sy begeerlikheid gaan verby, maar hy wat die wil van God doen, sal vir ewig by God woon. Die vriende van die wêreld en vyande van God hou nie rekening met die dag van afrekening nie. God het 'n Man aangestel wat die wêreld in geregtigheid sal oordeel, en dan sal alle duistere dinge aan die lig kom. Verborge sondes sal geopenbaar word; ook die bedoelinge en gedagtes van die hart. Gelukkig is die siel wat in daardie dag kan sê: "my sonde is vergewe en my skuld is versoen". Die goddelose wat sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes, sal vergifnis ontvang van Hom wat sy Seun in sy bloed voorgestel het as 'n versoening vir ons sondes.
Ons beleef 'n tyd van groot afval waar reg verkeerd is en verkeerd reg. Die skrywer sal deurgaans in die boek na "Elia" verwys wat die praatwerk doen, maar beskou homself nie as die profeet Elia of enige O.T. profeet nie. Tog is hierdie werk in 'n sin 'n profetiese bestraffing om die gruwels wat verwoes, te stop. Of hierdie apologetiese werk daarin sal slaag of nie, sal alleen in die ewigheid uitgewys word. Ondervinding in hierdie donker uur toon dat valse profete en valse kerke aan die orde van die dag is en dat verandering op geestelike gebied onwaarskynlik is. Mense word nou meer as ooit tevore rondgeslinger deur elke wind van lering. Dowwe lamppitte sal in sekere gevalle nooit weer brand nie en geknakte riete word deur sommige winde van leringe heeltemal verbreek. Dank God daar is nog genade in die hemel en balsem in Gilead. Hy klop nog steeds aan sondaars se harte en die bloedfontein van Golgota sal nooit opdroog nie. Dit is ook onteenseglik so dat God se genadedeure een na die ander toeklap soos sondaars alle reddende genade wegsondig. Dan word bewaarheid wat deur die profeet Eségiël en die apostel Paulus geskryf is:
"En as 'n profeet hom laat verlei om 'n woord te spreek - Ek, die Here, het die profeet verlei,...". (Eségiël 14:9)
"En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,...". (2 Thes. 2:11)
Die skeptici moet hierdie werk nie as 'n poging beskou om kerke aan te val nie. Want sodra 'n persoon die basuin van God se toorn blaas, die oordele wat aan die kom is aankondig en valsheid uitwys, dan word so 'n gehoorsame dienskneg van God gewoonlik beskuldig en vervolg. Elia het nog nooit 'n pik, hamer en beitel geneem, 'n kerk bestorm, die mure begin stukkend kap en sodoende "kerke aangeval" nie. Hierdie is 'n suiwer apologetiese werk voortspruitend uit 'n gemoedstoestand van baie kinders van God wat nie langer die gruwels van verwoesting kan verduur nie. Dit is die bede dat dié werkstuk duisende mense se oë sal oopmaak, sodat hulle betyds die dood in die pot sal sien.
Die groot afval in kerke móét aangespreek word - almal kan nie altyd daaroor swyg nie. Indien niemand dit aanspreek nie, sal dit beteken dat alles maar goed en wel is. Alle sonde sal verskoon moet word en die vervalle kerke sal daardeur 'n regmerkie kry om voort te gaan met dinge wat deur die Here gruwels genoem word.
Sterker uitsprake sal nie in hierdie boek voorkom as in die Bybel en in die kerkgeskiedenis nie. Jesus noem die Fariseërs "slange" en 'n "addergeslag" - Christus was tog nie sarkasties, hard of liefdeloos nie. Toe Marcionus vir Polykarpus op straat ontmoet en vir hom vra of hy hom herken, toe antwoord Polykarpus: "Ja, ek herken jou, jy is die eersgeborene van Satan".
Die skeptiese leser moet dus nie skuil agter argumente soos: "uitsprake is te reguit", "outokraties" of "hard" nie. Jesus, Polykarpus en duisende ander het slegs die regte beskrywing gegee wat by die betrokke persoon of organisasie pas. Elia gaan nie so ver om mense honde te noem nie; tog het Paulus die Fariseërs "honde van die versnyding" genoem (Fil. 3:2). Elia wil ook nie ketters met blindheid slaan soos Petrus en Paulus gedoen het nie, maar as dit moontlik is, hulle oë open.
Hierdie werk is onweerlegbare feite wat saamgevoeg word om 'n globale prentjie aan die leser te gee van die grootste sekte tans in S.A. Die subtiliteit en misleiding van die kerk word aan die lig gebring, sodat God se kinders kan vlug vir die oordeel wat aan die kom is. Geen naam word genoem nie en geen aanduiding behalwe kenmerkende sondes word uitgewys nie. Die kerk hoef dus nie op die naam genoem te word nie, want die merktekens van goddeloosheid sal vanself die naam uitspel. Hierdie werk is ook 'n betoog teen 'n volk wat deur die kerk begrawe word en wat tans deur misleiding ons boerevolk deur onkunde ten gronde rig.
Die deurmekaargees in die land, laat Elia aan 'n storie dink wat hy gehoor het: 'n Man het met sy stroper gewerk toe hy per ongeluk tussen die lemme beland en dit sy neus afsny. Hy het gelukkig sy neus in die hande gekry dit weer op sy gesig terug geplak. Met groot welslae het sy neus vasgegroei, maar ongelukkig het hy dit verkeerd vasgeplak en nou het dit onderstebo geheg met sy neusgate na bo. Dit het toe twee probleme tot gevolg gehad; as dit reën dan verstik hy en as hy nies dan waai sy hoed af. Net so is baie dinge onderstebo en deurmekaar as gevolg van die valse kerke in Suid-Afrika.
Hierdie boek sal nie alles regstel nie, maar ons vertrou dat God wat mag het oor dood en lewe hierdie werk sal seën, sodat talle onvaste siele verlos sal word uit die mag van die duisternis. Indien rasionele preke en oortuigende argumente nie meer help nie; dan kan 'n paar skokke dalk sommige oningeligtes tot stilstand ruk. Indien Christene die bloedbelope geskiedenis gade slaan en die skrikwekkende smarte van vormgodsdiens begryp, sal baie meer "helde van die kruis" hulle swaarde uittrek om die stryd tegemoet te gaan. Baie losgekooptes sal dan verstaan waarom 'n werkstuk soos hierdie belangrik is.
Martin Gunther 1995
VORMGODSDIENS
"...mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af". (2 Tim 3:5)
Iemand het op 'n keer gesê dat 'n "groef en 'n graf dieselfde is - net die diepte verskil". Vormgodsdiens is soos Paul Kruger se beeld op Kerkplein; dit lyk soos Kruger, maar dit is nie hy nie. Huurlinge is gedurig besig om onvaste siele in 'n godsdienstige vorm te giet wat niks met God en sy onsigbare kerk te doen het nie. 'n Dooie "letter" lei na 'n dooie harde vorm sonder lewe. Dooie predikante produseer dooie lidmate. Omdat 'n duidelike bekeringsboodskap in hierdie afvallige uur ontbreek, sal daar ook nie ware bekeerlinge wees nie, maar legio plaasvervangers. Dit sal later onder die leerstellings van die vals kerk bespreek word. Vormgodsdiens vergelyk baie goed met die vorm van dooie fossiele.
Fossiele is in die eerste plek dood. Dit het nog steeds die vorm van plante of diere, maar het lank gelede reeds gesterf en gefossileer. Dooie predikante produseer fossiele en dié mense kom gewoonlik nooit by God uit nie, terwyl hulle hardheid intensifiseer. Vormgodsdienstige kerke en - predikante, dra almal die "reuk van die dood tot die dood" in hulle preke en gebede. Geen lewe kan gegenereer word nie omdat huurlinge geen lewe het nie. Hulle onbekeerde harte en dwalinge is dinge wat die Heilige Gees verdring, want Hy werk nie deur onrein kanale nie. As God se Gees afwesig in die fossiel-kerke is, hoe is dit moontlik dat kinders van God daar 'n tuiste vind? Doodsheid is dus 'n kenmerkende eienskap van vormgodsdiens.
Koudheid is nog 'n kenmerkende eienskap van fossiele en vormgodsdiens. Enige iets wat dood is, is koud. Die huurlinge, of "ysige gawe kêrels", reproduseer mense wat koud staan t.o.v. God se dinge. Hulle yskoue antagonisme bots met die warm gesindheid van God se Gees en sy kinders. 'n Fossiel is koud - al het dit eens lewe gehad, het dit nou net 'n koue dooie vorm van iets wat lank terug warm was. Indien Elia hierdie mense probeer evangeliseer, kry hy koue antwoorde, 'n koue skouer en yskoue "gawe" fossiele. Hulle sê gou dat hulle 'n predikant het, asook 'n kerk en 'n "God" en is heeltemal tevrede met hulle geestelike lewe. Hierdie mense sal eendag, indien hulle nie gered word nie, hulle koudheid hier op aarde moet verruil vir 'n vuurwarm ewige hel.
Hardheid is nog een van die kenmerke van 'n fossiel-godsdiens. Nadat beelde in 'n vorm gegiet is, koel dit af en verhard. Die klipharte van sondaars maak dit onmoontlik om te buig voor die Almagtige God van hemel en aarde (Spr. 29:1). Totale liefdeloosheid en hardheid is die kenmerkende eienskap van verharde vormgodsdienstige sondaars of huurlinge. Hierdie harde vorm-beelde is die produk van jare se gehamer deur huurlinge dat sondaars met al hulle sonde hemel toe kan gaan. Hoe meer die huurlinge sonde regverdig en alternatiewe vir die wedergeboorte bied oor hoe die verlore skape in die hemel sal kom, hoe meer intensifiseer die verhardingsproses.
Die huurlinge se lidmate is net so onaktief soos koue fossiele. Hierdie stagnante kenmerk van vormgodsdiens beteken nie dat die fossiele niks doen nie. Hulle werk hard by die kerkbasaar om geld vir die huurlinge se groot salarisse in te samel. Kollektante werk ook hard om huisbesoek te doen, al lees hulle nie uit die Bybel of bid nie, maar kollekteer nog geld om sommige huurlinge se sigarette en dobbelarye te finansier. Dit word die twak-en-alkohol-sindroom genoem. Hulle sal alles doen, behalwe om te getuig en siele vir God probeer wen. Hulle weet hoe om 'n sondige organisasie aan die gang te hou en dien 'n kerk, maar nie die Here nie.
Hierdie vormgodsdienstige fossiele wil graag in museums of vertoonkaste wees. Alles in die kerk moet van die duurste en die beste wees. Hulle hou van groot eksotiese kerke met geleerde predikante. Sondag se modeparade, gepaardgaande met hulle hardheid en boosheid, maak van die kerk 'n woonplek van allerhande onrein geeste. Die kerke het meesterlik daarin geslaag om mense droog te melk vir hulle geld om dit in duur geboue te belê wat alles tot niet sal gaan. Die vormgodsdienstiges wat op tydelike en geestelike gebied deur sondige maatskappye beroof word, is doodtevrede om elke Sondag hulle museums te besoek.
Is dit nie tyd om hierdie stelsel die stryd aan te sê nie? Behoort 'n kerk 'n museum of hospitaal vir sondaars te wees? Lidmate van 'n kerk behoort gered te wees en sondaars moet in so 'n kerk hulp ontvang om ook gered te word. Die groot Diana van vormgodsdiens móét nou val. Die ernstige en verbete stryd van die onderwêreld moet oorwin word en God se kinders moet ten alle koste vormgodsdienstige kerke vermy.
HOOFSTUK 2
DIE GESIG VAN SATAN
Die gesig van Satan weerspieël die absolute teenoorgestelde as die voorbeeld van die Here Jesus Christus. Die wêreld, wat in die mag van die bose lê, het sondaars so geweldig gekondisioneer dat hulle nie die gesig van Satan herken nie. Dit is ongetwyfeld so dat almal wat swart pakke dra en op kerkraadsbanke sit of op kansels staan, nie kinders van die duiwel is nie. Net soos daar valse profete is, só is daar ook ware profete. In dieselfde asem kan gesê word dat talle kansels en kerkraadsbanke deur demone beset word wanneer daar na die geestelike toestand van S.A. gekyk word. Dit is nie Elia se plig om indiwidue te oordeel nie, maar om die algemene globale geestelike verval uit te wys. Indien die basuin nie duidelik geblaas word nie, hoe sal die mense gewaarsku word teen die oordeel wat aan die kom is?
Die voorkoms van Satan is 'n weersinwekkende gesig wat die genadelose aanslag van die vyand van mense-siele sinnebeeld. Dit is duidelik dat die enigste wapen teen die vyand se aktiwiteite die Woord van God is. Net soos in N.T. tye, poog die mensemoordenaar nog steeds om sondaars te verhinder om die evangelie te hoor. Die vyand het verskeie strategieë: eerstens word die flikkerende liggies van die wêreld só aantreklik gemaak dat dit vir ongeredde mense onweerstaanbaar is. Andersyds word die evangelieboodskap so vertroebel dat geen sondaar lig daarin sien nie. Lig het nou duisternis geword. Om meer mense binne die valse kerke te kry en uit die hemel te hou, moet 'n "ander evangelie" en 'n "ander Jesus" verkondig word. Geen bekeringsboodskap, geen sondeprediking en geen N.T. standaard word voorgehou nie en sondaars word deel van 'n kerk, omdat hulle "gedoop" of "aangeneem" is. Die kruiswerk van Jesus Christus is nou oorbodig, omdat die vals kerk se priesters, want hulle togas verteenwoordig die priesterkleed van die Rooms-Katolieke Kerk, die saligheid aan mense gee deurdat hulle gewone kraanwater op hulle voorhoofde sprinkel. Dit moet darem duidelik gestel word dat daar predikante is wat babas besprinkel en geen saligheid daaraan heg nie en self teen alle vorme van boosheid gekant is. 'n Mens kan nooit veralgemeen nie.
Die vals priesters, of huurlinge van die vals kerk, streel aanhoudend hulle luisteraars se gehoor en preek vrede, terwyl daar geen vrede is nie. Hulle slaag meesterlik in hulle doel, omdat die god van hierdie wêreld die sinne van die mense verblind, sodat die heerlikheid van Christus nie op hulle sal skyn nie. God moet nie beskuldig word dat Hy hierdie sondaars nie uitverkies het nie, maar valse profete wat sondaars mislei. Indien daar gesê word dat God hierdie siele vir die hel uitverkies het, sal God 'n medewerker van Satan sowel as van die huurlinge word! Elia dink dit is skrikwekkend om selfs aan so iets te dink.
Miljoene onskuldige siele wat na die waarheid gesoek het, het gou in kettings van dwalinge verstrengel geraak a.g.v. die vals leringe van sekere kerke. Die voetspore van huurlinge wat gevolg word, het hulle na afdraaipaaie gelei. "Daar is 'n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood" (Spr 14:12). Blinde leiers het daarin geslaag om die hedendaagse vormgodsdiens, of gesig van Satan, vir die luisteraars so fraai te skilder dat hulle dit as die egte aanvaar! Nie eens 'n Rembrandt of Van Gogh sal hulle 'n les op dié gebied kan leer nie. Die verskrikking van die hel en die werklikheid van Satan is uit die weg geruim deurdat 'n paar huurlingprofessore die bestaan van die hel en duiwel ontken het en die realiteit van Satan as 'n mite voorgehou het.
Mag God die masker van die duiwel aftrek en die leuen in sy naakte vorm aan soekende siele openbaar. God is getrou, Hy sal dit ook doen. Jesaja sê:
"Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos 'n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes". (Jesaja 58:1)
Lukas sê:
"Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom (towenaar) gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?". (Hand 13:9-10)
Sal ons Jesaja en Paulus van verkeerde motiewe verdink? Is hulle nou besig om te "oordeel" of om die werke van die duiwel oop te trek? Is hulle uitsprake nie te reguit of te hard nie? Elia dink, sonder om enige verduidelikings te gee, dat beide skrywers deur die Gees geïnspireer is.
Elia dink dit is genoeg - die gesig van Satan is nou duidelik sigbaar en niemand sal enige verskoning in die oordeelsdag hê nie. Indien die leser nog nie verstaan nie, is Elia seker dat daar met die verdere lees van die boek duidelikheid verkry sal word. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê.
DIE BEKENDE KERKE
Elia het deur sy ganse lewe 'n weersin in enige vorm van valsheid en kompromie gehad. Deur die jare het hy die kerkklokke hoor lui wat sê: "Kom sondaars, kom kerk toe - bring geld saam". Deur die jare moes Elia voor sy bekeringsdae luister hoe sy vriende saam met diakens "'n dop vat" as hulle "huisbesoek" doen. Elia moes aanhoor hoedat 'n huurling 'n buite-egtelike verhouding met 'n kerkraadslid se vrou gehad het. Daar was ook 'n geval waar 'n huurling onder die invloed van drank deur een van sy eie gemeentelede gevang is. By 'n boeredag het 'n ander huurling ingestaan toe die kroegman op etenstyd gegaan het. Al hierdie skokke en nog duisende ander het die prentjie van 'n vals kerk (rowerspelonke) al hoe duideliker begin skilder. Die skildery is nou lankal reeds voltooi en daar bestaan genoeg gruwels in die gewetens van mense om dié kerke te identifiseer. In die beskrywing van die vals kerk, moet die leser enige kerk wat aan die kenmerkende sondige vereistes voldoen, eerstens identifiseer. Daarna moet hy/sy hulle toevlug òf na God neem en vlug vir die oordele, òf hulle gewetens verkrag en kerkbanke van frustrasie blink vryf.
3.1 DIE ROWERSPELONKE SE VALS LEERSTELLINGS
Al die lidmate van vals kerke (verlore skape) gaan gewoonlik "almal hemel toe". Hulle kerk leer inderdaad dat kraanwater, wat in hulle kinderstadium op hulle voorkoppe uitgegiet is, hulle plek in die hemel sal verseker. Omdat almal "verbondskinders" is, beteken dit dat al die hoereerders, dronkaards, dobbelaars, leuenaars en derglike dinge in hulle midde, nie een lidmaat wat 'n "verbondskind" is diskwalifiseer sodat hy verlore sal gaan nie. Vanweë die feit dat die vals kerk haarself as die "kerk van Christus" op aarde beskou en elkeen wat gedoop en aangeneem "Christene" is, sal hulle almal aan gindse strand arriveer. Hoe lagwekkend of skokkend dit ookal mag klink, dit is die boodskap wat deur huurlinge gepreek word. Die een huurling-professor het, toe hy sy eie kleinkind gedoop het, gesê: "So griffel die potlood van God in die hemel wat sy naam in die boek van die lewe skrywe soos wat die water op sy voorkop val". Gewone kraanwater wat deur die munisipaliteit verskaf word, vervang nou die bloed van Jesus die Seun van God. Alhoewel lidmate van die kerk goeie opvoeding het, glo hulle die dwase leer dat water sondes kan wegwas. Toe Elia op 'n keer vir iemand vra "wanneer God sy siel gered het", toe gee hy sy doopdatum. Toe 'n verlore skaap sy huurling vra of hy dink dat hy gered is, sê die huurling: "voel die vogtigheid van die doopwater op jou kop!".
Elia stel voor dat verlore skape die vals kerk moet verlaat, omdat 'n ritueel niemand in die hemel gaan bring nie. Net die wedergeboorte deur God se Gees bewerk, sal verseker dat bloedgewaste siele vir ewig by God sal woon.
Om steeds te konsentreer op die saligheidsleer (soteriologie), moet dit uitgewys word dat die vals kerk kenmerkende nuwe era leerstellings onderskryf. Alhoewel dit nie amptelik deur die rowerspelonke as leerstellings gepreek word nie, glo verlore skape en huurlinge dat "elkeen op sy eie geloof salig word". Dit is 'n pragtige definisie van die nuwe era wat alle godsdienste gelykstel, en glo elkeen sal op sy eie besondere manier in die hemel kom. "Alle paaie lei na Rome" is 'n meer populêre verklaring van dieselfde dwaling. In werklikheid erken lidmate van vals kerke deur bg. stelling dat selfs hulle eie kerk saam met alle vals godsdienste almal dieselfde God dien. Feit is, dat niemand op sy eie geloof salig word nie. Sondaars word uit genade deur die geloof gered. Dit is immers God wat deur sy Woord en Gees geloof in harte werk en sodoende kan sondaars op sy roepstem reageer. Calvyn sal darem ontsteld wees as hy sou uitvind dat van sy volgelinge nou op hulle "eie geloof" saligheid verkry en nie deur die "uitverkiesing" nie. Hierdie "eie geloof" is 'n humanistiese begrip en ondersteun in werklikheid Pelagianisme. Geen wonder dat die vals kerk ook Islam as 'n aanvaarbare godsdiens beskou nie, want die Moslems glo ook aan "predestinasie".
Nog 'n bekende holrug-geryde rympie van die huurlinge se volgelinge is: "Jesus het dan water in wyn verander". Male sonder tal is probeer om Jesus tot die amp van 'n kroegman te verlaag en word die wonderwerk te Kana gebruik om dranksugtiges se sondes te regverdig. Die "wyn" wat Jesus gemaak het sal Elia ook drink, omdat dit ondenkbaar is dat die Seun van God 'n drankpartytjie sou goedkeur deurdat Hy alkoholiese drank voorsien het. Terwyl Bacchus wydsbeen op die nekke van talle dronkaards ry met oë wat soos padkaarte lyk, word Jesus ook ingesleep by 'n drinkery. Dieselfde gesindheid word by die Fariseërs gevind toe hulle Christus beskuldig het vir 'n "vraat en wynsuiper". Indien die verlore skape van huurlinge aangespreek word oor hulle drinkery, dan sing hulle nog 'n afgesaagde rympie: - "moenie oordeel nie". Terwyl die gemeentelike samekomste die heiligheid van God moet weerspieël, bedien sommige diakens die nagmaal met 'n drankasem. Die aaklige reuk van die vorige aand se drankpartytjie kleef aan sommige van hulle tydens die "erediens". Die huurlinge gee hoegenaamd nie om as lidmate drankwinkels het nie - hulle moet net asseblief hulle bydrae maandeliks aan die kollektante gee en so nou en dan ook ietsie wat in geskenkpapier toegedraai is aan die huurlinge skenk. Elia sal graag wou weet watter persentasie van die vals kerk se inkomste word uit die plaaslike drankwinkel aan die kerk geskenk? Die rede vir hierdie vraag is dat daar besonder baie sondaars in die vals kerk is wat drankwinkeleienaars is.
Elia was jare gelede gegrief toe hy 'n kroeg binne stap om die drinkers na 'n veldtog te nooi waar hy gepreek het. Hy het aan elke persoon 'n uitnodiging gegee asook vir die kroegman. Almal het plegtig belowe, of plegtig gelieg, om die dienste by te woon. Die kroegman, wat ook die eienaar van die hotel is, het dadelik na die predikant toe gehardloop met die woorde: "dominee, dominee, ons moet pasop, die sektes is in die dorp!". Die huurling was gou op sy pos om die verlore skape te waarsku om "nie die dienste van die sektes by te woon nie".
Elia kan ook onthou hoe hy in sy ongeredde dae op die grens in die weermag moes toekyk hoedat die huurlinge hulle besope drink aan die goedkoop drank van die S.A.W. 'n Mens wonder soms of dit nie 'n bydraende faktor gelewer het tot die oorhandiging van die S.A.W. aan die kommuniste nie? In plat Afrikaans kan mens sê dat sommige eertydse "predikante" van die weermag al suipende die "bediening" in is. Elia het self in daardie dae geestelike hulp by een van die huurlinge gesoek. Die huurling met 'n bloedrooi brandewynneus kon nie vir Elia in sy onbekeerde dae help nie.
Die huurlinge van die vals kerk preek nou, terwyl die ganse wêreld in anargie verval, dat ons tans in die millennium lewe. Hulle leer dat ons 'n Utopia (gelukstaat) tegemoet gaan en "dat alles reg sal kom". In werklikheid nader ons die eindtye en word die ganse wêreld deur vals vrede gesus vir die toekomstige regering van die Antichris. Indien die leser Openbaring sou lees, sal hy ontdek dat ons nie 'n Utopia nader nie, maar eerder 'n Uthiopië! Die vals vrede van die huurlinge korrespondeer pragtig met die nuwe era wat sy tentakels oor die hele wêreld uitsteek. Die "addergeslag", soos Jesus die valse profete noem, spoeg Sondag vir Sondag hulle gif oor gemeentes uit en onderskryf deur hulle vrede-prediking die nuwe wêreldorde se vredesinisiatiewe! Mag God ons help om nie meegesleur te word deur die vrede-prediking van die Antichristelike stelsel nie. Daar is net vrede tussen God se kinders en dit moet nagejaag word - maar daar is geen vrede vir die goddeloses nie.
Dit is nou makliker vir Elia om elke mens te vermaan om nie te heul met 'n kerk wat hulle lidmate vir die toekomstige eenwêreldorde voorberei nie. Kan enige weergebore kind van God toelaat dat huurlinge hulle kinders besprinkel? Is dit nie dieselfde as om hulle aan Molog te offer nie? Is dit nie beter om 'n meulsteen om jou nek te hang en jouself in die dieptes van die see te werp as om een van hierdie kindertjies te laat struikel nie? Kan hulle toelaat dat die huurlinge aan hulle nagmaal bedien en sodoende die bloed van Christus vertrap en Hom 'n tweede maal kruisig? Kan Christene hulle kinders in hierdie vals kerke met vrymoedigheid opvoed, terwyl die atmosfeer van demone krioel? Hoekom moet 'n mens van 'n goddelose organisasie afhanklik wees, jou gewete verkrag, ander laat struikel en al jou vrede inboet? Is Jesus Christus nie baie meer werd as "afgodsaanbidding" in 'n rowerspelonk nie?
Dit is inderdaad noodsaaklik om te weet dat die vals kerk in werklikheid 'n terugwaartse neiging na die vroeë Babiloniese godsdiens toon. Die moeder van alle hoerkerke is die Babilonies godsdiens van Open 17-18. Alle vals godsdienste, sowel as vervalle protestantisme, is deel van die vrou wat op die dier ry. Enige kerk wat dus aan die W.R.K. behoort of sitting daar het, is of word deel van die een-wêreldgodsdiens of Babiloniese sisteem. "Babel" beteken "verwarring", en dit verklaar waarom mense deesdae heeltemal deurmekaar is t.o.v. godsdiens. Hierdie verwarring word deur die duiwel uitgebuit om mense antagonisties te maak t.o.v. die ware evangelie.
3.2 KOLLEKTANTE
Kollektante, moderne bedelaars, diewe of slawe van huurlinge - dit maak nie saak wat jy hulle wil noem nie; hulle is deur die bank dieselfde as hulle huurlinge volg. In plaas daarvan dat kinders van God offergawes na die skatkis bring, sluip die bedelaars van huis tot huis, bedel geld en eet die huise van weduwees op. Het God nie in sy Woord geleer dat jou linkerhand nie van jou regterhand moet weet nie?
Op 'n keer het 'n weergebore Christen besluit om sy donasies aan die rowerspelonk te staak. Hy het gevoel dat die huurling wat veronderstel is om sy herder te wees, rook en drink - toe staak hy die bloedgeld en bely voor God dat dit wat hy in die verlede in onkunde gegee het verkeerd was. 'n Kollektant het toe ondersoek ingestel na die verlies aan fondse en die man besoek. Die kollektant wys toe daarop dat hy "'n paar paaiemente agter is!" Dit was vir die bydraer net een te veel. Hy kon toe nie help wat verder gebeur het nie. In mediese terme het sy byniere 'n oormaat adrenalien afgeskei; sy gesig het rooi verkleur; sy asemhaling het vinniger geword en toe kook hy oor. In plaas daarvan dat hy hom toe soos 'n Christelike boereseun gedra en die man op 'n mooi manier vertel dat hy nie meer in die kerk belangstel nie, gedra hy hom soos 'n woedende Middeleeuse Turk wat 'n Rooms-Katoliek se keel wil afsny. Hy het in geen onduidelike terme vir die verskrikte bedelaar vertel dat hy nie langer "paaiemente aan 'n vals kerk gaan betaal nie!". Daarna is die bedelaar die deur gewys en gevra om nooit weer te kom nie - nog 'n siel verlos uit die hand van die vyand en die gestig van vormgodsdiens. Die huurling het nooit die "verdwaalde lidmaat" besoek en navraag gedoen waarom hy nie meer kerk toe kom nie. Is dit nie nog 'n bewys dat die valse predikant in die ware sin van die woord 'n "huurling" is nie? As hy werklik bekommerd oor 'n "verlore skaap" was, sou hy hom nie gaan soek het nie? Elia glo dat 'n boom aan sy vrugte geken word.
Die boodskap aan die bedelaars is dat hulle nie langer hoef deel te neem aan kerkspeel nie. Dit is in elk geval vir alle ongeredde bedelaars 'n pyn om elke Sondag na 'n eentonige preek met 'n kanselstem te gaan luister. Kollektante weet goed dat die goddelose predikante ongered is, terwyl die huurlinge Sondag vir Sondag hulle in die gehoor streel en hulle "gylouwiges" en "gemynte van die Heure" noem. Hulle ontvang ook na elke diens "gynade" om die res van die week opreg te gaan sondig. Hierdie siele behoort eerder tuis te bly en die Here te soek totdat hulle Hom vind. Soos gewillige slawe werk die bedelaars en glo sommige dat hulle "arbeid vir die Here" vir hulle 'n plekkie anderkant die pêrelpoorte gaan besorg. Deur die goeie werke sal geen siel voor Hom geregverdig word nie. Indien enige bedelaar sy hoop op hierdie valse fondament bou, is dit Elia se plig om hom reg te help. Al sy arbeid en huisbesoek waar hy eintlik nog geld bedel, gaan hom niks help nie - hy moet weergebore word. In werklikheid help die bedelaars die huurlinge om voort te gaan met hulle gruwels.
Elia het al gesien hoe kollektante 'n stinkende sigaret voor die "erediens" wegskiet, die kerk binnestap en met geel-gerookte nikotienvingers nagmaal bedien. Dit laat mens dink aan Belsasar en sy volgelinge wat lank gelede by 'n partytjie uit die heilige voorwerpe van die Here wyn gedrink het. Die geskiedenis wat daarop gevolg het, is aan almal bekend. In hierdie geval is dit nie nodig dat die vormgodsdienstiges geweeg word nie, aangesien hulle sondes hulle vooruit gaan na die oordeelsdag. Baie verlore skape het reeds getoon dat hulle geen geregtigheid besit nie, omdat die "maat van hulle sonde vol geword het" en hulle lankal reeds opgeskryf is vir die oordeel.
Sommige arme skepsels wat deur misleiding deel geword het van die vals kerk, het al gesê dat hulle by hulle aanneming "nou 'n dranklisensie ontvang" het! Dit word natuurlik in die hemel aangeteken, omdat God hierdie gruwels elkeen afsonderlik op sy eie tyd sal straf. Talle mense ly reeds nou en uitbetaaldag het vir baie al aangebreek soos toe die swael op Sodom en Gomorra gereën het. Dit is moeilik om te glo dat kollektante met geel-gerookte nikotienvingers en in sommige gevalle half besope van die vorige aand se drinkparty, die tafel van die Here kan bedien. Dit sal interessant wees om daarop te wys dat as die Here wou gehad het dat ons moes rook, sou Hy 'n permanente skoorsteen agter ons koppe vir ons gegee het sodat ons aanhoudend kon rook. Petrus sê: "Waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy 'n slaaf geword" (2 Pet. 2:19)
Behalwe dat baie kollektante verslaafdes is, is hulle ook bedelaars en vind die duiwel in hulle gewillige werkesels om die finansies in te samel. Hierdie sondaars is totaal verkoop onder die sonde. Dit wat hulle nie wil doen nie, word hulle verplig om te doen omdat hulle slawe is. Dit is duidelik dat al die finansies, kwitansies, wyn en volksdansies die kenmerke van 'n vals kerk en vervalle volk is. Saamgekoek swaai talle kollektante aan Mammon se stert.
Behalwe dat kollektante onder die dekmantel van godsdiens alle bedelary moet staak, wil Elia ook vir alle voornemende donateurs vra dat hulle nie die bedelaars moet help nie - gee jou geld eerder aan die armes. As al die ware kinders van God weier om die sinkende skip te red, sal daar binnekort nog net borreltjies opkom. Dan sal daar blydskap in die hemel wees voor die engele van God. Dan sal daar weer 'n verskil wees tussen die ware kerk en die wêreld.
"...dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie". (Mal. 3:18)
Vir die huurlinge wat bedelaars werf, het Elia 'n woord van waarskuwing: indien julle nie gaan luister en toelaat dat God julle siele red nie, sal dieselfde kollektante julle in die hel rondjaag. Die kollektante wat nou hard werk, sal 'n bydrae lewer tot julle smart, omdat julle nooit die waarheid vir hulle vertel het nie! Daar is tans menige siele in die hel wat hulleself verwyt oor hulle deelname aan vals godsdiens. Daar is talle bedelaars wat nie meer na gehoorstrelende preke in die hel luister nie, maar 'n afgryslike gegiggel en bespotting van demone. Hulle word dikwels daarop gewys dat hulle Jesus Christus verwerp het en eintlik die duiwel gevolg het. Hulle straf is ook baie groter as gewone sondaars, omdat hulle veronderstel was om manne van een vrou te wees, geen vegters, drinkers en vuilgewinsoekers nie. Die leser moet nie dink dat Elia onredelik in sy gevolgtrekkings is nie.
Op 'n bekende radioprogram moes die hele S.A. na 'n tragiese storie luister. 'n Vrou se man is oorlede. Die kollektant is toe gestuur om haar te gaan troos. Toe hy by die dame se huis kom, vra hy "of hy die badkamer mag gebruik". Die kollektant trek toe sy nagklere aan en sê toe aan die dame dat hy haar "graag in die kamer op 'n nadere manier wil troos". In trane het sy gesê sy is "nog lief vir haar eggenoot al is hy nie meer daar nie, en sy sien nie kans om op hierdie manier getroos te word nie". Die kollektant het toe weer sy klere aangetrek en is daar weg! Mag die Here ons help! Waar is die God van Elia?
Op 'n keer toe Elia in 'n droë dorp naby die Oranjerivier gepreek het, deel 'n huilende vrou hom mee dat 'n "kollektant haar beledig het". Die rowerspelonk kos baie geld en die huurlinge probeer toe vinnig geld insamel. Hulle stel toe voor dat twintig mense elkeen R10 000,00 aan die kerk leen. 'n Verder twintig siele moet R5 000,00 leen, ens. Hulle het talle voorstelle gehad tot selfs R50,00. Die dame, wat 'n arm weduwee is, kon toe nie R50,00 bekostig nie. Die kollektant wat aangesê is om die "rentevrye lenings" te beklink, sê toe vir haar dat sy "van die duiwel is". Elia was toe getrou en skryf aan die kerkraad 'n brief en daag hulle uit vir 'n openbare debat oor hulle bedelary en beledigings. Dit is nodeloos om te sê, hulle het nooit die brief beantwoord nie.
Een na die ander goddeloosheid van die bedelaars het Elia nou tot 'n punt gedryf. Hy vertrou dat God op 'n bonatuurlike manier sal ingryp om die gruwels te stop. Die bedelary het tog iets goeds na vore gebring - dit bewys eintlik dat die vals kerk geen bestaansreg het nie. As geld nie gebedel word nie, profeteer Elia sal die sondige maatskappy oornag heeltemal tot niet gaan: "so that all the king's horses and all the king's men, couldn't put it together again".
Daar is 'n skrille kontras tussen die bedelaars en die diakens (diakonos Gr.) in die NT. "Diaken" beteken eintlik "dienaar" - bedelaar en dienaar is twee verskillende konsepte. 'n Dienaar volgens die N.T. is iemand wat absoluut met die Gees behoeftes op tydelike en geestelike gebied is. Om die minste te sê, 'n diaken behoort dit sy taak te maak, soos Stefanus, wat omgesien het na die geestelike welstand van die ware gemeente van die Here. Sommige moderne "kerke" wat soos 'n sekulêre besigheid funksioneer, maak gebruik van goedkoop arbeid om fondse in te samel. Hierdie bedrog van bedelary word dan pragtig bedek met die gedagte dat "hulle vir die Here werk". Indien iemand vir die Here werk, moet daar immers siele tot redding kom; daar moet ook geestelike groei en suiwere motiewe wees. Soos die sneeu 'n ashoop in die winter bedek en dit later smelt - so word die reuk van die dood tot die dood telkens blootgelê as die oortuiging van God se Gees na kollektante toe kom. Al word hulle boosheid met "goeie werke" versier - krap God dit deur omstandighede weer oop, sodat dit vir almal ruikbaar en sigbaar is.
'n Woord van genade aan enige kollektant wat oor sy bose werke en eindbestemming lees en tot sy sinne kom. Dit maak nie saak hoe groot jou sonde en ellende is nie - God vergewe alle sondaars wat eerlik en bedroef na Hom vir redding vlug. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word. Jesus red die grootste sondaars - selfs Fariseërs, huurlinge, kollektante, Mormone, Moslems, hoereerders en moordenaars. Elia is nie bewus van een persoon wat met eerlike motiewe na Jesus toe gevlug het en nie gered is nie. 'n Bekende koortjie sê:
"...elke sonde gaan vir goed, as dit kom in Jesus bloed".
3.3 MEVROU-DOMINEE
Sommige pastorie-moeders is net so min in die werk van God geroep soos wat Adolf Hitler was. In 'n sekere sin was die goddelose Hitler tog gesteld op die voortbestaan van die Duitse volk, terwyl sommige wat nie deur God geroep is nie, geensins in die volk van God belangstel nie. Mev-ds. is veronderstel om sondaars lief te hê, die susters in die gemeente te bemoedig en in alle opsigte by God se werk betrokke te wees. In plaas daarvan dat hulle die Here dien, is hulle besig om in dieselfde moeras van modder as die huurlinge weg te sink. Saam verkoop hulle mensesiele aan 'n wreedaardige Satan wat té dankbaar is dat hy medewerksters in die pastorie het. As die kerk nie meer 'n ligtoring van die evangelie is nie, maar 'n duistere rowerspelonk waar kosbare siele van die laaste bietjie reddende genade beroof word, dan het lig duisternis geword. Dan het valse "diensmaagde" saam met valse "diensknegte" die genade van God in ongebondenheid verander. Mev-ds. lewe gewoonlik soos die rykste mense van "Hollywood" en is geensins bekommerd om die armes te huisves of te help nie. Hulle wil graag met "professionele mense" soos die dokters, prokureurs en ryk sakemanne van die gemeenskap bekend wees. Dit is vir haar 'n geweldige vernedering wanneer een van die "agterlikes van die gemeente" by die pastorie sou opdaag terwyl daar belangrike gaste kuier. Dié snobistiese houding pas nie by mev-ds. nie. Die pastoriemoeders is saam met hulle mans verantwoordelik vir talle siele wat die weg na die hemel nie gevind het nie. Sy het haar man se bebloede hande omhoog gehou as hy preek en in sommige gevalle die weg na die hel verduidelik het deurdat alle sondaars elke Sondag salig gespreek word.
Omdat Elia objektief evalueer, besef hy dat daar uitsonderings op die reël is. Op 'n keer toe Elia 'n predikant in sy pastorie aangespreek het oor die feit dat hy 'n onbybelse uitverkiesingsleer propageer, het die pastoriemoeder Elia se kant gekies. Sy het gestaan vir die waarheid en openlik haar misnoë oor haar man se dwalinge uitgespreek. Alhoewel sy dit verafsku het, was sy verplig om dit te aanvaar. Dank God daar is nog sommige pastoriemoeders wat hulle gewig in goud werd is. Elia is egter bekommerd oor die oorgrote meerderheid pastorieë wat deur mev-ds. bestuur word en waarin geen evangelie-lig is nie. Mev-ds. het geweldig baie tyd tot haar beskikking as sy vir God wil werk. Elke pastoriemoeder wat die Here liefhet en dien, doen alles in haar vermoë om van haar man se roeping 'n sukses te maak. Die ongereddes is gewoonlik met aardse dinge besig wat 'n kenmerkende eienskap van materialisme is.
Elia het met 'n skok verneem dat 'n sekere mev-ds. die gemeentelede leer hoe om hulle gesigte in te kleur. Sy gee dus "professionele grimeerlesse". Elia kan nie anders as om aan die uitspraak van W.P. Nicholsen te dink toe hy op 'n keer 'n swaar-gegrimeerde raakloop. Dit lui so:
"She's got enough paint on her face to paint a battleship, and enough powder to blow it up!".
Op 'n ander keer moes Elia verneem dat 'n mev-ds. wynlesse aanbied. Die pastoriemoeder leer die gemeentelede om wyn op "die regte manier voor te sit". Terwyl hulle sing: "gee vir die harlekyn nog wyn", is daar geen einde aan die sirkus nie. Hulle sê gou vir die wat nog onseker is "dat Jesus water in wyn verander het en dat elke bottel 'n proppie het". Die bedwelmde siele wat na die slagbanke wankel, word ook aangeraai om nie "te eng te wees nie want dit is wettisisme" en om "bietjie sosiaal te wees".
Elia wil elke pastoriemoeder waarsku dat hulle met dieselfde maat gemeet gaan word as huurlinge, omdat hulle met mensesiele werk. Die lidmate kyk op na die pastoriemoeders en as hulle struikel deur die voorbeeld van 'n mev-ds, sal God die sondaars se "bloed van hulle hande eis". Dit is nie nodig dat mev-ds. na haar man se pype moet dans nie. Hy sal nie vir haar rekenskap in die oordeelsdag kan gee nie - hy sal ook nie vir haar 'n plekkie in die hemel kan koop nie. Sy moet weergebore word om in die hemel te kom.
3.4 HUURLINGE
Die huurlinge moet baie versigtig beskryf word, sodat hulle nie hulle kenmerke op die "sektes" kan afskuif nie. Hulle bose werke moet absoluut in die openbaar uitgeklee word sodat hulle ontdek, verafsku en deur enige opregte kind van God verwerp word. Vir die verarmde, beroofde en kompromiemakende Christene wat rondhardloop met houtswaarde om die huurlinge te beskerm, het Elia 'n vraag:
"Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense?". (Psalm 82:2)
Moenie pleit dat Elia die Baälprofete moet spaar nie. Moenie nou die reddingsbote stuur om die grootste sekte denkbaar te probeer red nie. Moenie gedurig mor en kla oor die boosheid van die rowerspelonke en nou die huurlinge beskerm deur te sê 'n mens "moet darem nie so erg wees nie"; of 'n "mens moet darem jou vyande liefhê". Voordat die huurlinge geheel en al vergoddelik word, of voordat sg. Christene die duiwel omhels, wil Elia net sê dat "die liefde nie bly is saam met die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid" (1 Kor. 13:6).
Elke keer as Elia aan die huurlinge dink wat Sondae met hulle togas en hande vol bloed die lug in opsteek om die "seën van die Here uit te spreek", herinner dit hom aan "Dracula". Hulle het bloed aan hulle hande volgens Eseg. 3:18,33. Ook is hulle skuldig, omdat hulle onskuldige bloed vergiet het (Spr. 6:17). Onwillekeurig dink Elia ook aan "Batman" wat sy arms uitstrek voordat hy vlieg! Alhoewel daar ware diensknegte van die Here is wat togas dra, is dit nog steeds duidelik waar die priesterkleed sy oorsprong het. Dit is verstommend hoeveel eienaardighede die protestantse beweging van Rome oorgeërf het. Die Toga is maar een voorbeeld. Elia wil aan almal wat Togas dra sê, dat dit Rome was wat dit aanbeveel het. Die priesterkleed van die O.T. is nie in die N.T. voortgesit nie, aangesien Christus alleen die Hoëpriester is volgens die orde van Melgisédek. Die kleed simboliseer die bediening van die priester wat gestaan het tussen God en volk. Toe hierdie amp in die N.T. verval het, omdat dit nie onder die gawes en ampte in die N.T. genoem word nie, het die Rooms-Katolieke priesters dit voortgesit. Hulle vergewe sonde en net hulle kan sg. tussen God en volk staan. Dit het ook met die Roomse dwaling nl. "apostoliese opvolging" te doen. Dit beteken dat net die wat georden is mag preek en net hulle mag nagmaal bedien of doop. Die N.T. leer nie apostoliese opvolging soos Rome of die Ou Apostels nie, maar die priesterskap van alle gelowiges! Nêrens word daar in die N.T. geleer dat net sekere mense wat deur ander gewone mense georden word, mag preek en sakramente bedien nie. Indien enige persoon dit glo, leer of preek, bou hy aan Babel se mure wat in die eindtyd verbrand sal word.
Elke gelowige is 'n priester; beslis nie sommige "uitverkore gevriesdes" nie. Almal het die reg om te preek; ook die "leke", soos wat hulle deur die huurlinge genoem word, mits hulle deur God gesalf is. "Leke"; soos John Bunyan, D.L. Moody, Charles Finney, Madam Guyon en nog duisende Godsmanne en - vroue, sonder "teologiese opleiding", het ontelbare siele vir God gewen. Nie een van hulle was "professionele predikers" nie en nie een van hulle het 'n teologiese graad besit nie. Hulle was leke vol van die Heilige Gees. Wie het hulle die reg gegee om te preek? Indien ons apostoliese opvolging moet glo, dan word bg. heilige leke van God onmiddellik gediskwalifiseer! Is dit nie skrikwekkend dat 'n volk gebreinspoel is dat almal wat nie in een of ander rowerspelonk georden is nie, nie mag preek of sakramente bedien nie?
Elia is self georden en het niks teen ordening nie, maar as ongeordendes verbied word om vir God te werk, omdat hulle nie "amptelik georden" is nie, dan skyn die merktekens van vormgodsdiens nog duideliker.
Moet die sielemoordenaars wat styfgeswel is van hoogmoed nie nou die mond gestop word nie? Die gevleulde "Batmanhuurlinge" sal nie meer langer daarin slaag om slawe van die onkundige onderdruktes te maak nie. God se wiel begin nou draai. Hulle bevind hulleself volspoed op ysskaatse op pad na die middel van die gevriesde meer waar die ys net een millimeter dik is. Van hulle sal gesê word in die onderwêreld:
"Gevalle helde van Beëlsebul; welkom in ons inrigting van helse verrassings in die onderwêreld. 'n Woord van dank aan elke huurling wat sy plig gedoen het om getalle in die hel aan te vul. Geluk! Hier by ons hotel is daar geen rus nie, kamerdiens en gereelde pyn en smarte is op tyd. Julle verlede sal gereeld voor julle afspeel en julle sielkundige afwykings sal oor miljoene jare al hoe meer momentum kry. Ja, stapelgek sal julle word en na miljoene en miljoene jare sal julle ver verby kranksinnigheid gedryf word, terwyl julle nooit 'n breekpunt sal bereik nie".
Professor J.C.G. Kotzé, toe nog ds., het op 'n begrafnis in 'n klipkerk in 1958 gesê:
"Die hel se vloere sal met predikante se kopbene uitgelê wees".
Elia glo saam met dié geleerde, wat geen "leuk" was nie, dat hy absoluut waar geprofeteer het. Talle huurlinge het grade, maar geen gawes nie; hulle werk vir mense, maar wond siele; hulle bou 'n kerk, maar breek 'n volk. Hulle verf mense heuning om die mond, maar gooi galbitter gifpreke in hulle kele af. Genadeloos stamp hulle siele oor die afgrond om 'n tydlose ewigheid in te gaan, sonder hoop en sonder God in hierdie wêreld.
Hulle kanseltaal irriteer miljoene mense en die onegtheid en fariseïsme ruik na 'n vuil bondel babadoeke. Die sagmoedige Christus word deur die huurlinge "Jorrie Jyses Christes" genoem en die kinders van God "gylowiges" en deur hulle kanseltaal kondig hulle hul onegtheid en valsheid aan. Alhoewel sommige se asems òf na twak òf na alkohol ruik, volg miljoene kinders van die duisternis dié blinde leiers. Behalwe dat die "Batman-predikers" op die kansels met 'n oordrewe nederigheid soos swaeltjies vorentoe en agtertoe wieg, poleer hulle met elke beweging van die hand verder aan hulle witgepleisterde grafstene.
Hierdie manne word deur Elia ook, soos ds. Kotzé, die "skedelklub" genoem. Die lede van die skedelklub het 'n besondere voorliefde vir Mammon. Daar is reeds genoem dat hulle aan Beëlsebul se stert swaai saam met 'n klomp kollektante en word die laaste bietjie bloedgeld uit ou weduwees uit gewurg.
Elia lees selfs op die voorblad van 'n koerant, wat die dag van die Here ontheilig, dat 'n huurling met die gemeente se geld gedobbel het. Terwyl hy sing: "Ek kan doen met 'n miljoen", leen hy geld van die kerkraad om te dobbel en verloor toe alles. Mammon, sy bedmaat, het sy rug toe op hom gedraai en nou is die huurling alleen in 'n duistere eensaamheid van skande, vernedering, bespotting en bo alles, van God en mens verlate. Elia vermoed dat die dobbel-huurling miskien 'n bedraggie geld van die koerant ontvang het vir sy "pragtige storie". Elia glo dat sommige in die media, soos Judas, 'n spesiale plekkie in die hel het omdat hulle gedurig die drek van vevalle predikante oor 'n volk strooi.
'n Hele volk het met afgryse gelees hoe die huurling hulle geld steel om te dobbel. Elia wonder wat 'n mens vol sonde by die dobbelhuise alles doen - hy was nog nooit daar nie. Maar Elia kan net dink dat daar afskuwelike sondes gepleeg word. Hy verneem dat die Isèbel-sonde (hoerery); Judas-sonde (verraai Christus, steel geld en heul met die wêreld); Demas-sonde (het die wêreld liefgekry); Nikolaïte-sonde (kompromie en sedeloosheid); Mammon-sonde (geldgierigheid en dobbelary) die Bacchus-sonde (alkoholgebruik) en talle "derglike dinge", daar gepleeg word. Hulle vertrap die bloed van Christus, kruisig Hom 'n tweede maal, huil omdat hulle nie genoeg van die duiwel kan kry nie, en verander oornag in professionele leuenaars om vir die "gemynte" oor hulle persoonlike morele lewe te lieg.
Indien enige persoon dink dat sommige huurlinge nie 'n liefdesverhouding met Mammon het nie, waarom sal sommige van hulle nog dobbel, terwyl hulle as die hoogsbetaalde mense in die "professionele beroep" beskou word? Alle huurlinge dobbel nie, maar Elia glo dat die goddeloses wat nie dobbel nie, begeer om te dobbel. Hulle ken die goedgeoefende kuns van dobbelary, omdat hulle in elk geval met mensesiele dobbel.
Elia wil huurlinge, kollektante, verlore skape en almal wat by valskerkdeure, kroegdeure en dobbelhuise in en uit stap, asseblief vra om op te hou dobbel en hulleself nie Christene te noem nie. Hulle deurboor hulleself met baie smarte en bring oneer op die Naam van Jesus vir wie hulle nie ken nie. Alhoewel Hy alle sondaars wil red, het talle "geestelikes" hulleself oortuig dat "ons almal maar ou sondaars is". Vir die huurlinge sê Elia - bekeer julle, want die Koninkryk van die Hemele het naby gekom! Kus die Seun voordat hy toornig word en die deure van die hemelpoorte vir ewig vir julle sluit. Christus het vir julle sondes betaal, nie met goud of silwer of edelgesteentes nie, maar met sy kosbare bloed. Moenie julle siele vir geld verkoop en julle vryheid vir die hel verruil nie.
Dit grief Elia wanneer 'n huurling op die een-oog-afgodkassie verskyn met 'n slordige voorkoms en vir die hele volk sê dat die saligheid deur die kerk is. Dit bewys die kerk se gekommersialiseerdheid deurdat hulle hulself op die kassie adverteer. Die saligheid is net so min deur hierdie kerk soos wat daar geesvervulde kinders van God op Mars is.
Hierdie besondere huurling wat een aand op die kassie verskyn het, se deurmekaar hare het Elia aan 'n omgekeerde kakiebos of 'n ontploffing in 'n matrasfabriek laat dink. Geen ordentlike mens kan vir so 'n slordige predikant respek hê nie. Sy voorkoms en aanval op die waarheid herinner Elia aan die kruisvaarders van die middeleeue. Die kruisvaarders het onder die dekmantel van "godsdiensbevryding en demokrasie" na Israel gegaan om die stad Jerusalem van die Turke te bevry. In werklikheid het hulle in die geheim duisende Jode vermoor. Net so paradeer huurlinge voor die kameras om mense geestelik te help, terwyl hulle onvaste siele met arseen voer i.p.v. dat hulle die brood van die lewe aan sondaars gee. Met hulle harde piksteel preke, grawe hulle die grafte van miljoene sondaars wat die lig nooit sal sien nie. Hulle spyker die deur wat na die ewigheid lei toe en verhang alle bakens wat die weg na die hemel aanwys. As iemand buite dié kerk sterf, het hy dus geen "saligheid" nie. Met mooi afgemete woorde word daar na diesulkes verwys wat "ongelukkig nooit uitverkies was nie".
Hulle rol die rooi tapyt vir sondaars na die hel oop en leer valslik dat die saligheid deur die kerk is. Al wat Elia van sommige kerke dink, veral die wat nie die evangelie verkondig nie en wat platdakke het, is dat die demone rustig op die dakke lê en slaap. As die saligheid in enige kerk te vinde is, waarom sê Jesus dat Hy die "Weg" is? As daar saligheid in enige rowerspelonk is, waarom sê Jesus dat Hy die "Deur" is? Is die plaveisel na die rowerspelonke se deure die poort wat na die ewigheid lei? Elia betwyfel dit ten sterkste. Indien dit so is, waarom erken hulle self in die openbaar dat hulle "yskoud en morsdood" is?
Elia stel voor dat die huurlinge tog iets unieks bereik het. Hulle het 'n totale volk, voordat hulle dood is, begrawe. Die rowerspelonke moet dus as nasionale monumente verklaar word, of as grafstene beskou word. 'n Mens sou amper, plus-minus, naastenby, ongeveer, byna, so te sê, min of meer kan dink dat die hel te goed vir die skedelklubmanne sou wees. Elia besef aan die anderkant dat die oordele van God wel regverdig sal wees.
Elia het ook opgemerk dat die huurlinge 'n besondere voorliefde vir huisbesoek het. Voordat die klaende siele vir Elia beskuldig en sê dat hulle nog nooit 'n "besoek van die predikant ontvang het nie", moet hulle 'n mens darem eers 'n kans gee om te verduidelik. Die huurlinge besoek net ryk of belangrike mense. Die armes of ware kinders van God sal nooit deur huurlinge besoek word nie. Elia het nou net 'n huurling in die bos hoor skreeu: "'n klip het my getref", sê hy. Wat sal dit beteken? Dit beteken die huurling verneem met groot pyn dat dit wat Elia gesê het, waar is. Elia het male sonder tal aangehoor hoe dorstige siele kla dat hulle "predikant nooit huisbesoek" doen nie. Wat hierdie mense nie verstaan nie, is dat die Almagtige God hulle baie smarte spaar. Hulle sal dalk ontdek dat as die huurling huisbesoek doen, hy dalk 'n dop wil steek - soos sommige ook doen. Hiervan het Elia sommer berge bewyse. Elia wonder net hoe ware kinders van God kan verwag dat die huurlinge hulle moet kom besoek. Moet die ashoop van vormgodsdiens en reuk van ou babadoeke nou in hulle voorhuis uitgegooi word? Enige regdenkende mens is eintlik bevoorreg om nie 'n besoek van huurlinge wat van demone krioel te ontvang nie. 'n Ware herder, vol van God se Gees en liefde, wat die welstand van mense se geestelike lewe ter harte het, is altyd welkom.
Huurlinge wat tog waag om uit die Bybel te lees, verstaan self nie wat hulle lees nie. Hulle is soos 'n toordokter wat 'n klomp dolosse of hoenderbeentjies op die grond gooi en dan 'n voorspelling waag. Hulle verkies eerder dat "behoeftiges" hulle in hulle "kantoor" kom spreek. 'n Vriend van Elia het op 'n keer geestelike hulp by 'n huurling gaan soek. Hy het gou agtergekom dat die twakverslaafde, wat ook aan L.S.S. en T.A.S. lei, hom nie sal kan help nie. Die grootste skok was toe die huurling 'n stinkende sigaret oor die oop Bybel aangesteek het.
Elia weet ook van 'n huurling wat met sondaars se siele peuter en 'n "bediening" op 'n plattelandse dorp gehad het. Hierdie Baälspriester het aan die gemeentelede se vroue "raad" oor "sielkundige probleme" gegee. By een geleentheid het die huurling vyf buite-egtelike verhoudings met gemeentelede of "behoeftige susters" gehad. Toe laat God dit aan die lig kom omdat die gruwels na Hom geroep het om vergelding. Ja, die appelkar het omgeval en die huurling se sondes word toe van die dakke af verkondig. Die "geestelike terapie" is toe ook met die susters van die gemeente gestaak. Om alles te kroon, gee die rowerspelonk se groot vergadering hom toe 'n "eervolle ontslag!". Elia wil graag aan enige voornemende huurling sê dat God sondes uitbetaal.
Sal al die kinders van God nie eers die volgende gebed ernstig bid nie?: "Hoe lank nog Here, sal u hierdie gruwels verdra? Wanneer sal U die gebede van die regverdiges verhoor en handel met die goddeloosheid? Sal U ons nie nou 'n uitkoms gee, 'n magswoord spreek en ons verhoor nie?".
Alhoewel die hele gemeenskap waar die seksbom ontplof het geskok was, het die duiwel hulle gou gesus en gesê "dat ons almal maar 'n geraamte in ons eie kas het". Die saak het in die hel onder luide toejuiging momentum gekry toe die huurling 'n pos in 'n ander kerk ook met snaakse leerstellings aanvaar het. Elia is versigtig om niemand se naam te noem nie, want dan val hy "kerke aan". Nou word die bekende sondes slegs genoem en hoopvol word vertrou dat almal sal verstaan.
Toe Elia op 'n keer dienste in Stellenbosch gehou het, het 'n huurling twee van sy gemeentelede gewaarsku om nie Elia se dienste by te woon nie aangesien dit "sektaries" is. Die huurling het nie eers gehoor wat Elia preek nie en waarsku voor die voet dat Elia sektaries is. Met baie geduld het Elia 'n boodskap aan die huurling gestuur en gesê dat hy hom graag wil sien. 'n Afspraak is vir die volgende middag gemaak. Die huurling, met 'n bleek gesig, het die deur oopgemaak. Nadat Elia "goeiemiddag" gesê het, het die volgende gesprek gevolg:
Huurling: "Goeiemiddag, ek dink ons gaan oor baie dinge vandag saamstem".
Elia: "Ek glo nie so nie. Ek hoor jy noem my sektaries - kan jy verduidelik hoekom jy dit gesê het". (Op hierdie stadium reeds in die begin van die gesprek het die huurling ongemaklik voor sy lidmate voorgekom en weet toe nie eintlik wat om te sê nie). Huurling: "Wat glo jy?".
Elia: "In verband met wat?".
Huurling: "In verband met die verbond".
Elia: "Die N.T. verbond word alleen in Christus vervul en die enigste blywende verbond kan alleen deur bekering en die wedergeboorte voltrek word. Die verbond het twee kante. Enersyds het Jesus Christus vir almal gesterf (Joh 3:16) en andersyds "elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word" (Rom 10:13). (Nou het die huurling omgekrap geword en 'n verdedigingsmeganisme van 'n humeur probeer gebruik).
Huurling: "Maar dit is 'n werkesaligheid!"
Elia: "Is dit werke om die Naam van die Here aan te roep? Dr. A. Murray het self geleer dat bekering twee kante het. Selfs prof. J.A. Heyns leer dat 'geloof 'n daad van die mens is'. Noem jy ons sektes as ons preek wat Dr. A. Murray gepreek het? Ek dink jy is inkonsekwent en onredelik".
Huurling: "Maar Dr. A. Murray het self gedwaal m.b.t. bekering en perfeksionisme".
Elia: "Dit is eienaardig dat God hom dan met sy sg. dwalinge en al kragtig in 'n herlewing in SA. gebruik het. Dink jy ek is glad nie 'n kind van God nie?".
Huurling: "Ek glo dat jy 'n kind van God is - ons is mos almal kinders van God?".
Elia: "Maar ek is nooit as kind gedoop nie en ek is dus nie 'n verbondskind nie, hoe kan ek volgens jou teologie nou gered wees? Ek het eers op die ouderdom van 20 jaar tot bekering gekom".
Huurling: "Daar is uitsonderings op die reël".
Elia: "Maar God roep my om vir almal te preek, ook die uitsonderings op die reël!. Hierdie uitsondering weerspreek jou teologie in elk geval".
Elia het die huurling bestraf oor sy goddeloosheid, terwyl hy soos 'n leek bleek en verward voorgekom het. Die huurling se lidmate het geskater van die lag oor hulle predikant se onkunde en dank God - hulle is daar uit.
Op 'n keer het Elia huisbesoek saam met 'n ou predikantsvriend gedoen. By die huis het die dame se huurling opgedaag. Hy het slenterdrag aangehad en sy rooi hare het tot op sy skouers gehang. Hy was letterlik pienk van liberalisme en rooi van woede.
Met 'n bewerige stem het hy gepraat toe hy sy humeur probeer onderdruk. Elia het hom gevra waar hy "gered is". Die huurling sê toe dat hy op Golgota "reeds gered is!". Die volgende gesprek volg toe:
Elia: "Maar is jy nie in sonde ontvang en gebore nie?"
Huurling: "Ja, maar ek is potensieel op Golgota gered".
Elia: "Wanneer het jy die ondervinding van bekering gehad, of wanneer is jy weergebore?".
Huurling: "Ek het dit op kweekskool deelagtig geword?".
Die huurling, na Elia se mening, het gou sy plan verander. Elia se vriend het op liefdevolle wyse aan hom verduidelik dat hy eintlik aan dieselfde kerk as Openbaring 17 en 18 behoort. Die huurling is toe daar weg en Elia het hom tot by sy motor vergesel. Dit is duidelik dat die huurling vreeslik gou daar weg wou kom. Hy laat Elia aan Absolom dink wie se hare in die takke vasgehaak het. 'n Mens wonder nou as hulle regtig "professionele mense is", hoekom kan hulle nie kalm en vriendelik hulle standpunt stel nie?
Die Fariseërs hou daarvan dat mense vir hulle "rabbi, rabbi" noem. As predikers se ego gestreel word as hulle op hulle titels aangespreek word, het hulle toegelaat dat die slymagtige monster van Fariseïsme hulle verteer. Professionele mense in God se koninkryk is gesalfdes en diensknegte. Die snobistiese klieks in kerksirkels hou van titels; terwyl die Woord van God na diensknegte verwys. Indien die leser Elia se raad volg en hedendaagse huurlinge aan die Skrif meet, sal hulle gou ontdek dat daar 'n groot verskil tussen titelhuurlinge en diensknegte van God is. John Bunyan, in sy boek "Pelgrim se reis na die ewigheid", vertel van die goddelose stad waar mense titels kon koop.
Elia het deur die jare 'n verstommende verskynsel aanskou. Hy het die pynlike vervolgingswaansin van die huurlinge ervaar. Die valse profete het deur die jare kinders van God vervolg en onder sensuur gesit. Terwyl die rowerspelonk en Rome bedmaats is, het hulle die ware kerk van Christus genadeloos vervolg. Hulle het selfs nie eers hulle eie lidmate gespaar nie. As een van hulle verlore skape soos 'n brandhout uit die vuur geruk word, dan word hulle onder "sensuur geplaas". Is dié idiotiese "grin" nie die gesig van Satan nie? 'n Kind van God word nou binne 'n "kerk" openlik vervolg. As lidmate drink, vloek, hoereer, dobbel en rook, is hulle almal tuis in die hotel van vormgodsdiens. Sodra hulle van bg. sondes verlos en op N.T. wyse gered word, dan is hulle "sektaries" en moet hulle dit "bely!". Die sondaars is nou die "heiliges" wat die kinders van God of "onheiliges" verhoor.
Dit is die weersin van Satan wat hy nou teen die toonbeelde van God se genade openbaar. Sy instrumente is die huurlinge en kollektante. Indien die jong bekeerlinge nie kapituleer nie, dan is baie van hulle geskors en beland dan by ander sektes. Ons is nie jammer dat hulle deur omstandighede uitgeslinger word nie, maar geskok hoedat Christene deur die kerk van Open. 17 en 18 vervolg word. Die huurlinge is hiervoor verantwoordelik. Soos Herodes, probeer hulle al die klein seuntjies in die geloof vermoor om sodoende die hele envangelie uit te wis. Wie het aan die huurlinge die reg gegee om kinders van God te vervolg? Net die Satan kan dit orkestreer aangesien 'n vervolgingswaansin sy karaktertrek is. Jesus het niemand vervolg wat nie met Hom saamgestem het nie. Behalwe Satan wat die optrede inisieer, het die vals kerk baie goed in die voetspore van Calvyn getrap. Calvyn het die moord op Michael Servetus goedgekeur wat sektariese neigings getoon het. Servetus is toe verbrand. Dit was die enigste amptelike moord wat deur 'n protestant teen ketters goedgekeur is. So word jong Christene geestelik deur demone, met mensvelle om hulle, vermoor. 'n Godspraak aan Baälprofete, huurlinge en valse profete wat Christene vervolg:
"...aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele". (2 Thes. 1:6-7)
Terwyl die sielsiekes met 'n psigopatiese gesindheid as toonaangewende eienskap die ware Christene vervolg, keer hulle Islam goed; smee hulle bande met die Rooms-Katolieke en verlustig hulleself in die skuim van vals wêreldgodsdienste.
Moenie skrik nie, maar dit is Elia se eerlike mening dat die vervolgers duiwelbesete is. Die duiwels kan niks teen God persoonlik doen nie en dus word sy volgelinge vervolg. Dit is absoluut ondenkbaar dat daar mense is wat hulle bekeerlinge aan die wreedaardige sielemoordenaars toevertrou. Die huurlinge, of brandweermanne, probeer dadelik die vure in jong bekeerlinge se geestelike lewens doodslaan. Dit is verstaanbaar dat sommige van die huurlinge hulle wend tot twak en alkohol a.g.v. hulle "spanningsvolle" lewe. Geen mens kan vrede hê as hy ander kwaad aandoen nie. Hulle kalmeer hulleself dus met die toorgoedjies en "moetie" van demone. Hulle is gereelde besoekers aan die sg. "mansapteek" (bottelstoor) waar "medisyne" in bottels verkoop word.
'n Sekere huurling met 'n bleek gesig, het met 'n doodsroggel 'n belydenis gedoen van 'n groot "sonde" wat hy, sy kollegas en die volk sg. in die verlede gepleeg het. Hulle bely alles behalwe hulle onbekeerlike harte en die groot sondes van vervolging van Christene. Alle evangeliese kerke of bewegings is deur die jare as "sektes" bestempel. Hierdie eksklusiewe snobiste in rowerspelonke se beurt het nou gekom. Elia sê prontheid en duidelik dat dié vals kerk die grootste sekte in S.A. is.
Die vraag ontstaan egter wat van die ware kinders van God wat in die rowerspelonke predikante is? Elia is nie onredelik en eensydig nie. Hy beveel aan dat hulle hulle kruise moet opneem, Jesus volg en die vals kerk bedank. Geen dienskneg van God kan blywende vrug produseer in 'n rowerspelonk wat met Rome heul en die voorloper in S.A. is wat die nuwe era betref nie. Geen kind van God kan met 'n skoon gewete gaan slaap as hulle "kollegas" mensesiele Sondag na Sondag vermoor nie. Hulle kan ook nie meer toeskouers wees en toekyk, soos Saulus, hoe die kinders van God met sensuur en klippe van dooiepreke gestenig word nie. Hulle moet die sout van die aarde wees en die verderf teëwerk. Hulle moet die bose sisteem uitgaan en hulle stand inneem teen die huurlinge wat hulleself aangestel het om die kudde van God te verstrooi.
Die skedelklubmanne stuur almal hemel toe wat begrawe word. Een huurling het selfs in die graf afgekyk toe hy iemand begrawe het en gesê: "Daar vind die wedergeboorte nou plaas". Is dit nie 'n ontsettende gruwel van verwoesing wat die aarde tref nie? Al die kollektante, drankwinkeleienaars, dobbelaars, leuenaars, hoereerders, mensemoordenaars en al die goddeloses van die kerk word "nie tussen die sektes begrawe nie". Hulle is nou "die kinders van God", maar die wat die ondervinding van bekering gesmaak het, word somtyds eenkant begrawe. Dit is Elia se persoonlike mening dat baie "sektariërs" in die opstandingsdag sal opstaan - almal wat waarlik gered is. Al sou die huurling sy "verbondskinders" se lyke glad en blink lek met 'n soetsappige preek by die graf, sal dit nie een lyk lewe gee en in die hemel bring nie. Die huurlinge het hulle lidmate so deeglik gefossileer, dat die begrafnis bloot 'n formaliteit is - die fossiele is lank voor die begrafnis reeds dood. Die proses waar die wurms hulle begin verteer, het nou aangebreek. Al wat die huurlinge doen is om voor die begrafnis 'n bietjie teologiese reukwater op die ontbindende lyke van 'n sondige maatskappy te gooi.
Elia wil ten slotte vir die huurlinge sê dat hulle hul moet bekeer voordat dit te laat is. Hulle moet die Here met opregte berou soek terwyl Hy te vinde is. God se genade-horlosie in die kerkdispensasie tik vinnig verby en dan wag die ewigheid. Daar is twee roepstemme wat nou weerklink: Enersyds roep God alle sondaars, ook huurlinge, kollektante en verlore skape tot redding. Andersyds is daar 'n die vuur van verderf wat sê: "Nooit genoeg, nooit genoeg!".
DIE HEUNINGKWAS
Dit is eienaardig wat predikante nie alles sal preek om sondaars tevrede te stel nie. Hulle sal tot die uiterstes gaan om sondaars in die gehoor te streel sodat hulle nie dalk 'n paar rand óf "Mandellas" gaan verloor nie. Hulle doop elke Sondag die kwas van kompromie diep in die heuningpot van vormgodsdiens en verf nikotiengegeurde lippe telkens met hel-geïnspireerde preke. Geen wonder dat die "agtermekaarkêrels" so lief vir die valse kerke se huurlinge is nie. Alle denkbare sondes onder die hemel word in die rowerspelonke oor die hoof gesien met liefdespreke wat drup van heuning. Die een huurling het dit op 'n keer goed gestel toe hy gesê het: "Jy mag maar sonde doen, maar jy mag dit nie geniet nie". Is dit nie 'n verskrikking vir 'n volk wat op hierdie stadium reeds deur kommuniste regeer word nie? Is dit nie skokkend en ondenkbaar dat die rowerspelonk vir 'n groot kommunis hande klap by een van hulle vergaderings nie? Dit is Elia se opinie dat die vrede-huurlinge dit regkry om saam met 'n kommunis te juig omdat hulleself deur die jare met liefdespreke belieg en met heuningkwaste besmeer is.
Nou is sonde nie meer sonde nie en kommunisme word onder die dekmantel van "demokrasie" met heuning toegesmeer. Na elke liefdespreek lek die volk hulle lippe af en besef nie dat die heuning in werklikheid met arseen gemeng is nie!
Stadig word 'n volk deur gesante van die hel vermoor wat die lig nooit sal sien nie. Een na die ander fondament van vaste beginsels word met piksteel-preke opgekap en in 'n onversadigbare afgrond van teologiese liberalisme gewerp.
Een preek na die ander, wat tien kilometer onder die hel se roet sy oorsprong het, word met heuning verdoesel en deur wrede sielemoordenaars in die keel van die volk afgeforseer tot ons ondergang. Is dit nie genoeg nie, moet dit nie nou gestop word nie? Is dit nie nou tyd dat die God van Elia die valse profete en Baälpriesters in die hart van die volk slag nie? Moet ons nie as wagters op Sionsmure die nou trompet van waarskuwing en bestraffing blaas nie? Hoe sal iemand weet om vir die oorlog klaar te maak as die basuin nie duidelik gehoor word nie? (1 Kor 14). Sal God ons nog langer in guns aanskou en sy lig oor ons laat skyn? Is dit nie dalk reeds te laat nie? Is die genadedeur nog oop en kan 'n volk nog na God toe draai?
Moenie verwar word deur liefdespreke nie. Huurlinge se liefdespreke rig nie die aandag op die Here Jesus Christus nie. Die valse liefdespreke wys nie sondaars die pad na die hemel nie; ook waarsku die huurlinge deur hulle mensgemaakte yskoue toesprake nie dat sondaars hulle moet bekeer nie. Die Skrif leer dat liefde en sonde nie saam kan funksioneer nie.
Heuning-arseenpreke is 'n liefde vir sonde en ook 'n liefde vir die leuen. Elia sal dit ook bewys: luister hoeveel huurlinge maak eerder verskonings vir sonde as om daarteen te preek. 'n Verdere bewys van Elia is die toenemende geestelike vervalle toestand van S.A. 'n Mens kan amper met 'n predikantsvriend van Elia saamstem wat op 'n keer gesê het dat die hel té goed vir die valse leraars sal wees! Die afgesaagde geestelike cliché van: "ons is almal maar net sondaars", of "elkeen het maar 'n geraamte in sy eie kas", is reeds in die volksmond tot groot smart vasgelê. Die feit dat die predikante se hoereerdery, dobbelary, buite-egtelike kinders, en duisende sondes in die koerante aangekondig word asof dit van uiterste belang is, bewys dat die skedelklubmanne se oordeel naby is. Elia wonder altyd hoekom die politici se grofste sondes nie ook in die koerante afgekondig word nie? Dalk beheer hulle die media en breek nou die gesag van ware diensknegte van God af, om 'n klaslose, identiteitlose, ruggraatlose, goddelose volk te kweek.
Dit moet onthou word dat al die huurlinge deur die jare ook in hulle opvoedingsjare met heuningkwaste geverf is. Nou is hulle 'n produk van: "soos die huurling; soos die gemeente". Die onafgebroke tradisie en die kweking van vormgodsdienstige predikante is gewoonlik met die heunigkwas begin en ook afgerond.
Die volk kan nie verstaan waarom S.A. op die sneltrein na die verderf op pad is nie. Deur die jare het hulle na die vals kerk se lekker heuningbelaaide preke geluister en nou gaan ons tot niet. Die feit is dat die arseen nou begin werk en die dood tree stadig maar seker in. Paulus het geleer dat die verlore skape en volgers van huurlinge "vir hulle menige predikers sal versamel". Met 'n vreeslike eerbiedigheid en met handjies wat hulle saamslaan soos die Pous, hardloop die verlore skape gedurig agter die huurling aan omdat hulle hom reeds vergoddelik het! Elke nou en dan as die huurling ontdek dat die ware evangelie in sy omgewing gepreek word, smeer hy gou weer 'n bietjie heuning om sy sondaar-lidmate se monde en waarsku teen die sektes. Vir sondaars smaak die heuning lekkerder as om die kruis op te neem en Jesus te volg.
Talle huurlinge braai reeds in die hel. Soos reeds deur ds. Kotzé gesê, is die hel se vloere met hulle kop-bene uitgeplavei. Elia wil byvoeg dat hulle ribbes vir harpsnare gebruik word om die makabere melodie van Satan se vervolgingswaansin in die hel te speel, terwyl hulle bo-bene gebruik word om die ritme van die onderwêreld se smart soos dromme op hulle kop-bene te hou. Hulle word vir altyd tussen vloeke en gille in die vlamme rondgejaag deur verbitterde lidmate omdat hulle heuningpreke gesluk het sonder dat hulle van die gif daarin geweet het.
Daar is reeds talle huurlinge van verskillende valse kerke wat op hierdie oomblik in groot smart tot God om hulp roep - maar dit is te laat. Die Bybel leer dat nóú ou 'n welaangename tyd is en dat vandag die dag van heil is. Sondaars moet hulle asseblief bekeer omdat die sagmoedige Here Jesus nou pleit. Vir verlore huurlinge in die hel is Jesus Christus nou 'n God van wraak.
DIE VERKLEURMANNETJIE-
KERK
'n Belangrike kenmerk van enige rowerspelonk, is die besondere vermoë daarvan om by verskillende omstandighede aan te pas. Dié kerke is alles behalwe 'n toonbeeld van vaste beginsels en laat toe, omdat hulle geen anker het nie, om rondgeslinger te word deur elke wind van lering. Hulle span hulle seile soos wat die winde van verandering waai. Hulle vaar op 'n opportunistiese bootjie en sodoende pas hulle orals in en probeer al die verlore skape gelukkig hou. Dit is egter logies dat hulle noodwendig beginselvaste oortuigings oorboord moet gooi as hulle deur omstandighede tot oorgawe gedwing word. Hulle is nie bekommerd as skape hulle verlaat nie, aangesien baie predikante nie "herders" is nie maar "huurlinge". Die enkele huurlinge in die kerk wat ontevrede met die nuwe veranderinge is, word gou gedwing of oortuig om saam te loop. Die saamlopers strompel voort met die nuwe wendinge a.g.v. hulle groot salarisse en latere pensioenvoordele. Ook is hulle geneë, omdat hulle nie hard hoef te werk nie en dus swyg hulle oor alle booshede.
Die Rooms-Katolieke kerk, sowel as talle ander bewegings, het deur die eeue pogings aangewend om mense na hulle kerke toe te trek. Die huurlinge se vergadering het talle dokumente na vore gebring wat hulle besondere aanpassingsvermoë illustreer. Die besondere dokument, nl: "Snert en Sameswering", het 'n kragtige bydrae gelewer om die kerk se huurlinge en verlore skape voor te berei vir 'n nuwe era Suid-Afrika! Dit het pragtig gewerk. "Nog het dit einde niet", want die Satan sal nog sy pond vleis kom haal. Die beloftes wat gemaak is moet alles eers bewaarheid word. Elia profeteer dat die laaste erger sal wees as die eerste en geen beloftes vir vrede sal op die langeduur realiseer nie. Die alliansie met die rooi Beer en die verval van protestantisme, sal tot gevolg hê dat daar 'n geweldige morele en ekonomiese agteruitgang sal plaasvind. Die spreekwoord: "elke hond kry sy dag", is seker nie paslik nie, maar "wat jy saai sal jy maai" kan tog nie onredelik wees nie?
Die Moslems was altyd deur die protestantse kerke as 'n vals godsdiens beskou. Op 'n sekere vergadering van die huurlinge het hulle 'n besluit geneem dat Islam 'n vals godsdiens is. Toe hulle van weerskante bestook word, vra hulle om verskoning en erken Islam as godsdiens en trek terug wat hulle gesê het. Skielik kom die verkleurmannetjiekerk se veelkleurige gesindheid van die nuwe era na vore. Hulle raak akkommoderend, al beteken dit dat die Here Jesus Christus se Godheid heeltemal verloën word. Mohammed word skielik aanvaar bó Paulus en die profete. Die enigste en waaragtige God word skielik gelykgestel aan "Allah" wat glad nie bestaan nie. Allah is nie God nie, aangesien die Moslems die Godheid van die Heilige Gees en van Christus verwerp. Die vals kerk het dus gekapituleer - of het hulle dalk hulle seile gespan om in die nuwe era Suid-Afrika te vaar?
Dit moet egter onthou word dat die bond-broeders ook deel van die vals kerk is. As die regering "regs" skreeu dan preek die huurlinge 'n regse teologie. As die regering "links" skreeu, dan verloën die huurlinge ter wille van status en Mammon al hulle beginsels en preek "hervorming en vrede". As dit maar 'n egte vrede is, kon Elia met hulle saamgestem het, want wie soek nie vrede nie? Hulle gaan so ver om die kommuniste op hulle kansels toe te laat. Ter voorbereiding van die nuwe era godsdiens bring hulle selfs 'n vals Bybel na vore om hulle "hervorming" te bewys. Deurdat die kerk nie die sout van die aarde is nie maar die suurdeeg in die volk, word 'n totale volk, kultuur, volkslied en vlag deur die huurlinge se soetsappige antichristelik-gehoorstrelende preke begrawe.
Sal God nie weer 'n profeet opwek om deur die krag van die Heilige Gees die meester van alle sektes te bestraf en haar sondes aan die lig te bring nie? Miga is 'n goeie voorbeeld van 'n dapper held:
"Ek daarenteen is vol krag, met die Gees van die Here, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde". (Miga 3:8)
Die vals kerk het aspirasies om geheel en al deel van die werklike rigtinglose kerk (W.R.K., of Wêreldraad van Kerke) te word. Die verlore skape van die kerk, voordat hulle enige iets kan verstaan en wat 'n sg. humanisties-eensydige verbond sonder enige morele standaarde met God aangegaan het, gaan die grootste verrassing kry. Hulle gaan ontdek dat God niks met hulle in die oordeelsdag in gemeen het nie, omdat hulle nie weergebore is nie. Blindelings word lidmate gekondisioneer deur "Die Brandstigter" (omdat dit die vure van die hel stook), 'n inligtingstydskrif, om alle nuwe wendinge te aanvaar. Terwyl hulle aan Beëlsebul se stert swaai wat waggelend deur die see van mense strompel en hulle vertrap, verkoop hulle vormgodsdiens aan 'n volk.
Sommige in die vals kerk het ook 'n besondere liefde vir "mannetjies-vroutjies". 'n "Geleerde" in die vals kerk troos gedurig die snaakse "ou goetertjies" met sagte soetsappige sondagskooltaal dat hulle "net siek" is. Daar word ook 'n oproep gedoen dat die "Christene vir hulle moet bid omdat hulle ons broers is". Sonder om enigsins verder te gaan, word die leser uitgenooi om Romeine 1 te lees. Geen landswet wat gemaak word om die Sodomiete te beskerm kan die woord van God anders vertolk of die oordele van God afkeer nie. Ons maak dus geen uitspraak as mens teen Sodomie nie, maar die Woord van God self is duidelik daarteen uitgesproke. God sal ook die mense straf wat hulle goedkeuring aan hierdie praktyke gee. Enige duiwel wat uit die hel vlieg met 'n pienk hempie en stywe broek om 'n ander interpretasie aan God se Woord te gee, moet sonder versuim na sy "waterlose plekke" teruggestuur word. Hoekom moet ons as God se kinders toelaat dat die gruwels van verwoesting dit "regmaak" wat deur die eeue verkeerd was? Waar is die God van Elia? Moet ons nie respek vir die Woord van God hê nie?
Elia profeteer 'n toenemende toegeneëndheid van die vals kerk t.o.v. sodomie, elke vorm van liberalisme, elke vorm van morele verval en "derglike dinge". Indien die skeptici dink hier word oordryf, bevestig dit alles wat gesê word. "Oordryf" beteken nie dat die skeptici alles ontken nie - hulle voel dat wat gesê word waar is, maar ons "vat dit te ver". Die vraag is egter wat doen die skeptici aangaande die "bietjie" wat dan verkeerd is? Hulle sif die muggie uit en sluk die kameel in. Die doek word nou van die grootste vormgodsdienstige standbeeld in ons land se geskiedenis afgetrek. Sal God ons langer spaar as ons blanke volk gedurig saam met die huurlinge draf wat afgodsbeelde van vormgodsdiens op hulle skouers dra wat die somtotaal van alle gruwels geword het? Elke keer as die beeld dreig om weens die huurlinge wat gedurig struikel te val, dan word die beeld gered! Selfs onkundige Christene neem deel om maandeliks ietsie vir die afgod te gee. Ek stel voor dat hulle alle donasies wat hulle gee om die bedelaars tevrede te hou, staak. Elia stel ook voor dat hulle alle preke wat nuwe afgodsbeelde uitbeitel, verwerp. Om in die lig te kom behoort hulle ook met smart te bely dat hulle God se geld aan 'n Babiloniese godsdiens gegee het.
Die verkleurmannetjie-kerk word dus alles vir almal. Hulle aanvaar die Moslems, Katolieke, Kommuniste - maar oor die jare was alle Pinkster kerke, Nuwe Protestantse kerk (Evangelies Gereformeerde Kerk), A.E.B. en ander evangeliese bewegings saam met bewegings soos die Jehovasgetuies as sektes geklassifiseer. Roep hierdie sondes nie na 'n heilige God in die hemel om vergelding nie? Moet ons langer swyg en ons naels kou oor hierdie dinge wat oor ons land kom? Dit is Elia se mening dat die verkleurmannetjie-kerk haar binne-in 'n smaartieboks bevind en nie weet watter kleur om na te boots nie! Terwyl hulle die Kusiete nie meer hul kerke verbied nie, het Elia verneem dat hulle in die geheim vergaderings gehou het en, soos iemand in 'n kerkraad dit gestel het: "Geen swarte sal in hierdie kerk 'n lidmaat word nie". Elia dink dat die vals kerk vir hulle 'n lat gepluk het deur by politiek betrokke te raak.
Elia meen dat die kerk se valse profete ly aan L.S.S. of die "ligsensitiwiteitsindroom". Dit beteken dat hulle vir die lig van heiligheid en eerlikheid wegvlug en die waarheid verontagsaam.
HOOFSTUK 6
'N GESPREK MET PETRUS BY
DIE HEMELPOORTE
Elia stel 'n prentjie aan die leser voor hoe daar 'n moontlike gesprek by die hemelpoorte kan plaasvind. Petrus se gesprek met 'n huurling en sy verlore skape by die hemelpoorte:
Toe die huurling en sy verlore skape by die hemelpoort aanklop om in te gaan, maak Petrus die deur oop. Hy sê dat die Meester hom beveel het om 'n paar vrae te vra voordat hulle toegelaat sal word om voor die Meester te verskyn:
Petrus: "Waarom wil julle die hemel ingaan?".
Huurling: "Ek en my gemeente wil nie hel toe gaan nie; ons was tog immers kerkmense" en deel van die grootste kerk .
Petrus: "Almal wil hemel toe gaan en niemand wil hel toe gaan nie, maar niemand kan sonder die wedergeboorte en 'n egte bekering die hemel ingaan nie".
Huurling: "Ja Petrus, daarom het ons so goed as moontlik probeer lewe".
Petrus: "Maar sê my meneer (want in die hemel is daar geen titels nie), wat het jy vir hierdie verlore skape gepreek?".
'n Verlore skaap val toe in die rede:
"O Petrus, ons predikant het so pragtig gepreek en ons altyd bemoedig!". Huurling: "Ja ou Petrus, ek het die drie Nederlandse Geloofsformuliere gepreek en geleer en dat hulle gehoorsaam aan die kerk moet wees. Hulle moet gereeld kerk toe gaan, nagmaal gebruik, hulle bydrae gee en so goed as moontlik lewe".
Petrus: "Is dit al wat jy gepreek het om die hulle pad na die hemel te wys? Hoekom het jy nie die wedergeboorte gepreek nie?".
Huurling: "Aag Petrus, jy weet mos dit is sektariese terme en buitendien het my professor vir my geleer dat dit irrelevant in ons tyd is. Ek het ook in my bediening gevind dat die sg. 'weergebore mense' fanaties, ongebalanseerd en uit die oudedoos is!".
Verlore skape: "Ja Petrus, al wat hulle kan preek is sonde, en die wederkoms. Hulle het ook te veel na Jesus Christus se naam verwys en is dit nie 'n ydele herhaling van woorde nie?".
Die huurling maak sy keel skoon en sê met dreigerige stem:
"Toe kom nou Petrus, laat ons ingaan, ons wil sien hoe die hemel lyk".
Verlore skape: "Ja Petrus, maak gou, ons wil sien hoe groot en mooi ons huise is wat vir ons gebou is. (Op hierdie tydstip het daar 'n getwis losgebars tussen die skape oor wie die grootste huis sal kry en wie die meeste koeksisters vir fondsinsameling vir die kerk gebak het. Die murmurering het soos 'n geblêr van skape geklink. Terwyl die huurling, wat die skape eintlik nie ken nie, hulle probeer kalmeer, was daar pandemonium want hulle was almal buite beheer. Nadat hulle Petrus verstoot het, het hulle tot in die voorportaal van die pêrelpoort gevorder. Met 'n skok het hulle eers geswyg toe 'n duidelike stem vir die huurling vra: "hoe het jy hier ingekom?".
Petrus het toe die hele geselskap onder leiding van twee magtige engele na 'n groot saal begelei en die hele geselskap het voor 'n groot wit troon gaan staan. Toe praat die huurling weer:
"Here, ek is tog hierdie mense se predikant!".
Petrus antwoord toe verder:
"Ek het ongelukkig slegte nuus vir jou - die Woord van die Here leer dat julle nie baie leermeesters moet wees nie. Ek is bevrees dat jy hierdie skape mislei het en nie die waarheid aan hulle verkondig het nie".
Op hierdie stadium word daar deur 'n magtige engel met 'n vurige swaard 'n gesig aan die huurling getoon sodat almal wat daar staan dit kan sien. Die gesig strek ver terug na die huurling se studentedae toe hy skelm in die "boilers" van die koshuis begin rook en pruim het. Hy sien ook verder hoe hy versteekte notas in die eksamen gebruik het. Met afgryse aanskou die verlore skape hoe hulle predikant 'n permissiewe verhouding met 'n meisie aangeknoop het. Hy sou ook die einde van sy eerste jaar nie slaag nie, was dit nie vir sy pa wat kontakte in die bende van die bond-broeders gehad het nie. Toe die engel in 'n verdere gesig wys waar die huurling, toe nog tokkelok, vir 'n persoon lag wat vir hom 'n traktaaitjie oor die wedergeboorte gegee het, skreeu die huurling:
"Dit is genoeg - berge val op my en heuwels bedek my!".
Die vurige oë van die engel en die ernstige uitdrukking op die gesig van Petrus was genoeg om hom na sy asem te laat snak en hy besef dat hy deur sy hele geskiedenis, sonder dat hy enige iets daaraan kan doen, passief terugevoer word. Met die volgende toneel was die huurling stom van skok.
Die engel neem hom terug na 'n geval waar 'n ou oom wat op sterwe gelê het, se vrou die pastorie dringend gebel het. Sy vra dat die predikant asseblief vinnig sal kom om die oom te help want hy het "nie sekerheid oor sy saligheid nie en verkeer in 'n geweldige stryd". Die huurling se vrou, nl. mev-ds., wat die telefoon beantwoord het, druk die gehoorstuk toe en sê vir die huurling van die ou tannie se versoek. Die huurling sê vir sy vrou om die ou tannie gerus te stel en vir die oom "met sy doopdatum te bemoedig". Hy sê ook verder aan sy vrou om vir die tannie te sê dat hy so "gou as moontlik sal kom". Die engel herinner hom deur die gesig daaraan dat hy met die plaaslike dokter en prokureur 'n golfafspraak gehad het en eers die aand se kant by die oom kon uitkom - dit was te laat.
"Oom Niklaas is dood, sonder God en sonder hoop in hierdie wêreld", sê die Engel; "en jy is daarvoor verantwoordelik". Met 'n hees stem het die huurling iets oor die uitverkiesing probeer mompel dat die "oom dan seker nie uitverkies was nie", maar dadelik is sy aandag op die volgende toneel gerig.
Almal wat daar staan, sien hoedat 'n arm bedelaar, by die pastorie aanklop. Die man met verslete klere vra, toe die huurling met 'n skeptiese frons die deur oopmaak, vir 'n stukkie brood. Die huurling was baie ongemaklik toe hy die arme sien. Hy sê toe vir hom dat hy maar na die plaaslike welsynswerkster moet gaan of na die stadsending, "want dit is nie sy werk om die armes te voer nie". In die gesig word die huurling gewys hoeveel slaapkamers die pastorie gehad het en hoe vol die koskaste was. Daar was selfs te veel kos in die huis want die gemeentelede het alles wat van die basaar oorgebly het pastorie toe gebring. Die arme het verby die predikant gekyk na die kombuistafel vol koeksisters, koeke, vleispasteitjies en koeldranke. Toe die ou boemelaar weer smeek vir iets te ete, word hy sonder genade deur die huurling die hek gewys. Die huurling voeg toe by: "Ek is haastig en het nie vir mense tyd wat te sleg is om te werk nie - loop nou asseblief en moet nie weer kom nie". In die gesig merk die huurling, sy verlore skape en Petrus op, dat die huurling se twee duur opregte honde se bakke vol afvalvleis is en selfs van die terte wat in die kerksaal van die tafel afgeval en gebreek het. Toe die huurling se vrou later tuis kom, verwys hy neerhalend na die "verdomde hobo wat hom kom lastig val het toe hy na Dallas op die TV gekyk het".
Erger kon dit nie met die huurling gaan toe daar vir hom gewys word, dat dieselfde engel wat nou vir hom die gesig wys, daardie dag in 'n gedaante van 'n boemelaar aan hom verskyn het. Toe die huurling huilend vra "hoe dit kon wees", wys Petrus hom daarop dat engele aan mense verskyn het en hulle dit nie geweet het nie.
Vir die eerste maal pêrel die sweet op die huurling se bekommerde gesig uit. Toe brul daar 'n stem uit Sion en dit klink soos baie waters en sê:
"Toon aan die huurling nog twee gesigte":
Die Engel, wat 144 el hoog is, rig toe sy hand nog 'n maal na 'n groot wit muur. Daar verskyn toe die tweede laaste gesig aan die huurling voor sy verlore skape. Dit handel oor 'n kerkraadslid wat interkerklike bidure by sy huis laat hou het. Daar het gewoonlik pragtige goedgeklede dames, wat allesbehalwe wêreldgesind was, een maal per maand besoek afgelê en 'n biduur gehou. Dit was op 'n Sondagmiddag. Die kerkraadslid was waarlik gered en het die Here gedien. Gedurende hierdie biduur, het die predikant die video's van die vorige aand gekyk. Dit was goddelose, seksbelaaide films waarna die huurling gekyk het, terwyl die biduur by sy kerkraadslid se huis gehou is. Namate die biduur gegroei en nog lidmate en kerk-raadslede dit begin bywoon het, het die huurling 'n stokkie daarvoor gesteek. Toe hy al die pogings aangewend het om die biduur te stop, het hy ten laaste die vals gerug versprei dat die dames valse profetesse is wat daar dienste hou, en dat hulle "sektaries is". Die biduur is erg geknou. Dit was egter nie die ergste nie. Die huurling sien verder in die gesig dat een van die persone wat die biduur vir 'n geruime tyd bygewoon het, op die punt gestaan het om sy lewe aan God oor te gee. Hy sien hoe die sagmoedige Here Jesus elke keer by die biduur deur die Gees pleit dat die man moet oorgee. Ná die huurling se vals gerugte is hy weg om nooit weer die waarheid te hoor nie.
Die laaste gesig was die skrikwekkendste van almal. Elke preek wat die predikant in sy hele dienstermyn (nie bediening nie) gepreek het, het soos 'n oogwink voor die hele geselskap afgespeel. Nadat almal na elke woord geluister het, sê 'n ferm, maar ook bedroefde stem:
"Die oordeel wat God oor jou vel is omdat jy nooit enige sondaar die weg na die hemel gewys het nie. Jy het die sleutel van die kennis gehad, self het jy nie ingegaan nie, en die ander wat wou ingaan, dié het jy verhinder. Jou preke was liefdeloos, selfgesentreerd, gemik teen ander wat God opreg gedien het, en die gruwelikste sondes het jy regverdig. Jy het selfs jou mede leraars wat bekering gepreek het, vervolg. Weens jou hoogmoed en om jou selfbeeld te verbeter, het jy hoë woorde gebruik en neerhalend met 'n hoogdrawend hoogmoedige stemtoon gepraat van ander wat 'dwaal', omdat hulle nie 'geleerd' was nie".
"Jy word aan die ergste graad van geveinsdheid skuldig bevind, en aan elke denkbare sonde onder die hemel - om nie te praat van dobbelary wat jou hele gemeenskap laat struikel het nie, jou flirtasie met gemeentelede se vrouens en drankies wat jy saam met gemeentelede geneem het nie".
Na dié woorde, het Petrus bygevoeg: "Huurling, jy was nooit 'n dienskneg of gesalfde van God nie. Jy het ook gedurig met die wederkomsboodskap gespot. Het jy nooit gelees wat ek in my tweede brief aangaande spotters geskrywe het nie?" (2 Pet. 3:4-5). Na 'n lang stilte het die huurling, wat nou tot 'n patetiese figuur op sy knieë gereduseer is, begin pleit. Hy het gesmeek en gehuil dat Petrus hom moes help dat hy die toorn van God moet vryspring. Petrus het met deernis aan hom uitgewys dat "dit die mens bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel". Hy het verder gesmeek dat die Here hom "genadig moet wees en hom asseblief weer 'n kans moet gee om te gaan preek". Daar is toe aan hom gesê dat "hy reeds duisende kanse gehad het, geweeg en te lig bevind is". Daar is ook aan hom getoon dat "die maat van sy sonde vol geword het, dat hy reeds baie bloed aan sy hande het en dat hy finaal veroordeel sal word, nadat elkeen van sy verlore skape se sake verhoor is".
So het die engel elke gemeentelid se saak behartig en elkeen het 'n gesig gehad van sy/haar lewe. Die verlore skape moes ontelbare sondes met afgryse aanskou. Die grootste van die sondes was egter dat hulle die huurling as saligspreker aanvaar het en Jesus as Saligmaker verwerp het. Hulle moes aanhoor hoedat die huurling hulle elke Sondag belieg en in stryd met die Skrifte salig verklaar, en dat hulle nou vir ewig die straf van hulle eie sondes gaan dra. Hulle moes aanskou hoe materialisties, hoogmoedig en selfgesentreerd hulle geword het namate die huurling hulle deur sy preke gefossileer het. Hulle sien ook hoe daar ware kinders van God was wat hulle openlik teen die huurlinge gewaarsku het, en dat hulle vir hulle gelag het. Die vreeslikste preke was die huurling se waarskuwings teen die "sektes".
Toe het 'n verdere tragiese gesig afgespeel: Die verlore skape het die huurling begin beskuldig en selfs gevloek omdat hy hulle mislei het. Die huurling het hulle weer beskuldig dat hulle hom as predikant beroep het om vir hulle te preek, en dat hulle van sy preke gehou het! Die oor en weer gevloek en beskuldigings is skielik beëindig toe daar 'n harde stem soos 'n donderslag sê:
"Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My julle wat die ongeregtigheid werk!". (Matt 7:23)
Die huurling en sy gemeente smeek Petrus en sê: "Meneer, Meneer, maak vir ons oop"; Maar Petrus antwoord en sê: "'n mens moet nooit 'n komma of 'n punt in God se Woord verander nie!". God het voor sy groot wit troon aan die huurling gesê dat hy 'n groter straf sal ondergaan in die helse vure op grond van sy onweergebore toestand en a.g.v. die feit dat die huurling die genade van God in ongebondenheid verander het. Hy het ook gesmeek dat "sy ander gemeentelede op aarde gewaarsku moes word". Nadat die huurling al sy menslike argumente om nie hel toe gestuur te word nie aangehaal het, het God beveel dat hy weggevat moes word "na die buitenste duisternis". Twee magtige engele van die Here het die huurling met vurige swaarde van God se aangesig af weggestoot na 'n afgryslike ewige hel waar die wurm nie sterf nie en die vuur nie uitgeblus word nie. Toe die huurling oor die afgrond in die vlamme stort, het hy met bloedstollende gille geskreeu: "Dit is te laat, hoekom het ek nooit geluister nie!". Daar is 'n goddelike waarskuwing in die dierbare Woord van die Here in Galasiërs. Elke predikant, van enige kerk, moet die volgende teks bepeins:
"Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees die verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai." (Gal. 6:7-8)
HOOFSTUK 7
DIE HUURLING SE GEBED
"O Allerhoogste, ek dank U dat ek nie so sleg soos die sektes is nie. Hulle maak 'n bespotting van godsdiens en matig hulle aan dat al hulle sondes weggewas is. Ek is tevrede om nederig gehou te word deur my sonde soos baie ander. Ek is dankbaar dat my sonde bedek is soos die sneeu 'n ashoop bedek - niemand kan dit sien nie. Ek bid dat U die sektes se oë sal oopmaak dat hulle terug sal kom na die kerk van Christus en gebalanseerd kan word. Ek bid dat hulle nie so radikaal sal wees en leer dat 'n mens kan weet dat jy 'n kind van God is nie - ons hoop tog almal maar dat ons uitverkore is en Hemel toe sal gaan. Dankie vir ons groot kerk wat die saligheid bied. Ons bid nou vir al die hooggeplaastes, soos die kommuniste in die parlement - U het hulle almal aangestel, sodat ons nou rustig kan lewe. U is soewerein en alles geskied onder U wakende oog. Here, ons is heeltemal tevrede met wat oor ons kom - ons kan tog nie verwag dat net ons altyd reg is nie. Ons bid ook vir ons broers, die Katolieke en Moslems, dat dit met hulle goed mag gaan. Tog vra ons, dat U die sektes ook sal help wat glo dat die huidige toestand in die land God se straf is, om hulle oë oop te maak om U plan vir S.A. te verstaan. Ons bely dat ons altyd verkeerd was en dat ons voorvaders in diep sonde gelewe het. Hulle was vreeslik goddeloos - help ons om ons verlede saam met ons vlag, volkslied en kultuur te begrawe. Gee genade dat al die radikaliste ook tevrede sal wees met die nuwe wêreldorde op kansels en in die parlement. Dankie dat al ons sondes van die verlede en die toekoms vergewe is en dat lidmate van ons kerk almal hemel toe sal gaan. Ons beste werke is tog wegwerplik voor u aangesig en al ons probeerslae om heilig te lewe is tevergeefs. Al probeer ons, sal ons U nooit kan begryp nie - U is so misterieus daar ver bo in die hemel. Ons bid nou dat die huidige duisendjarige vrede sal momentum kry en dat vrede oor die hele wêreld sal kom. Ons is jammer dat ons die vrede versteur het om teen die terroriste op die destydse grens te veg - hulle is nou ons weermag en polisie, en dit bewys dat ons verloor het en dat hulle gewen het. Ons kerk sê niks oor dit nie want ons glo aan U soewereiniteit - U beskik alles - ook die onheil. Ons het ook geen simpatie met hulle wat in die oorlog gesterf het nie, omdat hulle die duisendjarige vrede versteur het. Gee asseblief nou dat alle godsdienste onder een sambreel in S.A. sal saamsmelt en dat ons almal as broeders sal aanvaar. Miskien is die klompie professore tóg reg toe hulle gesê het dat die duiwel en die hel nie bestaan nie - miskien sal mense nou minder bohaai oor die duiwel maak. Ons gaan nou vrede hê, al moet ons ook 'n bietjie etiese kompromie maak en van ons belangrike leerstellings afstand doen. Amen!".
'N GESPREK IN DIE HEL
Op 'n dag toe Elia oor die ewigheid en watter aandeel die duiwel en sy demone aan vals kerke het peins, het die volgende gedagtes by hom opgekom:
Hy sien in sy verbeeldingswêreld hoe die demone al fladderende in die hel in opdrag van Lucifer soos aasvoëls versamel. Al sou Elia sy pen in 'n vloeibare woordeboek kon doop, sou hy nie met menslike woorde die aakligheid van die gedrogte kon beskryf nie. Die absolute haat en weersin teen God en die kroon van sy skepping was die eerste kenmerk van die verskriklike gruwels wat voor sy oë afgespeel het. Terwyl die slawe van Satan in verskeie gedaantes in die hel aankom, word daar van die demone wat 'n vorige keer agtergebly het gepynig. Satan skreeu en vloek hulle geweldig omdat hulle mense-siele deur hulle vingers laat glip het. Terwyl hy met ontsettende vloeke God se naam noem, sê hy aan die demone wat gemartel word dat mense tot bekering gekom het en dat hulle nou aan God behoort. Elke keer as die duiwel God vloek, dan maak die Here die hel 'n paar grade warmer vir hom en die duiwels.
Die nuwe vergadering wat belê is, sal nuwe strategieë bespreek om sondaars dieper in sonde te laat wegsink en om kinders van God se lewens te teister. Die owerstes van die duiwels het tussen die gille en reuk van swael die klaende demone tot stilte gedreig. Satan sê toe met 'n wreedaardige stem dat hy "graag voorstelle wil aanhoor hoe om vals kerke in sy koninkryk te gebruik".
'n Paar demone het probeer om Satan te oortuig dat hulle ateïsme moet laat herleef. Hulle betoog sentreer rondom die vorige eeu toe hulle welslae op dié gebied gehad het. Met 'n paar dwarsklappe het Lucifer hulle herinner dat ateïsme 'n uitgediende onpraktiese vurige pyl is. "Dit werk nie meer nie!", skreeu hy. Nadat een na die ander demoon hulle voorstelle met roggelende stemme vol haat gemaak het, het Beëlsebul hulle stilgemaak.
Satan neem toe die gesprek oor. Hy wys daarop dat die demone eerder moet konsentreer op vervalle protestantisme. Hulle moet nou die hele wêreld vir 'n een-wêreldkerk voorberei en dus moet hulle nou ten alle koste vervalle protestantisme met ander godsdienste vermeng. Hy verduidelik dat ateïsme nie meer kan werk nie, maar Konstantynisme. "D.w.s.", sê Satan, "soos wat Konstantyn die Christelike godsdiens met heidense filosofieë vermeng het, moet hulle die vervalle Christelike godsdienste met ander heidense godsdienste vermeng. Nadat die demone gesê het dat hulle godsdiens haat, word daar aan hulle gesê dat "misleiding beter as manipulering is". Satan sê toe aan sy vergadering in die rookbelaaide vertrek, dat hulle "hulleself op predikante moet toespits". Demone moet die ongeredde geleerdes gebruik om die massas in kerke te mislei. Satan sê toe aan almal wat voorstelle gemaak het dat hulle "onnosel is en dat vervalle protestantisme uitgebrei moet word". Daar word aan die demone verduidelik dat vormgodsdiens naby die waarheid is en dat die demone op dié gebied sal floreer omdat hulle grootste talent misleiding is. Ook word verduidelik dat die strukture reeds bestaan en funksioneer. As daar enige waarhede in enige kerke is moet dit ten alle koste met namaaksels vervang word.
Predikante moet groot salarisse betaal word, sodat hulle vleeslike begeertes aan aardse dinge versadig kan word. Dit sal verhoed dat enige ware geroepene wat nie "geleerd" is nie, op die kansel kan kom. Die wat waarlik vir God wil werk sal op die universiteite beïnvloed word met liberalisme, sosiale aktiwiteite, die teenoorgestelde geslag, hoërkritiek en talle vorme van intellektualisme. Hulle sal ook as studente in skuld gedompel word, sodat hulle in vals kerke hulle skuld kan "terugwerk". Sodra die predikante in die gemeentes beland en die lewe begin geniet, sal hulle die aansien, baie geld en gemaksug moeilik prysgee. Die "predikant" sal deur die mense en demone tot 'n klein "godjie" verhef word en as hy hierdie status van die onderwêreld aanvaar het, sal hy nooit die hemel sien nie!
Die predikant en vyand van God maak dan sy kerk en lidmate deel van die nuwe wêreldorde. Satan verduidelik dat dit eintlik "maklik sal wees want hy het reeds daarin geslaag om die hele wêreld in oorlog te dompel en nou soek almal vrede en eenheid". Eenheid op kerklike gebied word ook nou gesoek. Hierdie vals predikante en vals kerke dien nou as voertuig om baie siele na die verderf te vervoer.
Nadat Satan die eerste deel van sy voorstelle gemaak het, het die helse magte hom toegejuig en sissend erken dat "hulle lief is om mense-siele te vermoor deur predikante wat hulle voordoen dat hulle vir God werk".
Nog 'n demoon het bygevoeg dat die "onkunde van ware Christene uitgebuit moet word tot die hel se voordeel". Hulle moet vir Christene fluister dat hulle in die "vals kerke moet bly" en "hulle lig daar laat skyn". As die Christene moedeloos sou word, stel die demoon voor, moet daar aan hulle gesê word "om steeds daar te vertoef en te wag vir 'n groot herlewing wat nog sal kom". Selfs Satan, wat vol hoogmoed geluister het na die demoniese voorstel, erken toe teësinnig dat dit 'n goeie voorstel is.
Skielik blom die psigopatiese karakter van Satan en sê dat hulle alles moet probeer. Hy sê ook dat die plan nie noodwendig hoef te slaag nie, want die duiwels kon nie in John Wesley-hullle se tyd slaag om mense in vals kerke te hou nie! Hy voeg toe weer op kalmerende wyse by dat daar eintlik geen ander alternatief is vir vals kerke nie, en dat mense verkies om in 'n kerk te bly - al is dit 'n vals een. Satan wys ook daarop dat selfs evangeliese predikante se preke in die vals kerk die meeste van die tyd op dowe ore val. Hy verduidelik dat as geredde predikante in die vals kerke preek, sondaars die meeste van die tyd net ontwaak word. Die dooie prediking van die plaaslike dooie predikant het die sondaars so erg gefossileer dat as hulle een of twee maal per jaar die evangelie hoor, hulle slegs tydelik ontwaak word. Niemand sal die saad wat in hulle harte val natgooi nie. Satan haal toe oneindige bewyse aan hoedat huurlinge weer die roofvoëls van die hel kan toelaat om die saad uit harte van ontwaakte sondaars op te pik. Satan toon ook dat die werklike evangeliese bewegings te klein en in sommige gevalle so verdeeld is dat hulle eintlik nie 'n groot invloed op die vals kerke het nie. "Gelukkig", gaan Satan voort, "bewys die hele geskiedenis dat geen gedeformeerde kerk haar ooit laat hervorm het nie". Vir hierdie stukkie geskiedenis en briljante insette, het die demone vir Belial staande toegejuig. Daar word ook toe getoon dat Wesley en Whitfield-hulle groot welslae buite die vervalle kerkstrukture van hulle tyd gehad het. Op hierdie aanmerking van Lucifer het 'n paar demone wat in daardie tyd teen herlewingspredikers gewerk het, hulle slangkoppe laat sak om nie deur Satan in die oë gekyk te word nie. Hulle het geweldige neerlae verduur gedurende die groot ontwaking in die 18de eeu. "Ten alle koste", sê Satan, "moet mense in die vals kerke gehou word". Hy gaan toe voort om te verduidelik dat as mense uit die kerke sou vlug, daar dalk weer 'n Wesley of 'n Whitfield mag wees wat mense van Satan sal beroof.
Nadat nog 'n paar demone planne voorgestel het, sê Beëlsebul aan hulle dat hulle tyd mors. Hy gee toe sy laaste opdragte. Hulle moet die volgende in predikante se ore gaan fluister:
1. Hulle mag nooit oor sonde preek nie, maar net oor liefde en vrede.
2. Hulle moet nooit oor die boek Openbaring preek nie, en as hulle wil, moet hulle dit totaal vergeestelik.
3. Hulle moet tussen die lyne vir die mense sê dat die nagmaal-seremonie hulle sondes vergewe.
4. Die sondaars in vals kerke moet deur die vals predikante geleer word dat hulle vals kerk in der waarheid die ware kerk van Christus op aarde is.
5. Die predikante moet vrede preek en leer dat kommunisme dood is.
6. Predikante moet almal wat teen kommunisme gekant is regses, radikaliste of Neo-Nazis begin noem.
7. Predikante moet diep in hulle agterkoppe glo dat kraanwater by die doop sondes wegwas.
8. Predikante moet elke Sondag die gemeente salig spreek, sodat lidmate nie na die "sektes wegloop en dalk gered word nie".
9. Predikante moet probeer om die naam van Jesus so min as moontlik te gebruik.
10. Predikante moet die algemene genade van God geleer word sodat hulle alle godsdienste, soos Katolisisme, Islam, Hindoeïsme, ens., kan aanvaar. Hulle moet glo dat alle gelowe dieselfde God aanbid.
11. Predikante moet ware Christene in hulle kerke vervolg en onder sensuur plaas.
12. Valse predikante moet ter wille van sosiale verkeer soms 'n dop saam met lidmate vat, sodat hulle in aansien by hulle kan bly.
13. Valse predikante moet die Skrifte vergeestelik en verdraai, sodat dit sy krag en betekenis kan verloor en niemand daardeur gered kan word nie.
Lucifer het sy demone beveel om hierdie 13-punt plan 666 keer elke jaar vir "goeie resultate" te herhaal. Terwyl Beëlsebul met 'n eentonige stem met die demone praat, sarkasties predikante se kanseltaal naboots sodat almal skater van die lag, vlieg daar 'n afskuwelike gedrog die vergadering binne. Dit is 'n waghond-demoon wat op aarde moet toesig hou en aan Satan verslag doen hoeveel siele gered word. Toe hy aan Lucifer vertel hoeveel mense-siele waarlik gered is terwyl hulle die vergadering gehad het, was die hele hel holderstebolder. Terwyl Beëlsebul feitlik in sy woede verstik, jaag hy dadelik almal uit die hel "om te gaan werk, of...".
Dit is Elia se mening dat dié voorstelling nie die aakligheid van die bose in sy volle werklikheid kan uitbeeld nie. Elia is ook deur die praktyk en die Gees van God oortuig dat duiwels deur vals predikante werk om mense te mislei. Paulus leer:
"Maar die Gees se uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang". (1 Tim 4:1)
Hierdie mense wat van die geloof afvallig word, word primêr deur mense en demone mislei. Die voorstelling van die hel is presies wat in die praktyk gebeur. Elia wil dit verder bewys. Al die kerke, universiteite, geestelike boeke en geestelike radioprogramme, slaag nie tans daarin om die vloedgolf van goddeloosheid teë te staan nie. As die kinders van God hemelse olie op mense gooi, werk die brandweermanne so hard as wat hulle kan en gooi helse water op die siele.
Die tyd is nou ryp om die vyande van God die stryd aan te sê. Die soetsappige preke en benaderings het nie gewerk nie - God se diensknegte moet nou luid uit die keel roep. Die kinders van die Here moet nou onder die banier van heiligheid die vyand met 'n ontblote swaard tot niet maak. Die ekskuus-my-dat-ek-lewe houding van baie Christene het ons in hierdie ontsettende toestand waarin S.A. tans geestelik verkeer, laat beland.
"Staan op Staan op vir Jesus O! helde van die kruis, Verhoog die krygsbaniere deur al die stryd gedruis. Stryd lei tot oorwinning...".
CHRISTENE TUSSEN
HUURLINGE
Ons moet versigtig wees as ons met die Christene oor hulle huurlinge praat. Dit is onmoontlik om die gedagtes en oorlegginge van ander se harte te peil. Dit is ook nie die doel van die skrywer om ware kinders van die Here te oordeel nie. Die woord "beoordeel", is eintlik wat Elia wil gebruik. Dit beteken egter dat omstandighede, feite en optredes van huurlinge en Christene met die Woord van God gemeet word en dan kan daar konkrete afleidings gemaak word.
Indien Christene teen wêreldgesindheid gekant is, sal hulle geen voorbeeld stel as hulle geloofwaardigheid aan vals kerke gee deurdat hulle daaraan behoort nie. Die kragtigste getuie is iemand wat hom/haar distansieer van dit wat verkeerd is.
Geen kind van God het nog ooit daarin geslaag om op die langeduur blywende vrug voort te bring deurdat hulle in vals kerke "getuig" en "vir die Here werk nie". Sodra sondaars Jesus ontvang as hulle Saligmaker a.g.v. Christene se getuienisse, sal die brandweermanne (huurlinge) gou die vure probeer doodslaan. Behalwe dat hierdie metode onskriftuurlik is, slaag dit ook nie. Die Woord is duidelik dat ons géén gemeenskap met die bose werke moet hê nie, maar dit liewer moet bestraf. Watter getuienis dra 'n kind van God uit om met die een voet in 'n vals kerk te staan, en met die ander buite die kerk? Het God nie gesê dat ons onder hulle "uit" moet gaan nie? Is die ganse N.T. nie daarop ingestel om mense teen die verkeerde te waarsku nie? Hoekom drink baie mense die gif en dan hardloop hulle rond om die teenmiddel te soek? Is daar nie 'n sterk moontlikheid dat ware kinders van God verkeerdelik deur valse profete beïnvloed kan word nie? Hoe kan hulle sondaars oortuig dat hulle gered moet word as die predikant selfs saam met sommige lidmate "'n dop vat". Dit is makliker om iemand af te trek as om hom op te trek. Moet daar nie weer 'n hervorming plaasvind nie - 'n hervorming terug na die Bybel en 'n uittog uit die rowerspelonke nie? Het die duiwel nie 6000 jaar se ondervinding nie?
Deurdat Christene aan vals kerke behoort, kan hulle nooit iemand kerk toe nooi om na die Woord van God te luister nie. Hulle sal nie in die rowerspelonke die brood van lewe in liefde ontvang nie, maar inteendeel deur die sielerowers besteel word van enige saad wat in verlede op goeie grond geval het. Verder sal die roofvoëls van Beëlsebul nie toelaat dat sondaars vir hulleself dink nie, maar sal hulle eie helse pyle op die onvaste siele afvuur om hulle verder te mislei. Baie sondaars glo nie meer die getuienis van Christene in vals kerke nie. Hulle kan nie die kloutjie by die oor bring nie. Die Christene behoort aan 'n kerk waar sommige huurlinge rook, drink en uiters ver van die waarheid af leef. Hoe moet die sondaars glo as hulle nie 'n antitese sien nie - 'n kontras tussen die wêreld en die kerk? 'n Sintese, 'n samevoeging van die waarheid en dwaling, mislei duisende kosbare siele wat miskien nooit die ewige hemel sal sien nie.
Dit is nou duidelik dat hierdie Christene wat floreer in grys areas, in werklikheid struikelblokke geword het. Luister wat sê die apostel Paulus:
"As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag na geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep". (2 Tim 2:21-22)
God se kinders moet die Here dien "saam" met die wat rein harte het. Het Jesus nie baie duidelik gewaarsku teen die Fariseërs nie? Het Hy nie gesê: "Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs" nie? Is Christus nie hier besig om te verduidelik dat die suurdeeg (sonde) die hele deeg suur kan maak nie? Het die demone wat outeurs van dwalinge is, nie die reg om God se uitverkorenes te mislei as hulle hulself oopstel vir hierdie dinge nie? Elke kind van God wat hom in 'n vals kerk bevind stel sy hele wese vir die bose oop. Só 'n Christen is 'n weerlose teiken vir die vurige pyle van die duiwel, en weens hulle kompromie bid hulle tevergeefs vir herlewing.
Baie kinders van die Here doen verkeerde dinge met suiwer motiewe. Petrus kap Malgus se oor af, maar Jesus genees Malgus - Petrus se motief was om Christus te beskerm. Samuel maak Agan met Saul se swaard dood en dit dra die goedkeuring van God weg. Talle kinders van die Here soek Hom met suiwer motiewe, maar op verkeerde plekke. Onkunde is geen verskoning teen dwalinge nie. Israel het ten gronde gegaan weens 'n gebrek aan kennis. Dit is maklik om te verstaan dat God teen die verkeerde waarsku. Dit is verder ook maklik dat predikante en kerke in die lig van die Bybel geëvalueer kan word.
Daar bestaan talle tekste waarin die kind van God gewaarsku word om nie kompromie met die wêreld te maak nie. Daar bestaan egter geen teks of beginsel in die Bybel waar mense gemaan word om tussen valse kerke en huurlinge met hulle siele te dobbel nie. Die woord "afsonder" is alleen genoeg om 'n duisend duiwels, 'n duisend vals predikante se duiwels en 'n duisend valse kerke se duiwels die mond te stop. Hoe meer die Christen se ore geskok word, hoe meer sal hy sy hart beskerm! Hoe meer die fondamente van sy siel geskud word, hoe versigtiger sal hy wees om nie met vuur te speel nie. Baie Christene het genoeg lig om die dwaling te onderskei, maar te min vuur om dit te verteer.
Die kerk van Christus deur die ganse geskiedenis het male sonder tal geskeur omdat hulle suiwer wou bly. Die liberaliste en vyande van die kruis sal gou wees om te sê dat daar nie "skeuringe" en "partyskappe" moet wees nie. Die "wysgere" word uitgedaag om die konteks van soortgelyke aanhalings in die Bybel te ondersoek. Klokslag sal ondervind word dat die ware kerk met ware profete teen skeuring en verdeeldheid moet waak. Maar as 'n kerk verval het en die afvalliges die oorhand kry, dan sê God ons moet onder hulle uitgaan. As die predikant weier om sondes soos hoerery, verslawing aan twak, dobbelary en dronkenskap van kerkraadslede aan te spreek, moet elke weergebore kind van God afstand doen van die kwaad en hulle onttrek! Kinders van God kan nie toelaat dat Satan hulle teen hulle sin saam met bose elemente in 'n kookpot van omstandighede in 'n kerk omroer nie. God sê: "gaan onder hulle uit". Verder leer Paulus dat daar met sonde gehandel moet word en dat ons sondaars moet waarsku.
"Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat die ander ook kan vrees". (1 Tim. 5:20)
"...om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus". (1 Kor. 5:5)
"Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie - dit wil sê, nie hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan - maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as 'n broeder bekend, 'n hoereerder is, of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog die slegte mens onder julle uit". (1 Kor. 5:9-11,13)
Is daar nie baie Christene wat aan die "nagmaaltafel van afgodediens" sit, terwyl die huurlinge laster, almal se sonde regverdig en 'n boosaardige getuie en somtotaal van alle goddeloosheid in die gemeenskap geword het nie? Is daar nie bloed aan die hande van baie Christene wat goedkeuring en geloofwaardigheid aan die drinkende en rokende predikante gee nie? Gou sal sommige sê: "maar gelukkig rook of drink my predikant nie". Die vraag wat egter gevra moet word, is of die predikant die weg vir sondaars na die hemel wys?
Omdat baie predikante met vrees en kompromie deurweek is en versaak het om die bose uit gemeentes en kerkrade te hou, het die onderkruipers ingesluip en sodoende vir die kerk 'n strik geword. 'n Duidelike teken van huurlinge en hulle rowerspelonke, word gesien as die vals kerk se sonde aangespreek word en hulle alles in hulle vermoë doen om dit te beskerm. Die sondaars, beskerm deur "titels" en "geleerdheid", het die kansels en kerke geskaak en dikteer nou via die kerk hoe die volk die "Here moet dien". Waar is hierdie eeu se Elia wat die valse profete in die hart van die volk moet slag? Huurlinge en rowerspelonke moet in die hart van die volk gedood word. Moet ons sit en toekyk hoe die "mensemoordenaar" miljoene siele in vuurvlamme op sy helse wa na die ewigheid stuur? Moet ons luister hoe die huurlinge in kanseltaal die "gylowiges" Sondag vir Sondag met valse godsdiens immuniseer teen die waarheid van die Here se Woord? Gaan ons langer toelaat dat die wreedheid, sieleverkragting en lastering teen die Here Jesus wat gekom het om te soek en te red wat verlore was, ongesiens deur huurlinge voortgesit word?
Dit is inderdaad 'n feit dat daar talle kinders van God is wat nie weet of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie. Hulle is mislei om te glo dat die vals kerke "nog 'n herlewing gaan hê", terwyl hulle nog steeds elke Sondag varkpeule eet. Hulle is so vasgevang in vormgodsdiens dat hulle hul hande dadelik bokant hulle koppe uitsteek wanneer die bedelaars (kollektante) hulle sakke by hulle huise kom beroof. Hulle is so verblind deur kompromie dat hulle nie weet dat die huurlinge somtyds met hulle geld dobbel, sigarette koop en skelm 'n dop steek nie. Sal uitbetaaldag nie 'n dag van verskrikking en toorn wees wanneer God die valsheid en almal wat dit liefhet en doen met geweld sal oordeel nie? Geen ware kind van God kan teen die waarheid van God se Woord rebelleer nie - indien hy sou, sal die gekerm van sondaars in die hel hom teister tot in alle ewigheid.
Om die kerk te bou, moet die bouers eensgesind wees. Hulle planne en strategieë moet korrespondeer, sodat die bouwerk goed vorder. Die bouwerk sal nie vorder as daar 'n Tobia in die muur verskuil is wat die vordering vertraag nie. Indien Tobia nie uitgewerp word, soos Nehemia dit gedoen het nie, moet die bouers eerder na 'n plek verskuif waar hulle weer eendragtig kan bou en volhard dat die Gees uitgestort word. Sal daar nie weer 'n behoefte onder God se kinders ontstaan waar hulle kragte, talente, gawes, heilige ambisie en kennis in liefde kan konsolideer om die vyand die stryd aan te sê nie? Sal daar nie baie meer egte en blywende bekerings wees as die wêreld sien dat ons anders is nie? Sal hulle nie gou na Golgota vlug as hulle sien ons neem elke dag ons kruis op en volg Hom nie? Miskien begeer baie sondaars in ons omgewing, waarvan ons miskien nie weet nie, die ewige lewe. Die enigste voorbeelde is dalk Christene in vals kerke wat geloofwaardigheid aan huurlinge se beroepe gee deurdat hulle na valse profete luister.
Die menslike argumente van Christene, kontra die woord van God, is almal soos gekraakte reënbakke sonder water. Om vir hulle uit die Bybel te bewys dat Christene nie na huurlinge moet luister nie, is net so goed as om met 'n grasbesem die golwe wat op die strand breek in die see in terug te vee.
Die ashoop-illustrasie van kompromiemakende Christene is nogal prominent. Die skape wat in vreemde krale wil slaap; sê dat hulle somtyds soos 'n "hoender op 'n ashoop is, hulle pik net dit op wat hulle wil hê; die goed wat hulle nie wil eet nie spuug hulle uit". Hierdie lesse kom van die duiwel af. Hoekom moet Christene op ashope kos soek; hoekom moet hulle vullishope omkrap op soek na die waarheid; hoekom moet hulle die stank van die wêreld onder die dekmantel van godsdiens verduur op soek na lewe? Is die verborge manna van die Woord nie alleen genoeg nie - moet daar noodwendig 'n liefdelose huurling wees wat net een doel voor oë het en dit is om die ashoop groter te maak? Ons kan beslis saamstem dat die bekende illustrasie ook waarheid bevat - die vals kerke kan inderdaad as ashope van doodsbeendere, die reuk van die dood tot die dood en 'n malhuis van verlore soekende siele bestempel word. Pasop, soos die predikant, soos die gemeente! Die spreekwoord sê: "Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou". Die spreekwoord is dalk te erg - wat van: "Voëls van enerse vere?".
Die volgende illustrasie is soos bogenoemde van alle waarheid ontbloot. Christene in die kerker van vormgodsdiens en dienend onder 'n slawedrywer, sê: "dit is om soos vis te eet (verwysende na hulle godsdiensoefening in vals kerke); hulle eet die vis en spuug die grate uit". Dit is ongelukkig so dat mense reeds gesterf het a.g.v. visgrate wat in hulle keel vasgesit het. In die proses om grate te verwyder, het hulle ook van hulle ruggraat ontslae geraak. Terwyl die skatryk huurlinge hulleself beklee met die vet en die wol van die verlore skape, glo Elia dat hulle nie eers vis sal voorsit waaraan ruggraatlose Christene kan eet nie. In hulle omswerwinge saam met die verlore seun, sal hulle nie net met varkpeule tevrede moet wees nie, maar Beëlsebul se disse met verderflike kruie en gerasperde vormgodsdiens. Dit is Elia se opinie dat die gedurige soeke en geknaag aan dit wat Satan voorsit as "geestelike voedsel", baie Christene in die poel van moedeloosheid laat beland. In hulle soeke verdwaal hulle in 'n doolhof van ketterye en vind nooit op geestelike gebied oorvloed nie.
Nog 'n verskoning wat Christene gebruik om hulle kompromie in vals kerke te regverdig kom ook uit die kamp van die vyand. Hulle wil "nie die baba met die badwater by die agterdeur uitgooi nie!". Hierdeur verklaar hulle dat die baba waarheid impliseer en die badwater dwalinge - hulle wil nie alles weggooi nie. Ons kan hulle verder help - hoekom nie ook somtyds gif drink en daarna weer die teenmiddel soek nie? Hulle kan net sowel sonde regverdig, want daarvoor is ook 'n teenmiddel! Hierdie illustrasie is so oud soos die berge en godslasterlik in hierdie konteks. Onthou die twee beginsels uit die Woord: òf "suiwer die suurdeeg uit", òf "gaan onder hulle uit". As die suurdeeg eers die oorhand gekry het en die hele deeg versuur is, dan geld laasgenoemde uitgangspunt - "gaan".
Nêrens in die ganse Skrif word Christene beveel om die mengsel van dwaling en waarheid in kerke of prediking te skei en sodoende die "goeie" te hou nie. "Maar", sê sommige: "moet ons nie alle dinge ondersoek en die goeie behou nie, en moet ons nie die geeste op die proef stel nie?". Die antwoord is, as hulle alles ondersoek het, behoort hulle te vlug uit die geledere van die vyand nadat hulle die gesig van die Satan gesien het. Indien Christene vals kerke hulle tuiste maak, gee hulle geloofwaardigheid daaraan. Hulle eer die koninkryk van die duisternis; hulle hou van duur geboue, gemaklike stoele en ryk predikante. Hulle verkrag hulle gewetens en daardeur verleer hulle om te onderskei en kan in elk geval nie die geeste "beoordeel" nie. Die "geeste" fladder konstant om Christene, want die ongediertes is nie bekommerd oor sondaars nie, maar oor God se eiendom wat duur gekoop is deur die bloed van sy Seun. Terwyl ware Christene, heeltemal buite die wil van God, 'n huurling volg met 'n pikswart toga vol onsigbare okkultiese tekens, met bloedbevlekte hande wat onskuldige bloed vergiet deur verlore siele te laat vergaan, met 'n nuwe snaakse Bybel met die stempel van Openbaring 17 en 18 daarop, bevind hulle hulself tussen 'n skare mense waarvan sommige se doodsroggel reeds begin het. Terwyl Christene na die naald in die hooimied soek in 'n huis vol demone waar die duiwels mekaar staande toejuig omdat hulle plan van misleiding slaag, gee Christene geloofwaardigheid aan Satan se onderdane wat deur Judas "waterlose miswolke" genoem word. Paulus noem hulle "honde"; Jesus noem hulle "slange, addergeslag"; Petrus sê Simon moet "vergaan"; verder noem die Skrif hulle "verleiers, valse profete, witgepleisterde grafstene, 'n krom en verdraaide geslag, geveinsdes, suurdeeg en Fariseërs". Hierdie huurlinge word deur Jesus, Paulus en andere duidelik genoeg beskryf sodat niemand enige verskoning kan hê nie - lees net jou Bybel!
Die regte illustrasie is soos volg: Elia wil voorstel dat die arseen in die glas water eerder voorkeur sal geniet. U sien, as die gif reeds met die skoon water gemeng het, moet alles weggegooi word. 'n Mens kan tog nie die gif uitgooi en die water terughou nie - alles moet weggegooi word. Ter wille van mense se poste in die onderwys, staatsdiens en ander plekke, is hulle lidmate van vals kerke; ter wille van kompromie en hulle "toekoms". Is dit nie tyd dat die gifdrankie weggegooi moet word nie? Moet hulle nie nou Beëlsebul se rowerspelonk vir eens en vir altyd groet en die waarheid omhels nie? Moet Christene nie ophou om op die wêreld se ashope rond te dwaal soos 'n hoender en die stank van die hel te verduur nie? Moet Christene nie ophou met die sg. sorteerproses van grate en somtyds in hulle verwarring die baba uitgooi en die vuil water terughou en drink nie? 'n Ware Christen kan tog nie sy siel verkoop ter wille van aardse voordele, aansien en aanvaarding nie? Niemand gaan slaag om die gifmengsel te skei nie? Is baie kinders van God nie reeds vergiftig teen die waarheid nie? Is hulle nie stadig maar seker besig om vergiftig te word soos Daizy de Melker se slagoffers nie? As 'n mens toekyk hoe Christene deur vals kerke vervolg word, wonder 'n mens of die Christene in daardie rowerspelonke nie reeds van die genade verval het nie. Het hulle nie in die Gees begin en in die vlees geëindig nie? Hulle swyg oor die gruwels in hulle midde en as hulle daarteen praat, is hulle woorde soos 'n windbuks se koeël wat nie deur 12 cm pantserstaal kan dring nie. "Met 'n dofsware plof" val hulle argument in die stof en terwyl hulle spartel vir 'n bietjie geestelike voedsel, sink hulle dieper in die modder weg. Hierdie kompromiemakende Christene is nie net besig om "vaste spyse" vir visgrate, varkpeule, gif en ashoopkos te verruil nie, maar die skoonheid van die Here Jesus vir die masker van Satan. Die liberale argument van die baba met die badwater is dus in die lig van die N.T. verwerplik. Indien die illustrasie van die gifdrankie aanvaar word, sal daar 'n exodus uit die vormgodsdienstige Egipte wees soos nog nooit vantevore nie.
Is baie Christene nie soos vlooie wat op die hond se rug ry nie? Hulle ry oral saam ter wille van voordele in hierdie wêreld, maar as die hond vrek, spring hulle hulpeloos af om weer 'n ander voertuig of vals kerk te soek. Die Christene tussen huurlinge weerspieël die Gees van Bileam wat die somtotaal van alle kompromie is (Open. 2:14-15).
Die Christene tussen huurlinge is nie protestante nie, maar slegs nie-Katolieke! Nadat die huurling sy preek afgelees het wat hy buitendien uit 'n boek afskryf het, voel die ware Christene somtyds beter. Hulle sal gou byvoeg, as hulle oor hulle kompromie met die huurlinge en rowerspelonke aangespreek word, dat die Woord van God alleen kan stig. Dit moet tog onthou word dat die letter doodmaak en die Gees lewend. Indien dit waar is dat die Woord alleen kan stig, waarom dan nie wegbly van God se vyande en tuis die Woord lees nie? Beter nog, om die gemeenskap van die heiliges op te soek. Gou sal die Christene vir jou vertel hoe "hulle ly vir hulle godsdiens" in die kerk as hulle getuig. Hulle verwar, na my mening, lyding vir hulle godsdienstige uitgangspunt, met die lyding van 'n pynlike gewete. Hulle sal genoeg vir die waarheid kan ly as hulle buite die vals kerke hulle standpunt vir God inneem.
Kind van God, hierdie nooit-gered kerke en nog-geld - is nie God se plan vir jou nie. Doen afstand van alle kwaad en keer jou af van sulke mense. Gaan onder hulle uit, raak nie aan wat onrein is nie. Dit is waar sat 95 stellinge te min is om die boosheid en subtiliteit van die moderne kerk uit te wys.
HOOFSTUK 10
DIE KERKKLOKKE
Baie mense word verskeie Sondag-oggende in hulle pragtige klein dorpies verskrik deur kerkklokke wat nog 'n gevegsrondte aankondig. In hierdie bokskryt is daar gewoonlik 'n onregverdige geveg. Die duiwel, mensesiele en die huurlinge met al die Fariseërs in die voorste banke word deur klokke kerk toe geroep. Terwyl die klokke reeds vir baie vormgodsdienstiges gelui het wat aan die einde van hulle loopbaan van valsheid en kerkspeel gekom het luister hulle nog steeds na die roepstem van klokke. Alle kerke wat klokke het is nie vals nie, maar baie kerke is vals en hulle klokke irriteer miljoene mense. Sommige valse kerke gebruik klokke om mense aan die "erediens" of geveg te herinner, terwyl daar ware kerke is wat die klokke gebruik om mense te roep om na die waarheid te kom luister. Deur tradisie en sentiment prikkel die klokke die emosies van stoere vormgodsdienstiges en slaag daarin om die toegeskroeide gewete en diepgewortelde wanaangepaste groef en ritueel van kerk toe gaan in beweging te bring. Die "arme sondaars" staan dan op om die huurling al slapende te gaan ondersteun, terwyl hy beplan om met kanseltaal hulle lot in die hel te verseël.
Met smart verneem sommiges dat dit Sondag is - dit is tyd vir swart pakke, sondagkoerant; kollektegeld en 'n haastige ontbyt. Die kinders word uit die bed gesleep om na 'n "Sondagskoolonderwyseres" wat soos 'n kersfeesboom lyk te gaan luister. Sy het geen passie vir siele nie en het haastig voor die kerk 'n les voorberei. Sommige lidmate het waarskynlik tot laat voor die TV gelê of te diep in die bottel gekyk. Sommige het die bodem gesien en hulle koppe is nou so swaar soos dié van 'n olifant - die klokke raas nou harder en dit slaan soos 'n reuse aambeeld in hulle ore. Met verset sleep hulle hulself na die motor om na nog 'n gevriesde uitverkorene se preek te gaan luister. Die "Batmangevleuldes" gaan net 20 minute preek - hy, sowel as sy gemeentelede, gaan nou kerk toe ter wille van die gewete. In sommige gevalle met 'n pynlike hoofpyn en pynlike gewete, kom sondaars om na 'n ander sondaar te luister. Die duiwels juig, die kerk word vol en almal word salig gespreek.
Na of voor kerk gesels die huurlinge en gemeentelede en skiet die stompies weg - al val dit soms op kerkgrond. Die gesprekke sentreer rondom rugby, boerdery en politiek - soms ook 'n vuil grap. Niks van God word genoem nie en gesprekke is nie met sout besprinkel nie maar met swael uit die hel. Die mees bekende modeparade word gehou wat vir Elia 'n absolute smart is.
So gou as wat die klokke se gelui en preek verby is, is alles van die "godsdiensbeoefening" reeds vergeet. Hiervoor moet 'n mens miskien dankbaar wees. Daar moet toegegee word dat die huurlinge tog in hulle doel slaag. Met behulp van die duiwel, suig hulle sakke vol geld elke Sondag uit passiewe, weerstandlose onvaste siele. Hulle fossileer die sondaars verder en neem deel aan die proses om gewetes toe te skroei soos met 'n warm yster.
Daar kom 'n dag dat die kerkklokke nie meer sal lui nie - wat 'n wonderlike dag wanneer die stoomtrein van vormgodsdiens tot stistand sal ruk. Dit is in elk geval Elia se opinie dat die rowerspelonk met hierdie klokke op die stoom van die verlede voortbeweeg. Die momentum sal nou begin afneem.
Hierdie klokke is 'n inbraak op demokrasie. Dieselfde gesindheid word by Islam gevind. 'n Moslem skree histeries uit 'n toring van 'n snaakse godsdiens en almal word verplig om daarna te luister. Hierdie kerkklokke moet verbied word omdat dit net 'n smeekgebed vir nog-geld is. Dit sing ook: "Nog geld -kom sondaars kom kerk toe bring geld saam". Elia vind dit vreemd dat 'n totale volk vir so lank deur 'n vals godsdiens en haar ontroue susters gedikteer is. Die masker van die duiwel word nou afgetrek en die skans van vormgodsdiens verdwyn soos mis voor die son. Is die volk reeds so ver in die rowerspelonk van duisternis ingesleep dat hulle nie meer lig kan sien of onderskei nie?
Dit is Elia se gebed dat sondaars eerder sal verstaan dat die lui van sommige kerkklokke 'n onregverdige geveg aankondig. Die huurlinge en duiwels gaan vir nog 'n uur siele verniel en in sommige gevalle vir ewig vermoor. Elia kan nou verstaan hoe Martin Luther gevoel het voor die val van Katolisisme as outokratiese wêreldgodsdiens. Ons het weer 'n hervorming nodig - 'n reuse uittog uit die gemoderniseerde Roomsgesinde rowerspelonke.
DIE KLOKKE SE GESANG
Sondag-oggend se luiende klokke, maak die sondaars wakker. Soos styfgesvriesde ysblokke, waggel hulle na 'n doodsakker.
Traag en sleepvoetig, loop die verlore skape nader; waar die duiwel juig, en demone vergader.
Die huurling groet die gemeente - spreek almal salig klein en groot. Sy voorkoms is soos 'n geraamte, en hy ruik na die dood.
Met goed-geleerde woorde, en toegeskroeide gewete; beplan hy baie moorde, te midde van noodroepe en krete.
"Genade en barmhartigheid gemeente", begroet hy die kerk; mislei siele die soveelste maal, en is vir die hel gemerk.
"Nog geld, nog geld maak gou", smeek die huurling; "ek wil 'n kroeg bou". en saam met die manne sing. Doen bietjie sonde, maar pasop, net nie te veel; vat maar 'n lekker dop; dis tog net speel-speel.
Pasop vir die radikaliste; hou balans in die hede. Vat nou hande met kommuniste, ons leef mos nou in vrede.
Onthou net ons is reg, al die sektes is verkeerd. Hou aan op hierdie weg, dit is mos lekker breed!
Word nou lekker gesus, almal het geraamtes in hul kas. Geniet ons kerk gerus, Rip van Winkel slaap nog vas.
OP DEES AARDE!
Mense sal nou vra: "Op dees aarde, hoe het die mense dan predikante geword?". "Hoe het hulle dit reggekry om ons om die bos te lei?". "Hoe kon hulle ons so belieg, en dit nogal onder die dekmatel van godsdiens - sies?".
Elia besef terdeë dat die kompromiemakers altyd die maklikste pad met die minste weerstand sal kies. Die versadiging van die vlees en gehoorstrelende preke, die regverdiging van die gruwelikste sondes en verskonings vir valse profete, gly glad en lekker na die binneste. Ja, daar is nou baie meer verbaasdes wat "op dees aarde" uitroep. Toenemend kom die ontnugterdes agter dat hulle 'n afgod van vormgodsdiens aanbid het. Dadelik begeef hulle moed hulle om al die donasies te bereken wat huurlinge gehelp het om as die rykstes in ons land nog gemakliker te lewe. Die inherente goedheid van die Afrikaanse boerevolk het hulle verhinder om die wolwe in skaapsklere te identifiseer. 'n Mens sal mos nie iets verkeerd van 'n predikant dink nie? Die ouer geslagte het die volk geleer om respek vir 'n gesalfde van God te hê. Die enorme probleem binne die afgebrande mure van 'n volkshuis, is vals godsdiens, vals kerke en vals predikante. Telkens roep nog 'n paar duisend mense "op dees aarde" as daar nog 'n predikant se sondes op die Sondagblaaie pryk. Nog meer roep verbaasd uit dat hulle dit nie kan glo dat die vals kerk verder vry na die liberale politiek en ekumeniese bewegings nie. Een skok na die ander tref die volk. Weerloos, gevoelloos en sonder onderskeiding word die volk verder en dieper deur huurlinge in die modder vertrap.
Al sou dit ook voorbladnuus wees dat 'n huurling kerkgeld vir dobbelary gebruik, al sou duisende uitroep "op dees aarde", al sou die duiwels lag en spot oor die grap van vormgodsdiens, is daar geen positiewe ontwaking in die land nie. Die volk moet nie aanhoudend uitroep "op dees aarde" en niks daaromtrent doen nie. Die volk moet die huurlinge, hulle kerk en vormgodsdiens tot in hulle diepste wese verwerp.
Elia glo dat die God van ons vaders, Abraham, Isak en Jakob, 'n volk sal eer as hulle afstand doen van die verkeerde. "Op dees aarde" moet word: "O, God, wees ons genadig!" Sal die Here langer barmhartig wees oor die afgebreekte mure en reuk van die dood in 'n land vol vormgodsdiens? Sal Hy in regverdigheid nie sy toorn ophef as ons ons bekeer van die onegte en vals kerke nie? Was God blind vir die krete en sugtinge van Israel wat aanhoudend tot Hom geroep het? Terwyl een na die ander skok die volk tref en verskrikte goeie boeremense uitroep, is daar steeds nie 'n verootmoediging voor God nie. Alhoewel hulle dikwels kla oor die rojale lewe van predikante, hulle koue liefdelose dooie preke, hulle swak huisbesoek ens., sal die goeie boere weer a.g.v. hulle vormgodsdienstige groef, Sondag die kerkklokke gehoorsaam. "Op dees aarde, wanneer gaan die predikant iets nuuts preek". "Kan hy nie die eentonige stemtoon varieer nie, en kan hulle nie iets vir die jeug doen nie?" Nog duisende ander klagtes en uitroepe van smartlike frustrasies word gehoor - tog sal die goeie mense van die land die volgende "Sabbat" hulle siele verder aan die afgod van vormgodsdiens verkoop. Al is die volk bankrot en al ly duisende kindertjies honger, swig die volk weer voor die bedelaarstem en vraende oë van nog 'n huurling wat maan of smeek dat die lidmate hulle "tiendes moet gee".
Elia roep dikwels "op dees aarde" uit, want hy verwonder hom oor die verhoogspersoonlikhede en toneelspel van die huurlinge. Hulle kry dit waarlik Sondag vir Sondag reg om 'n reeds verarmde volk droog te melk. Elia se gees is verslae as hy Sondag die roepstemme van verlore sondaars hoor verdrink in nog 'n politieke toespraak of 'n 20 minuut gehoorstrelende preek. As God se diensknegte só voel, hoe voel God nie?
Elia dink dat die Vaderhart van God ook roep - miskien roep Hy: "My volk, my volk". Hy weet presies waar die probleem lê. Oor die volk sê Hy:
"Hierdie volk eer my met die lippe, maar hulle hart is ver van my af. Maar tervergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou hulle aan die oorlewering van mense vas...So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie." (Mark 7:6-13)
"Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as julle self." (Matt. 23:15)
LOS DIE SINKENDE SKIP
Op die vooraand van die ewigheid, waar miljoene siele wat waarlik gered is wag om opgeneem te word in heerlikheid, hou baie aan 'n sinkende skip vas. Hulle loop gevaar om saam met die skip te vergaan a.g.v. die stormagtige lewensoseaan. Die sondaars sal nooit die lig sien nie en sal saam met hulle huurlinge, sondige maatskappy met doodsroksakke vol dooie werke, die ewigheid ingaan sonder God. Op die regte tyd sal God die skip kelder wanneer niemand dit verwag nie.
God se vloed in Noag se tyd het gekom toe niemand dit verwag het nie. Vuur en swael het op Sodom en Gomorra gereën terwyl die mense nog geëet en gedrink het en in die huwelik uitgegee is.
Al die waarskuwings en selfs bestraffinge van Henog, Noag, die engele en die Gees van God, is absoluut as 'n grap beskou. Toe die realiteit van God se toorn deurbreek, was dit te laat.
Stadig maar seker is die sondige organisasie of rowerspelonk besig om mense-siele te vergiftig. Kan niemand die basuin van God hoor wat op wagtersmure geblaas word nie? Is die volk so ver verby genadetyd dat hulle nie kan vlug vir die toorn wat aan die kom is nie? Het die suurdeeg reeds die hele deeg versuur? Het die lig duisternis geword en lewe die dood? Is talle siele nie reeds deur rowers van siele in hulle spelonke ingesleep en word hulle nie by die duisende vermoor deur die "mensemoordenaar" nie? Is daar nie meer as genoeg onskuldige bloed vergiet nie? Kan God se diensknegte nog langer toekyk hoe die huurlinge mense met vormgodsdiens toespin in 'n ewige kerker van smarte? Is dit nie genoeg nie? Is dit nie te veel nie? Al word net een siel mislei - dan is dit een siel te veel. Die bloed van Jesus Christus is ook vir daardie siel gestort. Was daar maar een siel mislei, nou moet Elia elke aand gaan slaap en geteister word met die gekerm van miljoene wat reeds in die hel brand! Nog miljoene word stilgemaak en verdoof deur duiwels wat nie kan wag om mense-siele in die verderf te kry nie. Wagter, hoe ver is dit in die nag?
Mag God mense genadig wees wat blindelings en teen God se wil enige vorm van geloofwaardigheid aan die rowerspelonke gee. Mag die Here baie mense help om die sinkende skip te verlaat - dit het reeds laat geword. Die oes is verby en hulle is nog nie verlos nie.
Dit is Elia se mening dat die huurlinge se eskatologie verkeerd is. Deur hulle leuens van 'n vrede tans, klou baie siele aan die skip vas. Dit is vreeslik om te dink dat sondaars die ewigheid ingaan, terwyl hulle glo dat die kerk alleen saligheid bied. Hulle luister na mense instede na die Meester; hulle verkies 'n kerker van smart i.p.v. 'n kerk na God se hart; hulle verniel hul siel i.p.v. om voor die Verlosser te kniel; hulle vryf kerkbanke blink i.p.v. om die bose te beveg; hulle is kompromiemakers i.p.v. kruisopnemers; hulle is tevrede met huurlingkos i.p.v. heiligdom-manna; hulle dra vuil klere en nie feesklere nie en is in sommige gevalle ver verby 'n punt van omdraai.
Al die vyande van Elia, of die superheiliges wat die profesie van 'n sinkende skip nie glo nie, sal nog met skaamte erken dat dit alles waar is. Vriende, julle skip gaan sink. Al die parasiete wat die vals kerk gebruik tot hulle voordeel, staan direk in die spervuur van God. Die gelowiges moes uit Sodom en Gomorra vlug - net so moet alle mense die sinkende skip verlaat as hulle nie deur God se toorn getref wil word nie!
Moenie wag vir die laaste oomblik voordat die Skip verlaat word nie. Vlug gou - vlug nou! Net soos duisende mense geglo het dat die "Titanic" onsinkbaar is, glo miljoene die vals kerk gaan voortbestaan, sonder dat God 'n vinger gaan verroer. Sonde het 'n stem wat roep om vergelding (Gen 4).
Terwyl Elia mense waarsku om die skip te verlaat, pleit ander dat siele by die skip moet bly. Dit is net so goed as om mense te nooi om in 'n motor te klim wat volspoed oor 'n afgrond jaag. Dit is net so goed as om van die Hertzogtoring af te spring en met iemand reël om 'n valskerm op die grond gereed te hou as jy land. Die huurlinge glo dat hulle mense red en help. Dit laat Elia aan 'n storie dink wat hy gehoor het:
Twee huurlinge staan voor 'n gebou. 'n Man staan bo-op die dak van 'n 10 verdieping gebou en maak gereed om af te spring. Die een huurling sê vir die ander dat hy die man gaan vang as hy spring - die ander huurling sê toe vir sy kollega dat die man hom sal doodval. Hy moet nie eers probeer om die selfmoordenaar te red nie. Toe die man spring, hardloop die huurling weg. Hy hoor 'n slag - toe hy omkyk, staan die ander huurling met die man wat gespring het in sy arms. Verbaasd vra die huurling aan sy kollega hoe hy dit "reggekry het om die man te vang?" Met 'n glimlag antwoord die dapper huurling met die man in sy arms, dat "hy die selfmoordenaar eers eenkeer laat hop het!"
Dit is Elia se mening dat huurlinge nie reddingsbote gaan verskaf as die skip wegsink in die golwe van die nuwe wêreldorde, liberalisme, kommunisme en elke moontlike sonde onder die hemel nie. Die skip sal vinnig ondergaan en almal wat daarop ry sal saam verdwyn. Al Elia se argumente is slegs menslike argumente, maar die Woord van God is bonatuurlike opdragte - "gaan onder hulle uit" (2 Kor. 6:17). Klim nou van die skip af - vlug vir julle lewe!
Elia verneem dat sy skeptici vra waarheen die mense moet gaan as hulle sou vlug van die valsheid en vals kerk. Die geskiedenis het baie voorbeelde van mense wat in huise bymekaargekom het. God se Gees kan mense in elk geval beter leer as huurlinge vol bymotiewe wat mense mislei. Dan is daar ook nog kerke wat nie in die stroom van liberalisme onderdompel is nie, wat 'n tuiste vir soekende siele kan bied. Predikante wat nie aan 'n sinkende skip behoort nie, werk vir God. Hulle is lief vir siele, doen huisbesoek, wys sondaars die weg na die hemel, troos die armes, bedruktes en bedroefdes en poog na die beste van hulle vermoë om vir mense die evangelie te bring. Mense wat deur hulle bearbei is, kan waarlik sê:
"Weggerol, weggerol, weggerol, weggerol, al die laste van my hart het weggerol!".
Dit is Elia se mening dat enige verlore skape d.m.v. lidmaatskap, of enige vorm van samewerking met huurlinge en vormgodsdiens, 'n "geestelike tuiste" daar vind en aan die sinkende skip van die duiwel vashou, verlore is. Afsondering van die seerowers en toewyding aan God is Elia se gebed.
Elia lees in die geskiedenisboeke van die laaste oomblikke van die "Titanic". Die orkes was besig om vir 'n dansparty op die skip te speel toe hulle die ysberg getref het. Toe die skip begin sink, begin die orkes "Nader my God by U, steeds naderby", te speel! Elia hoop nie dat sondaars reken om borreltjies te blaas genadetyd beteken nie. Elia hoop nie sondaars glo dat enige genadetyd oor was toe God die ark se deur gesluit het of toe swael en vuur op Sodom en Gomorra gereën het nie. Verlaat dus nou die sinkende skip en vaar saam met die ware kerk op God se skip waar Jesus die Stuurman is.
ELIA SE LAASTE WOORDE
VIR
SY VOLK
Dit is ongetwyfeld so dat die "superheiliges" Elia oor die kole gaan haal. Hulle sal nog hardloop dat die stof staan om by die hoop klippe te kom om hom te stenig. Al genade wat Elia van sy vyande vra is dat sy kritici sal erken dat 'n vals kerk geen bestaansreg het nie. Moenie twis oor hoe die stok moet lyk wat die slange uit die bos krap nie. Dit maak nie saak of dit 'n "krom" of "reguit" stok is nie - die resultaat is van belang. Mense begin dikwels te redeneer oor wie die stok is of van watter hout dit gemaak is, ens? Moenie vir die man gaan nie, maar gaan vir die bal. Moenie oor Elia se taktiek redeneer hoe hy die werke van Satan ontbloot nie. Kyk na die gevolge van kompromie en staan dit teen. Al Elia se feite is heeltemal korrek. Hy het geensins oordryf nie en skeer ook nie almal oor dieselfde kam nie. Net hulle wat kenmerkende sondes openbaar, kom in die spervuur. Die valsheid en korrupsie wat in die vuurlyn kom, word getref.
Dit is ook onvermydelik dat die liberaliste, kompromiemakers en draadsitters hulle smarte van 'n pynlike gewete sal weg projekteer en dit op Elia sal rig. Wat sal 'n mens nou sê: behoort ons as kinders van God mense te vrees? Elia vrees Hom wat mag het om liggaam en siel in die hel te verderwe. Elia en talle kinders van God het deur die eeue die slae van die skerp tonge verduur. Elke mens wat die waarheid liefhet en doen, sal saamstem dat dit die moeite werd is om te ly ter wille van die Here Jesus Christus. Dit is ook die moeite werd om vervolg te word as die werk van Satan geopenbaar word. Net die duiwel en sy handlangers gaan oorkook. Geen kind van God wat 'n verbete stryd voer en nie een duim grond aan die bose afstaan, kan die apologetiese gees van hierdie werk verwerp nie. Enige persoon wat kritiek het teen die boek, word aangeraai om Elia by God aan te kla. Die hemel sal vir hulle soos koper word, want wie wil 'n biduur hou om God se dienskneg aan te kla en sodoende die duiwel se werke te regverdig?
Stefanus het uitgevind dat daar drie groepe mense was toe hy gestenig is. Daar was die vervolgers. Hulle sal as oordeel ondergaan 'n ewige straf weg van die aangesig van God en die krag van sy sterkte. Dan is daar die siele wat saam met die martelaar gestaan het. Hulle het hulle afsku uitgespreek teen die gruwelike daad van moord. Dan was daar die toeskouers, soos Saulus, wat Stefanus se gesig gesien het wat soos 'n engel geblink het.
Johannes word onthoof toe hy Herodes bestraf het omdat hy sy broersvrou geneem het. Nero brand Rome af en gee die Christene die skuld. Orals en altyd is God se diensknegte teengestaan as hulle net poog om die duiwelswerk te keer.
Elia is lankal verby die punt van omkeer en kompromie. Hy is nie meer bekommerd oor wat mense gaan sê nie, maar wat God dink. Hierdie werk is 'n voortsetting van vroeë kerkvaders wat die verderf probeer teëhou het. Dit is 'n eerlike en opregte bestraffing van alle bedrog wat onder die dekmantel van godsdiens vir mense opgedis word. Mag die Here nou genade gee, want in die oordeelsdag sal die oorlegginge en gedagtes van die harte sonder genade ontbloot word. Onthou, die Regter staan voor die deur!
|