|
LIFELINE BACK TO THE BIBLE
DIE SIELKUNDE VAN DROEFHEID EN BEPROEWING
www.jesus-is-lord.co.za consists also of Lifeline Back to the Bible & Old Landmarks (3 websites in one)
|
|
|
DIE SIELKUNDE VAN DROEFHEID EN BEPROEWING
Dr. Martin Gunther Posbus 324 Clocolan 9735
DIE SIELKUNDE VAN DROEFHEID EN BEPROEWING
INHOUDSOPGAWE
INLEIDING………………………………………………………………………………….
TERME….…..…………………………………………………………………………………
Gewete.……………………………………………………………………………………… Motief…..……………………………………………………………………………………. Emosie….…………………………………………………………………………………… Karakter……………………………………………………………………………………. Afkortings…………………………………………………………………………………. Inleiding………………………………………………………………………………………
HOOFSTUK 1……………………………………………………………………………..
1. SELFLIEFDE IS DIE OORSAAK VAN ONREALISME ............
HOOFSTUK 2.…………………………………………………………………………….
2. KARAKTERONTLEDING, MOTIEWE, EMOSIE EN BEPROEWING
2.1 Motief en gewete.………………………………………………………………… 2.2.1 Die emosie van skaamte…………………………………………………. 2.2.2 Die emosie van liefde………………………………………………………. 2.2.3 Die emosie van toorn.…………………………………………………….. 2.2.3.1 Die vleeslike toorn…..…………………………………………………… 2.2.4 Die emosie van vrees………………………………………………………. 2.2.5 Die emosie van droefheid………………………………………………… 2.2.6 Die emosie van blydskap…………………………………………………. 2.3 Motief, oordeel en beoordeling….………………………………………… 2.4 Motief, oordeel en realisme………….……………………………………….
HOOFSTUK 3…………………………………………………………………………………
3. BEPROEWING………………………………………………………………………
3.1 Die goddelike voorbeeld van beproewing…….………………………. 3.2 Die goddelike gawe van beproewing…………….………………………. 3.3 Die goddelike keuse van beproewing…………….……………………… 3.4 Die goddelike verklaring van beproewing……….……………………. 3.5 Die goddelike doel van beproewing…………………..………………..…
HOOFSTUK 4
4. DIE VRUG VAN BEPROEWING EN VAN DIE GEES……………
4.1 Die vrug van die Gees………………………………………..………….…… 4.2 Hoop………………………………………………………………………………… 4.3 Geloofsloutering…………………………………………………………….…… 4.4 Gebrokenheid……………………………………………………….……….…… 4.5 Geestelike verruiming…………………………………………..…….……… 4.6 Vertroosting en bemoediging…………………………………….………
SLOT……………………………………………………………………………………..…………
BYLAAG 1………………………………………………………………………………………
INLEIDING
Sommige mense ervaar dat hulle tydens beproewing verlate is. Eensaamheid in die alleenstryd vererger soms alles. Die gedagte dat drome goeie vriende tydens eensaamheid is, klink goed, maar is in werklikheid ver van die realiteit verwyder. Verbeeldingsvlugte tydens beproewing, van watter aard ook al, reflekteer die vals karakter van humanisme of enige menslike oplossing vir probleme buite die wil van God. Ontvlugting deur verbeelding stroop die gelowige van uiters waardevolle lesse wat tydens beproewing geleer kan word. Wanneer mensgemaakte drome, wat teenoor God se visie staan nie realiseer nie, dan word daar agter nuwe drome aangehardloop. Onbeheerste emosies dwing die vleeslike Christen om in vrugtelose verbeelding besluite buite die wil van God te neem. Indien daar selfs net buite God’s wil gespekuleer word, sal dit beslis tot emosionele pyn en frustrasie lei. 'n Mens mag hierdie droomwêreld, in die ware sin van die woord, ook 'n gekkeparadys of Utopie noem.
Baie bedroefdes soek nie troos aan die boesem van Jesus Christus nie, maar ontsnap deur allerlei weë, behalwe om toetse of beproewings te ontleed in die lig van die Bybel en rasionalisme. Enige rasionalis weier om in die donker vallei van onkunde in sy eie gedagtes te verdwaal, wat in elk geval gewoonlik tydens beproewing nie altyd sin maak nie.
Die bedroefde gelowige wat deur beproewing worstel, ontdek dat die "Trooster" die weg van die kruis, stryd, vervolging, siekte, verwerping, tekorte van enige aard en ontmoediging, die stormgejaagde siel se stryd omskep in 'n sagte kussing van genade. Die woestyn van ellende verander dus in waters van rus. Die realiteit van die kruis verklaar waar die "Man van smarte" reeds voor ons was. Die sentrale boodskap van die kruis baar realisme sodat die vuur van die Heilige Gees alle strooihalmdrome kan wegbrand. Die kind van God kan alles nou sinvol evalueer. Verbeeldingsvlugte stop ook nie die pyn nie; dit genees geen emosionele wonde nie en bied onbevredigende antwoorde vir al die waaroms. Waaroms word egter daaroms wanneer alle volmaakte handelinge van God eventueel in die lig van sy liefde verstaan word. Verwronge verbeelding word eksplisiet in die Bybel verbied, veral as dit as ontsnapping dien vir beproewing of om sonde te regverdig. Utopisme is dus hoegenaamd nie 'n steunpilaar nie maar eerder ‘n stut vir die arm van die vlees. Paulus verwys na verbeeldingsplanne wat verbreek moet word. Hy verwys na verbeeldingsvlugte soos volg:
Casting down vain imaginations … (2 Kor. 10:5 K.J.V.)
(B)ut became vain in their imaginations, … (Rom.1:21. K.J.V.)
Verbeeldingsvlugte is nie goeddeurdenkte planne nie, maar is gedagtes van verwarring en waai die onstabiele siel van bakboord na stuur-. Dit ontaard in diepgewortelde wanaangepaste gedagtewroeginge. Die besliste bewyse hiervan is vorme van angs, soos: bekommernis, vrees, wanhoop, twyfel en soms 'n langdurige uitgerekte emosionele stryd. Rasionalisme sowel as logika ontbreek dus. Onrealistiese verbeelding is oppervlakkig, misleidend en is 'n area waarin die bose floreer. Dit verdamp soos spookasem en stel teleur, omdat wat in verbeelding buite die wil van God geskep word, nie op die langtermyn sal realiseer nie. 'n Gesonde visie, gebaseer op realisme en suiwer motiewe, is egter 'n ander saak.
Dikwels word hierdie drome deur goeie verbeelding feitlik tot realisme gevoer, soos in die geval van Jona. Jona het deur groot beproewing geleer dat God sy doel sál bereik, teen watter prys ook al. Sodra die mens deur God’s wil ontnugter word, volg geweldige sielswroeginge en emosionele lyding. God wil sy doel bereik deur beproewing of enige toetse en sal nie toelaat dat ons sy soewereine lesse mis nie (Deut. 8:2, 16). Baie geestelike energie word verbrand deur om te spartel wanneer God met ons werk. Hierdie ontsnapping met verbeeldingskrukke weg van Ninevé, is dus futiel. Die lang regverdige arm van liefde sal ons telkens terugbring na realiteite waar ons op die vaste Rots kan staan.
Selfs onkundige kinders van God wend hulle eerder tot ‘n onrealistiese verbeelding waar hulle die prentjie skilder volgens hulle impulsiewe oplossings of begeertes. Hierdie verbeeldingskildery is eerder 'n krabbelpatroon as 'n Rembrandt van realisme! Die oorsaak word ook nie deur verbeeldingsdrome opgelos nie. Indien die vuur van beproewing nog brand, kan daar nie nou deur die ontsnapping van drome óf verbeelding op beloftes gebou en vertrou word nie. Ontvlugtingsdrome kanselleer alle geestelike lesse uit. Wat 'n geestelike armoede sou ons beleef het sonder Job se meesterverhaal? God het self die verhaal van Job met liefdesgaring en deernis geweef tydens die sielkunde van sy droefheid. Die maklikste pad met die minste weerstand word soms die verkeerde weg van Bíleam of kompromie (Open. 2:14; Spr. 14:12). Jona het geleer dat Tarsus sy eie keuse was. Koning Saul, Demas, Judas, Himenéüs, Alexander en talle ander ongehoorsames is ook voorbeelde.
Alle toetse, deur God beplan, lei na 'n dieper verhouding met Jesus Christus. Alle beproewing, wat tugtiging, lering of afronding behels, het 'n positiewe einde. Jakobus verduidelik dat God 'n "einddoel" met Job gehad het (Jak. 5:11).
Karakter word rondom realisme gebou, terwyl verbeeldingsvlugte en onrealistiese oplossings vir beproewings, karakter in skerwe kan breek. Reputasie word vasgelê wat mense van ons sê, terwyl karakter is wat ons in die donker is. Karakter is dit wat ons voor God in alle eerlikheid in die geheim uitleef.
Die ganse bediening van Jesus Christus se karakter word aan realiteite gekenmerk. Sy onkreukbare integriteit is juis tydens droefheid en beproewing gevorm (Heb. 5:8). Hy het met moeilike sake op realiteitsvlak geworstel en oorwin, al het Hy bloed gesweet. Jesus se realisme is gebou rondom: “... nogtans nie my wil nie, maar u wil ...” Realiste is dus stabiel, konsekwent en word maklik in alle opsigte gelees. 'n Realis bou op een van die geestelike wette van die hemel wat sê:
… (H)y het tot homself gekom … (Luk. 15:17).
Die verlore seun se oplossing het gekom toe hy deur beproewing tot realisme gedryf is. Die wat getug word, a.g.v. God se liefde (Open. 3:19), ondervind in werklikheid dat alledaagse beproewing deel is van God se volmaakte leerskool. Nou verdwyn miljoene lugkastele, want geen geestelike lesse word gedurende onrealisme geleer nie. God wat sy eie karaktereienskap van realisme en regverdigheid nooit weerspreek nie, bring sy kinders gou terug aarde toe. Dit is beter as om te erken dat God met ons werk as om die skuld op die duiwel te pak. Job het nie die duiwel beskuldig nie, maar erken dat God hom toets (Job 23:10). In Job 1-2 kan meer oor hierdie geskiedenis gelees word. Om die duiwel te weerstaan wanneer God ons beproef is ‘n futiele oefening. Toe Paulus bid om verlossing van die Satan, het die Here vir Hom gesê dat sy genade is vir hom genoeg (2 Kor. 12). Die drang om probleme op te los deur ontsnappingsroetes van verbeeldingsvlugte bied dus geen hoop nie. Hierdie hoop word eintlik wanhoop gespel en volgens Salomo gaan dit tot niet by die dood (Spr. 11:7).
Baie breinkrag word gemors deur die skryf van boeke en uitwerk van preke wat nooit iets met die verheerliking van Jesus Christus te doen het nie. Baie ydele gesprekke rondom drome of onwerklikhede het niks vir die ewigheid tot stand gebring nie. Dit kan die siel nie veredel nie, maar verniel en het nie met die opbou van die geestelike lewe te doen nie, maar met die opmorsing daarvan. Dit skep onvergenoegdheid, onvervulde emosies en ‘n bose leemte. Is God nie voldoende om sy kinders in realistiese toetse te laat oorleef, oorwin en selfs te versterk nie? Is God nie bó omstandighede en die Beskikker van sy kinders se deel en lot nie? Is Hy buite die beheer van sy dierbare koninkryk? Sal ons vertrou op drome van wind wat die mens waai waar hulle wil, of op God wat in die dal van beslissing sê: "Laat dit so wees". Werk alles nie ten goede mee nie?
Verbeeldingsvlugte en onrealisme is wegwysers na die ewige verderf wat baie mense in sonde en allerhande ellende laat beland. Sommige geestelike sowel as sielkundige probleme word in die wieg van Satan se onrealistiese droomwêreld gebore. Satan kan nooit versoeking as realisme voorhou nie, want alle werklikhede rondom sonde, het met 'n smartlike einde te doen! (Vgl. Pred. 8:11-13).
Dit moet sterk beklemtoon word dat alle verkeerde en oorhaastige besluite in die duisternis van droomland geneem word en nie in die lig van die kruis nie. Die meeste van God se besluite het met 'n smal en soms moeilike weg te doen. Die weg van selfliefde, singenot of enige selfsug, eindig altyd in smart.
Gewoonlik ontmoet die kind van God 'n sagmoedige en liefdevolle Landman wat alle lote wat nie vrug dra nie wegsnoei. Soms het kinders van God ver op hulle donker verbeeldingsweg gewandel met fakkels van vreemde vure. Dank God dat daar altyd 'n pad terug kruis toe is, al is dit soms 'n weg van smart.
Beproewing se hoofdoel is juis om ons op realiteitsvlak te bring. Dáár word die stem van droefheid in karakter omskep en die werklike innerlike mens kom dan na vore. Die vuur van droefheid het baie kaf en oppervlakkigheid weggebrand. Josef, Moses, Dawid, Jeremia, Paulus e.a. kan ook daarvan getuig. Weldra sal ons elke goedberekende beproewing verstaan. Ons sal donker omstandighede slegs as die skaduwee van God se hand agter alles in ons lewe sien, want "alles werk ten goede mee … " (Rom. 8:28).
Martin Gunther 1997
TERME
Enige persoon wat met die werklikheid van die lewe realisties saamleef, hetsy dit droefheid of blydskap is; sonde of toewyding aan God en terugslae of voorspoed ervaar, werk met terme. Hulle posisioneer hulleself dus in hul eie konteks a.g.v. betrokke en paslike name wat hulle aan bepaalde omstandighede heg. Sodoende kan hulle hulself êrens plaas m.b.t. hulle emosionele en geestelike stand. Elke persoon wat dus sy omstandighede beter wil vertolk, definieer terme tydens beproewing. Vir elke vakgebied bepaal terme wat die begrip van sekere gebeurlikhede is. Terme is die basis van alle wetenskappe. Dit leer ons om deur rasionalisme feite te ontleed en dit ook aan ander te verduidelik. Vaagheid in denkprosesse ly na 'n onpraktiese analise sonder duidelike terme en swak of geen vertolking van omstandighede.
Omdat beproewing bestierings van die Here is, vind ons dat Hy ons deur moeilike omstandighede d.m.v. sy Woord ondersteun, sowel as om terme te verklaar. Josef is ‘n goeie voorbeeld hiervan (Gen. 50:20; Ps. 105:17-19). Kinders van God soek antwoorde tydens beproewing en vind woorde van bemoediging in die vorm van beloftes wat dus terme behels. God sê aan Paulus dat sy genade vir hom genoeg is en Paulus verstaan wat die term "genade" bv. beteken. Sommige kinders van God verbeur baie goeie lesse en antwoorde omdat hulle nie Bybelse terme begryp nie. Onvermydelik dwaal die gedagtes dan weg van die realiteite na 'n verbeeldingswêreld van vae begrippe. Hulle ontdek nie die hand van God agter alles nie en begin dan spartel om so gou as moontlik uit beproewing te kom.
Vaagheid of die onvermoë om Bybelse terme te onderskei, laat geloof kwyn, terwyl beproewing juis beplan is om geloof te louter (1 Pet. 1:6-7). Die sielkunde van beproewing het dus met realisme én terme te doen. Terminologiese beginsels word dus op realisme, verklaring, openheid (1 Joh. 1:7), letterlike vertolking van die Skrif (“Daar is geskrywe … ”, Luk. 4:4), begripsvermoë (Ef. 1:7), logika (Rom. 12:1, “redelike” in hierdie teks is logikos in Grieks) en geloof in God gebou (Markus 11:22).
Satan mislei baie kinders van God deurdat hy terme verdraai. Hy spesialiseer as die engel van die lig (2 Kor. 11:14), om homself as godsdiensduiwel onder terme te kamoefleer. Hy skets bv. mense se sonde vir hulle as swakhede. Hy verlaag God se standaarde deur skrifverdraaiing en boots die Lam se stem na, al is hyself 'n draak (Open. 13:11). Hy leer mense om op hulle regte te staan as hulle ter wille van Christus ly. Hy leer mense om selfregverdiging te beoefen aangesien hy sesduisend jaar se ondervinding daarvan het. Soms beproef God sy kinders, soos in die geval van die regverdige Job, en dan word hulle deur die duiwel aangekla dat hulle in werklikheid gestraf word. Hier vind ons dat straf en beproewing ("trials"), twee uiteenlopende pole is. Somtyds word ons wel getugtig volgens God’s wil (Heb. 12:5-11) en dan tree die vyand weer na vore met duisende skuldgevoelens en verdraaide terme (Open. 12:10). Sy misleidende vraag: " … is dit so dat God gesê het?”, het 'n menigte mislei, weg van realisme na die afgrond van verbeelding.
Die volgende terme is wapens vir die kerk van Jesus Christus tydens beproewing van watter aard ook al. Die voorvereiste vir die vertolking van terme en bemoediging daardeur, berus op die veronderstelling dat die kind van God sy kruis elke dag opneem en Jesus volg (Luk. 9:23).
Gewete (suneidesis. Grieks)
Gewete is die mens se eie ware en opregte getuie om tussen goed en kwaad te onderskei (Rom. 2:14-15). Hierdie regbank getuig vír of téén die mens m.b.t. morele sake. Hierdie betroubare getuie kan nooit lieg nie en word sensitiewer op die weg van heiligmaking. Drastiese stappe teen die gewete en 'n irrasionele optrede teen redelike norme, oorheers egter die gewete. Tydens die sielkunde van beproewing, soos in Job se geval, het hy groot stryd in hierdie area ervaar (Job 10:1-7). Al was omstandighede teen Job, het sy gewete hom nie veroordeel nie. Dit was juis hierdie nugterheid tydens sy droefheid wat gemaak het dat hy alles kon hanteer. 'n Skoon gewete help dus om die duiwel se aanklagte tydens beproewing af te weer (Rom. 8:1). Dit is ook hierdie belangrike geesteskomponent wat die instrument van die Heilige Gees se oortuiging is (Hand. 24:16; Rom. 9:14; Heb. 9:14).
Die gewete verbind hom dus aan die hoogste morele kwaliteit en help die kind van God om deur sy genade in die lig te wandel. Dit is die oog van die mens se siel wat na God kyk vir raad en leiding in gedragspatrone. 'n Besoedelde - of beletselde gewete kan egter nie normaal funksioneer nie. Die gewetensweg speel dus 'n uiters belangrike rol om die uitverkorenes op realiteitsvlak te laat beweeg. Belangrike vrae soos: sal dit God verheerlik; is dit regtig nodig; is dit goed vir my eie sowel as ander se gesondheid; is dit 'n struikelblok; mag ek God se geld daarvoor aanwend; is daar beginsels in die Bybel wat dit verbied; is dit stigtelik en wat sê my gesonde verstand daarvan, word o.a. deur die gewete geopper?
Hierdie selfstandige naamwoord, nl. gewete, behoort paslike byvoeglike naamwoorde te hê, soos: goeie, skoon, gesonde, sensitiewe, teer en wakker. Hierdie term moet dus verstaan word en moet daagliks 'n deel vorm van die mens se besluitnemingsprosesse en evaluering tydens die sielkunde van beproewing.
Motief
Motief dui op handeling. "Motion" of "motor" hou verband met motief, het met beweging te doen, bepaal handeling of aksie en beïnvloed wilskeuses. Alle morele aspekte word deur bepaalde motiewe gereguleer. Sinonieme vir motief is strewe, doel, ambisie en beweegrede. Alhoewel motiewe verskillende beïnvloedende faktore het, soos: die fisiese, omgewingsfaktore, sondige neigings, agtergrondfaktore en ambisie, speel die gewete die belangrikste rol in besluitneming t.o.v. morele keuses. Gewete en motief is dus die mees belangrikste komponente in die samestelling en besluitnemende rolspelers in optrede. Gewete is 'n morele weegskaal, terwyl motief weer rede en wilskeuse beïnvloed en dryf. Soos die gewete, behoort ons eie motiewe op die vlak van realiteit gepeil te kan word. 'n Besoedelde gewete en verkeerde motiewe het ongesonde verbeelding en onrealistiese drome tot gevolg. As die gesindheid nie reg is nie, is die optrede dus ook verkeerd. Die Gees van God bepaal wat die bedoeling van die harte is:
… (E)n die bedoeling van die harte openbaar sal maak … (1 Kor. 4:5. Beklemtoning my eie).
Deur verkeerde gedragspatrone vervaag die bewustheid van regte motiewe en saam met 'n kwynende gewete stort alle integriteit in duie. Dit vind gewoonlik plaas wanneer motiewe nie gepeil word nie. Realiste is altyd besig om in die lig van omstandighede, waar dit geverg word, motiewe te probeer bepaal. Onrealiste sal gewoonlik ander se motiewe betwyfel, terwyl hulle eie motiewe nooit in diepte ondersoek word nie.
Emosie
Emosie, goed of kwaad, is 'n bewuste toestand van liefde, vrees, haat, skaamte, droefheid, meegevoel, ongelukkigheid, woede, blydskap of 'n Godbewustheid. Alhoewel omstandighede mense min of meer dieselfde emosionele ervarings laat beleef, is daar geen menslik-emosionele tweeling nie. Niemand kan of mag 'n ander dus in 'n bepaalde emosionele raamwerk in forseer nie. Die Geesbeheerde emosies van die Christen sal by sy eie karakter en inbors pas.
‘n Emosionele wanbalans is gelykstaande aan geestelike onstabiliteit, aangesien die jong Christen nog nie geleer het dat God sy lewensomstandighede rig nie (Spr. 16:9; 20:23; Rom. 8:16, 28). Die “oue mens” (Rom. 6:6) openbaar gereeld emosionele onstabiliteit, terwyl die Geesbeheerde mens deur die geloof lewe en nie primêr deur emosie gedryf word nie (Gal. 5:17; Rom. 1:17). Die Heilige Gees leer die kind van God om eerstens te dink voordat gereageer word en nie om deur die filter van emosie op te tree nie. Omdat daar in alle mense se lewe van tyd tot tyd emosionele skommelinge plaasvind, behoort daar 'n emosionele balans tussen uiterstes gevind te word.
Omdat emosies gedurende beproewing ernstig geraak word, word tydens die sielkunde van beproewing ook God se vertroosting ervaar. Gesonde emosies dien dus as uitlaatklep tydens beproewing. God het self die grootste emosionele pyn in die ganse kosmos ondervind toe hy sy eniggebore Seun na 'n verlore wêreld gestuur het (1 Pet. 1:19-21). Hy kan ons dus troos omdat Hyself deur die grootste droefheid gegaan het.
Alle emosies sal eventueel deur die vuur gaan sodat dit wat deur die vlees besoedel is, gereinig en gesuiwer word. Wonde sal genees en wat swak is opgebou en versterk word (Job 5:17-18).
Karakter
Karakter is geestelike inbors en behels sekere eienskappe wat een persoon anders as 'n ander maak. Deur reekse morele keuses, tydens beproewing, word onskuld in heilige karakter omskep. Die voorvereiste is gehoorsaamheid en buigbaarheid. Die partyskap en klug van vleeslike beoordeling van karakter word ook eventueel opgelos wanneer dinge in plek val. Alle vorme van partyskap spreek van swak karaktereienskappe. Op die langtermyn wys karakter waar die mens homself bevind. Karakter word nie tydens beproewing gevorm nie, maar wys eerder in beproewing. 'n Kind van God met 'n stabiele karakter kan onder druk fouteer, maar inisieer nooit konflik nie.
Die kind van God wat egter die heiligmaking najaag, vind dat die vuur karakterdefekte uitwys. Deur die veranderende genade van God en voorbeeld van Christus, word ons natuurlike mens in die geestelike omskep. Die persoon wat toegewy en opofferend lewe (Rom. 12:1-3), gehoorsaam is, saam met Christus gekruisig is (Gal. 2:20; Rom. 6:6-11) en die beproewings van die lewe reg vertolk, sal beslis gebrokenheid en diepte in karaktervorming ervaar.
Lesse in beproewing lei na die ontdekking, beoordeling en ontvanklikheid vir karaktergapinge om deur genade herstel te word. Hierdie openinge in karakter bied die Heilige Gees die geleentheid om aan te vul, te verander, te versterk, te veredel en te versadig. Die beeld van Christus word sodoende in die Christen se innerlike mens gegraveer. Hierdie vervolmakingsproses begin by beproewing:
… (O)mdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerklikheid kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie (Jak. 1:3-4).
Die mens sal nooit die volle omvang van karakterdefekte begryp nie, maar wat wel waar is, is dat dit alleen in die sielkunde van droefheid ontdek word. Enige werk van God in karaktervorming staan op twee pilare: Enersyds het die vormingsproses met die werking van die Heilige Gees te doen en andersyds is Christus die volmaakte voorbeeld. Droefheid en beproewing is die leermeesters van God wat die mens voor keuses stel. Karakterveredeling en lyding word direk aan mekaar tydens die sielkunde van beproewing verbind.
Verbeelding en onrealisme is groot vyande van karakteromskepping. Gesonde visie, geestelike karakter en realisme, word goed in die vuur van beproewing saamgesmelt. Die gewete is gereinig, die emosies kom nie voor geloof of rasionele redenering nie, die motief word deur die Heilige Gees gedryf en volwasse optrede is nou die resultaat.
AFKORTINGS
King James Version (K.J.V.) Standaard - of ou vertaling (O.V.) Nuwe vertaling (N.V.)
HOOFSTUK 1
SELFLIEFDE IS DIE OORSAAK VAN ONREALISME
Dank God dat ons deur die geloof in staat is om alles te sien wat ons nog nie is nie. Jy het ‘n visie gehad, maar die realiteit daarvan het by verre nog nie ‘n werklikheid geword nie. Dit is wanneer ons in die vallei kom – daar waar ons bewys of ons uitverkorenes is – dat die meeste van ons terugdraai. Ons is nie heeltemal voorberei op die stampe en stote wat moet kom sodat ons in die vorm van die visie gefatsoeneer kan word nie. Ons het gesien wat ons nie is nie, en ook wat God wil hê dat ons moet wees, maar is ons gewillig om gehamer te word volgens die vorm van die visie sodat God ons kan gebruik? (My Allerbeste vir sy Hoogste. O. Chambers. 4 Oktober).
Wanneer die vyand van God die mens versoek, bring die duiwel die mens se selfgesentreerde begeertes, onrealisme en selfliefde na hom toe. Enersyds geniet die sondige self (oue mens) prioriteit en andersyds word hierdie mens ver van die werklikheid verwyder na vernedering en versoeking se einddoel. Hoogmoed is die primêre sonde wat die duiwel gebruik, en hierdie natuur laat hom nie tem nie, ook buig dit nie en verhard dus by die dag. Spurgeon het tereg gesê: "… the old man cannot be mended, the old man must be ended.” Hierdie persoon word selfs m.b.t. beproewing mislei. Gewoonlik word die skuld van alle beproewings nou op ander sowel as die duiwel geprojekteer, sonder om verantwoordelikheid vir hulle eie dade te aanvaar.
Die mens wat dus sy eie karakter deur selfliefde skend, sondig teen sy gewete in sy eie verbeeldingswêreld weg van realiteite. In hierdie sondige droom-paradys word die mens nie opgeroep tot verantwoording nie en in hierdie wêreld kan ook niks verkeerd gedoen word nie. Alhoewel elke mens voor die regbank van sy gewete verskyn, oorheers die sonde gewoonlik die sondaar en dan word die duiwel die jurie. Voor hierdie jurie vind verontskuldiging en selfregverdiging op die hoogste vlak plaas. Daar is nou ook geen of swak gewetensbesware nie, want “almal doen dit mos en dit is nie so erg nie.” Hierdie "vrysprake" van die duiwel bied groot verligting in die verbeelding van onrealiste. Eva is versoek en het a.g.v. daarvan heeltemal onrealisties begin dink. Sodoende het sy stadig weggesweef na 'n verbeeldingsparadys waar die eie ek en selfliefde botoon begin voer het. Sy plaas haar selfliefde dus bó God se Woord, sondig saam met Adam en sodoende dompel hulle die ganse mensdom in ellende (Rom. 5:12; 1 Tim. 2:14). Adam maak weer van die eeu-oue verdedigingsmeganisme gebruik om sy sonde op Eva te projekteer en God selfs te beskuldig dat Hy “hierdie vrou” vir hom gegee het. God is getrou om elke vorm van onkunde te korrigeer, asook elke sonde te straf d.m.v. liefdestugtiginge (Heb. 12:6). Ons word dus na die leerskool van beproewing gestuur om alle vorme van selfliefde te ontdek, sodat die kaf uitgeslaan kan word. Die vallei is die plek van beproewing en die bergtoppe die plek waar ons dit uitgee wat met groot pyn in die vuur bekom is.
Talle kinders van God besef nie dat hulle beproewings die soewereine hand van God is wat hulle wil lei en leer nie. Vleeslikheid en 'n selfgesentreerde liefde kies nooit die kruis nie, maar gewoonlik die maklikste weg met die minste weerstand. Paulus wou bitter graag die doring in sy vlees vermy het, maar word eerder bemoedig in God se leerskool met: "My genade is vir jou genoeg … " (2 Kor. 12:9). Die beginsel van God se lesse het te doen met die feit dat droefheid veroorsaak dat ons vrae vra, dat ons die Bybel ernstiger lees en dat ons daarin antwoorde soek en vind. Deur trane sien 'n mens soms verder. Die kind van God wat hom vir sonde doodreken (Rom. 6:11), omdat hy saam met Christus gesterf het, vind dit nou maklik om vir die verkeerde nee te sê. Die ondervinding om aan jouself te sterf was reeds 'n onaangename stryd. Dit is realisme wat deur die gewete wonde toedien a.g.v. die mens se selfliefde. As iemand in sy selfliefde gewond word, is dit van die ergste pyn wat 'n mens psigies kan verduur. Hoogmoed en selfliefde word in beide gevalle die tweelingsonde wat aan die mens wys dat hy buite die wil van God lewe. Die vuur laat die onsuiwerheid van silwer bo drywe en beproewing wys ook enige vorm van selfsugtige liefde uit. Salomo verwys ook hierna:
Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die hart (Spr. 20:30, vgl. met Mal. 3:3; 1 Pet. 1:6-8).
Selfliefde staan dus reg teenoor God se liefde. Selfliefde kan met 'n verkeerde verhouding te doen hê, valse geestelike ondervindinge, voorgee-vriendskappe, om ander altyd tweede te stel of om eie selfsugtigheid te laat seëvier. Sodra God hierdie lugborrel van verbeeldingsvlugte laat bars, omdat vleeslike begeertes nie permanent versadig word nie, ontdek die mens sy selfsug. Emosionele pyn word ervaar en selfbejammering, selfsugtige liefde, eiegeregtigheid en elke vorm van selfsug, word God se teikens deur sy liefdesbeproewinge. Hy mis nooit die teiken nie.
Die toegewyde Christen wat saam met Christus gekruisig is ervaar die stryd makliker. Hy het wel stryd met omstandighede tydens beproewing, maar die on-Geesvervulde Christen het ook nog 'n stryd met sy selflewe. Wanneer iemand egter saam met Paulus kan getuig dat hy dood is en nie meer leef nie (Gal. 2:20), is selfliefde oorwin en lê beproewing vir hierdie kind van God op 'n heel ander vlak.
Wanneer die mens die hand van God in sy eie lewe ontdek, verstaan hy die skrif wat leer dat alles ten goede meewerk (Rom. 8:28). Nou kan ons die kwaad deur die goeie oorwin en aanvaar dat alles eers verby God moes gekom het. Die kind van God wat elke dag sy kruis opneem (Luk. 9:23), ervaar beproewing en emosionele wroeging anders as die selfgesentreerde Christen. Selfsug openbaar tydens beproewing twee soorte pyne: enersyds is dit 'n gewetenswroeging en andersyds emosionele stryd. Die ongebalanseerde emosie van selfliefde lei tot verharding en 'n selfgesentreerde "uiterlike" mens. Hierdie harde dop moet nou gebreek word en vir hierdie doel laat God soms droefheid toe. Dr. Maclaren stel dit so:
Sorrow is indispensable for our perfecting. By it earthly affections are winnowed away and our dependence on God is increased. A certain refinement of spirit results; capacity for sympathy, too, is often the result of one's own trials – rightly borne, they tend to bend or break the will, and they teach how great it is to suffer and be strong (A Threefold Cord. H. Garratt. p 104).
Die Here is getrou om dié area aan te spreek waar die probleem lê. Die operasie van voorsiening vir die regte beproewing snoei die lote of dooie werke weg, sodat nuwe vrug nou na vore kan kom. Verbeeldingsvlugte, versadiging van selfsugtige liefde en die skokkende ontdekking van die werklikheid, is 'n openbaring. Alle drome is egter nie selfsug en onrealisme nie, maar alle wensdenkery en vleeslike verbeeldingsvlugte, weg van die waarheid, is beslis aards en boos. Onrealiste maak gedurig beloftes aan hulself en nooit realiseer dit nie.
God is volkome in beheer van sy kinders se omstandighede. God werk deur werklikhede sodat ons leer om sy wil reg te lees of te vertolk (Joh. 7:17; Fil. 2:13). Verbeeldingsdromery is fataal want valse profete, waarsêers, goëlaars en towenaars word saam met "dromers" in een teks genoem! (Jer. 27:9). Die Here waarsku selfs duidelik dat nie na dromers geluister moet word nie. Onhaalbare en onrealistiese profesieë is die bewyse van dromery, omdat wat gesê word nie oorweeg word in lig van realisme nie.
Nietige verbeeldingsvlugte verdring die Gees van gebed waar tyd geneem moet word om die wil van God te soek. Op die vlak van realiteit word die mens ryp en geestelik volwasse om die wil van God te verstaan. 'n Sensitiewe gewete funksioneer altyd op realiteitsvlak en help die toegewyde Christen om die regte besluite te neem. Dromery is 'n kunsmatige manier hoe die duiwel ongewenste gedagtes en vleeslike visie gebruik om die mens te mislei. Die vyand se taktiek is dus geskoei op selfsug en selfliefde. Hierdie selfgesentreerde mens is dus 'n maklike teiken. Onegtheid, of fariseïsme, is dus die teenoorgestelde van realisme en heiligmaking. Skriftuurlike heiligmaking is die basis van om te weet waar 'n mens met God staan. Die area waar die Christen tekorte ondervind, behoort ontdekkings van die werklikheid te wees waar Christusgelykvormigheid moet plaasvind.
Net die vrede van God kan permanent versadig. Omdat vleeslike begeertes, wat rondom selfsug sentreer en nie versadig nie, eet, drink of koop sommige mense hulleself tydelik gelukkig. Hulle probeer kompenseer vir die geluk wat alleen in Christus te vinde is. Hulle soek dus blydskap in omstandighede en nie in die Here nie. Paulus het hom egter nét in die Here verbly (Fil. 4:4). God in ons is dus die bron van permanente geluk en vrede en nie eksterne faktore nie.
Die vlees moet verloën en gekruisig word (Luk. 9:23; Gal. 5:24). Om in die lig te wandel is om realisties te wees (1 Joh. 1:7), dit is om vergenoeg te wees (1 Tim. 6:8) en dit is om in die Here te rus (Heb. 4; Ps. 57). Verbeeldingsontvlugtinge bou op kunsmatighede, onegtheid, hoorsê, oppervlakkigheid, ydelheid en versinsels wat bots met God se karakter, wil en realisme. Realiste weet wat beplanning behels, wat hulle finansiële stand is, die onderskeid tussen die menslike selfbeeld en die Christus-, om interpersoonlike verhoudings normaal te hou en alles wat nodig is om onderskeiding te kweek. Die selfliefde van onrealiste veroorsaak dat hulle antisosiale gedragspatrone langtermyn verhoudings onmoontlik maak. Selfgesentreerde persepsies is hiervoor verantwoordelik.
Ons moet ernstig bid dat God sy volk na die werklikheid terugbring: daar waar 'n kruis is, waar die bloed reinig, waar kosteberekening gedoen word en waar die smal weg na God se teenwoordigheid en die hemel lei. Die koninkryk van God wankel nie op onrealistiese drome en verbeelding van dinge wat nie bestaan nie. Dit is gebou op die Rots Jesus Christus wat die werklike fondament van sy kerk is.
Alles het 'n prys. Deur te sterf aan jouself ontvang jy lewe (Joh. 12:24); deur op te offer sal jy die goeie maai (Gal. 6:7); deur om jouself te verneder sal jy verhoog word (Matt. 23:12); deur die kruisweg te volg sit jy in hemelse plekke (Ef. 2:6); jy word getroos en versterk in stryd (Heb. 13:5) en daarna vir ewig opgeneem in heerlikheid (2 Tim. 4:18). In die Here se leërmag lei stryd tot oorwinning en by Christus se koms verwissel ons die kruis met 'n kroon. Leer van die wyse Salomo dat drome misleidend kan wees:
Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God (Pred. 5:6. O.V. of standaardvertaling).
Daar is baie drome, wat tot niks kom nie, ook baie woorde (Pred. 5:6. N.V.).
For in the multitude of dreams and many words there are also divers vanities: but fear God (Ecclesiastes 5:7. K.J.V. vgl. ook Matt. 12:36).
HOOFSTUK 2
KARAKTERONTLEDING, MOTIEWE, EMOSIE EN BEPROEWING
Wanneer iemand enige stappe doen, besluite neem, reageer of selfs dink, dan speel sekere aspekte in die psige ‘n kardinale rol. Alle handelinge of reaksies het met beweegrede en motief te doen. Dit is hier waar mense verskillend reageer. Vir alle optrede, rasioneel of irrasioneel, reg of verkeerd, swak - of goeie beplanning, deurdagte optrede of impulsiewe reaksie, is daar rede. Selfs sonde het 'n verskoning, al is dit selfregverdiging! Elke mens in sy eie verwysingsraamwerk maak elke dag talle keuses en in 'n leeftyd miljoene. Daar word gereeld verskeie wilskeuses uitgeoefen. Besluite behels bv.: voortbestaan, morele aspekte, ontspanning, geestelike realiteite, probleemhantering, huweliksbesluite opvoedings-, ewigheids- en alledaagse minderbelangrike keuses.
Vir dromers wat uitkoms in die onwerklikheid van verbeelding soek, sal dit waardevol wees om motief en karakterontleding beter te verstaan. God se wil maak nie altyd dadelik sin nie, daarom verwys Paulus na: “... later ...” (Heb. 12:11). Alle mense wat verkeerd optree is nie altyd doelbewus besig om bekende wette te oortree nie. Deur onkunde maak mense soms reuse foute en moet later die emosionele pyn van die werklikheid verduur. Dit word soewereine lesse genoem. Dit is dus van kardinale belang om motief en gewete te bestudeer.
2.1 Motief en gewete
Gewete het morele invloed en het met optrede van die wil te doen. Motief het met beweegrede te doen en is partydig, òf vir die goeie òf daarteen. Terwyl die gewete oordeel of verontskuldig (Rom. 2:14-16) en nie self keuses maak nie, is motief die mens se finale impuls vir wilskeuse. Gewete oordeel, maar sal nooit geoordeel word nie want dit bestaan neutraal, maar die "gedagtes" en die "oorlegginge" van die harte sal geoordeel word (Rom. 2:4; 1 Kor. 4:5). Verstand en gewete kan selfs besoedel wees en tog kan die Heilige Gees nog steeds daardeur oortuigingswerk doen. Die wil besluit dus, die verstand het met die rasionele te doen en die gewete is dus ‘n morele weegskaal. Voordat finale besluite oor belangrike sake geneem word, sal die gewete dus 'n rol speel.
In die sielkunde van beproewing, leer die kind van God nou om absoluut realisties te dink en die skrifte te ondersoek. In hierdie skool van God word die vraag gewoonlik gevra wat gedoen moet word om uit hierdie omstandighede te kom. Hier speel motief en gewete die belangrike rol. Wanneer die diepste motiewe gepeil moet word, is die gebroke mens op die vlak van realisme waar die Here kan werk.
Die gewete word o.a. gevorm en beïnvloed deur opvoeding, geestelike lering, intellektuele persepsies, realisme, beproewing en die vaslegging van verskeie lewensopvattings. Afhangende van hierdie ontwikkeling en agtergrond van die gewete, word motiewe makliker uitgedruk. Die sosiaalwanaangepaste psige en emosioneelgedrewe optrede buite die rasionele, het ‘n swakgevormde gewete en neem motiewe dus nie in ag nie.
Deur die wil, rede, gewete en motief, vind optrede dus plaas. Motief bepaal egter nie die gewetenstoestand nie, maar die intellek, wil en emosies word primêr deur die gewete geraak. Tydens beproewing ervaar die Christen dat 'n skoon gewete hom toelaat om nou ook ander lesse te leer. Hy dink rasioneel en besluit op realistiese vlak om nooit weer dieselfde verkeerde besluit byvoorbeeld te maak nie. Job ontdek nie dat hy tydens sy lyding 'n sondaar is nie, maar leer eerder dieper openbaringe van God tydens beproewing.
Rede kan egter die wil, emosies en motief oorheers a.g.v. selfsug. Die gewete, rede en logika kan selfs verpletter word as ‘n sondige emosioneelgedrewe en irrasionele optrede die beweegrede se onsuiwer motief is. Dit is waarom Paulus na 'n toegeskroeide gewete verwys (1 Tim. 4:2). Die vuur van God is dus soms nodig om die motiewe te ontbloot en die gewete deur die bloed te reinig (Heb. 9:14). Daardeur kom mooi karaktereienskappe na vore en gesonde realistiese besluite word dan in die teenwoordigheid van God geneem. Suiwer motiewe en ‘n sensitiewe gewete is die resultaat.
2.2 Motief en emosie
Die doel van hierdie skrywe is nie om emosie te definieer nie, maar om die interaksie tussen motief en emosie te bespreek. Die vrug van die Gees sal later afsonderlik behandel word en moet nie met emosies verwar word nie. Emosie is deel van die psige, terwyl die vrug van die Gees aangeleer en gekweek moet word. Die vrug van die Gees vorm deur geestelike groei later ‘n integrale deel van die menslike emosies.
Emosie speel 'n uiters belangrike rol by optrede. Afhangende van die persoon se emosionele stand en sekere karaktereienskappe, word motief geraak. Onsensitiewe en onstabiele emosies sal byvoorbeeld impulsiewe optrede tot gevolg hê en die resultaat is dan emosionele wroeging. Oswald Chambers verduidelik:
Baie van die ongelukkigheid wat Christene ervaar, is nie as gevolg van sonde nie, maar omdat ons onkundig is oor die wette van ons eie natuur. Byvoorbeeld, die enigste maatstaf wat ons moet aanwend om te bepaal of ons 'n sekere emosie moet toelaat om sy loop in ons lewe te neem, is om vas te stel wat die finale uiteinde van daardie emosie gaan wees. Maak 'n logiese gevolgtrekking en as die uiteinde daarvan iets sal wees wat God sou afkeur, maak onmiddellik 'n einde daaraan. As dit 'n emosie is wat deur die Heilige Gees aangewakker is en jy laat dit nie toe om sy volle loop in jou lewe te neem nie, sal dit 'n reaksie bewerk wat op 'n laer vlak is wat God bedoel het. Dit is die wyse waarop onrealistiese en emosionele persoonlikhede gevorm word. Hoe meer intens die emosie, hoe dieper die korrupsie, indien dit nie op die vlak beoefen word wat God bedoel het nie. Indien die Gees van God in jou binneste geroer het, maak soveel moontlik van jou besluite onherroeplik vas en laat die gevolg wees wat dit wil (My Allerbeste vir sy Hoogste. O. Chambers. 22 Maart).
Alle motiewe, sowel as emosies, behoort onder die beheer van die Heilige Gees te funksioneer. Dit is dus van kardinale belang dat die selflewe gekruisig moet word. Die selflewe is gewoonlik emosioneelgedrewe en behep met eie belang i.p.v. God se koninkryk. Die Gees werk nie sonder sy vrug nie en emosionele selfbeheersing beteken om onder die God se beheer te handel (Gal. 5:22; Rom. 8:16). 'n Rein hart is gelyk aan suiwer motiewe omdat alle motiewe se oorsprong in die hart van die mens is. Emosionele impulsiwiteit sal dus onvermydelik lei tot emosionele vleeslikheid. Paulus verwys ook na: "sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid" (Kol. 2:18).
Oorhaastige emosionele optrede werk nie deur suiwer motiewe wat op die vrug van die Gees, soos bv. lankmoedigheid gebaseer is nie, maar is gewortel in die vlees. Die Christen wat sy kruis elke dag opneem (Luk. 9:23), ken balans, suiwer motiewe en emosionele selfbeheersing. Emosionele uitlating is vir alle mense van belang, veral in moeilike omstandighede. Christene behoort hulle laste, stryd, droefheid en konflik na die Here toe te neem (1 Pet 5:7). Die wat egter nie onder die Gees se beheer is nie, haal emosionele frustrasie op sagte teikens uit. Vir die kind van God onder die beheer van die Gees is dit dus oorhandiging van laste en vir die vleeslikes is dit uitbarsting van frustrasie. Impulsiewe optrede word dus soos volg ontleed:
1. Eerstens word stryd nie aan God afgegee nie. 2. Daarna volg opbouing van frustrasie plaas. 3. Dan word gesoek na die regte situasie vir uitbarsting. 4. Emosies kom nou voor die vrug van lankmoedigheid, selfbeheersing en liefde. 5. Alle gewetensbesware en motiveringsevaluering word impulsie- welik oorheers. 6. Na uitbarsting kom selfverwyt. 7. Na selfverwyt dwing selfliefde en hoogmoed die mens tot selfregverdiging. 8. Na projeksie en selfregverdiging kom emosionele pyn, skuldgevoelens en verdere selfverwyt.
Hierdie tipiese emosionele impulsiwiteit, ís die karakter en samevatting van hierdie bose kringloop. Die duiwel gee die mens, wat onder sy eie beheer staan, nie 'n kans om rasioneel of logies oor sy optrede te dink nie. Die kind van God wat selfbeheersing beoefen se emosies en motiewe funksioneer egter in harmonie.
Tydens regverdigmaking deur die geloof, word die mens uit genade gered (Ef. 2:8) en deur die vervulling met die Heilige Gees word die gelowige bekragtig (Hand. 1:8). Beproewing wys gewoonlik waar karakteraanpassings, -veranderings en -versterkings aangebring moet word. Hierdeur word die vrug van die Gees gekweek en sodoende kan die mens leer om eerder rasioneel as emosioneel op te tree. Die oorblyfsels van die verwronge karakter in die mens word mee gehandel in die proses van heiligmaking.
Rede, logika, lankmoedigheid en die stem van God kom dus vóór enige emosie. Emosies is deur God daargestel om by bepaalde omstandighede te pas, dienooreenkomstig te funksioneer en uitlating op ‘n paslike manier te bied. Dit maak verkeerde motiewe onmoontlik as die mens onder die beheer van die Gees is. Die mens moet die balans hou sodat hy in sosiale omstandighede byvoorbeeld die emosies van geluk en blydskap kan ervaar. In ernstige beproewing, droefheid of lyding tydens menslike emosionele teistering, is kalmte en vrede weer noodsaaklik.
'n Gesonde emosionele samestelling funksioneer nie saam met impulsiwiteit nie – haastige voete trap mis. God raak die diepste motiveringsareas en emosionele vlakke gewoonlik deur die sielkunde van beproewing. Dit is dus imperatief dat gelowiges die weë van die Here, o.a. beproewing, reg verstaan (1 Pet. 1:6). In hierdie leerskool van beproewing en realisme, vind ons eerlike soekers na God se wil. Hulle emosies en motiewe word toenemend in die heiligdom met God se attribute en karakter geharmonieer.
Dit is hartseer dat 'n droomwêreld sommige mense weg van realisme na 'n wêreldse droefheid neem (2 Kor. 7:10). Somtyds lei vleeslike droefheid en – opgeblasenheid mense om teen God te rebelleer. Tog vind ons dat die liefdevolle God tyd neem en baie omstandighede toelaat om sy kinders tot besinning te bring. Alhoewel daar dikwels menslike trane vloei, moet dit tog ook in ag geneem word dat daar ook goddelike medelye en vertroosting is.
Tydens beproewing en stryd kan daar nie ‘n emosionele balans plaasvind indien selfliefde nog nie gekruisig is nie. Herstelling vind éérs plaas wanneer sonde versaak is en die mens tot op die vlak van realisme gekom het (Spr. 28:13; 1 Joh. 1:8-9). Deur die ondervinding van beproewing kan motiewe makliker gepeil word.
Dit is baie eenvoudiger deur om in die geloof die weg van God te bewandel as om in die kompartement van saamgeperste emosionele frustrasie te worstel. Geen mens ken homself volkome nie. Die mens kan maklik sy intellektuele vermoëns, geestelike verhouding met God en sy posissionering in sy gemeenskap peil. Emosies is egter nie altyd maklik om te peil nie. Indien die mens homself op elke gebied volmaak sou ken, sou niemand foute gemaak het nie. Selfbeheersing, wat primêr met emosies te doen het, neem die plek van ongewenste menslike optrede en verkeerde motiewe in.
Alle defekte in emosie en motief, verwys die mens opnuut na die versoeningswerk van Jesus Christus, wat die enigste antwoord vir ons probleme is. Al word ons soms op ons gebreke gewys, moet gesonde introspeksie ons na die boesem van God lei waar die bloed van Jesus ons in die teenswoordige lewe reinig en verander (1 Joh. 1:7). Geen sonde word by die dood gereinig nie en in die hemel vind daar ook nie geestelike groei plaas nie. Die bloed van Jesus reinig nou aanhoudend van alle sondes (1 Joh. 1:7).
Elke bekende emosie het 'n motief en gaan dus gepaard met 'n bepaalde gesindheid. Vir die doel van hierdie skrywe kan na verskeie emosies gekyk word:
2.2.1 Die emosie van skaamte
Skaamte is 'n baie mooi en edele persoonlikheidseienskap. Onskuld en 'n goed-gevormde gewete is van kardinale belang sodat skaamte ook reg kan funksioneer. Skaamteloosheid en sedeloosheid is die produk van 'n emosionele wanbalans en swak-gevormde gewete. Geen wonder dat die term “kuisheid” heeltemal uit die moderne woordeskat verdwyn het nie. Skaamte is 'n besliste maatstaf om persoonlikheid te definieer. Dit is ook 'n emosie wat die Gees aanraak wanneer die mens van sonde oortuig word. Die Bybelse persoonlikheidsdefinisie het direk met morele aspekte te doen en rus op die fondamente van God se edelheid sowel as sy heiligheid.
Sommige mense is nie sensitief vir sonde nie, aangesien die emosie van skaamte onrealisties gevorm is. In die vormingsproses is die wêreld se sondige en afgewaterde maatstaf gebruik in die formulering van heilige dinge. Paulus verwys selfs na sommige mense se eer wat in hulle skande is (Fil. 3:19). Gebalanseerde skaamte, gewete, gesindheid, motief en die vrug van die Gees, is alles deel van heiligmaking. Skaamteloosheid is dus gebaseer op 'n swak gewete, onrealisme en die verkeerde vertolking van God se heiligheid. Sedeloosheid en onkuisheid staan direk teenoor die goed-gevormde emosie van skaamte.
2.2.2 Die emosie van liefde
Liefde tussen mense begin as 'n wilskeuse. Later vind daar emosionele aanpassing en interafhanklikheid plaas, namate emosionele bande saam in 'n verhouding met God groei. Net so word goddelike liefde ook deur 'n keuse in die mens se hart uitgestort (Rom. 5:5). God self is Liefde (1 Joh. 4:8) en hierdie emosie, wanneer die mens dit ervaar, is op 'n heel ander vlak as bloot menslike liefde.
Wanneer hierdie emosie egter verdorwe is, verwar sommige mense obsessie met liefde. Hierdie obsessionele “liefde” word ook vleeslike liefde of self - genoem. Selfsugtige liefde word dan die emosionele filter waardeur mense kyk of reageer. Hulle wandel deur emosie en nie deur geloof en gesonde rede nie. Emosie behoort nie die filter te wees waardeur mense kyk nie, maar wel goddelike liefde. Die ongebalanseerde menslike gedrag tydens druk, veral as dit redelik-gevestigde gedragspatrone gevorm het, wys hierdie emosionele filter uit. God is genadig om te genees en te vergewe. Hy sal deur sy getrouheid altyd daarin slaag om foute uit te wys, te korrigeer en sy liefde in plek daarvan te plaas. God skenk die mens soms ‘n dosis van sy eie “harde liefde” in die vorm van ander se optrede, voordat ‘n nugtere selfontdekking gemaak word. In hierdie spieël van selfliefde word talle selfontdekkings gedoen.
Emosionele wonde, wat as gevolg van 'n liefdesteleurstelling veroorsaak is, lei gewoonlik na impulsiewe liefde. Die gesonde emosie van liefde is egter diep en sentreer rondom iets wat deur God wakker gemaak is. Wanneer die vertrekpunt reg is, bepaal hierdie emosie ook suiwer motiewe. Die emosie van liefde word ook dan deur God in stand gehou omdat dit deur Hom begin is.
God kan alle vorme van sonde vergewe sowel as wonde genees. Hy kan goddelike liefde in harte plant waar dit nie was nie, solank die bloed van Jesus die weg voorberei het. In die sielkunde van beproewing word liefde nie gelouter nie, maar getoets. Geloof word egter gelouter (1 Pet. 1:6-8). Job het God se toetse nie alles verstaan nie, maar bly getrou in sy liefde teenoor Hom. Op hierdie gebied is Israel ook getoets (Deut. 8:1-16).
2.2.3 Die emosie van toorn
Hierdie belangrike emosie dien as uitlaatklep om gewoonlik van opgekropte gevoelens ontslae te raak. Hierdie emosie, onder die beheer van die vlees, het met 'n gebrek aan liefde te doen. Die probleem rondom ophoping en latere uitbarstings, het te doen met die feit dat ophoping van gevoelens onbybels is. Enige vorm van onderdrukking moet noodwendig in een of ander vorm van uitbarsting ontaard. Die liefde "is lankmoedig" en die afwesigheid van liefde lei na onaangename gesindhede (Spr. 15:18).
Alle konflik moet elke dag afgehandel word. Paulus leer dat die Son nie moet ondergaan oor ons toorn nie (Ef. 4:26). Ons behoort egter alledaagse wroeginge, bekommernisse en stryd aan God af te gee. Die vlees wil gewoonlik alles sélf regmaak en weier dan om spanning in gebed te ontlaai. Ontploffing of uitbarsting is nou die resultaat en nie vrede en rus nie, omdat dit nie aan die Here afgegee is nie (1 Pet. 5:7; Kol. 3:15). Die oorsaak van bekommernis lê nie in God nie maar in ongeloof. Oswald Chambers sê:
Bekommernis eindig altyd in sonde. Ons is geneig om te dink dat 'n klein bietjie angstigheid en bekommernis maar net 'n bewys is van hoe wys ons regtig is, maar in werklikheid is dit eintlik 'n bewys van hoe sondig ons regtig is. Bekommernis is die uitvloeisel van ons vasberadenheid om ons sin te kry. Ons Heer was nooit angstig of bekommerd nie, want Hy was nooit daarop ingestel om sy eie planne ten uitvoer te bring nie, maar altyd God s'n. Vir die kind van God is bekommernis sonde (My Allerbeste vir sy hoogste. 4 Julie).
Dit moet egter duidelik gestel word dat daar 'n beheerste toorn en onbeheerste – is; 'n regverdige toorn en onregverdige - ; 'n aanvaarbare toorn en onaanvaarbare – en 'n heilige toorn en onheilige -. God self kan toorn openbaar. 'n Regverdige toorn moet duidelik van woedebuie en woedeuitbarstings onderskei word. Paulus verduidelik ook dat die mens toornig mag word, maar nie moet sondig nie (Ef. 4:26). God. Jesus en Paulus openbaar bv. toorn teen valse leerstellings en - profete. 'n Selfgesentreerde emosie van toorn het met hoogmoed, selfsug en skeltaal te doen.
Die mens is na die beeld van God geskape en het dus ook dieselfde emosie soos Hy. Hierdie emosie is dus deel van die menslike psige en is daar gestel om met 'n doel te funksioneer. God neem hierdie emosie nooit weg nie, maar heilig dit. Paulus verwys na die onbeheerste "toorn" en plaas dit saam met "woede" in een teks (Ef. 4:31).
'n Onbeheerste toorn in Christene word deur inwonende sonde veroorsaak. Daarmee moet gehandel word by hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees (Hand. 15:8-9; Kol. 3:9-10). Daar bly egter steeds ongewenste gewoontes agter wat nie gereinig kan word nie, maar afgeleer moet word. Daarvoor bestel God o.a. soewereine beproewings. Nou word die ellendige "deur" sy ellende verlos (Job 36:15). Let op dat die ellendige se beproewing sy verlossing word, aangesien die woordjie "deur”, die antwoord is.
Dit is dus onredelik en onlogies om te dink dat die mens enige tyd op die weg van heiligmaking van gesonde toorn verlos gaan word. Net so min soos wat ons van die emosie van geluk of droefheid verlos word, sal ons van 'n regverdige toorn verlos word. Daar moet 'n duidelike onderskeid tussen die geestelike en die vleeslike gemaak word. Daar is dus 'n groot verskil tussen verskeie aspekte van toorn, alhoewel dit dieselfde gespel word.
Ongesonde emosionele ontlading, soos woedeuitbarstings, kom op dieselfde neer as om vir iemand te sê om bv. te lag by die graf van sy geliefde of om te huil vir goeie humor. Die gesonde psigiese emosionele uitlaatklep moet dus sy loop tydens paslike omstandighede neem. Woede pas eksklusief by die duiwel in die hel! Wee die mens deur wie die struikeling kom (Luk. 17:1).
2.2.3.1 Die vleeslike toorn
Die persoon wat die werklike onderskeid tussen emosionele uitbarstings en die gesonde emosie van toorn wil verstaan, moet dink in die vorm kontraste. Alle emosies buite die beheer van Gods Gees vorm negatiewe karaktertrekke. Hier volg 'n tipiese woede-toorn se eienskappe:
1. Woedebuie sentreer rondom selfregverdiging, selfverdediging en projeksie. Dit kom gewoonlik voor in die onvolwasse persoonlikheid. Projektering is die ontlading van frustrasie en bewys van die onbevoegdheid om druk te hanteer of om laste op die Here te werp (1 Pet. 5:7). Valse beskuldigings reflekteer in werklikheid die vleeslike persoon se eie swakhede en sonde.
2. Vleeslike toorn reageer die ergste wanneer 'n persoon se selfliefde gewond is. Hierdie pyn is abnormaal en kan tereg 'n verwronge emosionele droefheid genoem word en veroorsaak dan opgekropte gevoelens. Wanneer die selflewe gekruisig word, is daar nie meer selfliefde om gewond te word nie (Luk. 9:23; Rom. 6:1-6; Gal. 2:20). Die reaksie van die Geesvervulde persoon teenoor emosionele pyn, sentreer rondom die dood en opstanding van Jesus Christus. Daar is geen verskoning vir ‘n onbeheerste toorn nie en dit word onomwonde sonde genoem. Dit moet aanvaar word dat ons “oue mens” reeds saam met Christus gekruisig is en dat ons hierdie gawe moet toereken (Rom. 6:11).
3. Vleeslike toorn bring gedwonge skaamte, verdere woede, vernedering, pyn, verwarring en selfverwyt. Innerlike wroeginge en angs, m.b.t. swak interpersoonlike verhoudinge, gaan gepaard met mekaar. Ongelukkigheid het weer geen langdurige gevolge nie en moet duidelik van woede onderskei word.
4. Vleeslike toorn is 'n wanaangepaste karaktereienskap van die persoon wat nie onder beheer van die Heilige Gees is nie. Impulsiwiteit en 'n vleeslike toorn is 'n tweeling.
5. Dit moet duidelik gestel word dat vleeslike toorn en die gesonde emosie van ongelukkigheid van mekaar onderskei móét word. Toorn is en lei na sonde maar nie ongelukkigheid nie. Ongelukkigheid kan met 'n regte gesindheid geskied, terwyl woede nooit in 'n goeie gesindheid plaasvind nie. Ongelukkigheid laat nie toe dat skeltaal uitborrel nie, maar saam met woede kom skerp woorde of "swaardsteke" (Spr. 12:18; Ps. 57:5). Vleeslike toorn maak nie plek vir die vrug van die Gees nie, terwyl die gesonde vrug van ongelukkigheid onder die beheer van die Gees is. Vleeslike toorn het gewoonlik onaangename optrede as gevolg. Dit gaan gepaard met liggaamstaal, sarkasme en legio onaangename antisosiale gedragspatrone. Dit word ook verdedigingsmeganismes genoem.
6. Vleeslike toorn het gewoonlik met inisiëring van konflik te doen en ongelukkigheid het met reaksionêre gevoelens te make. Die vleeslike toorn kan sonder rede optree want ontlading is die doel. Niemand onder die Gees se beheer word impulsiewelik ongelukkig nie. Die vleeslike toorn soek geleentheid vir uitlating of ontlading en die skokkende reaksie van ander daarop is ongelukkigheid en dit is normaal.
7. Vleeslike toorn is 'n gedragspatroon, terwyl ongelukkigheid as uitsondering bloot dien as normale emosie in uiterste of bomenslike omstandighede. Indien die uitsondering op die reël teenoor die norm gekontrasteer word, word die onderskeid tussen toorn en ongelukkigheid dus al hoe duideliker.
2.2.4. Die emosie van vrees
Laat julle harte nie ontsteld word nie; glo in God glo ook in My (Joh. 14:6).
Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim. 1:7).
Vrees het menigmale die pragtige karakters van Christene geskend. Ons het die reg en geloof om op God te vertrou te midde van alle omstandighede. Ons is geskape om binne die veilige bakens van God se liefde in vryheid te lewe. Vrees is slawerny van die bose se gewoontes en denkpatrone. Ongeloof is die basis van vrees en word uit die onderwêreld aangevuur om die uitverkorenes se verhouding met God te skend. Versigtigheid en vrees is twee uiteenlopende pole. Die emosie van vrees is ‘n beklemming van die gemoed en gaan gepaard met emosionele pyn. Hierdie sonde van ongeloof het duisende nadraaie. Vrees tas die liggaam aan, verduister en verander visie, verdraai geestelike perspektiewe, dryf gelowiges terug, verander mense in negatiewe denkers, verwerp God se beloftes en bring duisternis. Dit kom op neurose neer. Hierdie toestand van die gemoed kan telkens tot angsaanvalle lei wat vrees vererger.
Omdat God se kinders deur volmaakte liefde gedring word (2 Kor. 5:14), werp hierdie kragtige belofte vrees uit:
Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie in die liefde volmaak geword nie (1 Joh. 4:18).
Die vervolmaking van die liefde geskied tydens die vervulling met die Heilige Gees. Nou beheer die Gees die kind van God en nie die vlees of emosie nie. Vrees en straf is dus aanwesig saam met die vlees en liefdeloosheid. Karakterveredeling, agape liefde, geloof en beloftes word ontdek, uitgebou, versterk, vermeerder en bevestig deur beproewing in die sielkunde van droefheid. Die Bybel leer dat "vrees sluit straf in" en behoort dus hoegenaamd nie in die psige toegelaat te word nie. Alle humanistiese pogings en onbybelse sielkundige oplossings slaag nie om vrees te besweer nie. Die Bybel leer dat die liefde van God dit na "buite" dryf. Die verlossing van vrees lê dus op bonatuurlike vlak en in geen menslike oplossing nie. Niemand kan werklike vrees afleer nie. Sodra dit ernstig van aard is en in 'n gedragspatroon omskep is, kan net God dit wegneem. Geloof maak van God se beloftes 'n profesie terwyl vrees beloftes verwerp en die geloofslewe bedreig. Die volle omvang van God se karakter is liefde (1 Joh. 4:8). Die Psalmboek leer dat die emosie van vrees oorwin kan word (Ps. 37:5; 46:11; 62:9; 43:5; 91:2). Deur die lees van die Palms het baie depressielyers genesing ondervind.
Tydens aanslae van die vyand leer die kind van God nou om op beloftes te vertrou. Terwyl geloof bevestig en gelouter word, word vrees ook beveg en uitgedryf. Elke stap van geloof is ook 'n stap van gehoorsaamheid. In hierdie riglyne vir besluitneming is nie plek vir ongeloof of vrees nie.
Oorwinning oor die emosie van vrees, beteken om te rus in die onfeilbare beloftes van die Here en om te belê in vertroue en hoop. Die Bybel vermaan ons om ons nie te bekommer nie (Matt. 6:25). Soms laat God toe dat ons getoets word om sodoende ons geloofsgrond te versterk. Paniek en ongeloof lei na vrees en bekommernis wil ons dan laat vlug, maar die liefde van God se getrouheid onderskraag ons te alle tye. Om vrees dus te oorwin, moet ons die geheim leer om op God te wag en in sy liefde te rus (Jes. 30:15; 50:10; Miga 7:8; Klaagl. 3:26).
Niemand kan sy bepaalde omstandighede reg veg nie, maar in stilwees en vertroue lê ons geestelike krag. Iemand het gesê: "Faith is a fear-killer and fear is a faith-killer.” Hoop dus op God en moenie retireer nie. Ons moet dus versigtig volg in die voetstappe van Jesus onder die banier van heiligheid en rustig in hemelse plekke sit (Ef. 2:6).
2.2.5 Die emosie van droefheid
Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die siel (Pred. 7:3).
Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie 'n saak van blydskap is nie, maar eerder van droefheid; later lewer dit egter 'n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is (Heb. 12:11).
Niemand kan so effektief en met deernis woordesalf aan die bedroefdes se wonde smeer, as hy wat self eers deur droefheid gegaan het nie. Volgens Salomo is droefheid die emosie wat veroorsaak dat die hart dringend ondersoek word. Volgens Paulus het droefheid ook 'n besliste doel.
Droefheid kom voor diepgaande en waardige blydskap. Soos toorn en blydskap, is droefheid ook 'n belangrike psigiese komponent om die mens normaal te laat funksioneer. Om trane te begrawe of droefheid te onderdruk is emosionele verkragting. Dit sal swak psigiese spysvertering wees om iets wat reg behoort te funksioneer met 'n plaasvervanger te verruil. Die normale gang van die lewe, gepaardgaande soms met pyn en lyding, moet deur gesonde emosie uitlating bied. Droefheid moet sy volle loop tydens beproewing neem, as dit geverg word, sodat die rouproses voltooi kan word. Daar is dus voorsiening in die psige gemaak vir pynlike ervaring sodat dit deur emosie reg hanteer kan word.
Volgens die woord van God is daar twee aspekte van droefheid: Daar is droefheid volgens die wil van God en 'n droefheid volgens die wêreld (2 Kor. 7:9-10).
Werklike droefheid kan duisende oorsake hê, maar vir die wat God liefhet, word dit met 'n doel toegelaat (Rom. 8:28). Droefheid, wat beslis met beproewing gepaardgaan, was nie van die begin af in die volmaakte skepping en raadsplan van God nie. Talle ongewenste gebeure in die kind van God se lewe laat droefheid 'n rol speel. Dit word vir ons 'n leermeester as ons besef dat God soewerein is en dat Hy baie reste van die sondeval deur die vuur van droefheid openbaar en herstel.
Een van die kruisvrugte is droefheid (Jes. 53:4-5). Enige vorm van smart sal die mens sielkundig verpletter indien die Trooster nie toegelaat word om te troos nie. Hierdie gedagte word die beste in die volgende woorde uitgedruk:
Gaan vlug met jou smarte, Waar niemand dit weet; Of het nie ons harte Ook bittere leed? Hou wat ook jou kwelling, Rus in jou gemoed; Gaan sê dit vir Jesus, Hy maak alles goed.
Gaan sê dit vir Jesus Wat alles reeds weet; Hy gee jou vertroosting, Versag al jou leed. Gaan vlug dan na Jesus, Met al jou geween; Hy lenig jou smarte, Hy, ja Hy alleen.
O hoevele harte Is swaarder gedruk Deur bittere smarte, En dieper gebuk! Toon niemand jou droefheid, Laat niemand dit weet; Bring ander jou vreugde, Bring Jesus jou leed.
God skep nie droefheid nie, maar gebruik dit as hulpmiddel in die vormingsproses van sy uitverkorenes. Dit brand baie oppervlakkigheid weg, dit slaan baie kaf uit en breek ook dooie werke af. Dit bring realisme en verlos die mens van vleeslike wensdenkery en verbeelding wat die Christen buite die wil van God stuur. Droefheid word 'n middel tot 'n doel wat ons breek om emosioneel volgens die wil van God herstel te word. Ander kan nou getroos word:
Troos, troos my volk, sê julle God (Jes. 40:1).
Daarom is ons getroos oor julle vertroosting en het bly geword oor julle blydskap van Titus, omdat sy gees deur julle almal verkwik is (2 Kor. 7:13).
'n Persoon wat nie deur die vuur is nie, het nie medelye met ander nie. Sommige is reeds deur die meule, maar het nie versag tydens droefheid nie, maar het eerder verhard. Hulle kom ook nie tot ander se vertroosting nie. Sommige skrik selfs vir beproefdes se ellende en verlaat hulle soos Paulus en Jesus self ook ondervind het. Alleen die wat deur die Gees getroos is, kan ander vertroos.
Droefheid is uitdrukking van verdrukking of lyding. Dit word 'n noodkreet van die hart wat om hulp roep en ontlading van gesonde emosie wat pas by bepaalde omstandighede. Droefheid vra om balsem vir wonde van die liggaam van Christus. 'n Goddelike droefheid bring salf en die Geneesheer weet hoe en wanneer om dit aan te wend. Tydens droefheid word geloof gelouter en maksimaal versterk deur hoop wanneer ons lot weer verander. Hierdie leermeester lei ons weg van die kwaad. Elihu stel dit so:
Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie, …maar as hulle in kettings geklink is, in bande van ellende, dan gee Hy aan hulle hul dade te kenne en hul oortredinge, dat hulle gedrag hoogmoedig was; dan open Hy hulle oor vir die tugtiging en sê dat hulle moet terugkeer van ongeregtigheid (Job 36:7-10).
Nou word sonde duidelik, terme word verstaan, onrealisme verdwyn en deur gebed en versigtigheid word besluite geneem. Impulsiwiteit word lankmoedigheid en weldra word ons brood vir honger siele en salf vir gewondes. Oswald Chambers verduidelik op praktiese wyse hoe ons deur gebrokenheid bruikbaar gemaak word:
How much more is there to know, after sanctification? Everything! Before sanctificatoin we know nothing, we are simply put in the place of knowing; that is, we are led up to the Cross; in a life of outpouring service to God. The characteristic of a saint after identification with the death of Jesus is that he is brought down from the ineffable glory of the heavenly places into the valley to be crushed and broken in the service for God. We are here with no right to ourselves … (Still Higher for His Highest. p 94).
Trane se soutdruppels genees wonde. Die doel van die loutering van Goud is nie om dit te vernietig nie, maar om dit te suiwer. Deur God se liefdeshandelinge word ons nie verpletter nie maar versterk, opgebou, gereinig, veredel en bruikbaar gemaak (2 Tim. 2:20-22).
2.2.6. Die emosie van blydskap
Die vrug van die Gees is blydskap (Gal. 5:22). Heilige Gees-gewerkte blydskap is 'n karaktertrek van God. Werklike vrug van die Gees se blydskap was eers droefheid, maar word later in blydskap verander (Joh. 16:20). Later sal meer oor hierdie vrug en die teenpool daarvan, nl. droefheid, genoem word.
Terwyl God se diensknegte ly of beproef word, kan hulle hulself verbly met 'n onuitspreeklike blydskap (1 Pet. 1:6-9). Niemand kan hom in negatiewe omstandighede verbly nie, maar wel in die Here (Fil. 4:4). Paulus en Silas sing lofliedere in die tronk (Hand. 16:25) en Job kry lofsange in die nag (Job 35:10). Blydskap is die regverdige se stand in Christus. Hierdie emosie sentreer ook rondom die erkenning en dankbaarheid t.o.v. Christus se versoeningswerk. Blydskap is dus die emosionele ervaring van oorwinning oor omstandighede en geloof in God tydens die sielkunde van droefheid. Paulus stel dit so:
… (A)s beproefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak … (2 Kor. 6:10).
Selfs in geestelike oorlogvoering is die emosie van blydskap 'n krag:
… (E)n met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap … (Kol. 1:11).
Blydskap is 'n onontbeerlike emosie vir mooiweer en onweer in die kind van God se lewe. Gesonde humor word ook met gebalanseerde emosies in verband gebring. Alle negatiewe emosies buite die wil van God, moet dus deur die "krag" van blydskap weerstaan word (Neh. 8:11). Deur Jesus se oorwinning oor sonde en ellende van enige aard, kan ons emosionele selfbeheersing en alle onaangenaamhede van die lewe reg hanteer. Jesus self tree vir ons in en het deernis en medelye met ons smarte.
Laat blydskap - die seile van ons siele - ons na hemelse heerlikheid en die teenwoordigheid van God wegvoer. Daar word aardse dinge nietig en klein by sy heerlikheid liefde en lig.
Geen mens kan emosioneel normaal funksioneer sonder die nodige emosie van blydskap nie. Geluk, blydskap en vrede in die Here harmonieer die emosionele samestelling van die menslike psige. Sonder hierdie emosie begin die mens in dooie impulsiwiteit en instink reageer en nie volgens die gesonde emosionele wette van die gesonde psige nie. Die hart kan nie aanhoudend ween en die gesig lag nie. Elke emosie wat deur die vyand teen ons aangewend word, moet in positiewe emosie omskep word. Hierdie vrug word dus deur lewensrealiteite en –omstandighede gekweek. Dit is diep, standhoudend, stabiel, getrou, opbeurend en weerspieël die karakter van God.
Die opdrag om ons in die Here te verbly is dus deel van ons "redelike godsdiens" (Rom. 12:1-2) en nie 'n onredelike bevel nie (1 Joh. 5:3). Die blymoedige Christen het die Fontein van lewe ontdek en vertoef daar waar 'n droë laagte omskep word in 'n fonteinland (Ps. 84:7). Die mens wat hom in sonde, koopgierigheid, wensdenkery of dergelike dinge wil verbly, verdwaal eventueel in 'n emosionele doolhof. Die blydskap in die Here is emosionele beskutting en - uithouvermoë tydens die storm. Die emosie van bekommernis kan blydskap nie stimuleer nie, maar eerder ruïneer. Ons moet onthou dat God selfs in ons môres is en alles wat ons oorkom het reeds verby Hom gekom.
Die Christen kan net die emosionele ervaring van blydskap beleef indien hy die teenwoordigheid van God en Christus ervaar. Dit is die weg van realisme en fondament van 'n rotsvaste geloof.
Gevolgtrekking
Die emosionele samestelling van die mens is dus van kardinale belang. By redding word die mens in staat gestel om die werking van die Gees te begin leer. Ons begin onsself eers te ontdek op emosionele gebied namate ons tydens die sielkunde van droefheid met Christus identifiseer. Hierdie identiteitskrisisse lei na die bloedfontein van Gólgota waar genade is:
Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde (Heb. 4:15).
Die Heilige Gees wys ons hoe ons binne lyk en hoe ver ons van die werklikheid van probleemhantering is. Tydens die leerskool in die sielkunde van beproewing, word wanbalanse, oordrewenheid, hardheid en talle onaangename emosies genormaliseer. Die kraaines van emosies word dus deur die God van genade ontrafel. Deur sy genade word dit rein garing wat gebruik word om ons bruilofskleed te weef. Emosies word dus deur beproewing in regte perspektief gestel.
Emosionele balans word deur 'n reeks goedbeplande beproewings van die Here in heilige karakter omskep. Sentimentaliste sal slegs op die emosionele vlak geraak word. Die vlees laat niks meer toe nie. Deur beproewing moet sentimentalisme omgeskakel word in geestelike dinamiek en - karakter. Die geestelike moet dan oorgeskakel word in doelgerigtheid en diens. Sodra emosie onder die beheer van die Heilige Gees gebring word, harmonieer karakter met goddelike roeping en opdrag. In die fynste detail ontdek ons hoe die Meesterkunstenaar die klei na sy eie wil vorm.
2.3 Motief, oordeel en beoordeling
Die beoordeling van ander se motiewe, voordat daar enige optrede is, is 'n uiters sensitiewe en selfs kontroversiële aangeleentheid. Die beoordeling van motiewe geskied nie gewoonlik opsetlik nie, maar wanneer daar onnatuurlike optrede is, vind dit onwillekeurig plaas.
Beoordeling raak sielkundiges, regsgeleerdes, teoloë en word elke dag deur almal gebruik. Menslike optrede word boodskappe wat uitgestuur word en ander vertolk dit. As goddelike liefde ontbreek, veroorsaak selfliefde dat 'n kritiese gesindheid die filter word waardeur analise plaasvind. Wantroue, kwaadpratery, weersin, bitterheid en nog talle ander sondige wanopvattinge, word die brandstof vir harde en ongesonde oordeel. Omdat ander se motiewe verkeerd beoordeel word, word impulsiewe gevolgtrekkings nou gemaak wat tot voorafopgestelde idees en onvergewensgesindheid lei. Swak oordeel en verkeerde motiewe is gewoonlik die produk van onkunde en onheiligheid. God alleen kan volkome en in volmaakte liefde oordeel en daarom word ons afgeraai om verkeerd te oordeel. Wanneer ons egter 'n saak of persoon moet beoordeel, moet dit nie deur impulsiwiteit of deur 'n emosionele filter geskied nie. Die kind van God wat in 1 Kor. 13 lewe, het nie voorafopgestelde idees of agterdog rondom ander se motiewe nie. Paulus leer dat die liefde "glo alles" (1 Kor. 13:7). Hiper kritiese persone sal gewoonlik eers krities en agterdogtig optree en kan later van opinie verander.
Sake wat ons sowel as die werk van God nie raak nie, hoef nie beoordeel te word nie. Uiters kritiese mense het self probleme met ongeloof, swak onderskeiding, verlaagde selfbeeld, ontkenning van die leer oor beproewing, projeksie, geen simpatie en kan nie kritiek hanteer nie. In kort, niemand kan volmaak ander se hartsgesindheid sonder konkrete bewyse beoordeel nie. Paulus waarsku daarteen (1 Kor. 4:5).
Dit is ook waar dat Christene se motiewe reg kan wees, maar nie noodwendig hulle optrede nie. Onkunde of swak onderskeiding kan selfs aanleiding tot foute gee. God reken egter nie onkunde as sonde of 'n doelbewuste oortredinge van God se wette nie. Die impulsiewe Petrus kap Malgus se oor af, maar Jesus keer dit nie goed nie. Samuel neem Saul se swaard en kap koning Agan se kop af, maar dit dra God se goedkeuring weg! Indien ons neutraal sou beoordeel, sou ons nie Samuel se daad baie erger as Petrus s'n beskou het nie? Tog was lg. die wil van God. Indien ons á sou kon beoordeel, sou ons hom as beledigend beskryf het. Hy verwys na Jesus en sê dat “niks goed” uit Nasaret kan kom nie en dit sal deur sommige selfs as diskriminerend beskou word (Joh. 1:47-48). Tog verwys Jesus na hom en sê dat hy 'n Israeliet is in wie daar "geen bedrog is nie" (vers 48).
Ons sal makliker deur die lewe gaan as ons eerder voor ons eie deur vee, ons eie emosies ondersoek, ons motiewe in die lig van die liefde ontleed en bid dat God ons onderskeiding leer. God’s Woord is die volmaakte skaal waarin ons alles kan weeg. Uitsprake en woorde sal met sout besprinkel wees. Dit is baie beter om met God oor mense te praat as om met mense oor mense te praat. Wanneer oor mense gepraat word, moet erken en verstaan word dat God die stille toehoorder van alle gesprekke is. God sal voor sy troon alle gedagtes en motiewe openbaarmaak en dan sal die motiewe van alle harte blootgelê word.
Wat bedoel die Bybel met die gedagte van ongesonde of verkeerde oordeel? Dit is niks anders as om jouself in die posisie van God te plaas en 'n finale oordeel oor mense te fel nie. Verkeerde oordeel het gewoonlik met dinge te doen wat nie gesien word nie en gesonde oordeel is die teenoorgestelde:
Moenie oordeel volgens wat julle nie sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel (Joh. 7:24).
Dit is baie duidelik dat die duiwel die gedagte van "moenie oordeel nie" totaal uit verband ruk. Gewoonlik poog sondaars om hulle sonde agter hierdie verswakte skans te verberg. Nie een van hulle ken Joh. 7:24 nie! Daar moet dus regverdig geoordeel word.
Wanneer ander egter beoordeel of gemeet word, moet ons onsself met "dieselfde maat" meet en sodoende regverdig oordeel:
Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word (Luk. 6:38).
Die bewys van verkeerde oordeel word gesien in die sonde van onregverdigheid, of wanneer die persoon wat oordeel nie dieselfde maat gebruik om hom/haarself mee te meet nie. In hierdie onregverdige oordeel is geen simpatieke begrip soos deernis nie. Wanneer die regverdige vure van God so 'n persoon se probleem later uitwys, dan kom sy eie motiewe na vore. Nou word ons geweeg, te lig bevind en beoordeel dat onsself verkeerd geoordeel het. Soms gee God mense wat hard oordeel ‘n dosis van hulle eie optrede as hulle deurloop onder ander met dieselfde probleem as hulle. In hierdie spieëlbeeld, as hulle realisties is, kan hulle hulself sien.
Harde oordeel en beoordeling moet dus van mekaar geskei word. Eersgenoemde is vleeslik en laasgenoemde menslik. Asaf se uitgangspunt is Bybels en reg. Asaf sê dat hy regverdig oordeel:
As ek die regte tydstip aangryp, oordeel ek regverdig (Ps. 75:3. Beklemtoning my eie).
2.4 Motief, oordeel en realisme
'n Abnormale verbeeldingswêreld skets 'n Utopia (denkbeeldige gelukstaat) van uiterste heerlikheid, van geen probleme nie en beplan om selfliefde te versadig (Kol. 2:23). Hiervoor moet daar 'n motivering wees en 'n verkeerde motief is die bron. Wanopvattinge van die werklikheid word ver van God se persoonlike teenwoordigheid gebore en nie in die normale realiteite nie. Omdat mense nie in die wil van God lewe nie, word dromery, abnormale verbeeldingsvlugte en dwalende gedagtes rondom verkeerde motiewe die mens se eie vyande. Die woord van God leer dat ons "nugter en waaksaam" moet wees (1 Pet. 5:8; 1 Thess. 5:6).
Die kind van God wie se gewete onder beheer van die Heilige Gees funksioneer, beweeg saam met die werklikheid van die lewe. Nugtere kinders van God verstaan pyn, siekte, droefheid, terugslae, teleurstellings, vertragings, misverstande, beproewings, vyande se optrede en verwerping. Wanneer God sy leermeesters van omstandighede uitstuur as deel van karaktervorming of selfs tugtiging (Rom. 5:3-5; Heb. 12:10-12), moet dit reg vertolk word. Dromery tydens beproewing verdraai motiewe en is 'n uiters effektiewe poging van die vyand wat die mens van realisme laat ontvlug. Hierdie onegte kunsmatigheid van die bose, bring slegs verdere pyn wanneer die gordyn oopskuif en alles van die dakke af verkondig word. Ons behoort in die lig van geloof die hand van God agter alles te sien. Daar ontstaan sekere vrae in die harte van eerlike mense in die lig van motief:
1. Kan ek God deur my optrede verheerlik? Is my werklike motief opreg om niemand te laat struikel nie? Verkeerde motiewe kom in werklikheid na vore in die vorm van selfregverdiging en verskonings vir sonde. Paulus sê:
… (S)odat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte (Fil. 2:15).
Motiewe kan baie maklik bepaal word wanneer daar 'n besluit vír of téén God se heerlikheid geneem word. Die mens moet homself dus ook beoordeel.
2. 'n Tweede en kardinale vraag: “is dit nodig of wil ek dit hê?”, moet ook gevra word. Hebsug, besitlikheid, gierigheid van enige aard en verkeerde begeertes word alles deur selfliefde en verkeerde motiewe gedryf. Sonde moet in die lig van suiwer motiewe veroordeel word. Hierdie abnormale optrede word by vleeslikes gevind en staan teenoor die Gees se gedagte van selfopoffering en toewyding. Indien ons onsself sou vra of dit nodig is en sake in die lig van die kruis evalueer, sal ons baie droefheid gespaar word. Om nie te praat van finansies, reputasie en lewenskragte nie. In die sielkunde van beproewing laat God slegs beproewing toe wat nodig is vir korreksie. God se liefde maak dat hy een of ander tyd alles wegneem buite sy wil. Dan moet korreksie as goedbeplande en liefdestugtiginge gesien word. Die Bybel leer dat ons nie struikelblokke moet wees nie (Luk. 17:1), nie skatte op die aarde bymekaar moet maak nie (Matt. 6:19-20) en geen voorsiening moet maak om die vlees te bevredig nie (Rom. 13:14).
Daar is selde of ooit fondse vir die werk van God weens die hebsug en onrealisme van baie Christene. Sommige word deur die stroom van materialisme weggevoer en deurboor hulleself met baie smarte. Wanneer hulle voor die regbank van hulle gewete verskyn, is sommige reeds so diep in die skuld en dan besef hulle dat dit nou te laat is. Sonde haal mense in en baie keer is dit ook betyds sodat die mens daarmee kan ophou (1 Pet. 4:1; Pred. 8:11-13).
Die strome van seëninge van bo is vermeng met genade wat ons bemoedig tydens korreksie in die sielkunde van droefheid. Die Here onthou toe ons vir Hom aanvanklik “ja” gesê het. Nou voltooi Hy op sy eie wonderlike manier die goeie werk wat Hy in ons begin het (Fil. 1:6).
HOOFSTUK 3
BEPROEWING
3.1 Die goddelike voorbeeld van beproewing
God se openbaring aan ons behels ook 'n deel van sy ewigheidsbestaan. Dit is onwaar dat God in sy volmaaktheid in 'n ivoortoring sit en self nooit ly nie. Die totale kosmos dra kennis van God die Seun se kruisdood en God die Vader se droefheid tydens sy Seun se kruisiging en tydelike skeiding. Die Drie-enige God is die volmaakte voorbeeld van die ergste vorm van lyding wat in die kosmos plaasgevind het. Hyself is beproef:
God is 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in 'n hoë mate beproef (Ps. 46:2).
Alhoewel die versoeningswerk van Christus volmaak afgehandel is, ly die "Man van smarte" steeds. Hy het deernis en medelye en voel innig jammer vir die verlore skape. Sy lyding sentreer nie meer rondom Gólgota nie, maar Hy voel saam met verlore siele se smart in hulle ellende en sonde. Pyn en ellende was nie aanvanklik in die skeppingsplan nie en daarom ly God saam met sy skepping. Die natuur en alle lewende skepsels, wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die koms van die Seun van die mens (Rom. 8). Die volmaakte en vredevolle God kan dus ook droefheid ervaar.
Die kerk van Jesus Christus word nou deur lyding voorberei om later saam met Hom in die ewigheid te regeer. Paulus stel dit soos volg:
As ons verdra sal ons saam met Hom regeer (2 Tim. 2:12. O.V.).
If we suffer with Him we shall also reign with Him (2 Tim. 2:12. K.J.V.).
Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het (Open. 3:21. O.V.).
Om te verdra, te ly en te oorwin, het beslis met beproewing te doen en dien as voorbereiding vir ons ewigheidsbestaan saam met God in regerende hoedanigheid. Vir ons lydensweg het Jesus die voorbeeld gestel en reeds van die sondeval af is die kruisiging beplan volgens Johannes in Open. 13:8. Hierdie vers behoort soos volg in die Grieks te lees:
En die bewoners van die aarde sal hom (die dier van 13:1. Vgl. met die “dier” van Open. 17:8) aanbid, wie se naam nie van die neerwerping (“grondlegging” volgens die O.V.) van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie (Open. 13:8. Direkte vertaling volgens die Grieks. Sien Bylaag 1 vir die verklaring van Open. 13:8).
Die Lam is dus in die hart van God geslag by die sondeval en nie vÓÓr dit nie. Na die sondeval is daar voorsiening gemaak vir die versoening en het God en Christus se lyding begin. In God se ewigheidsbestaan vóór die sondeval, het Hy dus nie gely nie. Nadat tyd en sonde egter begin het, het die liefdevolle Drie-enige God deel geword van die kroon van sy skepping se droefheid. Die Heilige Gees kan dus werklik “bedroef” word (Ef. 4:30).
Voorts is dit duidelik dat Christus medelye met ons swakhede het (Heb. 4:14-15). Wanneer God naby ons tydens pyn en droefheid is (Ps. 34:19; Jes. 55:15), is Hy onlosmaakbaar deel van ons lyding in die hoedanigheid van meegevoel. Dit is ware liefde en simpatie omdat Hy ons nooit verlaat nie. God troos ons dus deur sy ondervinding van droefheid en beproewing (Ps. 46:2). Die kerk kontinueer selfs die lyding van Christus:
Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is (Kol. 1:24. O.V.).
Ons kan dus sê dat God se meegevoel ook goddelike lyding as voorbeeld en vorm van meegevoel insluit – “ … if we suffer with Him …” (Tim. 2:12). Ons kan dus aanvaar dat die realiteit van ‘n vervalle wêreld tragedie is. Die Bybelse lering oor beproewing het direk met die realiteit van die lewe te doen en diegene wat hierdie realiteite verwerp leef in totale ontkenning. Beproewing sal een of ander tyd aan ons almal se deure klop en dan moet ons gereed wees om geleer, gebuig, gemaal en gepoleer te word.
3.2 Die goddelike gawe van lyding
Die mistieke rondom lyding word baie maklik opgelos as die gelowige God se hand agter alles kan sien. Alle lyding uit ‘n menslike oogpunt is aanvanklik irrasioneel, anders sou die mens nie werklik ly nie. Rasionele gebeure veroorsaak gewoonlik nie lyding nie aangesien dit verklaarbaar en verstaan- is. Die rasionele sal weldra deurdring namate die plan van God ontvou (Jak. 5:11). Vrae soos: "waarom Here, hoekom ek, kan dit wees, hoe lank nog, wat is die doel hiervan en hoe moet ons nou reageer?”, ontstaan gewoonlik by die mens. Die besliste antwoord is deel van die oplossing – dit het eers verby God gekom. God het die saak van Job eerste met die duiwel aangeroer en aan die wêreld daardeur getoon dat Hy die Beskikker is van ons deel en lot. Omdat Hy ook die begin tot die einde ken, plaas Hy nooit sy kinders in beproewing bo hulle kragte nie (1 Kor. 10:13). Die volgende tekste bevestig die feit van lyding en beproewing uit verskillende oogpunte:
En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus sal vervolg word (2 Tim. 3:12).
… (M)aar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het; maar julle het my beproewing nie verag of verfoei nie, … (Gal. 4:13-14).
Dit het ek vir julle gesê, dat julle in my vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, ek het die wêreld oorwin (Joh. 16:33).
Ons moet deur baie verdrukkinge die koninkryk van God ingaan (Hand. 14:22).
Vrees vir niks wat jy sal ly nie, kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê … (Open. 2:10).
Die profete en dissipels het reeds die doel agter hierdie goddelike gawe ontdek. As hierdie gawe as 'n middel tot 'n doel beskou word, dan kan die seën daarvan ook gelowig ingewag word. Die heel eerste ontdekking van beproewing behoort 'n positiewe aanvaarding tot gevolg te hê. Enige vorm van rebellie teen God se toelaatbare omstandighede is om sy soewereine wil en einddoel te bevraagteken. Hierdie negatiwiteit rondom die aanvaarding van beproewing kan die tydsduur van die les verleng. Die mens behoort droefheid as 'n Godgegewe gawe te beskou. "Hy doen smart aan…" (Job 5:17-18), maar Hy weet ook die beste.
Hoe kan ons heiligheid deelagtig word sonder tugtiging (Heb. 12:4:11); hoe leer ons lydsaamheid sonder beproewing (Jak. 1:2-4); of beproefdheid, hoop, toekomstige heerlikheid en blydskap (Kol. 1:11; 1 Pet. 1:6-9; Rom. 8:18; Rom. 5:3-5)? Beproewing is dus 'n gawe en fynbeplande omstandighede wat presies aan die behoefte van ons geestelike tekorte sal voldoen. Die wat vir meer liefde bid sal hulle saam met die liefdelose bevind. Die wat meer nederigheid begeer sal weer met die hoogmoediges skouer moet skuur. Die wat vir lankmoedigheid bid sal saam met die onmoontlike karakters van die samelewing moet lewe. God weet altyd die beste hoe Hy sy werkswinkel rangskik.
Die gawe van beproewing tydens die sielkunde van beproewing, is daarop gemik om die mens ten goede te laat verander. Het Job dit nie ook geweet nie?:
Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie … ? (Job 2:10).
Om tydelike beproewingsduisternis as die skaduwee van God se hand te sien, is makliker as om die duiwel se planne te probeer ontrafel. Gedurende droefheid moet ons eerder God se gedagtes deur die Heilige Gees peil. Paulus leer dat die Gees die dieptes van God openbaar (1 Kor. 2:10). God se gedagtes sentreer altyd rondom positiewe dinge, al sluit dit soms tugtiging, bestraffing, beproewing, lyding asook alle goeie gawes in. Jeremia het dit so beskryf:
Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee (Jer. 29:11).
Alle gawes wat die Hemelse Vader beplan, het met die orde van sy herskepping in die mens te doen. Hy herstel ons deur bestellings van omstandighede sodat ons as gehoorsame kinders van God Christusgelykvormig kan word. Wanneer ons ten goede verander, bereik Hy sy goddelike doel en word die leermeesters eers beveel om te wag voor die volgende soewereine opdrag. Alles werk ten goede mee (Rom. 8:28). Was God se hand nie teen die Egiptenare nie (Ex. 7:5), was sy hand nie in Juda nie (2 Kron. 30:12) en was sy hand nie ook op Nehemia nie (Neh. 2:18)? God is in beheer!
Die volle omvang van die versoening word gedurende die sielkunde van beproewing eers in diepte vertolk. Omstandighede word nou die vergrootglas en openbaring waarmee ons kyk en God se wil verstaan. Beproewing skets die realiteite waarmee egte godsdiens in ons verwerklik word. Gehoorsaamheid aan die stem van omstandighede kan ook die dilemma van gehoorsaamheid genoem word. Die woorde wat Satan haat is: diensbaarheid, dienskneg van die Here, nederigheid en gehoorsaamheid. God se stem in die storm, soos in Job se geval, is 'n goeie voorbeeld. Wanneer ons godsdiens soms net om emosie en seëninge wentel, word ons soms getoets of ons Hom te alle tye sal loof, vertrou en dien. Dit is immers God wat in ons werk (Fil. 2:13). Deur die gawe van beproewing word ons versterk in lydsaamheid wat slegs in verdrukking bekom word (Kol. 1:11; Rom. 5:3-4; Jak. 1:3-4).
God se liefdesgawes is werksaam in almal wat die beste van Hom soek en verwag. Ons gebede word nie altyd volgens ons eie begeertes verhoor nie, maar antwoorde van God kom dalk op ander maniere na ons toe.
3.3 Die goddelike keuse van beproewing
Daar is reeds na die gehoorsaamheidsaspek tydens die sielkunde van droefheid verwys. Dat ons moet buig gedurende enige vorm van beproewing is 'n feit. Dit is ook waar dat almal met die begin van beproewing nie dadelik begryp dat alles ten goede meewerk nie. Jona se ontberinge was eintlik onnodig as hy aanvanklik gehoorsaam was. Dit is 'n logiese wet van die hemel dat God ons ten goede verander en positief vorm deur beproewing tydens die sielkunde van toetsing. Soms word keuses vir beproewing deur die mens self gemaak. Indien die gelowige die smal weg van heiligmaking sonder kompromie wil bewandel, is daar talle toetse. Stefanus het met goeie berekening gekies om die fariseërs te bestraf en die resultaat is sy steniging (Hand. 7:51-60). Petrus kry slae en tronkstraf omdat hy God meer gehoorsaam is as mense (Hand. 5:17-18) en Jesus kies die kruis (Heb. 12:1-3).
Soos reeds genoem, is die keuse vir lyding soms deur gebedsverhoring sonder dat die kind van God dit weet. Die gelowige wat om verlossing van sonde bid kan ook deur tugmeesters van lyding besoek word:
Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat die wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde (1 Pet. 4:1).
Vir die goddeloses wat bestraffing verkeerd vertolk, is daar ook 'n keuse:
… en hulle het die God van hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hulle werke nie (Open. 16:11).
Die sondaar se ellende en die duidelike stem van God se omstandighede, bring keuse (Job 36:1-16). Die Christen wat nie godvrugtig wil lewe nie, kompromie maak en die Landman se snoeimes wegstoot, kies die maklikste pad met die minste weerstand. Dit sal bewys word dat elke verkeerde keuse, as ons God se wil weerstaan, 'n dwase keuse is. Dadelik daarna tree die onvermydelike wette van liefdevolle beproewing in werking om te korrigeer. Hierdie wilskeuse is eintlik ‘n onwillekeurige keuse vir nodige soewereine beproewing. Die mens in sy beperkte wêreld maak humanistiese keuses, gegrond op vleeslikheid en goedkoop “heiligmaking” sonder diepte. Hierdie apatiese gesindheid t.o.v. verbetering van ons geestelike lewe, is slegs 'n weerspieëling van ons swak kennis van God en sy soewereine wil in beproewing. Tydens bekering stort God sy liefde in sy kinders se harte uit (Rom. 5:5). Die kanale waardeur hierdie liefde moet vloei is soms nie gereed nie en beproewing word hiervoor aangewend om die mens in lyn met God se liefde te bring. Die uitgee van agape liefde word aangeleer en is nie 'n emosie wat vanselfsprekend en volmaak funksioneer nie. Op die vlak van realisme ontdek die bedroefde siel hoe nodig hy liefde het en hoe min hyself daarvan aan ander gedurende hulle beproewing kon gee.
Die totale geestelike lewe, voor die hemel, is 'n besluit waarin nog duisende ander keuses verskuil is. Talle morele keuses is vorme van lyding en beproewing wat nog later ontdek sal word. God dwing nie sy wil op die mens af nie, aangesien manipulering nie liefde is nie. Liefde vir God word bewys in moeilike keuses wat berekend gemaak word volgens die wil van God. Die kind van God ly dan ook soms "volgens die wil van God" (1 Pet. 4:19). Duisende martelare kon brandstapels vrygespring het indien hulle kompromie gemaak het deur om die ware geloof te verloën. Alhoewel God die beste vir ons begeer m.b.t. keuse, berus die finale besluit vir toetsing by die mens. In keuses vir die kruis lê karakterbou, Christusgelykvormigheid, geestelike diepte, heiligmaking en volwassenheid. Enige kind van God met integriteit, kies soms die moeilikste, maar in die lig van die hemel word dit die maklikste. Die ewigheid sal alleen openbaar dat keuses volgens die wil van God die hemel se heerlikheid verder versier het:
Want ek reken dat die lyding van die teenswoordige tyd nie kan opweeg teenoor die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie (Rom. 8:18).
Demas het die teenswoordige lewe liefgekry (2 Tim. 4:10). Hy het 'n doelbewuste keuse téén God en vír die wêreld gemaak. Die ligte beproewinge saam met Paulus was te swaar en hy kon dit nie opweeg teen die heerlikheid van die hemel nie. Demas het nie dadelik in openlike sonde geval nie, maar kies om nie die wil van God te doen nie. God se geopenbaarde wil aan Demas was om saam met Paulus te werk en nie om sy eie pad te loop nie. Ons lees nie weer iets oor hierdie verlore siel nie. Hy het dus, volgens Jakobus, ‘n vyand van God geword (Jak. 4:4). Ander word weer deur rykdom en sorge verstik (Matt. 13:22). Rykdom en sorge word dus versoekinge. Enige vorm van stryd teen versoeking kan toetsing of beproewing genoem word. Ander verval in verskeie vorme van wêreldgesindheid, dwalinge en afgewaterde godsdiens wat alles deur beproewing en keuse weer reggestel moet word. Hierdie regstellende aksie bring die kind van God weer op die weg van heiligmaking en gehoorsaamheid. Die verlore seun se beproewing in armoede dryf hom terug na sy vader se huis toe. Dit is duidelik dat God se begeerte aan die mens voorgehou word. Keuse beteken openbaring, verantwoordelikheid, duidelikheid oor 'n saak, uitoefening van God’s wil en finaliteit. Wanneer God ons voor keuses stel, is daar geen vaagheid nie, aangesien die mens daarvoor verantwoordelik gehou gaan word. Sommige meen dat ‘n klein bietjie ongehoorsaamheid nie ernstig is nie. Waarmee rekening gehou moet word, is dat die duiwel nie die einddoel van sy planne aan die ongehoorsame mens voorhou nie. Die klein Jakkalsies kan groot skade aanrig. Enige onduidelikheid oor besluitneming verg geduld en dit sal verseker kom en nie versuim nie. Elke goddelik-geïnspireerde keuse gaan gepaard met gewetensopenbaring, motief, God’s wil en die menslike alternatiewe uitweg. Daar is alternatiewe, anders is daar geen moontlikheid van keuse nie en hoe word ons liefde anders getoets?
Enige besluit téén of vír beproewing wat op realiteitsvlak geneem word, bepaal die uitkoms. Dit is reeds genoem dat enige besluite wat in die verbeeldingswêreld weg van realisme geneem word, fataal is. Ernstige kwessies moet dus biddend oorweeg word. Impulsiewe besluite word gemotiveer deur voorafopgestelde idees, bitterheid, liefdeloosheid, onvergewensgesindheid, luiheid, geestelike doodsheid, biddeloosheid en verskeie vorme van afvalligheid. Die uiteinde daarvan is die afwesigheid van God se vrede en liefde en besliste beproewing vir korrigering. Die getuienis van die Heilige Gees is noodsaaklik vir keuses en berusting wanneer God’s wil geopenbaar word.
3.4 Die goddelike verklaring van beproewing
So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade (1 Pet. 4:19. Beklemtoning my eie).
Die somtotaal van die ganse kosmos is die liefdevolle God – Hy het dit geskape, hou dit in stand en sal dit in die laaste dag regverdig oordeel. God is liefde en daarom is die ganse kosmos geskape tot verheerliking van Homself en sy Naam. Die mens is eerstens geskape om deur agape liefde met Hom geestelike gemeenskap te hê. Deur die sondeval is hierdie liefdesgemeenskap verbreek en agape liefde in die mens is vervang met 'n "kliphart" of 'n harde hart (Eseg. 36:26). Die verklaring van beproewing is van kardinale belang, aangesien die gelowige moet verstaan dat God die mens volkome wil herstel. Hiervoor word leermeesters van beproewing dikwels ingeroep, nadat ons met God versoen is.
God gee sy kinders visie. Voordat die visie egter in ons realiseer, sal beproewing soms toegelaat word sodat God ons met die visie kan vertrou. Elke plan en uitvoering van goddelike visie word duursaam en deur die geloof tydens beproewing bekom. Josef se droom word ná sy tronkstraf gerealiseer - beproewing het dus sy drome verwerklik. Job se visie van God was van “hoorsê”, maar nadat God sy lot verander het, het hoorsê oorgegaan in realiteit en openbaring. Nou het sy oë God self aanskou (Job 42:5). God se planne word visie by ons en in die vuur van beproewing word dit dus verwerklik.
Niks in God se kosmos en koninkryk gebeur per toeval nie. Om ongeluk, lot of toeval as verklaring vir beproewing te aanvaar, is om God 'n pion van die gevalle skepping te maak. Dit sal ook impliseer dat God se sg. "foute”, buite sy beheer deur die duiwel uitgebuit word om die Here se kinders te teister. Die mens stuur nou af op 'n ramp en word dus aan die duiwel en sy eie lot oorgelaat! Dit is egter onwaar en onlogies. God is volkome in beheer van alles en bepaal selfs die oordele en tug vir sondaars buite sy koninkryk:
… (W)at elkeen sal vergeld na sy werke… verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen … (Rom. 2:7-9).
Niemand word tugtiging gespaar nie, solank dit begryp word dat goddelike liefde die ondersteuningsbasis van God se handeling en einddoel is (Open. 3:19; 2 Sam. 7:14; Job 5:17; Heb. 12:6-11). Alle vorme van God se goedbeplande beproewinge is sy stem wat spreek ten einde die goeie te bereik (Deut. 1:33; 8:2,16; Ps. 136:16; Ef. 1:9).
Deur die sondeval het die mens dus verhard. Die selfgesentreerde mens is onderworpe aan die sondige vlees en hoogmoed en selfsug is die bewys van hardheid. Hier is geen sagmoedige ruimte vir agape liefde nie.
Hierdie uiterlike dop word dus gebreek namate beproewing die Christen normaliseer en in lyn bring met agape liefde (2 Kor. 4:16-17). Die sentrifugale denke, of selfgesentreerdheid, is die hele essensie van sonde en alle smart en ellende is die gevolg daarvan. Droefheid is ‘n besliste feit van die lewe en is die gevolg van die sondeval. Die verklaring vir beproewing sentreer rondom die desentralisering van die selflewe en die verbreking van ‘n harde hart. Nou leer die mens dat sy eie planne met verhardheid van hart te doen het:
Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hulle hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel (Ps. 81:13. Vgl. Deut. 32:29).
Die mens wat beproewing vir homself verklaar, leer gou om op God te wag en nie impulsiewelik eie planne uit te voer nie. Die selflewe is die antitese van heiligheid en agape liefde wat weer by die Hemel pas. Die doel van desentralisering van die selflewe of eie ek, is om ten volle die beeld van die Seun van God in ons te herstel. Dit beteken ook om die wil van God te aanvaar en om daarby te berus, al is dit ook 'n moeilike pad. Beproewing, in enige vorm in die Christen se lewe en verklaring daarvoor, het dus primêr met Christusgelykvormigheid te doen. Die genadewerkinge van God sluit nie net bekering en heiligmaking in nie, maar beproewing is juis deel van die genadewerk van God in die proses van heiligmaking.
Die afronding van die meesterstuk word in die ateljee van desentralisering voltooi. Die einddoel of eindproduk word dus kunstig en met baie geduld deur die Meesterbeeldhouer afgewerk en die voorbeeld is die volmaakte Here Jesus Christus.
Die grootste probleem van die kerk is om beproewing reg te vertolk. 'n Verkeerde vertolking van beproewing lei beslis tot verwarring, stryd, ellende en nog meer trane. Ons ontvang die goeie en die slegte in die lewe en leer eventueel dat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet. Vir die wat nie beproewing verstaan of aanvaar nie, is dit stryd en selfs rebellie. Jona spartel in sy beproewing, maar ontdek dat Tarsus nie God se wil is nie, maar eerder Ninevé. God het duisende instrumente in die vorm van tugmeesters, leer- en omstandighede wat ons vorm, verander en veredel. God is en bly dus die Beplanner van ons lot en toekoms. Die duiwel is God nooit vóór in sy beplanning nie, aangesien hy nie die eienskap van voorkennis besit nie.
Wanneer ons die vyand die geringste kans gee om ons beproewing vír ons te vertolk, lei dit tot groot verwarring en intense emosionele stryd en pyn. Dit is juis die duiwel se verklaring en verdraaide uiteensetting van God se beproewing wat ons in opstand en rebellie bring. Opstand teen God en bekommernis beteken dat ons God nog nie te alle tye vertrou nie en is ‘n teken van die sonde van ongeloof. Bekommernis beteken ook dat ons nie die hand van God in beproewing verstaan nie. Tydens verkeerde uiteensetting van beproewing is daar geen berusting en lankmoedigheid nie, maar 'n ongeduldige afwagting en emosionele verwoesting wat die mens verder gebroke en in onkunde laat. Die soeke na onmiddellike uitkoms laat die doolhof se gange al hoe meer word. God se gevoel tydens ons beproewing word deur die pen van Paulus soos volg uitgedruk:
And I am sure that God who began the good work within you will keep right on helping you grow in grace untill his task within you is finally finished on that day when Jesus Christ returns (Fil. 1:6. Amplified).
God se genade was vir Paulus genoeg. Job, al het hy dit nie geweet nie, het ook God se "medelye en ontferming" tydens beproewing ervaar (Jak. 5:11). Vertolking van beproewing berus in die feit van soewereiniteit. God kan doen wat Hy wil en geen besluit van Hom sal ooit sy volmaakte attribute en karaktereienskappe weerspreek nie. Sy planne is altyd tot die bevordering van die mens, indien hy gehoorsaam is en verstaan. Omdat alles deur sy liefde werk en omdat sy raadsplan foutloos is, behoort die gelowiges altyd te berus in sy weë. Sal ons nie weer opnuut sê: "Kom en aanskou die dade van die Here. Laat staan en weet dat Ek God is. Laat jou weg aan die Here oor, vertrou op Hom en Hy sal dit uitvoer en werp al julle bekommernisse op Hom.”
3.5 Die goddelike doel van beproewing
Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word (1 Kor. 11:19. Vgl. Matt. 8:17; Deut. 13:3).
En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die Here jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is … om uiteindelik aan jou goed te doen … (Deut. 8:2. 16).
En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir die wat na sy voorneme geroep is (Rom. 8:28).
God se doel word selfs bereik deurdat “partyskappe” of toetse toegelaat word. Die beproefdes móét geopenbaar word en die openbaringsweg is soms deur konflik. Toetse wys waar die mens met God en mense staan. Die goddelike doel van beproewing wys alles tydens die vuur.
Daar is reeds verduidelik dat geloof daarin lê om God in sy regverdige handelinge tydens die sielkunde van beproewing te sien. Dat die duiwel ook God se instrument in beproewing en lyding kan wees, is duidelik. Luister hoedat Johannes in een teks die hele saak verduidelik:
Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê (Open. 2:10).
Hier vind ons lyding, beproewing, die duiwel en verdrukking in een teks! Tot die vyand kan tot instrument van God gesmee word om sy doel te bereik. Die duiwel kan selfs gedwing word om 'n aandeel in die wonderlike vormingsproses van God se kinders te hê. Dit blyk baie duidelik uit die boek Job dat die duiwel geen voorkennis het nie en hom totaal misreken het met God se einddoel in Job se lewe. Die duiwel was beslis God se instrument. God het talle heidense volke in Israel se lesse en bestraffinge gebruik. Geestelike oorlogvoering moet reg verstaan word sodat wanneer die duiwel teengestaan word, die toetse van God nie oor die hoof gesien word nie. Die vyand is oorwin en sodra die Here sy doel in ons lewe bereik het, sal die vyand onder groot neerlaag die wyk neem. In Paulus se doring in die vlees is die duiwel selfs toegelaat om nie te wyk nie (2 Kor. 12:8-9). Sonde moet weerstaan word en beproewing moet ook toegelaat word. Job sien egter nie die duiwel agter alles nie maar wel die hand van God:
Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom (Job 23:10).
Baie Christene se duiwelgesentreerde teologie verander hulle in vreesbevange marionette van die bose wat geensins God se handeling in beproewing verstaan nie. Selfs Paulus bestraf nie die duiwel toe hy in die tronk beland nie. Hy erken hy is ‘n “gevangene in die Here” en word selfs in die tronk tydens beproewing gebruik! (Ef. 4:1; Fil. 1:1). Al het die mens 'n vrye wil en al is ons soms ongehoorsaam, rig die Here steeds die voetstappe van die regverdige. Ons voetstappe kan ook op die beproewingsweg gerig word, soos Psalmis dit beskryf:
Ek weet, Here, dat U oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het (Ps. 119:75).
Alles en almal kan omstandighede word waardeur die Here sy opdragte kan uitvoer. Vriende en vyande kan deur bepaalde omstandighede die wil van die Here vertolk. Fynbeplande gebeure word verklaarders van die doel van beproewing en die sielkunde van droefheid. Soos die Jesus-beeld geskilder word, sien ons soms deur die vergrootglas van trane die hemelse doel ontvou. Die vrug van die Gees moet ook in regte konteks saam met beproewing vertolk word.
HOOFSTUK 4
DIE VRUG VAN BEPROEWING
4.1 Die vrug van die Gees
Ongelukkig besef min mense dat beproewing die basis van die vrug van die Gees vorm. Hoe bring ons lyding in verskillende vorme i.v.m. vrug? Dit is in werklikheid eenvoudig en is opgeteken in Johannes 15. Die snoeimes van die landbouer word daarvoor gebruik. Die snoeimes is natuurlik nie aangenaam nie, maar bring wel vrug en selfs meer vrug voort:
Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, die maak hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra (Joh. 15:2).
Dit is gedurende beproewing waar ons dooie lote, dooie werke, sonde, karakterdefekte, selfgesentreerdheid, liefdeloosheid, eie geregtigheid, alle vorme van vleeslikheid, onbeheerste emosies, kortsigtigheid, hardheid en traagheid ontdek. Sodra God se leermeesters gedurende beproewing, van watter aard ook al, probleme uitwys, begin die wet van goddelike regstelling dadelik in daardie area werk. Hiervoor word die snoeimes aangewend. Nou is daar verlossing en baie keer word pyn met pyn reggestel. Ontdekking en openbaring van die selflewe gedurende beproewing, plaas die kind van God op die weg van heiligmaking en meer vrug. God snoei weg wat nie pas by die beeld van Christus nie. Deur die ellende van beproewing, kom daar soms nuwe openbaringe en sodoende word ons oë geopen:
Hy red die ellendige deur sy ellende en open hulle oë deur verdrukking (Job 36:15).
In die plek van dooie lote kom daar nuwe vrug. Ons kan dus sê dat die afwesigheid van vrug is die aanwesigheid van die vlees (Gal. 5:17-22). Petrus leer andersins dat die aanwesigheid van lyding is die afwesigheid van sonde (1 Pet. 4:1). Vrug is aantreklik en is ook bedoel om ons anders as die wêreld te maak (1 Pet. 4:4).
Die snoeiproses, net soos die koring-illustrasie, staan i.v.m. die voorbereiding en afronding van gelowiges se geestelike lewe. Kaf word ook uit koring uitgeslaan om dit bruikbaar te maak. Wanneer ons klaarkry met onsself, raak ons dadelik besig met geestelike dinge. Jong of groen koring, soos jong bekeerlinge, het nog nie kaf nie. Hulle is nog nie ryp om die fynste defekte te ontdek nie, maar die getroue Landbouer moet die kaf eers verwyder voordat die koring werklik bruikbaar gemaak kan word. Sodra die kind van God geestelike volwassenheid bereik, sal die kaf meer en meer na vore kom. Die hemelse Landbouer sal die "dorsvloer deur en deur skoonmaak" (Luk. 3:17). Wanneer ons bid vir gebrokenheid, meer liefde en 'n passie vir verlore siele, bevind ons onsself dikwels op die dorsvloer. Dit is hier waar ons werklik ten goede verander, sekere dinge aflê sonder twis, beproewing vertolk, aanpassings maak, gehoorsaamheid leer en inderwaarheid geestelik groei. Wanneer ons gewillig toelaat en leer dat die uitwanningsproses ten goede meewerk, ontdek ons telkens dat daar meer vrug is. Die liefdevolle Landbouer weet presies hoe om sy vrugteboord die beste te behandel vir maksimale vrug. Bruikbaarheid en Christusgelykvormigheid is die uiteindelike doel. Watter opregte Christen sal die snoeimes wegstoot of die dorsvloer wil vermy?
Elke nuwe oorgawe bring verandering en groter verantwoordelikheid mee. Ware gebede vir verandering word baie keer op die dorsvloer beantwoord! Omdat God liefde is (1 Joh. 4:8), is dit nie net die basis van vrug nie, maar ook die vertrekpunt en voleinding daarvan.
1. Agape liefde
Daar is reeds baie oor die liefde gesê en duidelik is aangetoon dat verdrukking die begin en ontdekking van agape liefde is. Romeine 5 is die hoofstuk wat lering oor hierdie aspek gee:
En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Rom. 5:3-5).
Hy wat nie liefhet het nie, het God nie geken nie, want God is liefde (1 Joh. 4:8).
Alhoewel die Heilige Gees in ons harte uitgestort is, moet die kanale waardeur die vrug na vore kom gewoonlik herstel word. Hier speel die sielkunde van beproewing 'n besliste rol. Die vrug van die Gees word uitgelewe en vloei nie vanselfsprekend deur die mens nie. Alle teenpole van die vrug van die Gees moet elkeen ontdek word en sodoende, in die lig van kontraste, word na die vrug gesoek. Die verlossing en aflegging van liefdeloosheid is die teenpool van die vrug van liefde en nou kan die egte erken en waardeer word. 'n Rein hart beteken nie rypheid van karakter nie asook nie die volle besef van kaf wat van tyd tot tyd uitgewan moet word nie. Nuwe gedragspatrone moet aangeleer word en goddelike liefde moet in die praktyk gekweek en toegepas word deur wilskeuses. Agape liefde opereer nie sonder die wil en die geestelike karakter van die mens nie. Op die weg van heiligmaking word liefde later ‘n permanente karaktereienskap.
Moenie vrees om gebreek, gemaal of verneder te word nie en as die klein deeltjies nog fyner gemaal word nie. Gebrokenheid is die bruikbare kanaal vir die gelowige om dieper te kyk, met deernis te bid, met erns te werk, met oorgawe te lewe en in optimisme te wandel. Dit is "die geloof wat deur die liefde werk" (Gal. 5:6). Hierdie emosionele aanpassing by die God van liefde is die spil waarom heiligmaking en aktiewe diens sentreer. Hierdie "veragte skaar" is die magtige weermag in God se hand want Hy woon by die wat gebroke is (Jes. 57:15; Ps. 34:19). Hier word verliese winste; koring word brood vir hongeriges; lewende water voed dorstiges en die vrug dekoreer die tuin van God wat lieflike geure versprei (2 Kor. 2:14). Die susterbruid word ook so deur Salomo beskryf:
My susterbruid is 'n geslote tuin, 'n geslote bron, 'n verseëlde fontein. U spruite is 'n park van granate met kostelike vrugte, hennablomme met nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, met allerhande wierookstruike, mirre en alewee, met allerhande kostelike speserye. U is 'n fontein van die tuine, 'n put met lewende water wat van die Libanon afvloei. Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet (Hoogl. 4:12-16).
God se tuin word nou bewerk. Die geestelike lewe gebeur nie net nie, maar daar moet aan gewerk word en die Landbouer wag dan op die "kostelike vrug van die aarde" (Jak. 5:7). Agape liefde word 'n normale gedragspatroon en is kenmerkend van die Christen wat beproewing reg hanteer. Alle negatiewe dinge word nou deur samewerking en gehoorsaamheid in vrug en heilige karakter omskep. Die teenpool verdwyn en die vrug van liefde word ryper en dieper. Nou word 1 Kor. 13 die norm en is nie die uitsondering nie. Nou beweeg die gelowige tussen vurige kole waar God woon. Hy groei nou na die volwasse gesalte van Christus wat uit veredeling van karakter ontstaan en die toepassing van agape liefde. Die gelowige se weg word nou helderder:
Hou vas aan die tug, laat dit jou nie los nie … Terwyl die pad van die regverdige is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe … (Spr. 4:13,18).
Dwarsdeur die Bybel word agape liefde en vrug aan beproewing, verdrukking aan verskillende vorme van lyding verbind. Is Josef se verhaal nie ook 'n praktiese voorbeeld van die vrug wat deur verdrukking na vore kom nie?
Josef is 'n jong vrugteboom, 'n jong vrugteboom by 'n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom wel geskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly en hulle arms het gebewe, want die Magtige van Jakob gryp in – die Herder van Israel, die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo … (Gen. 49:22-25).
Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het en die woord van die Here hom beproef verklaar het . (Ps. 105:17-19).
Josef se tronk het volgens die geskiedenis tussen 1-21 jaar die kunsateljee van God geword! Josef is tot die uiterste getoets en gelouter. Hy kon dus tereg sê:
God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende. (Gen. 41:52).
Petrus getuig ook van droefheid en agape liefde: " … bedroef onder allerhande beproewinge … al het julle hom nie gesien nie, tog liefhet” (1 Pet. 1:6-8). Johannes verwys na die emosie van vrees wat "straf" insluit. Hier word die negatiewe pool teenoor die positiewe gestel:
Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in die wêreld. Daar is geen vrees (negatiewe pool) in die liefde nie; maar die volmaakte liefde (positiewe pool) dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie in die liefde volmaak geword nie (1 Joh. 4:17-18).
Die begin van vrees of werlike stres is natuurlik die einde van geloof. Soos Israel hulleself in die woestyn in beproewingsvure kon ontdek (Heb. 3), word God se volk ook deur moeilike omstandighede gestuur om getoets te word (Deut. 8:2, 16). Hulle vind dat twyfel, vrees en ongeloof o.a. van hulle vyande is. Die liefde stel nooit teleur nie en na mate ongeloof op die dorsvloer uitgewan word, word liefdesgeloof gekweek, of “ … geloof wat deur die liefde werk” (Gal. 5:6). Hierdie liefde "glo alles, hoop alles, verdra alles" (1 Kor. 13:7). Agape liefde kan slegs verdra as ongeduld deur beproewing in lankmoedigheid en verdraagsaamheid omgeskakel word.
Verdraagsaamheid is een van die mees belangrikste bewyse van agape liefde (Jak. 1:2-4). Die kind van God wat nie die kruis en beproewing kies nie, word harder en ken nie buigsaamheid nie. Vrug word nie gevorseer nie, maar dit groei. Vrug vermeerder self wanneer daar gesnoei word en sodoende word die liefde ook vermeerder.
2. Blydskap
Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap … (Gal. 5:22).
En ons maak aan julle bekend broeders, die genade van die God wat aan die gemeentes van Macedónië geskenk is, dat onder baie verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke mildadigheid (2 Kor. 8: 1-2).
Direk ná liefde word blydskap as vrug genoem. Dit is die kenmerk van iemand wat reeds deur die meule is en sy beproewinge ook reg vertolk het. 'n Egte en diepe blydskap is beproewing, soos droefheid, wat oorkom is. In die Bybel word droefheid en blydskap gekontrasteer. Die woorde: "onuitspreeklike en heerlike blydskap”, word direk aan beproewing verbind:
Daarin verheug julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – 'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nie nou nie, tog glo en julle verbly met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap … (1 Pet. 1:6-8).
Beproewing is die voorbereiding vir twee aspekte van blydskap. Enersyds moet die gelowige leer om te midde van beproewing hom- of haarself te verbly, en andersyds wanneer beproewing verby is, om steeds in blydskap voort te gaan. Kontinuering van blydskap kan slegs deur die vrug van selfbeheersing en lankmoedigheid plaasvind. Wanneer die bakens van God se vrede ons “harte en sinne” beskerm, kan blydskap ook ons beskutting wees (Neh. 8:11; Fil. 4:7). Gedurende loutervure moet ons leer dat God se wil moet geskied en dit alleen behoort ons te verbly. Die kind van God wat hierdie geheim nie leer nie, word soms bitter tydens beproewing en rebelleer teen God se soewereine toetse. God se plan het altyd 'n liefdevolle einddoel. Na beproewing behoort ons onsself ook te verbly, aangesien ons self die Here se volmaakte plan sien ontvou het.
Dit is dus van uiterste belang hoe ons blyskap moet verstaan of ervaar. Die objek van ons verblyding is volgens Paulus die Here self. Ons kan ons nooit eksklusief in omstandighede verbly nie aangesien dit tydelik van aard is. Sommige Christene wat hulle uitsluitlik in omstandighede wil verbly, moet eerder aanvaar dat God in plek van omstandighede is:
Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal; verbly julle! (Fil. 4:4).
Geen mens kan hom in negatiewe omstandighede verbly nie, aangesien so 'n onredelike beginsel die mens emosioneel sal verkrag. Sommige Christene wend feitlik bo-menslike omstandighede aan om hulleself uit beproewing te red. Hulle poog ernstig om die omstandighede te verander sodat hulle blydskap kan ervaar. Die Skrif is egter duidelik dat God eers die omstabdighede verander wanneer die snoeiproses afgehandel is. Paulus en Silas het lofliedere van blydskap tot God in die tronk gesing (Hand. 16:23-25). Hulle blydskap was tot God gerig omdat hulle deeglik besef het dat God hulle vergesel en nooit sal begewe of verlaat nie (Heb. 13:5). Droefheid wat oorkom word, is die proses gedurende beproewing wat blydskap kweek. Ons vind hierdie beginsel oral in die Bybel:
… (A)s bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ryk maak; as mense wat niks besit het nie en tog alles besit (2 Kor. 6:10).
Hulle het toe van die raad af weggegaan, bly dat hullle waardig geag was om vir sy Naam te ly (Hand. 5:41).
Hierdie Bybelse lering word baie moeilik deur sommige Christene verwerk. 'n Oppervlakkige blydskap wat deur plesier of enige omstandighede buite 'n Bybelse verwysingsraamwerk gekweek word, hou nie lank nie. Sodra die kunsmatige stimulering van emosionele opkikkering spoed verloor, val hierdie goedkoop emosionele geluk plat. Die Geesbeheerde Christen se gemoed word dus nie deur omstandighede gedikteer nie, maar deur die teenwoordigheid van God. Vleeslike “geluk” hang egter primêr af van eksterne faktore van watter aard ook al. Hierdie vleeslikheid het hoofsaaklik met intellektuele sowel as emosionele stimulering te doen. Die blymoedige Christen het geleer om deur gebed laste af te lê (Heb. 12:1); deur geloof blydskap te handhaaf en deur gehoorsaamheid beloftes toe te eien (2 Kor. 1:20) en dat die teenwoordigheid van God die enigste standhoudende bron geluk is.
Die vrug van die Gees is dus blydskap wat deur geestelike opvoeding bereik word. Droefheid, tydens moeilike omstandighede, kan dus nie die blydskap in die Here oorheers nie. Nehemía verwys hierna:
… Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here – dit is julle beskutting (Neh. 8:11).
'n Geesgewerkte blydskap bewaar die kind van God tydens beproewing en maak dit moontlik om die vyand te weerstaan. Die beginsel van om droefheid te oorkom en dit met blydskap te vervang, sien ons ook in Jesus se woorde:
… En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander (Joh. 16:20).
Om blydskap te beoefen word dus 'n uitdaging en wilskeuse. Deur beproewing word ons emosioneel geskommel soos grond omgedolwe word. Ons ontdek dan nuwe vrug wat uit 'n eens harde hart voortgebring word. Vleeslike Christene wat beproewing weerstaan, word emosioneel-afgestompte mense met min of geen meegevoel vir hulle naaste nie. Hulle vind ook dat hulle in sirkels redeneer wanneer hulle God se liefdestugtiginge verwerp.
Die staal van Josef se boeie het later tot in sy siel in gegaan. Hy het in die praktiese ondervinding van beproewing deursettingsvermoë asook vrug geleer kweek, karakteraanpassings gemaak, goddelike eienskappe toegevoeg en die volle omvang van verdrukking begryp:
Josef is 'n jong vrugteboom, 'n jong vrugteboom by 'n fontein; sy takke klim oor die muur (Gen. 49:22).
God se loutervure het Josef bedaar en sy geestelike spiere geoefen. Berusting in die skool van droefheid, asook gehoorsaamheid op die weg van heiligmaking, is ook van kardinale belang. Hy het sy omstandighede van neerlaag tot oorwinning omskep. Hy het sy seile so gespan om sodoende die teenwinde te gebruik om geestelik vooruitgang te maak. Hy het nie net versoeking weerstaan nie, maar as 'n dapper geestelike reus uit die tronk gestap as beproefde van God wat die ganse antieke wêreld van hongersnood gered het.
Ons moet aanvaar dat lyding of droefheid, volgens die “wil van God”, van ons in werklikheid blymoedige Christene wil maak. Die desentralisering van die selflewe bring ons tot by die deur wat die skat van blydskap openbaar. Dit lei ook na die ewige fontein van God se oorvloedige genade wat ons vrugtetuin besproei in mooiweer en onweer, sonskyn of nag, winter of somer en in verdrukking of daarsonder. Dit droog die trane af en lei ons na die realiteite van egte geestelike ondervinding - soms in eensaamheid met God alleen (Joh. 15:11).
3. Vrede
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God (Fil. 4:6).
Terwyl liefde en blydskap emosionele uitdrukking is, is die vrede van God 'n gemoedstoestand. Net soos beproewingsvure 'n emosionele balans bewerk en stabiliseer, so word vrede ook deur loutering verkry.
Volgens Paulus is daar Christene wat bekommerd of "besorg" is. Hierdie sorge, wat soms vreesagtigheid tot gevolg het, is deel van beproewing en moet ook na God toe gebring word. Vrede sal dan volg wat weer die teenpool van vrees en sorge is. Hoop ontstaan dan wat weer 'n vertroue gepaardgaande met 'n verwagting is. Hoop en vertroue groei na gelang van die behoeftige tydens beproewing. Dit is dus die hitte van die vlam wat die intensifisering van die hoop en vertroue bepaal. Die persoon wat God te midde van beproewing vertrou, se geloof wys of daar vrede of vrees is.
Die Bybel leer dat daar geen vrede vir die goddelose is nie (Jes. 48:22). Tog vind ons selfs daagliks vrees by sommige kinders van God en van tyd tot tyd by elke ware gelowige. Wanneer dit oorkom word, word vrede die vrug van die Gees en niks anders nie. Hierdie vrug word deur die snoeimes van beproewing bekom soos reeds verduidelik. Vrees is saamgeperste negatiewe emosionele druk, asook paniek en ongeloof oor onbeantwoorde gebede of vrae. Weer eens moet daar berus word in God se liefdesbeproewinge en sy soewereine planne – al is dit 'n vuuroond, leeukuil, tronk, kruis of verbanning na die eiland van Patmos! Ons moet vrede maak met God se bestiering van ons lewe. Al sou die Stuurman die stuurstang aan ons oorgee, sal ons in elk geval nie die ware en enigste weg gedurende storms en duisternis vind nie.
Wanneer die volle omvang van die versoening verstaan word, sal God se liefde vrees na buite dryf en alles wegbrand wat nie pas by die beeld van Christus nie. Die verklaring van God se liefde kom nie net as ons saam met Hom in die aandwindjie wandel nie, maar ook gedurende verskeie lewensomstandighede wat Hyself beheer.
Die vrede van God is dus die gemoedstoestand wat ons ten volle verseker dat ons die wil van God ken, uitvoer en aanvaar. Rebellie, onrus, vrees en swak onderskeidingsvermoë, staan vrede teë. Ons behoort dus gedurig op realiteitsvlak te beweeg en ons gesindheid in die lig van ons verhouding met God te evalueer. Die oomblik wanneer ons in geloof na Jesus kyk vir hulp, sal vrede ons harte oorstroom te midde van enige ontsteltenis:
Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie (Joh. 14:27).
Wanneer dit lyk asof God se voorsienigheid, geloofsbakens, -ankers en geloofsversekering deur vloede bedreig word om alles te oorstroom, kyk dan op en ontvang vrede deur die geloof. Bekommernis word argumente om moeilike sake uit te pluis en ontspring uit die bose. Vrede is ook deel van geestelike oorlogvoering. Wanneer ons vrede handhaaf kan die bose ons nie van gemeenskap met God beroof nie.
God leef nie net saam met ons vandag nie, maar is ook in ons môres. Ons kan net sowel die opdragte gehoorsaam om ons níe te bekommer nie. Ons moet elke las aflê en elke beproewing vierkantig in die gesig kyk en dit dan aan God afgee. Saam daarmee behoort ons Jesus se woorde letterlik op te neem:
Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in my (Joh. 14:1).
Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee (Matt. 11:28).
Daar is nie vrede vir die wat tussen twee vure sit nie. Sodra ons los wat hinder, herstel ons vrede. Solank iemand in die lug hang en nie tot uitsluitsel kom nie, sal hoop bly wag en nie oorgaan in vrede nie. Die realisme van God se beproewingskool sal keuses en selfondersoek na vore bring. Sodoende sal daar vrede as uitsluitsel kom. Ons sal ryp gemaak word vir oorgawe, om reg te kies, die kruis op te neem en om geduldig op God se wil te wag. Dan vind ons vrede en hoop, bemoediging en rus.
Vrede is dus bekommernis en onrus wat oorkom is. Vrede is om deur die geloof in hemelse plekke te sit (Ef. 2:6); dit is om verborge in God te wees (Kol. 3:3); dit is om al die "grootste en kosbare beloftes" toe te eien (2 Pet. 1:4) en om ons roeping vas te maak (2 Pet. 1:10). Dit is om soos die Flegmaat ongestoord te midde van aanvalle van die vyande te lewe.
4. Lankmoedigheid
Lankmoedigheid, nederigheid, geduld, liefde goedheid en vriendelikheid word soms in dieselfde tekste genoem (Rom. 2:4; 2 Kor. 6:6; Ef. 4:2; Kol. 1:11; 3:12; 2 Tim. 3:12; 2 Tim. 3:10). Die Grieks is makrothumia. Hierdie woord word in twee dele verdeel, nl: makro en thumia. Makro is lank of groot en thumos is toorn. Dit beteken in werklikheid om lank te neem om warm te word. Dit kan in die lig van 'n motor se masjien verduidelik word: 'n Termostaat in die waterkanaal van die masjien moet eers stadig warm word, voordat dit oopmaak en die warm water deurlaat om deur die masjien te surkuleer en dan deur die verkoeler afgekoel te word. Hier is verskeie lesse wat ons uit die Grieks en die termostaat kan leer: Dit dui daarop dat die mens lankmoedig moet wees tydens versoeking, beproewing of enige toetse. Ons moet letterlik lank neem om warm te word en die vermoë besit om gou af te koel. Goddelike liefde neem tyd om alles te evalueer en tree dien ooreenkomstig op. Dit is die werk van die Heilige Gees om die mens se drifte en emosionele uitbarstings te toets.
Lankmoedigheid, anders as die emosie van liefde of die gemoedstoestand soos vrede, is 'n kenmerkende en besondere eienskap. Omdat dit met kenmerke te doen het, is dit dus ook ‘n karaktereienskap. Deur reekse morele keuses, word swak eienskappe, wat met ongeduld te doen het, deur lankmoedigheid en geduld vervang.
Geduld in Grieks is hupomone. Hupo beteken onder en mone om te bly. Seekoei ("Hippopotamus") is van die Grieks afgelei en beteken om onder te bly. Geduld en lankmoedigheid beteken dus om onder die beheer van die Heilige Gees te bly tydens moeilike omstandighede.
Nêrens leer die Bybel dat lankmoedigheid of geduld deur die swaai van 'n towerstaffie ontvang word nie. Hierdie deugde word aangeleer deur die genade van die Here. In die skool van God se beproewingsvure word hierdie goddelike eienskappe geopenbaar en ons moet dit deur die geloof ons deel maak. Hierdie leerproses is in die skool van die sielkunde van beproewing waar die gesindheid van Christus geopenbaar moet word.
Lankmoedigheid is die vrug wat verdraagsaamheid moontlik maak. Dit word elke dag in verskillende omstandighede moontlik gemaak deur die werking van die Gees in die gehoorsame mens. Beproewing maak die buigbare Christen sag en gebroke sodat lankmoedigheid later deel word van aksie, reaksie en vertroue op die beloftes.
Dikwels verruim droefheid die hart sodat meer agape liefde geopenbaar kan word. Hierdie proses van beproewing werk (2 Kor. 4:17; 2 Kor. 7:9-10) en bring die gelowige in pas met gehoorsaamheid deur lyding (Heb. 5:7-8). Lankmoedigheid is 'n kenmerk van die gelowige wat gehoorsaam die onmoontlike verwerk omdat die “oue mens” (Rom. 6:6) reeds gekruisig is. Die liefde van God maak dus dat die gebroke mens eerder lankmoedigheid sal toepas. Hardheid loop saam met ongeduld en impulsiwiteit.
Lankmoedigheid kan alleen in uiters moeilike beproewing geopenbaar word. Geen lankmoedigheid of geduld is nodig wanneer alles rustig en kalm is nie. Hierdie goddelike vrug word eers deur ons geopenbaar wanneer die menslike natuur tot die uiterste geteister word. Die storms verklaar die hart en gemoedstoestand en nou kan daar evaluering plaasvind. Eers kom die stryd en dan die strewe na vrug; eers beproewing dan bepeinsing; eers vervolging dan vrug; eers lyding dan lering; eers droefheid dan beproefdheid; eers die snoeimes dan die groeiproses; eers vernedering dan veredeling en eers die visie van die self en dan meer vrug. Geen belofte is nodig of word geskenk as lankmoedigheid nie geleer word nie:
Want toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer en gesê: Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder. En so het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het (Heb. 6:13-15).
Abraham se wagproses was 'n beproewing. Gedurende hierdie lydingstyd is Abraham se geloof maksimaal gelouter en is geduld gekweek. Hier is 'n belangrike les te leer: Abraham se vreugde het deurgebreek nadat sy geloofstoetse geslaag is. Sommige mense wil die vrug van Gees ervaar voordat die leerskool van beproewing begin het. Beloftes tree gewoonlik éérs in werking sodra die Gees van God alle emosies, geestelike persepsies, karakter en die totale innerlike mens met lankmoedigheid geharmonieer het (2 Pet. 1:3-7). Hierdie sinkronisering van God se wil en die menslike handeling, vorm die basis van heiligmaking. Lankmoedigheid maak alles dus maklik. Daar is egter groot fout wanneer ‘n vleeslike toorn in verskeie vertakkinge 'n gedragspatroon word. Hierdie sonde vertak in ongeduld, sarkasme, sekere liggaamstaal, hardheid, stilswye, onregverdige beoordeling, onvergewensgesindheid, bitterheid en haatdraende gedagtes. Die ware teken van die vrug van lankmoedigheid word alleen in beproewing verkry en geopenbaar. Die bewys daarvan is innerlike oorwinning oor negatiewe emosies.
Wanneer God dus deur sy snoeimes die dooie lote begin verwyder, word die kind van God daarvan bewus dat sy omstandighede duidelik spreek. Ons hoor die stem wat sê: "… want watter seun is daar wat die Vader nie tugtig nie" (Heb. 12:7), en die "wat na die vlees gely het, het opgehou met die sonde" (1 Pet. 4:1) "en wat ons ook al bid ontvang ons van Hom” (1 Joh. 3:22). Ons ontvang alles van Hom as ons opreg vra. As ons vir meer lankmoedigheid bid stuur Hy bv. beproewing. Tugtiging is egter nie altyd nodig sodat meer vrug geopenbaar kan word nie. Die snoeimes vir meer lankmoedigheid en vrug word slegs gebruik "as dit nodig is" (1 Pet. 1:6).
Innige teerheid en die vrug van lankmoedigheid kan selfs deur die liefde van God duiwels verteer. Talle aanslae teen God’s liefde is deur lankmoedige optrede afgeweer. Haastige optrede het duisende Christene baie gekos. Sommige is verneder, vernietig, verwoes, verongeluk en deur ongeduld verpletter. Ander is weer deur lankmoedigheid veredel, verhoog, verruim en verander deur die vrug van lankmoedigheid. Godgewerkte, beproefde en egte vrug van die Gees, word alleen bewerk en reggesnoei deur die proses van droefheid en beproewing. Die veredelde Christen wat die sielkunde van beproewing reg vertolk, het die volle omvang van sy omstandighede gebruik om vrug te vermeerder wat nie goedkoop is nie. 'n Mens betaal vir enige waardevolle les 'n prys. Die sandkorrel in ‘n pêrel het dus deur baie irritasie tot volle waarde en wasdom gegroei.
Wisselende gemoedstoestande en onstabiliteit laat ly die emosioneel-verswakte persoon geweldig. Hierdie mens het nie die slae van die lewe as tugmeesters of leer- van Christus beskou nie. God en die wêreld word nou as onregverdig beskou en die verwerping van persoonlike lesse het baie Christene van waardevolle geestelike opvoeding beroof. Lankmoedigheid is ook om geduldig toe te laat, dat God wat van beter weet, ons louter in die smeltkroes "van ellende.”
Het jy God om geduld gevra en In gebed gesmeek daarom, Maar toe kom daar swaar beproewings En jy dag God gee om? O, Hy het gehoor, geantwoord, all's geantwoord wat jy vra, Want verdrukking maak geduldig - Die juweel wat jy vra.
Onbekend
5. Vriendelikheid
Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby (Fil. 4:5).
Vriendelikheid is 'n kardinale sosiale karaktereienskap. Deur die kapprosesse en skuur- slyp yster yster (Spr. 27:17). Ons weet ook dat die ronde klippe in 'n rivierbedding rondgerol, -gestamp en deur diep waters se skommeling afgerond word. Moeilike omstandighede bring skerp punte na vore en sodoende kan daaraan gewerk word. Almal sien egter nie die doel van God in beproewingsvure nie. Baie vertolk moeilike beproewinge nie as tugmeesters en leer- wat onaanvaarbare karaktereienskappe uitwys nie, maar as onbeplande en onregverdige slae van die lewe. Die logiese gevolg is dat die sonde van selfregverdiging dan gepleeg word. Ongelukkige gemoedstoestande, as dit 'n gedragspatroon geword het, is eintlik die openbaringe van God en realiteite rondom probleme. Dit is waar dat Satan die vure stook, maar God beheer die begin en einde daarvan sowel as die hittegrade. Selfs die vyande van God’s kinders se harte en motiewe kan deur God beheer word:
Hy het hulle hart verander om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel (Ps. 105:25).
Die teenpool van vriendelikheid, nl. ongelukkigheid, kan nie anders as in die sonlig van God se beproewinge geopenbaar word nie. Vriendelikheid word dus in die warm tonnel van ellende gekweek. Dáár word die gesindheid van Christus ontdek; dáár word permanente veranderings aangebring en dáár word liefde die basis van die vrug van vriendelikheid. Die Bybel leer dat ons die kwaad moet oorwin deur die goeie, droefheid moet verander word in blydskap, liefde moet die vrees uitdryf na buite en net so moet onvriendelikheid deur goddelike liefde in vriendelikheid verander word.
Sommige mense, selfs ongelowiges, het 'n natuurlike vriendelikheid, maar dit is nie die vrug van die Gees nie. Die vrug van die Gees word egter tydens beproewing gekweek en nie met geboorte verkry nie. Dit is 'n edel eienskap en word deur beproewing en gehoorsaamheid bekom en deur gewoonte in die psige vasgelê (Hand. 5:32; Heb. 5:14). Hierdie vrug, soos ander vrugte van die Gees, word vermeerder deur die snoeiproses.
Hierdie groeiproses is 'n bewys van iemand wat deur die vuur is. Norsheid en onvriendelikheid is tekens van verharding tydens beproewing. Dit is ook ‘n bewys van iemand wat God se sagmaakprosesse nie reg vertolk het nie. Hierdie Christen het nie toegelaat dat God hom breek nie en het heeltemal verhard. Vriendelikheid wat deur beproewing geleer is, is die edele eienskap en vrug van die Gees wat in menslike verhoudinge tel. Vriendelikheid is dus die hemelse letsel van ewigheidswerk wat God in die mens se hart deur beproewing bewerk het. Hierdie kosbare letsel is dus ook die bewys van gehoorsaamheid tydens beproewing en realisme van om te buig as God ons leer. Elke keer as Jakob op sy staf leen, is hy herinner aan sy stryd met die Engel van die Here wat hom tydens sy worsteling met God op sy heup geslaan het. Sy liggaamlike letsel het altyd van gehoorsaamheid en oorgawe gespreek. Hy is swak gemaak sodat hy buigbaar en bruik- kon word.
6. Goedheid, getrouheid en sagmoedigheid
Hierdie drie onlosmaakbare karaktereienskappe is ook vrug wat in die kweekhuis van lewensomstandighede groei. Dit word op aarde gekweek, maar kom uit die hemel en tel beslis vir die ewigheid. Dit staan direk i.v.m. God se Gees en karakter. Elke goeie gif en volmaakte gawe wat van bo neerdaal, is eg en besit alleen ewigheidswaarde (Jak. 1:17). Hierdie deugde van die Gees word in ons psige deur weerstand vasgelê. Die snoeiproses werk wanneer ons die verkeerde ontdek en God vertrou om dit weg te snoei. Die Here verwyder niks negatiefs as ons Hom nie daarvoor vertrou nie. Erkentenis, belydenis en berou bring verandering en meer vrug voort. Waardevolle deugde en geestelike groei word dus soms deur stryd bekom en deur gehoorsaamheid behou.
Vir enige vorm van sluheid, slegtheid, valsheid, selfsug en derglike dinge, is goedheid die antwoord. Dit word verwerf, aangeleer, gekweek, vrygestel en uitgeleef deurdat ons die kwaad deur die goeie oorwin. Die kwaad word dus op die langtermyn deur prosesse met die goeie oorwin. Sondebelydenis bring onmiddellike vergifnis, maar defekte in karakter word deur duursame tydsomstandighede gekweek en afgeleer. Ontroudheid, bedrieglikheid of enige teenpool van vrug word deur stryd en geestelike oorlogvoering oorkom. Hier word gedagtes gevange geneem tot gehoorsaamheid (2 Kor. 10:3-6) en wanaangepaste denkpatrone deur die Woord van God geherprogrameer (Kol. 3:2). Sagmoedigheid sal later onder gebrokenheid behandel word.
Die volle potensiaal van alle geestelike vrug is dus opgesluit in die lewe van die Here Jesus. Die mens kan dit nie self ontdek nie, maar in die spieëlbeeld van Christus sien ons die onvolmaakte (2 Kor. 3:17-18). Die Landbouer wag geduldig op die kostelike vrug van die aarde en kyk met geduld toe hoe die dooie lote plek maak vir nuwe en meer vrug (Jak. 5:7-8).
7. Selfbeheersing
Selfbeheersing is die bewys van die sterwe en opstanding saam met Christus:
Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat ons net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons die sonde nie meer sou dien nie (Rom. 6:4-6).
Selfsterwe lei na selfbeheersing. Die Gees beheer ons emosies en wil wanneer die selflewe (oue mens) gekruisig is (Fil. 2:13; Gal. 2:20). Die opstandingslewe van die Here Jesus Christus bring oorwinning in uiters moeilike omstandighede. Eiebeheersing of selfbeheersing staan direk teenoor die vrug van die Gees. Dit is dus onmoontlik om die natuurlike en normale self te beheer sonder dat die sondige self eers gekruisig is. Die “eie ek” kan en wil nie bid nie, kan nie liefhê hê, buig, opoffer, verneder word, verloor of enige stryd hanteer nie. Hierdie eienskap van eiebeheersing kies gewoonlik die maklikste pad met die minste weerstand, vermy die kruis, werk teen God se tugmeesters, staan vir niks, val vir alles en vertolk alle vorme van beproewing verkeerd.
Selfbeheersing is die stempel van baie stryd wat oorkom is. Dit is die kroon van alle krone omdat dit deur kruisopname en volkome agape liefde verkry is. Omdat God gees, siel en liggaam reinig (1 Thess. 5:23), sal die Heilige Gees deur die dood en die opstanding van Jesus ons innerlike beheer. Selfbeheersing beteken 'n algehele oorgawe aan God. Dit dui op die somtotaal van heiligmaking wat uitwerk en is 'n besliste letsel van tugtiging sadat ons sy heiligheid kan deelagtig word (Heb. 12:10). Hoe groter die openbaring van ons defekte, hoe warmer die vuur en hoe helderder die lig op die weg van heiligmaking.
Dwarsdeur die lewe sal ons brandstapels moet oprig waarop ons in gehoorsaamheid enige vorm van selfliefde moet verbrand. Die afwesigheid van die boodskap van heiligmaking in die laaste dae en afsondering van sonde, verhoed baie Christene om end-uit gehoorsaam te bly. Selfbeheersing staan nie net die verkeerde teë nie, maar weier ook om natuurlike en goeie deugde op verkeerde tye te laat seevier. Onskuldige dinge word soms ook misbruik om sodoende die volmaakte plan van God vir ons lewe te verongeluk.
4.2 Hoop
… (V)erbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed (Rom. 12:12).
Die definisie van hoop is 'n vertroue gepaardgaande met 'n verwagting. Hoop ontstaan a.g.v. 'n bepaalde geestelike behoefte. Verdrukking, beproewing en lyding skep hoop en hoop skep 'n moontlike uitkoms. Dit is redelik om te dink dat ware Christene onmiddellike uitkoms tydens beproewing soek. Enige normale mens wil wrede monsters van omstandighede vermy en dan ontstaan hoop. Tog is die smal weg vol beproewinge en tugmeesters van God.
'n Godgewerkte hoop is niks anders as 'n deernisvolle bemoediging van die Heilige Gees te midde van beproewing nie. Die God van vrede draai ons geloofsoog weg van ons omstandighede en rig dit op die Here Jesus:
… (D)ie oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, … (Heb. 12:2).
Die skrywer van die Hebreërboek wys nou, nadat hy die geloofshelde in hoofstuk 11 beskryf het, op die bemoediging van Jesus Christus in die volgende hoofstuk. Hier word Jesus as die Bemoediger en Leidsman geskets. Ons kyk dus na Jesus wat as Oorwinnaar opgestaan het om vir ons hoop en uitkoms te bied. Ongeveinsde liefde is die basis van hoop:
Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in ywer nie; wees vurig van Gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; ... (Rom. 12:9-12).
In dieselfde konteks word liefde en hoop vermeld en dui op die getrouheid van die Christus-God wat nie kan teleurstel nie. Ware hoop word in stryd gebore tydens beproewing wat van God af kom (1 Kon. 12:24). Sonder beproewing is hoop oorbodig en het ons dit ook nie nodig nie, maar sonder toetse is daar ook geen geestelike groei nie. God skep hoop vir ons wanneer Hy soms alle aardse middele wegneem sodat ons alleen op Hom kan vertrou. Indien die gelowige se vertrouingsverhouding op agape liefde gefundeer is, sal daar hoop uit hierdie verbond gegenereer word. Sonder God is daar ook hoop, maar word "wanhoop" gespel. Hoop sentreer op die beloftes van God (2 Pet. 1:4; 2 Kor. 1:20; Jes. 62:4). Deur die skeppende krag van die woord bring hoop lig in duisternis:
Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê (Rom. 15:4).
Hoop word in verskillende kontekste vermeld. Dit verwys na beloftes (Rom. 4:18); na die saligheid (Rom. 8:24); na getuienis (1 Pet. 3:15); na die wederkoms (1 Joh. 3:3) en na God self tydens beproewingsvure:
Wat buig jy jou neer, o my siel, en waarom is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God! (Ps. 42:12).
Omdat hierdie goddelike bemoediging deur liefde en vertroosting werk, spreek hoop in God van sy integriteit:
Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met 'n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voor lê; en ons het dit as 'n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, … (Heb. 6:17-20).
Daar is die ankers van die siel! Daar is die ewige anker dat ons op Jesus kan hoop. Onsuiwer geloof kan God nie sien nie want dit is nie deur die vuur nie, terwyl die beproefdheid van ons geloof wat deur "vuur gelouter word" (1 Pet. 1:6-7), met sekerheid die Here sal sien. Die geloof, hoop en liefde (1 Kor. 13:13), is die ewige bewys van ons verbintenis met 'n persoon – Jesus Christus. Geloof is om vertroue in God te plaas; hoop is om deur “kragtige bemoediging” op God te hoop en ons liefde vir God is die bewys van e.g.
Kragtige bemoediging en genade word ryklik geskenk en dan ontstaan hoop spontaan wanneer die behoeftige op God vertrou. Die kern van geloof is dus om hoopvol te vertrou wanneer alles onmoontlik lyk. Ander kan meen dat ons blind is terwyl ons sien, as ons net kan ontdek dat ons gedurende 'n beproewing in God se skool is.
Hoop moet nie met desperaatheid verwar word nie. Nadat die Christen sy sielerus binnegegaan het en vrede met God en omstandighede gemaak het, kan hy op God hoop vir uitkoms. Desperaatheid in benoudheid is saamgeperste spanning, paniek, ongeloof en emosionele verwarring. Dit is nie die gesonde emosie van 'n kalm en vredevolle gemoed nie. Die kind van God wat alles oorgegee het, berus nou in 'n volle oorgawe en roeping van sy geestelike lewe. Wanneer ons oorgawes en beloftes aan God maak, bly daarby en laat die omstandighede dan uitdraai soos dit wil. Abraham het “weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom” (Heb. 11:8). Dit was vir hom genoeg om te weet dat hy sáám met God trek. Ons hoop lê daarin dat ons die seile van ons lewe moet span en God dan vertrou om ons skip op die lewensoseaan te stuur waar Hy wil. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom. 8:14), al is dit soms ook deur storms. Ons moet dus ons roeping “vasmaak” (2 Pet. 1:10) en as ons dit nie doen nie, dan plaas ons gewoonlik ‘n komma waar God ‘n punt gesit het! Daar heers 'n stille maar kragtige hoop in die feit dat God ook in ons môres lewe. Ons kan dus ons eie reisplanne laat vaar en soos Jesus self gedoen het, ons daagliks aan die Vader se volmaakte leiding oorgee. Hy was reeds daar wanneer ons by ons probleme kom. Toe Hy daar was, het Hy ook reeds die oplossing geken en sal dit weldra aan ons bekendmaak sodra ons sy goedbeplande lesse deur die geloof geleer het.
Soos alle Godgegewe gawes en deugde, is hoop die resultaat van oorwinning oor vrees en 'n deelname aan 'n verhouding met God. Hoop is dus vrees en ongeloof wat oorkom is. Hoop in God bring nie kitsoplossings nie, maar is 'n geloofsoefening gebou op die Rots Jesus Christus.
4.3 Geloofsloutering
Daarin verheug julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – 'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat kosbaarder is as goud wat vergaan, maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus (1 Pet. 1:6-7).
Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom (Job 23:10).
Job se louteringsvure het van hom 'n geestelike reus en geloofsheld gemaak. Deur die eeue het duisende bedroefdes grootliks deur Job se lewensverhaal vertroosting verkry. Geloofsloutering, tydens die sielkunde van beproewing, is seker een van die mees belangrikste aspekte van beproewing, aangesien geloof ‘n alledaagse deel van die gelowige se lewe is. Gedurende beproewing word die selflewe gedesentraliseer tot niks en Christus verkry gestalte namate ons in sy voetstappe volg. Johannes, wat die weg van beproewing verstaan het, verwys soos volg hierna:
Hy moet meer word , maar ek minder (Joh. 3:30).
'n Dieper gebrokenheid, suiwer geloof en agape liefde, word die pilare waarop goddelike kennis en wysheid gebou word. Alhoewel beproewing ongeloof uitwys, kan dieselfde omstandighede geloof louter. Dit maak dus nie saak wat die bepaalde omstandighede is nie, alles werk ten goede mee. Dit hang alles af van hóé die sielsbedroefde beproewing hanteer en vertolk. Daar is talle ware kinders van God wat hoegenaamd nie ingestel is om geloofsuiwering te ervaar nie. Tewens, baie dra nie eens kennis van wat met hulle tydens beproewing gebeur nie.
Job het hom skuldig gemaak aan rebellie teen God. Tydens sy ongelooflike stryd teen omstandighede rondom hom, het God geduldig en met groot ontferming hom bygestaan. Jakobus verklaar waarom Job sy louteringsvure moes deurgaan:
Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming was. (Jak. 5:11).
Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het ek berou in stof en as (Job 42:5-6).
Job het deur ondervinding geleer dat God alles kan doen. Job se beproewingsvure was eintlik 'n goddelike openbaring sowel as geloofsles. Dit het op twee maniere geskied: enersyds het Job geleer dat hy deur die geloof God tydens beproewing moet glo, en andersyds, dat hy God "gesien" het nadat hy uit die vuur verlos is. God se almag oorkom dadelik argumente soos: “kyk wat het die duiwel weer reggekry”, of “waarom hou dit so lank aan” en “waarom het God dit toegelaat”? Die ganse verklaring van geloofsloutering tydens die sielkunde van droefheid, lê opgesluit in die soewereiniteit van God. Binne die raamwerk van geregtigheid en liefde kan Hy doen wat Hy wil, waar Hy wil, met wie Hy wil en solank Hy wil.
God se vure is nie aangenaam nie, maar Hy vergesel ons altyd in sy twee arms, nl.: "medelye en ontferming.” Die doel van hierdie skrywe is om ander te help tydens beproewing en om Christene voor te berei vir die vure "as dit nodig is.” Geloof móét gelouter word. Enige onsuiwerhede wat ons visie van God vertroebel moet uitgesuiwer word. Beproewing is God se liefdeshandeling waar ons die “goeie sowel as die slegte” uit die hand van die Here ontvang. Behalwe dat Job dit erken het, sê Paulus dat hy 'n "gevangene van die Here is.” Hy erken dat God 'n doel het waarom hy in die tronk sit. As ons dit nie so insien nie, sal ons buig voor die reuse van selfbejammering, rebellie, saamgeperste spanning, verskillende vrese en droefheid van die wêreld. So 'n mens het die lesse van beproewing letterlik verbeur.
God weet wat Hy doen, en Hy is slegs besig om ons voor te berei vir die ewigheid. Abraham het gehoop en vertrou op 'n stad waarvan "God die boumeester en oprigter is” (Heb. 11:10). Toe die "vader van baie" nie kon sien nie, het sy gelouterde geloof hom nogtans die vertroue geskenk en het hy die belofte verkry:
Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by homself gesweer en gesê: Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder. En so het Hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het (Heb. 6:13-15).
4.4 Gebrokenheid
Die wat met trane saai, sal met gejubel maai (Ps. 126:5).
Die Here is naby die wat gebroke is van hart … (Ps. 34:19).
Sommige deugde word tydens beproewing verkry, daarna uitgebou en deur reekse morele keuses permanent in die psige vasgelê. Deur om morele gewoontes gereeld te beoefen, word goed van kwaad dus onderskei. Hierdie geestelike kwaliteite word deur die Here genadiglik aan ons tydens beproewing geskenk. Word goeie gewoontes en morele keuses vir kinders geleer, sal hulle ‘n sensitiewe gewete reeds van kleins af kweek.
Vertroosting vind ná lyding plaas en gebrokenheid tydens die sielkunde van beproewing. Wat aanvanklik pynlik was, word later deur God omgeskakel na bruikbare instrumente in sy hande. God wil die bruid van sy Seun in regerende hoedanigheid in die ewigheid gebruik. Daar sal ewigheidskwaliteite, soos liefde en gebrokenheid, sin maak. Alles wat nou in ons gekweek word, sal tel vir die ewigheid – ook as ons saam met hom ly, sal ons saam met Hom regeer (2 Tim. 2:12, KJV; Open. 3:21; 1 Joh. 1:1-3). Voordat die goddelike eienskap van agape liefde as vrug van die Gees ons deel word, sal ons soos Christus ook ly (1 Pet. 2:21). Hiervoor is gebrokenheid nodig. Hardheid is die teken van ongebrokenheid. Ons het reeds gesien dat karakter nie sonder beproewing veredel word nie. Vir alle veredelde deugde is gebrokenheid tydens beproewing van kardinale belang. Die sagte gebroke hart kan die Gees nou bewegingsruimte gee in die werk en getuienis van die gelowige. Goddelike liefde word in ons harte uitgestort tydens redding (Rom. 5:5), maar dit moet nog vervolmaking deelagtig word (1 Joh. 4:17). Die liefde van God kan nie aangeleer word nie, maar ons moet leer om dit eerste te stel wanneer nodig. Ons leer dus hoe om dit deur gebroke harte uit te leef. Dit kom na vore in die vorm van dade, gesindhede, gebede en volgehoue deernisvolle gebed. Enige persoon kan sonder liefde gee, maar niemand liefhê sonder om te gee nie.
Christus se lyding het Hom deur menslike ondervinding volwasse gemaak (Heb. 5:8). Hy het alle droefheid omgeskakel in heilige karakter deur om gehoorsaam aan sy Vader te wees. Die mens is egter vervalle en moet in morele sin heilig gemaak word. Die desentralisasie van die self en bereidwilligheid om gebreek te word ter wille van Christus, sal die juiste keuses wees om heilige karakter te kweek. J. R. Miller skryf:
If thou couldst empty all thyself of self. Like to a shell dishabited; There might He find thee on the ocean shelf, And say, "This is not dead”, And fill thee with Himself instead.
Verharding in enige geestelike sin is rebellie teen God en sy liefde. Dit kom neer op voorskrifte vir God hoe hy nié met ons moet werk nie. Alle beproewinge sal dan as ongenadiglike en onredelike straf vertolk word en gebrokenheid kan dus nooit ondervind word nie. Enige vorm van eiebeheersing sal dus alle goddelike lesse uitstel of vermy. Hierdeur word die kruis gesystap en geestelike eienskappe vir bruikbaarheid vind nooit plek in die lewe van kompromie nie. Deur hierdie onheilige houding word die harde mens die prooi van groter ellende – nl., die pyn van selfverheffing en -bejammering. Hierdie wroeging is soos gekraakte reënbakke wat geen water hou nie; soos 'n emosionele fontein wat opgedroog het en soos 'n ysblok wat in die warm woestynsand wegsmelt. Hierdie droewige smart het geen koers nie en salf of genesing ontbreek. In die kerkgeskiedenis is veral verwys na contritio as droefheid volgens die wil van God, maar attritio as droefheid volgens die wêreld. Laasgenoemde treur soos die wat geen hoop het nie.
Geen Christen sal ongeskonde aan gindse strand aankom nie. Selfs die swakste kind van God as gehoorsame Christen, wat deur omstandighede verlam is, sal die “buit neem” (Jes. 33:23). Wat die Here neem breek Hy. Hyself is gebreek en fyngemaal aan die kruishout sodat Hy brood vir ons kon word (Joh. 6:35; Jes. 53). Ons word dus gebreek volgens die droefheid van God (2 Kor. 7:10). Selfregverdiging en selfverdediging is die bewys van 'n ongebroke hart. Tydens gebrokenheid vind daar dieper oorgawes plaas. 'n Ernstige oorgawe bring 'n dieper sensitiwiteit t.o.v. God se ewigheidsdinge. Gedurende ernstige loutering het die beproefde kind van God geleer om op Hom te vertrou. Die arm van die vlees as steunpilaar is oor en oor verkeerd bewys. Ongebroke mense maak nog dikwels hulle eie planne en bou op selfgesentreerde ambisie. Aardse dinge tel meer as hulle roeping en gou vind hulle uit dat God se vuur die menslike rigtingwysers of vleeslike- afbrand. Nou moet die ongehoorsame kind van God al die pad terugstap waar hy die spoor byster geraak het. Daar wag die kruis weer en alles word herstel, maar nie sonder 'n prys nie.
Namate ons beproewing vertolk en verstaan, sowel as om die gekruisigde lewe te beoefen, sal ons groter simpatie met ander in nood ondervind. Ook sal 'n eerlike soeke na heiligmaking, menslik moontlik, 'n passie vir verlore siele en 'n vervulde wandel met God die gevolg wees. Weerstand teen God se volmaakte en lieflike doel om ons te breek, sal ons van baie seëninge beroof. Al is die stryd oorweldigend en al vloei die trane soms vrylik, het Job steeds op God gehoop:
My gesig het rooi geword van geween, en in my ooglede is daar 'n doodskaduwee … (Job 16:16).
Kyk al wil Hy my ombring - ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit (Job 13:15).
So het dan my siter 'n rouklaag geword en my fluit 'n stem van die wat ween (Job 30:31).
Wanneer God sy kinders breek is dit beslis nie 'n daad van ongenaakbaarheid nie. Dit maak nie saak of ons onskuldig is of selfs onregverdig ly nie, God het dit toegelaat of selfs geïnisieer. God se sielkunde van beproewing sluit nie selfbejammering of skuldgevoelens in nie. Dit is egter negatiewe emosies van die bose wat weerstaan moet word. Die mens ly genoeg om lesse te leer, ons is nie veronderstel om teistering van die bose as die normale verloop van beproewing te aanvaar nie. Geestelike lesse is juis beplan om die Christus-God beter te kan sien en sentreer nie rondom die duiwel se marteling van negatiewe emosies nie. Alle geestelike lesse wat uit die hand van God ontvang word, bring 'n positiewe gebrokenheid en eventueel verandering. Paulus verwys selfs na 'n "ligte verdrukking" wat die harde uiterlike dop breek:
Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die uiterlike nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor. 4:16-17).
Die harde dop van die uiterlike mens of die selflewe, moet gebreek word sodat die Gees deur die innerlike mens vrygestel kan word. Die uiterlike mens is dus die harde dop en vyand wat innige teerheid, agape liefde en innige meegevoel verhinder. Gebalanseerde emosies en deernis met hulle wat ly, word deur hardheid teengestaan. Hierdie uiterlike dop waarin die verhoogspersoonlikheid toneelspeel, die fariseër na vore kom, die sieketrooster raadgee en die onbarmhartige Samaritaan se suinigheid nie meer kan skuil nie, word op die aambeeld van Godbeplande beproewing in sy heilige werkswinkel verpletter.
Wanneer mense in diep ellende verkeer, kan geen harde of ongebroke mens hulle troos nie. Hulle vertroostinge is soos hol woorde wat deur die wind weggewaai word. Hulle onsimpatieke houding kan selfs groter pyn tot gevolg hê. Die harde mens kon selfs groot beproewing verduur het, maar het nie toegelaat dat God hom breek nie en het dus verder verhard.
Egte gebrokenheid is slegs deur "lyding volgens die wil van God" bekom. Trane tydens godsdienstige byeenkomste het nie noodwendig met gebrokenheid te doen nie, maar kan ook die uitvloeisel van emosionele opsweping wees. Gebrokenheid het met die gesindheid van die "Man van smarte" te doen.
… Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en die nederige van gees … (Jes. 57:15).
En skeur julle harte en nie julle klere nie … (Joël 2:13).
Die gebroke mens is bereid om te alle tye sy eie wil aan God oor te gee, om te leer om die minste te wees as God dit vra en om ander hoër as homself te ag.
4.5 Geestelike verruiming
As ek roep, verhoor Hy my, o God van my geregtigheid! In my benoudheid het Hy vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed (Ps. 4:2).
So lok Hy my dan uit die mond van die nood na 'n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys (Job 36:16).
Vir Dawid en Job beteken die sielkunde van beproewing verruiming en waarlik onbeperkte geestelike ruimte! Daar kom dus ruimte vir dinge wat voorheen nie daar was nie. Daar is ruimte vir siele en hulp uit 'n hart wat verruim is. Engheid beteken dat daar nog nie desentralisasie van die “eie ek” plaasgevind het nie. Verder is daar ook min ruimte omdat beproewing ook nog nie reg vertolk word nie. Selfsug en engheid is dus sinoniem en hierdie tweeling is die produk van kortsigtigheid en geestelike blindheid (2 Pet. 1:9). Baie hout, hooi, stoppels, oppervlakkigheid en dooie werke word deur vure van beproewing weggebrand. Sodoende is daar meer plek vir geestelike dinge.
Soms lyk omstandighede of dit afstuur op 'n neerlaag, en tog gryp die Here in op 'n menslik-onmoontlike tyd. Die vyand word selfs toegelaat om die Christen te teister, maar soos in die geval van Job, het die beproefde kneg van die Here uiteindelik oorwin. Dit lyk soms of die duiwel volkome oorwinning behaal, maar God keer sy tafel op homself om en lei sy kinders uit die vuuroond na 'n magtige oorwinning en onbeperkte ruimte. Is Sadrag, Mesag en Abednégo nie 'n goeie voorbeeld hiervan nie? Die drie Hebreeuse seuns het verruiming na hierdie voorval ondervind. Nadat hulle die bereidheid van ellende, smart en die dood in die gesig gestaar het, ontdek hulle die vierde Persoon saam met hulle. Die God’sopenbaring sowel as -verruiming kom eers tydens beproewing of selfs daarná. Sommige ontmoet God en kom aan hulle einde van die selflewe tydens verdrukking. Ander ontmoet die duiwel in verdrukking en verwerp die goddelike van roede. Eersgenoemde is verruim en lg. is tot niet. Sommige sterf feitlik van smart terwyl ander weer versterk en opgebou word tydens gebed en beproewing.
Veredeling van karakter beteken ook weier visie, groter begrip vir ander, dieper meegevoel vir bedroefdes en ondersteuning vir swakkes. Job is verruim deur beproewing terwyl hy vir sy vriende begin bid het en toe het God sy lot verander (Job 42:10). Josef word verruim toe hy beproef verklaar word; Dawid word verruim toe Saul hom vervolg het en word koning; Paulus word verruim nadat hy met wilde diere in die Arabiese woestyn geveg het en word die “ontydige apostel” met 'n hemelse visie. Paulus kan getuig van verruiming:
Ons mond het teen julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword. Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou. Maar by wyse van vergoeding – ek praat soos met kinders – moet julle ook verruim word (2 Kor. 6:11-13).
Tydens ernstige konflik en beproewing bid Dawid om verruiming in sy geestelike lewe en getuig soos volg daarvan:
Hy het my verlos van my magtige vyand, van my haters, omdat hulle te sterk was vir my. Hulle het my oorval op die dag van my nood, maar die Here was my steun. En Hy het my uitgelei in die ruimte, Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het. U het my voetstap onder my ruim gemaak, en my enkels het nie gewankel nie (2 Sam. 22:18-20, 36).
Hierdie verruiming het tot baie se seën gelei. Duisende mense lees die Psalms vandag nog ter bemoediging en is bewys daarvan dat Dawid sy beproewinge reg vertolk het. Hierdie goddelike visie is deur verruiming bewerkstellig. Iemand het gesê dat mens soms deur trane verder kan kyk as deur 'n teleskoop! 'n Gebroke hart sien dieper in die plan van God as net die teenswoordige omstandighede. Òf verruiming òf verenging, òf ons sal geeselik uitstyg òf ons sal vleeslik uitsterwe, òf ons buig òf ons bars – albei kan ons nie doen nie. Paulus som dit so op:
Maak vir ons ruimte in julle harte … ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking (2 Kor. 7:2-4).
'n Digter skryf:
Defeat may serve as well as victory To shake the soul and let the glory out. When the great oak is training in the wind, The boughs drink in new beauty, and the trunk Sends down a deeper root on the winward side. Only this soul knows that mighty rapture. Sorrow came to stretch out spaces in the heart for joy.
Onbekend
Paulus verwys na verruiming, troos en blydskap ná verdrukking. Hy het dus gedurende verdrukking sy beproewing met blydskap ervaar en word verruim. Ruimte na beproewing is 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap wat geen perke ken nie.
4.6 Vertroosting en bemoediging
Troos, troos my volk, sê my God (Jes. 40:1).
… (S)odat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en troos, dat so 'n iemand nie miskien deur alte groot droefheid verteer word nie (2 Kor. 2:6-7).
Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, … om al die treurendes te troos; … (Jes. 61:1-2).
Maar een ding: ek vergeet wat agter is … (Fil. 1:14).
Agape liefde wat deur beproewing as goddelike eienskap vasgelê word, is weer eens tydens vertroosting die belangrikste aspek. Vertroosters is feitlik afwesig in ons samelewing. Baie se emosies is so verwronge dat hulle hulself en hulle eie emosionele verwarringe nie eers kan uitpluis nie. Die emosioneel-verwarde persoon se probleme kan legio oorsake hê. Wat beslis 'n kenmerk is, is gevoelloosheid, die gebrek aan berou of vergifnis en geen simpatie met werklike bedroefdes nie. Antisosiale gedrag is by alle harde mense te bespeur. Hulle soek nie geselskap nie aangesien alle vriendskappe opoffering verg gepaardgaande met liefde. Goddelike liefde soek in der waarheid geleenthede om uitgeleef of uitgestort te word op die medemens en kulmineer uit in dade en optrede. Vertroosting en egte bemoeding is deel van gesonde en liefdevolle emosies teenoor ons naaste. Alleen die wat deur God getug en vertroos is, kan met God se manier van vertroosting identifiseer:
En in die dag sal jy sê, Ek dank U Here, dat U toornig op my gewees het; u toorn is afgewend, en U het my vertroos (Jes. 12:1).
In hierdie proses leer die kinders van God deur lyding om ander te troos soos God hulle getroos het. Gepaardgaande hiermee, het vertroosting ook met verwerking van die sielkunde van beproewing te doen. Verwerking behels om te vergeet wat agter is (Fil. 3:14). Paulus berus en laat dinge van die verlede in rus en vrede. Hy oorkom dus beproewing om die gordyn toe te skyf en gaan voort in die geloof. Trane droog weldra op sodra ons die volmaakte plan van God verstaan. Die lewe gaan voort, maar ongelukkig laat baie mense toe dat die duiwel hulle met hul verlede teister. Hulle word, soms teen hulle sin, verplig om die verlede te herroep en sodoende word die rou- en genesingsproses nie voltooi nie. ‘n Afgehandelde rouproses het met finaliteit en berusting van die verlede te doen. Om die verlede te verwerk en te “vergeet”, is om ‘n toekomsverwagting te kweek waaruit moed en hoop gebore word.
Die Heilige Gees word nie verniet die "Trooster" genoem nie. Soms is lyding die skool van droefheid en net diegene wat daardeur is ken die geheim van vertroosting.
In vertroosting speel verruiming ook 'n rol. Dit is in hierdie area dat daar groot tekortkominge in die kerk van Jesus bestaan. Die bedroefde het talle sieketroosters, maar weinig goddelike en gevoelvolle boodskappers wat kan troos. Die wat deur een of ander rede deur die samelewing verwerp is, kan persoonlik daarvan getuig hoe koud en ongenaakbaar die kerk teenoor hulle gestaan het. Hulle het 'n groot mate van verwerping wat onnodig was ervaar weens die kliniese vertroosting van ongevoelige Christene.
'n Sterk geestelike karakter wat deur morele keuses vervolmaak is, deur lyding beproef is, wat deur kruisopname getoets is, word nou die kwalifiserende faktor in vertroosting en bemoediging. Vertroosters is reeds, deur die pyn van emosionele lyding wat oorkom is, bekwaam gemaak om te troos. God’s kinders wat vertroos is het sterk geword in die Here, omdat hulle droefheid in blydskap verander het (Joh. 16:20), en die hulle blydskap in die Here is hulle beskutting (Neh. 8:11). Nou rus die verantwoordelikheid en roeping op ons om ander te versterk en te bedien (Rom. 15:1; Hand. 20:35; Heb. 13:3; Jak. 1:27).
God is die groot Trooster en sy hart word soos volg blootgelê:
En die Here sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte (Ex. 3:7).
En Jesus het hom (die ryk jongman) aangekyk en hom liefgekry … (Mark. 10:21).
Maar U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. (Ps. 86:15).
Indien ons nie God as die barmhartige en ondersteunende hemelse Vader begryp nie, kan ons nooit in die bediening van vertroosting staan nie. Hy moet dus eers die salf aan ons wonde smeer, voordat ons die wyn en olie op ander se wonde kan aanwend. Harde persoonlikhede kan nie vertroos nie. Wanneer ander in ellende verkeer, staan hulle terug onder die dekmantel van kompromie. Sommige, wat nooit troos of help nie, sal hulleself ook beskerm met: "ons is nie maatskaplike werkers nie”, of "ons kan tog nie die hele wêreld help nie.” Kinders van God se apatiese houding t.o.v. ander in droefheid, is slegs 'n weerspieëling van geestelike oppervlakkigheid. Vertroosting is godsdiens in die praktyk. Baie sal maklik deernis en gebrokenheid as 'n swakheid beskou, trooswoorde as melodramaties en sentimenteel, of bemoediging as "inmenging.” Hulle sal alles in die stryd werp behalwe om hulle harde harte te ontdek, hulle onbetrokkenheid te bely en hulle kompromie te verloën.
Slot
Daar kom 'n uur dat almal wat reken dat hulle eg is, getoets gaan word. Elke aanspraak op ware geestelike kennis en ervaring moet deur die vuur van loutering gaan. Hierdie vure is soms die grootste toets vir egte geestelike karakter, - uithouvermoë, - diepte, - deernis, - kennis en - fondamente. Dit moet te alle tye onthou word dat God sy kinders nooit sal begewe of verlaat nie. Hyself laat die leerskole toe en bepaal dat elke deel van ons karakter aangespeek sal word in hierdie lewe. Die leerskool in die sielkunde van beproewing moet egter reg vertolk en verstaan word. Die kruisweg lei na die ewige hemel waar daar geen geleentheid is om geestelike aanpassings te maak nie. By die opstanding word ons vervolmaak en karaktervorming, geestelike werk en opoffering word dán beloon. Gehoorsaamheid in hierdie bedeling sal alles bepaal wat ons in die hiernamaals gaan wees.
Droefheid moet vlerke van geloof ontvang, anders sal ywer, fundamentalisme, gebed, geestelike werk en toewyding nie baie beteken nie. God werk dus eers áán ons voordat ons werklik vír Hom kan werk. Hy het dus volkome voorsiening in beproewing gemaak sodat ons kan word wat Hy vir ons beplan. Ewige waarhede word dus eers deur omstandighede op ons harte gegraveer voordat dit oor ons lippe deur die Gees se vuur en krag sal kom. Ons moet nie net genoeg lig hê om die waarheid te onderskei nie, maar ook genoeg vuur om dit wat verkeerd is te verteer.
Die eindproduk in die sielkunde van beproewing is Christusgelykvormigheid en geestelike volwassenheid. Goeie deugde en geestelike kenmerke sal daaruit voortvloei: Eerstens sal daar balans in emosionele optrede kom, en tweedens, ‘n pligsbesef en verantwoordelikheid vir geestelike diens sal ook prioriteit word. Daar sal ook ten laaste ‘n gelukkige posissionering wees t.o.v. waar God ons plaas.
Alles sal deur die oorwinning oor beproewing in ‘n paradys van innerlike oorwinning en duursame blydskap omskep word. Die liefdevolle raadsplan van God is volmaak en ontvou dan by die dag. Morele, geestelike en intellektuele stryd of duisternis sal die gevolg wees as ons God se bakens in ons lewe probeer verskuif. Ons moet ryp word en gereed wees om geestelike openbaring te ontvang tydens die wag-proses. Ons moet dan tyd neem om geestelike lesse te absorbeer (Ef. 5:16). Na baie misterie en donker wolke, sal God se son weer op ons laat skyn:
En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die Here is wat jou by jou naam roep, die God van Irael; … (Jes. 45:3).
Bylaag 1
En die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie (Open. 13:8).
Om Open. 13:8 beter te verstaan, moet ons meer intensief na die vertaling kyk. Die vertalingsprobleme gee aan hierdie teks ‘n ander boodskap. Die korrekte vertaling sal heel anders lees en meer sin maak namate ons dit soos volg opsom:
1. Die woord "almal”, soos in die ou vertaling, is in die kursief en kom nie in die oorspronklike voor nie. Dit moet dus uitgelaat word.
2. Die meervoud: "name", is in die enkelvoud in die Grieks (ŏnŏma onoma on’ -om-ah) en behoort dus as “naam” vertaal te word. Hierdie woord kom 193 keer as enkelvoud in die King James Version voor en word as “naam” vertaal.
3. Die woord “grondlegging”, pas ook nie by die teks nie. Die Lam is nie voor óf tydens die skepping geslag nie of voordat daar sonde in die wêreld ingekom het nie. Indien Hy voor die skepping en sondeval “geslag” is, dan sou dit impliseer dat sy skepping reeds onvolmaak was. Die woord "grondlegging”, soos in die ou vertaling, (“foundation” in die K.J.V.), is katabŏlē, of katabolh in die Grieks, en dit beteken eintlik om "neer te werp" of "omverwerping" (“casting down.” Vgl. met die stamwoord kataballŏ, wat “neerwerp” beteken (2 Kor. 4:9; Open. 2:10). “The Complete Wordstudy Dictionary. N.T.”, van dr. S. Zodhiates, kan ook geraadpleeg word. Dr. Vincent leer soos volg:
katabŏlē foundation is literally a throwing or laying down, from kataballŏ to throw down (Vincent’s Word studies in the New Testament. Vol. 2. P 528).
Dr. Strong bevestig soos volg:
2598 kataballw kataballo kat-ab-al’ –lo from 2596 and 906.
AV-cast down 2, lay 1; 3
1) to cast down 1a) to throw to the ground, prostate 2) to put in a lower place 2a) to lay (down) a foundation
4. Neerwerping, omverwerping, neergooi en fondament is ook vertalingsmoontlikhede. In die konteks waar na die “Lam wat geslag is” verwys word, dui hierdie neerwerping beslis op die sondeval en nie na ‘n simboliese kruisiging voor dit nie. God het dus nie die Lam in simboliese sin geslag voordat daar sonde was nie, anders sou dit beteken het dat Hy die sondeval beskik het. Die Griekse woord katabŏlē, is vir hierdie studie van belang. In Luk. 11:50 kry ons verdere lig:
… (S)odat van hierdie geslag afgeeis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging (katabŏlē) van die wêreld af.
Voor, tydens die skepping en voor die sondeval, was daar geen profete nie, dus kan “grondlegging” (skepping) nie in bg. teks so gebruik word nie, maar eerder “neerwerping” of “omverwerping wat dus op die sondeval dui.”
Die woord katabŏlē, word nêrens in verband met die skepping in die NT gebruik nie, maar thĕmĕliŏs wel. Hierdie woord is dus ‘n meer korrekte woord vir die lê van ‘n fondasie of grondlegging (skepping), soos duidelik afgelei kan word in die volgende tekste:
… (E)n: U o Here, het in die begin die aarde gegrondves (thĕmĕliŏs) en die hemele is werke van U hande (Heb. 1:10).
Hier vind ons thĕmĕliŏs in regte konteks en in skeppingsverband. Die Lam ly dus nie van vóór die skepping nie, maar sédert die sondeval of neerwerping. Dit kan ook duidelik uit die volgende teks afgelei word:
…(W)ant dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging (katabŏlē of neerwerping) van die wêreld af (Heb. 9:26).
Hier word in elk geval verwys na “van” die neerwerping af en nie vóór dit nie. Die kruisiging van Christus word bevestig na die sondeval en nie voor die skepping nie. Daar is twee redes daarvoor:
Vir verdere verwysings na thĕmĕliŏs kan die volgende tekste bestudeer word: Luk. 6:48-49; Rom. 15:20; 1 Kor. 3:10-11; Ef. 2:20; 1 Tim. 6:19; 2 Tim. 2:19; Heb. 1:10; 6:1; Open. 21:14.
Vir verdere studie in katabŏlē, kan die volgende tekste bestudeer word: Matt. 13:35; 25:34: Joh. 17:24; Ef. 1:4; Heb. 4:3; 9:26; 1 Pet. 1:20; Open. 13:8; 17:8. Die korrekte vertaling van Open. 13:8, lui dus soos volg:
En die bewoners van die aarde sal hom aanbid, wie se naam nie van die neerwerping van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag, geskrywe is nie.
Christus ly dus saam met bedroefdes dus sedert die sondeval en het innige medelye saam met sy kerk.
|