|
LIFELINE BACK TO THE BIBLE
Afrika Dromme
www.jesus-is-lord.co.za consists also of Lifeline Back to the Bible & Old Landmarks (3 websites in one)
|
|
|
Afrika-dromme Oral in die Wêreld GeslaanIn baie Westerse samelewings word gebruike uit heidense kulture oorgeneem deur hulle van hul oorspronklike kulturele verband los te maak en as ‘n vorm van sosiale vermaaklikheid te beoefen, of selfs as ‘n hulpmiddel om ‘n mistiese ervaring te verkry. Die ontvangende gemeenskap beskou sulke instellings, bv. Afrika-dromslaan, as ‘n vorm van kulturele verryking sonder om die godsdienstige kompromie wat daarby betrokke is, in ag te neem. Dit is belangrik om die beginsel te begryp dat in die heidense godsdienste, soos die Afrika-godsdienste, kulturele danse, musiek, die rituele slaan van dromme en die gebruik van maskers om met mistiese persoonlikhede, geeste of gode te identifiseer, alles deel van hulle godsdiens is. Selfs die vertel van stories het dikwels godsdienstige temas soos mites van oorsprong en die animistiese geloof dat materiële voorwerpe geestelike eienskappe of bonatuurlike magte het waardeur mense ten goede of ten kwade beïnvloed kan word. Volgens tradisionele Afrika-gelowe word menslike lewe aktief deur die volgende twee tipes bonatuurlike magte beïnvloed: Persoonlike bonatuurlike magte wat deur mense se voorvadergeeste verteenwoordig word. Hierdie geeste vereis van hulle lewende nageslagte gehoorsaamheid aan stamtradisies, asook dade van toewyding aan hulle ontslape familielede deur middel gebede, danse en offers. Voldoening aan hulle versoeke lei na seëninge terwyl die ignorering daarvan die wraak van die voorvaders opwek. Dit kan na siektes en verskillende ander vorms van teëspoed lei. Sekere mense word deur die geeste gekies om waarsêers (divineerders) en tradisionele genesers te word. Dit lei na ‘n meer aktiewe verhouding met die geeste, waarin lg. as waarsêende geeste optree. Die geeste word dikwels deur middel van rituele danse en die slaan van dromme opgeroep om van die leerling-divineerders besit te neem. Onpersoonlike bonatuurlike magte van toorkuns en genesing. Hierdie magte word deur mense gebruik wat in die donker geheimenisse van toorkuns opgelei is en daarop gerig is om mense te benadeel (“swart toorkuns” of “toorkuns van die nag”) of in ‘n sosiaal aanvaarbare vorm van die beoefening van bonatuurlike magte om die mag van kwaadwillige toorkuns te verbreek (“wit toorkuns” of “toorkuns van die dag”). Die divineerders en tradisionele genesers wat laasgenoemde praktyk beoefen, steun sterk op hulle voorvadergeeste om hulle in die proses van divinasie by te staan. Die geeste word dikwels deur die slaan van dromme opgeroep. Moderne belangstelling in tradisionele godsdiensteEen van die kenmerke van die ontluikende postmoderne kultuur in baie lande is die groot belangstelling en toewyding aan die herlewing van verskeie aspekte van die premoderne kulture se godsdienste. Die ideologieë van moderne tye, veral sekulêre humanisme, sosialisme en kapitalisme, het, as gevolg van hulle sekulêre benadering tot die lewe, gemeenskappe van hulle geestelikheid beroof. Selfs die Christelike geloof is verander om by die moderne mens aan te pas, want daar is verskeie teoloë wat skaamteloos sê dat jy nie ‘n gelowige hoef te wees om ‘n studie van die Bybel te kan maak nie. Teologie is tot ‘n blote sosiale wetenskap gereduseer, wat daartoe gelei het dat baie kerke as sosiale klubs vir naamchristene geëindig het – diegene wat net ‘n gedaante van godsaligheid het omdat hulle die geestelike krag van ‘n ware geloofslewe verloën het (2 Tim. 5:5). In die postmoderne samelewing word verskeie metodes aangewend om die geestelike leegheid in mense te vul. Sekere kerke het ‘n nuwe vorm van geestelikheid aanvaar wat op drome, visioene, tekens, wonders en profesieë deur sekere “gesalfde” profete gebaseer is. Ander het hulle tot sielkundige metodes vir persoonlike transformasie gewend, terwyl sommiges hulle toevlug tot mistiese, Middeleeuse tegnieke soos meditasie of kontemplasie geneem het. Daar is egter ook ‘n aansienlike aantal “gelowiges” wat tegnieke vir ‘n alternatiewe geestelike belewenis van die heidense kulture af oorneem. Sekere opvoedkundiges volg ook hierdie weg deur idees en gebruike by die nie-Christelike gelowe oor te neem ten einde geestelike inhoud aan multigodsdienstige studies te verleen. Die Universiteit van Suid-Afrika het in 1992 ‘n boek, “Primal Religions Worldwide,” gepubliseer waarin die outeur, S.A. Thorpe, sê: “My doel met hierdie boek is om dit vir voorgraadse studente voor te skryf sodat hulle in religieuse studies van die oergodsdienste kennis kan neem... Ek glo dat diegene van ons wat uit ‘n Westerse, Christelike agtergrond kom, onsself verarm het deur ons weiering om die geestelike verryking te aanvaar wat die inheemse gelowe aan ons bied... Dit is nie ongewoon vir gebed om ander vorms as net woorde aan te neem nie. Aangesien gebed ‘n metode is om kommunikasie met die geesteswêreld te handhaaf, kan aksies én woorde as vorms van gebed beskou word. Danse, byvoorbeeld, word in baie wêrelddele op dié manier gedoen... Die beoefening van verskillende kunsvorms, bv. skilderkuns of die maak van maskers uit hout, kan ook as pogings beskou word om kontak met die bonatuurlike te behou, en dus as gebedsvorms gesien word. Musiek, dikwels ritmiese drommusiek of handgeklap, kan ook só gesien word.” Mistiese teorieë en gebruike van die Nuwe Era Beweging is grootliks daarvoor verantwoordelik dat daar ‘n nuwe soort spiritualiteit in skole én in baie kerke ingevoer is. Daar is duidelike pogings in verskeie skole om ons eenheidsverband met die aarde en die geesteswêreld te herbevestig. In multikulturele, omgewings- en kunsonderrig word aan kinders geleer wat die okkultiese formules is wat die toordokters en tradisionele genesers aan hulle geestelike gidse verbind. Hoewel woorde van een kultuur tot die ander verskil, is die heidense gebruike en aardgeoriënteerde tradisies oral in die wêreld baie ooreenstemmend. Opleiding en werkswinkelsDie belangstelling in Afrika-dromslaan het ‘n moderne gier in baie Westerse lande geword. ‘n Google-soektog onder die woorde “African drumming” lys talle organisasies wat opleidingskursusse en werkswinkels hieroor aanbied. Verskillende vorms van Afrika-dromslaan blyk ook hieruit, waarvan die volgende die belangrikste is en gewoonlik só oorgedra word: Dromslaan vir die gees: Ons sal die geestelike aspek van dromslaan ondersoek deur met ons siele in verbinding te tree. Ons leer om ritmes vir rituele en meditasie uit verskillende kulture in die wêreld te speel, en ook die ritmes van ons eie siele te ondersoek. Die werkswinkel is vir beginners geskik, maar ook vir diegene wat meer gevorderd is. Dromme is beskikbaar. Dromslaan vir meditasie. Neem jou tyd om die betowering van stadige, helende ritmes in jou te ontdek, en leer ook rituele dromslaan uit verskillende kulture. Luister na jou hartklop en asemhaling. Word een met jou drom en speel meditatiewe ritmes. Ontspan en giet dit! Transtoestand en rituele dromslaan. Dit is ‘n ondervinding wat nie in woorde beskryf kan word nie! Ons sal ritmes uit verskillende geestelike tradisies speel. Dit is vir sowel beginners geskik as vir dromslaners wat verder op die geestelike pad gevorder het. Dromme is beskikbaar. Die reis na toorkuns. Toorkuns is die oudste geloofsvorm op aarde en word deur stamme beoefen wat in harmonie met die natuur leef. In hierdie werkswinkel sal ons dromslaan, sing-praat (“chanting”), beweging en veilige transtegnieke gebruik om met onsigbare magte in die geesteswêreld te kommunikeer, met die oog daarop om positiewe verandering, genesing en welstand mee te bring. Een van die baie opleidingsprogramme word deur Audrey Pia beskryf. Sy sê: SOUL (‘n akroniem vir Spirit Of Universal Love) is ‘n opvoedkundige agentskap in Evanston wat verrykingsprogramme aan skole bied om lewensvaardighede, asook kreatiwiteit en kulturele begrip, deur middel van die kunste te bevorder. SOUL se uitvoerende direkteur, Gilo Kwesi Logan, is ‘n boorling van Evanston wat ‘n meestersgraad aan die National-Louis Universiteit verwerf het. Hy het SOUL gevestig nadat hy meer as vyf jaar lank op vier vastelande gereis het waar hy uiteenlopende kulture in meer as twintig lande bestudeer het. Die program bied aan studente ‘n inleiding oor die grondbeginsels van Afrika-musiek, en dit verseker ‘n opwindende multikulturele ondervinding. Gilo en sy mede-instrukteur, Yahkwob Kouyate, het vir ‘n uur lange werkswinkel met leerlinge in grade twee tot vyf ontmoet. Elke leerling is van ‘n oorspronklike Afrika-drom voorsien, wat “Djembe” genoem word. “Baba Gilo” en “Baba Yahkwob,” soos wat die kinders hulle noem (“Baba” beteken “Pa”), het elke sessie met ‘n kort les oor Afrika se musiek- en kultuurgeskiedenis begin. Die kinders het geleer dat die Djembe uit ‘n enkele blok hout gekerf is, met ‘n bokvel wat oor die opening gespan is. Dit word as ‘n musiekinstrument, ‘n seremoniële voorwerp en ‘n metode van kommunikasie gebruik. Gedurende die werkswinkels het die kinders die beginsels van Afrika-dromslaan geleer, wat drie verskillende klanke insluit wat verkry kan word deur dit op ‘n besondere manier te slaan. Baba Gilo het daarop gewys dat dit nie so maklik is om die Djembe te speel as wat dit lyk nie. Van die vaardighede wat leerlinge moes aanleer, is konsentrasie, spanwerk en stip luister. Elke klas het ‘n bepaalde ritme geleer, wat sy eie betekenis het. Een klas het die Kasunde-ritme geleer wat tydens oorgangsrituele (bv. naamgewing, puberteit of huwelik) gebruik word. Ander klasse het ritmes geleer waardeur emosies uitgedruk word, soos Forokaba wat tye van blydskap uitdruk, en Hartklop wat gevoel of meegevoel uitdruk. Aan die einde van die opleiding is daar ‘n vertoning in die plaaslike ouditorium aangebied. Leerlinge het in die saal ingestap terwyl hulle die woorde “Egun Alafia” sing-praat. Dit beteken: “Dankie aan ons voorvaders, mag hulle deur ons voortleef.” Elke klas het die geleentheid gekry om hulle vaardighede met dromme ten toon te stel. Die ritmes van die dromme was onweerstaanbaar en die gehoor van ouers, vriende en leerlinge het gou begin om saam hande te klap. Hoewel elke klas net drie tot vier ure lank voorligting gekry het, het hulle ‘n hoë mate van vaardigheid gehad. Internet bronneDaar is baie organisasies met webblaaie, tydskrifte en werkswinkels wat verskillende vorms van Afrika-dromslaan bevorder. Op die webblad http://www.experienceafrica.co.uk/ word die kulturele betekenis van die Djembe- en Ngoma-dromme verduidelik: “Dromme word in Afrika as heilige instrumente gebruik en as baie belangrik beskou. Hulle word in genesingsrituele, in oorgangsrituele, in naamgewingseremonies, tydens sosiale geleenthede soos huwelike, tydens oesfeeste en by seisoensveranderings gebruik, soos wanneer die reën ná ‘n tyd van droogte kom. Dromme word ook as kommunikasiemiddels gebruik.” Dit is dus duidelik dat dromme altyd kulturele betekenis het in die verband waarin hulle gebruik word. Op die webblad, http://www.alternativeculture.com/ word die verskynsel van dromslaan verduidelik as iets wat met die ritmes van die natuur harmonieer en ons help om by die kosmiese wêreld en sy vloei van kreatiewe en genesende energie in te skakel: “Die drom is ‘n polsslag van die skepping en verteenwoordig ons verbintenis met moeder aarde, met die ritme van die see, die golwe wat breek, die vlerkgeklap van trekvoëls, die draai van die seisoene en die geluid van ons eie asemhaling... Die drom genees ons verhouding met mekaar wanneer ons saam daarop speel. Dit vestig ons aandag op dit wat tussen ons werk en dit wat nie werk nie. Dit wys ons presies waar ons harmonieer en waar nie. Dit laat ons saam by die onsigbare wêreld van energie inskakel. Dit is belangriker as die dinge wat ons kan sien of waarop ons hoop. Dit wat regtig belangrik is, gebeur op hierdie oomblik. Wanneer dit verby is, dan wag ons op die volgende oomblik.” Voorskrifte word ook vir transdanse gegee: “Die transdans is bedoel om ‘n gemeenskapsritueel te wees. Ons moet dit elke drie maande doen – elke keer op die middelpunt tussen die sonstilstand en die dag- en nageweninge. Die geheim vir die dansers én dromslaners is kontinuïteit: om die hele nag lank teen dieselfde pas en ritme voort te gaan. In hierdie herhaling en toewyding breek die geleentheid vir ‘n transtoestand aan, om jouself te vergeet en in die groter geheel op te gaan.” Die ritmes van dromslaan is dus ook ‘n hulpmiddel vir meditasie en werk mee om die oorgang na ‘n kosmiese bewussyn, of transtoestand, te maak waarin mense van ‘n ander werklikheid bewus word. Uit die baie werkswinkels vir Afrika-dromslaan is dit duidelik dat die esoteriese en religieuse betekenis van hierdie gebruik deurgaans deur instrukteurs verduidelik en aangemoedig word. Omdat dromslaan altyd ‘n mistiese ondervinding van een of ander aard bevorder, word dit nou algemeen as ‘n metode gebruik om die uiteenlopende mense van ons planeet op ‘n geestelike vlak te verenig. Eenheid en voorspoedGedurende die afgelope paar jaar word byeenkomste vir dromslaan in baie lande gereël om eenheid, vrede en voorspoed op aarde te bevorder. ‘n Suid-Afrikaanse organisasie, One World Beat, het op Saterdag 6 Mei 2006 ‘n byeenkoms gereël wat só geadverteer is: “Dromslaan in Een Wêreldritme is ‘n geleentheid waarin ons alle mense op aarde in een uur van gesamentlike dromslaan verenig! Dit is die eerste keer dat só ‘n groot dromslaan-byeenkoms in ons land gehou word. Om daaraan te dink: die hele wêreld slaan vir ‘n uur lank saam dromme! Bring jou eie drom saam. Ons vertrou die Here vir ‘n deurbraak – nie net in ons eie lewens nie, maar ook in ons gebede vir ‘n voorspoedige Afrika.” Die dromslaan self is bedoel om die gebed vir eenheid en voorspoed in die wêreld te wees. Dit is ‘n uiterste vorm van godsdienstige sinkretisme! Wilde emosiesDromslaan in die algemeen, en spesifiek Afrika-dromslaan, word egter ook in baie gemeenskappe van die wêreld gebruik om wilde emosies op te wek, selfs tot op die punt wanneer daar onder die invloed van ‘n afgod chaos en wanorde in die gemeenskap geskep word. Babatunde Olatunji (http://www.alternativeculture.com/) sê: “Die Skepper wil hê dat ons moet dromslaan. Hy wil hê dat ons die wêreld met dromme, danse en sing-praat verdorwe moet maak. In elk geval het ons alreeds die wêreld deur mag- en hebsug verdorwe gemaak – wat ons nêrens gebring het nie – nou is dit tyd om die wêreld met dromme, danse en sing-praat verdorwe te maak.” Sekere kundiges wat die oorsprong van rockmusiek nagevors het, het dikwels al gesê dat daar ‘n verband tussen die “bose ritme” van rockmusiek en sekere vorms van Afrika-dromslaan is. Hulle het albei ‘n sielkundige effek op mense deurdat hulle gebreinspoel word en daar ook vreemde gevoelens en ongetemde emosies by hulle opgewek word. Slawe uit Afrika het hierdie soort dromslaan in Noord-Amerika bekend gestel. Hulle godsdiensbeoefening het die vorm van dromslaan en danse aangeneem – ‘n gebruik wat hulle in hul gasheerlande voortgesit het. GevolgtrekkingsAfrika-dromslaan kan nouliks van sy kulturele verband losgemaak en as ‘n blote vorm van vermaaklikheid beoefen word. Hierdie gevolgtrekking word deur die baie werkswinkels en opleidingsprogramme bevestig, omdat die dieper betekenis van dromslaan in verskeie Afrika-kulture telkens aan die studente verduidelik word. Die wye reeks funksies daarvan sluit die volgende in: die bevordering van harmonie met jou innerlike self, met ander mense én met die natuur, ontspanning en genesing van stres, die oproep van geestelike gidse en die bevordering van ‘n kosmiese energievloei, die aanhelp van meditasie en die skep van transtoestande, asook, in meer aggressiewe vorms van dromslanery, die opwekking van wilde en ongetemde emosies. Laasgenoemde kan selfs die vorm van opstand teen die samelewing en sy norme aanneem. Dit mag nog ‘n baie duur eksperiment in tradisioneel Christelike samelewings van die Weste blyk te wees om alternatiewe lewenstyle oor te neem uit kulture wat nie deel van die Christelike beskawing is nie. Die alternatiewe genesing, alternatiewe medisyne, alternatiewe spiritualiteit en alternatiewe musiekvorms van hierdie “ander” kulture is uitdrukkings van ‘n mistiese, heidense spiritualiteit wat wesenlik antichristelik is. Dit is gekamoefleerde okkultiese gebruike wat uit die koninkryk van die duisternis kom. Slegs mense wat nie waarlik aan die Bybelse Christendom toegewy is nie, sou dit waag om die duistere weë van die heidense kulture te bewandel. Wanneer hulle dit wel doen, sal ‘n gees van dwaling oor hulle kom wat hulle vir die lig van die evangelie sal verblind (2 Kor. 4:3-4).
Reaksies in Tye van BenoudheidBykans onleefbare toestande sal in die komende groot verdrukking as gevolg van ongekende natuurrampe op aarde geskep word. In reaksie hierop sal baie mense deur vrees en wanhoop beetgepak word. Sommige van hulle sal in wetteloosheid en gewelddadigheid verval, en hulle ook tot vermaak en drankmisbruik wend in ‘n poging om hulle groot probleme te probeer vergeet. Ander sal deur hulle sorge oorweldig word en aan hartaanvalle sterf. Die Here Jesus sê die volgende oor toestande op aarde nét voor sy wederkoms: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is... Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie... Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:25-28,34,36). Die benoudheid wat oor die nasies sal kom, sal wees as gevolg van die vreeslike oordele wat oor ‘n sondige mensdom uitgestort sal word. Christus sê: “Daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees, en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom” (Luk. 21:11). Hierdie oordele sal eers in hulle volle omvang tydens die komende verdrukking van sewe jaar uitgestort word. Dié rampe sal nie afgeweer en mense ook nie teen die geweld daarvan beskerm kan word nie, daarom sal die nasies “radeloos” wees en individue “se harte sal beswyk van vrees.” In hierdie tyd sal die ontwrigte mensdom ook op groot skaal teen mekaar veg: “Julle sal hoor van oorloë en opstande” (Luk. 21:9). Dit is duidelik dat daar voor die verdrukking al ‘n geleidelike opbou na hierdie toestande sal plaasvind. Christene moenie hieroor ontmoedig raak nie, want dit is tekens van hulle naderende verlossing deur middel van die wegraping (Luk. 21:28,36). Die reaksie van ChristeneHoe reageer kinders van die Here op moeilike omstandighede? Hulle hef hulle hoofde op en kyk na bo. Hulle vestig dus hulle hoop op Christus om in te gryp en hulle lot te verander. In hierdie eindtydse situasie bid ons spesifiek ook, benewens voorsiening in ons daaglikse behoeftes, dat die Here ons sal kom haal en só die oordele sal laat ontvlug. Persoonlike heiligheid is egter noodsaaklik as ons tot die Here se heilige teenwoordigheid wil toetree en by die wegraping met Hom verenig wil word, want elkeen wat die hoop op sy verskyning het, “reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Ons moet elke las aflê én die sonde wat ons so maklik omring (Heb. 12:1). Ons moet ook teen Satan se aanvalle en versoekings waak en gedurig bid. Wanneer ons dit doen, sal ons geloof versterk word en sal ons oorwinnend kan leef. Baie Christene laat na om na die vervulling met die Heilige Gees te soek en die Here daarvoor te vertrou. Die gevolg is dat hulle kleingelowiges is wat maklik vreesbevange raak (Mark. 4:40), twyfel of die Here vir hulle sal sorg (Matt. 6:30), en ook maklik aan dwalings glo omdat hulle geestelik onvolwasse is (Ef. 4:13-14). Sulke kleingelowiges verstaan nie die dieper waarhede van die Woord nie (Heb. 5:12-14) en hulle word tot ‘n groot mate deur vleeslike gesindhede oorheers (1 Kor. 3:1-3). As gevolg hiervan is die geestelike koninkryk van die Here, asook sy spoedige wederkoms, nie vir hulle ‘n groot werklikheid nie. Vleeslike Christene se harte word deur wisselende omstandighede beïnvloed omdat die sorge van die lewe en die genietinge van die wêreld hulle maklik van die Here af wegtrek. Ons moet waak en bid en ons vertroue volkome in die Here stel – dan alleen sal ons geestelik sterk staan en waardig wees om die komende verdrukking te ontvlug. Die reaksie van ongelowigesDie toename in rampe en oordele laat wêreldlinge heel anders reageer. Hulle het nie ‘n geestelike anker in hul lewe nie en word maklik die slagoffers van ongetemde emosies soos vrees, wanhoop en aggressie. Hulle gaan sit ook maklik op moedverloor se vlakte – sonder God en sonder hoop in die wêreld. Baie van hulle neem hul toevlug tot drank en dwelms om die aaklige werklikheid van hulle omstandighede te probeer vergeet. Paulus brei verder oor hulle reaksies uit: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Ons is reeds in die begin van hierdie swaar tye wat ‘n aanloop na die komende verdrukking is. Dit is vir almal duidelik dat Mammon miljoene mense in die greep van geldgierigheid vasgevang het en hulle oë daardeur vir die onsigbare koninkryk van die Here verblind. Ons kan nie die Here én vir Mammon dien nie! Ons sien ook hoedat mense in onheilige en perverte lewenspatrone verval waarin hulle die natuurlike liefde tussen mans en vrouens, en ook tussen ouers en kinders, verwerp en minag. Die plek daarvan word deur gay-verhoudings ingeneem, en ook deur die molestering en mishandeling van kinders. Ander vorms van gewelddadigheid neem ook baie toe. Dit is net evangeliese Christene wat die Bybel onvoorwaardelik glo, en hulle weet dat toestande op aarde nog aansienlik gaan versleg. Die Here Jesus het gesê dat daar ‘n verdrukking kom soos wat daar sedert die begin van die wêreld nog nie was nie en ook nooit weer daarna sal voorkom nie (Matt. 24:21). Hy bevestig ook die feit dat hierdie verdrukking net voor sy wederkoms sal plaasvind (Matt. 24:29-30). Min mense sal dit oorleef. Die wêreldlinge, asook die vormgodsdienstiges wat net ‘n gedaante van godsaligheid het, ontken die feit van die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris. In dié tyd sal die oordele van die dag van die Here oor die goddelose mense uitgestort word (vgl. Jes. 13:9-13; 24:1-6; Op. 6:12-17). Hulle is met ‘n aardse koninkryk besig en wil gladnie die feit aanvaar dat dit vernietig gaan word nie. Hulle sal nog sê “Vrede en veiligheid!” dan oorval ‘n skielike verderf hulle (1 Thess. 5:3). Dit is opvallend dat baie van hierdie moreel en geestelik verdorwe mense nog boonop ‘n gedaante van godsaligheid het. Hulle behoort dus aan kerke wat hulle nie oor hulle sondes aanspreek nie, en ook nie die werklikheid van God se oordele oor ‘n verdorwe wêreld aan hulle verkondig nie. Hierdie kerke doen presies dieselfde wat Israel se valse profete gedoen het: “Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklike manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jer. 6:14). Hulle verkondig ‘n valse vrede. Dieselfde misleiding gaan ook na die Afrikanervolk uit, en dit streel hulle gehoor om te verneem dat daar nie ‘n verdrukking kom nie, maar tye van voorspoed, vrede en politieke stabiliteit in die huidige bedeling voor die wederkoms van Christus. In die meeste van die Afrikaanse kerke word daar moeite gedoen om die leerstellings oor die herstel van Israel in hulle eie land, die wegraping voor die verdrukking, die verskyning van ‘n persoonlike Antichris, ‘n verdrukking van sewe jaar en ‘n letterlike slag van Armageddon wat deur die duisendjarige vrederyk gevolg sal word, te ontken en teë te staan. Daar is selfs gemeentes wat Bybelstudies en reekse dienste oor Openbaring hou, met die spesifieke doel om Openbaring as ‘n troosboek voor te hou. Hulle beweer dat al die oordele wat in Openbaring beskryf is, in die eerste twee eeue vervul is, en dat ons sedertdien in die duisendjarige vrederyk leef waarin Satan gebind is. Hulle beweer ook dat Armageddon net ‘n geestelike stryd iewers in die lug sal wees, gevolglik wag die kerk nou vir die Koning om te kom en dan sal Hy “alle gelowiges” in sy ewige koninkryk inlei. Omdat hulle die opkoms van ‘n letterlike Antichris ontken, sal hulle maklik sy sjarme en bonatuurlike magte ten prooi val wanneer hy as ‘n vredevors op die toneel verskyn en homself as die gemeenskaplike messias van alle gelowe op aarde voordoen. Dit sal sy hoofdoel wees om die mensdom in ‘n nuwe wêreldorde te verenig, waarvan hy die hoof sal wees. Hy sal aan almal wat ‘n verbond met hom sluit, vrede beloof, asook ekonomiese voorspoed en ‘n vrye toevoer van olie uit die Midde-Ooste. Sy voorstelle sal só opspraakwekkend en universeel aanvaarbaar wees dat al die miljoene mense wat voor sy verskyning spoorloos tydens die wegraping verdwyn het, gou vergete sal wees. Die groot ontnugtering vir almal wat agtergebly het, sal 3½ jaar later aanbreek wanneer die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4) en almal se aanbidding opeis. Dié wat weier om dit te doen, sal in die openbaar tereggestel word (Op. 13:15). Dan sal ‘n skielike verderf almal tref wat verwonderd agter die dier aangeloop en hom ook met uitroepe van “Vrede, vrede!” aanbid het (Op. 13:3-4). Die enigste oplossing vir dié ernstige dilemma is om geestelik te ontwaak sodat Christus oor jou kan skyn (Ef. 5:14). Net Hy kan jou siel deur sy Heilige Gees wederbaar om van jou ‘n nuwe mens te maak. Dit is ook sy opdrag dat jy ná jou redding met die Heilige Gees vervul moet word (Ef. 5:18) sodat jy ‘n oorwinnende geestelike lewe kan lei. In hierdie laaste dae moet ons des te meer waak en bid sodat ons nie geestelik aan die slaap raak nie. Moenie jouself aan die versoekings en ongeregtigheid van die wêreld blootstel en sodoende van die Here af wegdryf nie. Hy het gewaarsku dat die liefde van baie van sy dissipels in die laaste dae sal verkoel wanneer die ongeregtigheid toeneem (Matt. 24:12). Hy het ook teen bekommernis en wêreldse vermaak gewaarsku (Luk. 21:34). In ‘n tyd van dreigende oordele nét voor die verwoesting van Jerusalem en die Babiloniese ballingskap van Israel, het die Here vir Barug gesê: “Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here” (Jer. 45:4-5). Ons is in ‘n soortgelyke maar baie ernstiger situasie. Die hele wêreld stuur op ‘n tyd van verdrukking en goddelike oordele af soos wat daar nog nooit was nie. Dit is nie nou die tyd om groot aardse belange na te streef en Mammon te dien nie, maar om jou op ‘n toekoms in die hemel voor te berei, skatte daar bymekaar te maak en ongeredde mense teen die naderende oordele te waarsku. Ons stuur nou op oestyd af wanneer die Here die koring en die onkruid finaal van mekaar gaan skei. Die koring sal in die hemel versamel word en die onkruid met vuur verbrand word. Die toorn van die Here rus oor alle ongereddes (Joh. 3:18-19). Hulle sal al hoe meer rede kry om in benoudheid te verval as hulle nie hul saak met die Here regmaak nie. Profetiese woordHoe kan Christene verseker dat hulle nie, soos die wêreldlinge, ‘n valse hoop nastreef of in vrees en benoudheid verval wanneer dit skielik baie sleg begin gaan nie? Hulle kan dit voorkom deur ‘n onwrikbare geloof in die Here Jesus en om ook met vaste treë in die lig van die profetiese woord te wandel. Petrus sê: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Pet. 1:19). Ware Christene behoort nie in die duister oor hulle tydsomstandighede te wees nie, omdat hulle die Bybelse profesieë het wat lig op die saak werp. Ons behoort te weet wat die redes vir ‘n verslegtende wêreld is, naamlik ‘n wêreldwye rebellie teen die Drie-enige God as voorbereiding vir die verskyning van die Antichris. Die algemene verwerping van ‘n Christelike moraliteit is vir die grootskaalse toename in sonde en ongeregtigheid verantwoordelik. Hierdie toestande sal nie verbeter nie, maar verder versleg. As ons op die verslegtende toestande fokus en dalk self ook aan die ongeregtigheid deelneem, sal ons beslis in ons liefde vir die Here Jesus verkoel. Ons ingesteldheid moet egter in die teenoorgestelde rigting wees. Die Here Jesus het na ‘n geestelike en morele polarisasieproses in die eindtyd verwys toe Hy gesê het: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (Op. 22:11). Ons moet dus hoegenaamd nie deelgenote van hierdie verdorwe wêreld word nie, maar onsself meer en meer daarvan distansieer. Dit is ook nie nodig om deur die wêreld en sy sondes afgetrek te word nie, want “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20). “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het” (Gal. 5:1) en ervaar hoedat Hy jou elke dag meer as ‘n oorwinnaar in hierdie verdorwe wêreld kan maak. Hou jou oë gevestig op Hom wat die Leidsman en Voleinder van jou geloof is (Heb. 12:1-2). Ons wandel nou in die geloof en nie deur aanskouing nie, want ons is net geestelik van die teenwoordigheid van die Here Jesus deur die Heilige Gees bewus. Daar kom egter ‘n tyd wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien, dan sal geloof oorgaan in aanskouing. Dit sal tydens die wegraping gebeur, daarom verwys Paulus na die salige hoop van ons verwagting van Christus se verskyning (Titus 2:13). Dit is die goeie nuus in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë. Koester jy hierdie salige hoop dat die Here Jesus ons kom haal, of is jy dalk onder diegene wat jouself met donker gedagtes besig hou omdat jy op die koms van die Antichris ingestel is. Dan sal jou hart beslis beswaar word deur ‘n negatiewe toekomsverwagting en ook deur die sorge van die lewe. Werk aan jou geloofsverhouding met die Here Jesus. Vra Hom om jou op te bou in die allerheiligste geloof (Judas 1:20) en anker jou voetstappe in sy Woord sodat jy as mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:16-17). Waak daarteen dat jy nie in hierdie tyd van groot aanvegtinge deur die sielevyand deel van die probleem van ‘n teruggevalle Christendom word nie, maar wees eerder onder diegene wat onbeweeglik vas staan op die Rots, Jesus Christus, sodat jy ook vir ander kan bid en hulle geestelik kan ondersteun en bemoedig. |