|
![[Under Construction]](../../images/undercon.gif)
Up
| |
Belydenisskrifte
Die Apostoliese Geloofsbelydenis
Die Geloofsbelydenis van Athanasius
Die Geloofsbelydenis van Nicéa
Die Nederlandse Geloofsbelydenis
Die Heidelbergse Kategismus
Die Dordtse Leerreëls
|
Die
Apostoliese Geloofsbelydenis
(TWAALF ARTIKELS VAN DIE ALGEMENE ONGETWYFELDE,
CHRISTELIKE GELOOF)
Die Christelike
Kerk noem hierdie Belydenisskrif die Apostoliese Geloofsbelydenis,
alhoewel die apostels dit nie opgestel het nie. Dit het reeds vanaf die
2de eeu ontstaan en het later verder ontwikkel.
Ek glo in God
die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe
is en neergedaal het na die hel;
Wat op die derde dag opgestaan het uit die dood;
Opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige
Vader, waarvandaan hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Ek glo in die Heilige Gees;
Ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die
heiliges;
Die vergewing van sondes;
Die opstanding van die liggaam
En 'n ewige lewe. Amen
(Vgl. NGB art.
9) |
|
Die Geloofsbelydenis van
Athanasius
Hierdie
Belydenisskrif word genoem na Athanasius, die verdediger van die
Skriftuurlike leer teen die dwalings van Arius in die 4de eeu, alhoewel dit
betwyfel word of dit Athanasius self was wat dit opgestel het. Dit vertolk
egter die Kerk se standpunt oor die leer van die Drie-eenheid (NGB, art. 9).
-
Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die
algemene geloof moet vashou.
-
As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel
ewig verlore gaan.
-
Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die
Drieheid in die Eenheid eer,
-
sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.
-
Want die persoon van die Vader is 'n ander, dié van die Seun is 'n ander,
dié van die Heilige Gees is 'n ander.
-
Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer
en gelyke ewige heerlikheid.
-
Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.
-
Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is
ongeskape;
-
onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige
Gees;
-
die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.
-
Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,
-
net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar
een Ongeskapene en een Onmeetlike.
-
Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees
almagtig;
-
en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.
-
So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;
-
en tog is daar nie drie gode nie maar een God.
-
Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here;
-
en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.
-
Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon
afsonderlik God en Here te noem,
-
word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te
bely.
-
Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;
-
die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer;
-
die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of
gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.
-
So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns
nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.
-
En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of
minste nie,
-
maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk,
-
sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en
die Drieheid in die Eenheid geëer moet word.
-
Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.
-
Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die
menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.
-
So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus,
die Seun van God, tegelyk God én mens is.
-
Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens
uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;
-
volkome God, volkome mens met 'n redelike siel en menslike vlees,
-
na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.
-
En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een
Christus.
-
Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur
die aanneming van die mensheid in God.
-
Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur
die eenheid van die Persoon.
-
Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens
een Christus,
-
wat ter wille van ons saligheid gely het, na die hel neergedaal het, op
die derde dag uit die dood opgestaan het,
-
na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige
Vader, sit.
-
Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
-
By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan
-
en van hulle eie werke moet rekenskap gee.
-
En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde
gedoen het, in die ewige vuur.
-
Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie,
sal hy nie salig kan word nie.
|
Hierdie
Belydenisskrif word genoem na die plek Nicéa (Klein-Asië) waar daar in die jaar
325 'n Sinode gehou is en waar die dwalings van Arius verwerp is. Die finale
produk het egter eers later verskyn.
Ons glo in een God,
die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en
onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit
die Vader gebore:
Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,
gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader,
deur wie alles tot stand gekom het.
Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en
het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword;
onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;
Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan,
en Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om
die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.
Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun
aanbid en verheerlik.
Hy het deur die profete gespreek.
Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies
en die lewe van die toekomstige bedeling.
Amen.
(Vgl. NGB art. 9)
Die Nederlandse Geloofsbelydenis
In 'n tyd van
groot vervolging van Protestantse Kerke is hierdie Belydenisskrif deur Guido de
Bres opgestel. Dit was in die jaar 1561 in die Suidelike Nederlande (vandag
België). Verskeie Sinodes in die 16de eeu asook die Nasionale Sinode van
Dordrecht (1618-1619) het dit as een van die Belydenisskrifte van die
Gereformeerde Kerke aanvaar.
1. DIE ENIGE GOD
Ons glo almal
met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike
Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik,
oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste
fontein van alles wat goed is.
2 Kor 3:17;
Joh 4:24; Jes 40:14.
2. DIE MIDDELE WAARDEUR ONS
GOD KEN
Ons ken Hom
deur twee middele:
Ten eerste
deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit
is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein,
die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en
goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:12). Al die
dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te
ontneem.
Ten tweede
maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome
aan ons bekend en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is om tot sy
eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.
Ps 19:2; Ef
4:6; 1 Tim 2:5; Deut 6:4; Mal 2:4; 1 Kor 8:4, 6; 1 Kor 12; 1 Kor 1.
3. DIE GESKREWE WOORD VAN GOD
Ons bely dat
hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is
nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe,
gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur sy
besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel
om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy self het met sy vinger die twee
tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en
Goddelike Skrif.
2 Pet 1:21; Ps
102:19; Eks 17:14; (Deut 3); Eks 34:27; Deut 5:22; Eks 31:18.
4. DIE KANONIEKE BOEKE VAN
DIE HEILIGE SKRIF
Ons vat die
Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die
kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk
van God is soos volg:
Die boeke van
die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus,
Numeri en Deuteronomium; die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2
Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die
Psalms van Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier
groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf
klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefánja,
Haggai, Sagaria en Maleagi;
Die boeke van
die Nuwe Testament, nl.: vier evangeliste: Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes;
die Handelinge van die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan
die Romeine, twee aan die Korinthiërs, aan die Galasiërs, die Efésiërs, die
Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timótheüs, aan
Titus, Filémon en die Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die
brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas en
die Openbaring van die apostel Johannes.
5. DIE GESAG VAN DIE HEILIGE
SKRIF
Ons aanvaar al
hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te
rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles
wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou
nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.
Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan
tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
6. ONDERSKEID TUSSEN DIE
KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE
Ons onderskei
hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra,
die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by
die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die
Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en die Draak, die Gebed van Menasse
en die twee boeke van die Makkabeërs.
Die kerk mag
hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke
boeke ooreenstem.
Hulle het
egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets
van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag
nie in die minste aan die gesag van ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.
7. DIE VOLKOMENHEID VAN DIE
HEILIGE SKRIF
Ons glo dat
hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens
vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse
waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook
niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die
Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was daar ook 'n engel uit die hemel, soos
die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die
Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik
dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag
ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike
Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of
oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of
besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles.
Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self
(Ps 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie
onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: "...maar
stel die geeste op die proef of hulle uit God is" (1 Joh 4:1) en: "As iemand na
julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie..." (2
Joh:10).
8. GOD IS EEN WESE EN
ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE
Ons glo
volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige
wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees,
wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die
eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie.
Die Vader is
die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.
Die Seun is
die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.
Die Heilige
Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.
Nogtans volg
uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die
Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy
eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse onderskeie dat hierdie
drie Persoon slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die
Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die
Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie
is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die
Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was
nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid
af in een en dieselfde wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al
drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
9. SKRIFGETUIENIS OOR DIE
LEER VAN DIE DRIE-EENHEID
Ons weet dit
alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge,
veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige
Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie
plekke in die Ou Testament en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie.
Ons kan hulle
onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: En God het gesê:
Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis...En God het die mens geskape
na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape; Genesis 3:22: Toe sê die Here
God: Nou het die mens geword soos een van Ons". Wanneer God sê: Laat Ons mense
maak na Ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is.
En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Welliswaar
sê hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament
enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here
in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: "Dit is my
geliefde Seun" (Mat 3:17). Die Seun is in die water gesien en die Heilige Gees
het Hom in die vorm van 'n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle
gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: "Doop hulle in die Naam van
die Vader en die Seun en die Heilige Gees" (Mat 28:19). In die Evangelie van
Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: "Die Heilige Gees
sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook
sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word" (Luk 1:35); eweneens:
"Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap
van die Heilige Gees sy met julle almal" (2 Kor 13:13) en: "Want daar is drie
wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees en hierdie
drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en
die bloed en die drie is eenstemmig" (1 Joh 5:7, 8).
Ons word op al
hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie persone in een enige Goddelike
Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou
tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die
hemel te geniet.
Verder moet
ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone
met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun
is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons
Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.
Die leer van
die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot
nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige
valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus,
Arius en derglike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.
Daarom aanvaar
ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels,
Nicéa en Atanasius en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit
het.
10. DIE GODHEID VAN JESUS
CHRISTUS
Ons glo dat
Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God
is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want
dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die
ewebeeld van die Persoon van die Vader, ewig saam met Hom, die heerlikheid (Heb
1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en
nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende
getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word. Moses sê dat God die wêreld
geskep het en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord,
wat hy God noem (Gen 1:1 en Joh 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy
Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb
1:2 en Kol 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus
genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê
die profeet Miga: "Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid"
(Miga 5:1) en sê die apostel: "Hy is sonder begin van dae of lewenseinde" (Heb
7:3). Hy is dus ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.
11. DIE GODHEID VAN DIE
HEILIGE GEES
Ons glo en
bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan;
dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat
Hy in orde die derde Persoon van die Drie-eenheid is; dat Hy van een en
dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy
inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.
12. DIE SKEPPING VAN ALLE
DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE
Ons glo dat
die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun,
die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke
skepsel 'n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy skepper
te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid
en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het
ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te
dien.
Sommige van
die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige
verderf verval, maar die ander het deur die genade van God in hulle toestand
volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle
vyande van God sowel as van alles wat goed is.
Soos
moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag
in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom
staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en
verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die
dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp
ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit
hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
13. DIE VOORSIENIGHEID VAN
GOD
Ons glo dat
die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die
toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en
regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God
nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld
daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy
werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en
goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan,
nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike
verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in
aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is
tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy
aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.
Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per
toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse
Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle
skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is
almal getel - en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Mat 10:29, 30).
Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in
toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.
Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God
Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.
14. DIE SKEPPING VAN DIE MENS,
DIE SONDEVAL EN DIE GEVOLGE DAARVAN
Ons glo dat
God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld
en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy
met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem. Maar toe hy in aansien was,
het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself
egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die
sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die
gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde
losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en
daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deurdat hy in al sy
doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike
gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou
nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom van alle
verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat ons het, het immers in duisternis
verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis en die
duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh 1:5), waar die heilige Johannes die
mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die
vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as 'n slaaf
van die sonde is nie en: "'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel
gegee is nie" (Joh 3:27).
Want wie is
daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus
sê: "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie"
(Joh 6:44)?
Wie sal op sy
eie wil roem as hy verstaan dat "...wat die vlees bedink, vyandskap teen God is"
(Rom 8:7)?
Wie sal op sy
eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie
aanneem nie (1 Kor 3:5)?
Kortom: Wie
sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie
bekwaam is om iets uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is
(2 Kor 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit
is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan
uit te voer (Fil 2:13).
Want daar is
geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God
as Christus dit nie in die mens tot stand bring nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: "Sonder
My kan julle niks doen nie" (Joh 15:5).
15. DIE ERFSONDE
Ons glo dat
die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag
uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n oorgeërfde
gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is
hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so
afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te
verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of
volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid
opborrel soos water uit 'n giftige fontein. Dit word die kinders van God ewenwel
nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe.
God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel
sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die
verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word. Ons verwerp hiermee
die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit
navolging ontstaan nie.
16. DIE EWIGE VERKIESING VAN
GOD
Ons glo dat
God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die
verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig
en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit
hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om
hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike
raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die
ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.
17. DIE VERLOSSER DEUR GOD
BELOOF
Ons glo dat
ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het
toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood
gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God
het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig
te maak - sy Seun, wat uit 'n vrou (Gal 4:4) gebore sou word om die kop van die
slang te vermorsel (Gen 3:15).
18. DIE MENSWORDING VAN JESUS
CHRISTUS
Ons bely dat
God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad
vervul het deur sy Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy
het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Fil
2:7) deur werklik 'n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde,
aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van
die Heilige Gees en sonder die toedoen van 'n man verwek. Hy het nie alleen wat
die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook 'n egte menslike
siel om so 'n werklike mens te wees.
Want Hy moes
sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien albei verlore
was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die
menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die
vlees en die bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb 2:14), dat Hy, wat
die vlees betref, 'n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag
van Dawid (Hand 2:30 en Rom 1:3), 'n vrug van die moederskoot van Maria (Luk
1:42), gebore uit 'n vrou (Gal 4:4), 'n spruit van Dawid (Jer 33:15), 'n loot
uit die wortels van Isai (Jes 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb 7:14),
uit die Jode as mens gebore (Rom 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy
die geslag van Abraham aangeneem het in alle opsigte - maar sonder sonde, aan sy
broers gelyk geword het (Heb 2:17 en Heb 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy
waarlik ons Immanuel is, dit wil sê: God met ons.
19. DIE TWEE NATURE VAN
CHRISTUS
Ons glo dat
deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike
natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee
persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur
nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd
ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb 7:3) en die hemel
en aarde vervul, só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie;
dit het skepsel gebly, wat wel 'n begin van dae het, eindig van natuur is en
alles behou wat by 'n ware liggaam behoort.
Hoewel Hy
daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy
menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van
die egtheid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is só saam in een
persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.
Dit wat Hy by
sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus 'n ware menslike gees
wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd
steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het.
Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy 'n
klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe 'n klein tydjie nie geopenbaar nie.
Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die
dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te
kon sterwe.
20. GOD SE REGVERDIGE EN
BARMHARTIGHEID IN CHRISTUS
Ons glo dat
God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur
waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike
natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur die
allerbitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun
betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het en só sy goedheid en barmhartigheid
uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het
immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee en Hy
het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en
die ewige lewe kan hê.
21. DIE VERSOENING DEUR
CHRISTUS
Ons glo dat
Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van
Melgisédek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met
volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare
bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel
het. Daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die
Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos
'n lam na die slagpale gelei en by die misdadigers gereken is (Jes 53: 5, 7, 9);
dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers
onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps 69:5); Hy
het na liggaam en siel as regverdige vir die onregverdiges gely (1 Pet 3:18); Hy
het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos
bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk 22:44) en Hy het uitgeroep:
"My God, my God, waarom het U my verlaat" (Mat 27:26).
Dit alles het
Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met
die apostel Paulus dat ons met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en
wel oor Hom as gekruisigde (1 Kor 2: 2); dat ons alles as waardeloos beskou,
want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Fil 3:8); dat
ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef
te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie offerande
wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb
10:14).
Dit is dan ook
die rede waarom Hy deur die engel van die God Jesus, dit is Verlosser, genoem
is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Mat 1:21).
22. ONS REGVERDIGING DEUR DIE
GELOOF
Ons glo dat
die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis
van hierdie groot geheimenis te verkry. Daar is dus net twee moontlikhede: In
Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit is alles
wél in Hom en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle
saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar
buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou
beteken dat Christus slegs 'n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met
Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke
geregverdig is (Rom 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof
self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons
Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid
is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat
Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in
die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom
geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.
23. ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD
Ons glo dat
ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus
ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Die leer Dawid en Paulus
ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom
die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps 32:2 en Rom 4:6).
Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur
die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom 3:24). Ons hou daarom hierdie
grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken
dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie maar
maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen.
Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al
ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te
bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel
soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te
bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe
mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons -
helaas! - verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: "En gaan
nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig
regverdig nie." (Ps 143:2).
24. ONS HEILIGMAKING EN GOEIE
WERKE
Ons glo dat
hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord
van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom wedergebore
laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die
verslawing van die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie
regverdigmakende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou
maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie,
maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is
daarom onmoontlik dat hierdie geloof niks in die mens tot stand sou bring nie;
ons praat mos nie van 'n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem 'n geloof
wat tot dade oorgaan (Gal 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen
in die werke wat deur God in sy Woord beveel het.
Hierdie werke
is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God
welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke
nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig nog voordat
ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as
die vrug van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.
Ons doen dus
die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon verdien?
Veeleer is ons
goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig
is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om
sy heilige plan uit te voer (Filp 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe
staan: "...wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is
onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen"
(Luk 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit
is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke,
maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk
doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al
kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God
genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer,
heen en weer geslinger sonder enige sekerheid en ons arme gewete sou altyd
gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons
Verlosser steun nie.
25. DIE SEREMONIëLE WET IN
CHRISTUS VERVUL
Ons glo dat
die seremonies en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het
en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet
derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly
nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en
heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van
die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om
ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.
26. CHRISTUS ONS VOORSPRAAK
Ons glo dat
ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en
Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en
in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die
Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees.
Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet
ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons
eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde
onder die skepsels wat vir ons groter liefde het as Jesus Christus nie, Hy
wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir
ons die gestalte van 'n mens en van 'n slaaf aan te neem en aan sy broers in
alle opsigte gelyk geword het (Filp 2:6, 7 en Heb 2:17). As ons dus moes soek na
'n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat
groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons
nog sy vyande was (Rom 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie
besit meer as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die
hemel en op die aarde het (Matt 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die
eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie
gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So
doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle
onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit ook uit hulle skrifte blyk.
Hier moet ook
nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat
ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit
alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy
geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel -
wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer gebrek aan vertroue van ons wil wegneem
- dat Jesus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy 'n
barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk
te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek
word (Heb 2:17, 18). En om ons nog meer moed te gee, sê die apostel vervolgens:
Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het,
naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie
'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle
opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met
vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan
verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word (Heb 4:14 - 16).
Dieselfde apostel sê: Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die
heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus... laat ons dan toetree met 'n
waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid... (Heb 10:19, 22). En voorts:
maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan
nie. Daarom kan Hy ook volkome red dié wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd
leef om vir hulle in te tree (Heb 7:24, 25). Wat kom daar nog kort, aangesien
Christus self sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom tot die
Vader behalwe deur my nie (Joh 14:6)? Waarom sal ons 'n ander voorspraak soek,
aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom
geensins verlaat om 'n ander te neem of liewer om 'n ander een te soek sonder om
hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat
ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse
Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit in die gebed van die
Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal
bid, aan ons gegee sal word (Joh 16:23).
27. DIE ALGEMENE CHRISTELIKE
KERK
Ons glo en
bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat
waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus
verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.
Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar
wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie.
En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar,
alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk
asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike
tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat die voor Baäl gekniel het nie.
Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere
plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en
verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en
dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.
28. ELKEEN IS VERPLIG OM BY
DIE WARE KERK AAN TE SLUIT
Ons glo -
aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos
word en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status
ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie;
inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig
om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal - as lede van een en
dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van
Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die
broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is
dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei
van hulle wat nie aan die kerk behoort nie en hulle by dié vergadering aan te
sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van
regeerders daarteen wees en daarvoor die dood - of lyfstraf oplê. Daarom handel
almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in
stryd met die bevel van God.
29. DIE KENMERKE VAN DIE WARE
EN DIE VALSE KERK
Ons glo dat
ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te
onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag
in die wêreld is, hulle en onregte die naam kerk toe-eien. Ons praat hier nie
van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die
kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat 'n mens die
liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat
beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken,
is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente
suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die
sondes te straf - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord
van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die
enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken en
niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.
Vervolgens,
aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van
die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus
Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid
najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en
hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog
groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die
dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die
bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in
wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.
Wat die valse
kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan
die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie;
dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar
neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus
en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse
kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.
Hierdie twee
kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.
30. DIE REGERING VAN DIE KERK
Ons glo dat
hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons in die Here
ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar is naamlik dienaars of
herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook
ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie
middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral
versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom hou en die armes
en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal
alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies
word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan
Timótheüs gee (1 Tim 3).
1 Kor 4:1, 2;
2 Kor 5:19; Joh 20:23; Hand 26:18; 1 Kor 15:10; Matt 5:14; Luk 10:16; Gal 2:8;
Tit 1:5; 1 Tim 3.
31. DIE AMPSDRAERS VAN DIE
KERK
Ons glo dat
die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle
ampte verkies moet word deur middel van 'n wettige verkiesing deur die kerk,
onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God
leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in
te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping
oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.
Verder, wat
die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag
wees, een en dieselfde mag en gesag, omdat hulle almal dienaars van Jesus
Christus is - die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk.
Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of
geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die
ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat
hulle doen en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met
hulle moet saamleef.
32. DIE ORDE EN TUG VAN DIE
KERK
Ons glo verder
dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n
bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te
handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons
enigste Meester, vir ons ingestel het nie.
En daarom
verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om
God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te
dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar
en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is
nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord
van God.
33. DIE SAKRAMENTE
Ons glo dat
ons goeie God, omdat hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die
sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van
sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand
te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige
sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en
wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons
meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare
saak en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees.
Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei
nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en
al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat
Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die
sakrament van die doop en van die heilige nagmaal van Jesus Christus.
34. DIE HEILIGE DOOP
Ons glo en
bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom 10:4), deur sy bloed
te stort 'n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot
versoening of tot voldoening van sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die
besnydenis, wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan
die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God
opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal
sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot 'n
getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy ons
beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die
Vader en die Seun en die heilige Gees te doop (Matt 28:19).
Hy toon ons
daarmee dat, soos die water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons
gegiet word en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word
wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur
die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en
reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders
van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel
met die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee
waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te
ontkom en in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van
hulle kant dus met die sakrament wat sigbaar is, maar die Here gee wat met die
sakramente aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel,
suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut
en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egter sekerheid van sy Vaderlike
goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al
sy werke.
Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop
moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal
gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en
ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling
van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal
ontvang het nie en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se
kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met
die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens
dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik,
Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se
kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken
en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here
in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die
sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle 'n lam te offer,
wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons
kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit
is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem
(Kol 2:11).
35. DIE HEILIGE NAGMAAL
Ons glo en
bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal
beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en
in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat wedergebore is, tweërlei
lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste
geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels,
wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die woord van die
evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel
nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot
instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood
voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal. Maar om
die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy
vir hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik
Jesus Christus; Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges
wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof toegeëien en ontvang word. Om
hierdie geestelike brood vir ons af te beeld het Christus aardse en sigbare
brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as teken van sy bloed in te stel.
Hy gee ns
daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons
hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna in die lewe hou, net so
waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof - die
ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.
Dit staan dus
bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons
voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons in hierdie
heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons
onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werk van die Heilige Gees
ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons
geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van
Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie
maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al bly Christus altyd aan die
regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die
geloof aan Homself deel te laat hê nie.
Hierdie
feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan
ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe
laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy
liggaam eet en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink.
Verder, hoewel
die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie
beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose ontvang wel die sakrament tot
sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het
Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus,
wat daardeur voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee.
Ten slotte,
ons ontvang hierdie sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van
die volk van God, waar ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood
van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die
Christelike godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy
homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel
drink as hy van hierdie brood eet en van hierdie beker drink nie (1 Kor 11:29).
Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot 'n vurige
liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en
verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng
het, as ontheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die
verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het en ons sê dieselfde as
wat hulle daarvan gesê het.
36. DIE BURGERLIKE OWERHEID
Ons glo dat
ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste
en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van
wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in
bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié
doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te
straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om
aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die
heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens
teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die
koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord en die evangelie orals te
laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord
beveel.
Verder is
elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om
hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en
onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van
God in stryd is nie en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al
hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n
rustige en stil lewe kan lei (1 Tim 2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers en
ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en die
regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die
gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder mense
ingestel het, versteur.
37. DIE LAASTE OORDEEL, DIE
OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE
Daarom is die
gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend
en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want
dat sal hulle volle verlossing voltooi word en hulle sal daar die vrugte ontvang
van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken
word en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die
goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het.
Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning
van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te
word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt
25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer
gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt 10:23) en
sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op 21:4).
Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede
as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as
'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die
hart van 'n mens nooit sou kon bedink nie.
Daarom verwag
ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus
Christus, ons Here, ten volle te geniet.
|
Die Heidelbergse
Kategismus
Die
Heidelbergse
Kategismus is in
1563
in Heidelberg, Duidsland goedgekeur nadat ‘n Sinode vir 5 dae daaroor
samesprekings gevoer het. Op die latere Sinode van Dordtrecht (1618-1619) is
dit as belydenisskrif goedgekeur en is daar besluit om Sondae tydens die
tweede erediens die Skrif aan die hand van die Heidelbergse Kategismus te
verklaar.
Vraag 1: Wat is jou
enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan
myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c).
Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit
alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so 'n wyse dat
sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g).
Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my
ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig
en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a)Rom
14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh
1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39;
10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28.
(i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
Vraag 2: Hoeveel dinge
moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is
(b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten
derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a)Matt
11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41; Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10. (c)
Joh 17:3; Hand 4:12 10:43. (d) Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet
2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15:
Vraag 3: Waaruit ken jy
jou ellende?
Antwoord: Uit
die wet van God (a).
(a)Rom 3:20.
Vraag 4: Wat eis die wet
van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet
die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou
hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee
gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee
gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a)Deut 6:5;
Lev 19:18; Mark 12:30; Luk 10:27
Vraag 5: Kan jy dit alles
ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat
(b).
(a)Rom
3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21;
Jer 17:9; Rom 7:23.
Vraag 6: Het God die mens
dan so sondig en verkeerd geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit
beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg
kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon
lewe om Hom te loof en te prys (c).
a)Gen 1:31. (b) Gen I:26, 27. (c) Ef 4:24; Kol 3 2 Kor 3:18.
Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en
Eva, in die paradys (a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons
almal in sonde ontvang en gebore word (b).
(a)Gen
3; Rom 5:12, 18, 19. (b) Ps 51:7; Gen 5:3
Vraag 8: Is ons so
verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle
kwaad geneig is?
Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (b).
(a)Gen
8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35; Joh 3:6; Jes 53:6. (b) Joh 3:3, 5;1
Kor 12:3; 2 Kor 3:5.
Vraag 9: Doen God die mens
dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?
Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen
(b). Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die
aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van
hierdie gawes beroof.
(a)Ef
4:24. (b) Gen 3:13; 1 Tim 2:13, 14. (c) Gen 3:6; Rom 5:12.
Vraag 10: Wil God hierdie
ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?
Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik (a) sowel oor
die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en
in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf (b). Hy het immers gesê:
Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die
wet om dit te doen nie (c).
(a)Gen
2:17; Rom 5:12. (b) Ps 50:21; 5:6; Nah 1:2; Eks 20:5; 34:7; Rom
1:18; Ef 5:6. (c) Deut 27:26; Gal 3:10.
Vraag 11: Is God dan nie
ook barmhartig nie?
Antwoord: God is wel barmhartig (a); maar Hy is ook regverdig (b). Daarom
eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van
God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word - dit is met
die ewige straf aan liggaam en siel.
(a)Eks
34:6, 7; 20:6. (b) Ps 7:10; Eks 20:5; 23:7; 34:7; Ps 5:5, 6; Nah 1:2,
3.
Vraag 12: Aangesien ons
volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien
het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?
Antwoord: God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word (a). Daarom
moet ons òf deur onsself òf deur 'n ander ten volle betaal (b).
(a)Gen
2:27; Eks 23:7; Eseg 18:4; Matt 5:26; 2 Tess 1:6; Luk 16:2. (b) Rom
8:4.
Vraag 13: Kan ons deur
onsself betaal?
Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons skuld elke dag nog groter (a).
(a)Job
9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3; Matt 6:12; 18:25; 16:26.
Vraag 14: Kan enige ander
skepsel vir ons betaal?
Antwoord: Nee, want Ten eerste wil God aan geen ander skepsel die skuld
straf wat die mens gemaak het nie (a). Ten tweede kan geen gewone skepsel
die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels
daarvan verlos nie (b).
(a)Eseg 18:4;
Gen 3:17. (b) Nah 1:6; Ps 130:3.
Vraag 15: Hoe 'n middelaar
en verlosser moet ons dan soek?
Antwoord: So een wat 'n ware (a) en regverdige (b) mens is, maar nogtans
ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is
(c).
(a)1 Kor 15:21: (b) Heb 7:26. (c) Jes 7:14; 9:5; Jer 23:6; Luk 11:22.
Vraag 16: Waarom moet hy
'n ware en regverdige mens wees?
Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat
gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar
is, kan nie vir ander betaal nie (b).
(a)Eseg
18:4, 20; Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Heb 2:14-16. (b) Heb2:26, 27; Ps 49:8;
1 Pet 3:18:
Vraag 17: Waarom moet hy
terselfdertyd ware God wees?
Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God
(b) aan sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe
te kan verwerf en teruggee (d).
(a)Jes
9:5; 63:3; (b) Deut 4:24; Nah 1:6; Ps 130:3. (c) Jes 53:4, 11; (d) Jes
53:5, 11.
Vraag 18: Wie is hierdie
Middelaar wat terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is (c)?
Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat God vir ons tot wysheid,
geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het (e).
(a)1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes 9:6; Jer 23:6; Mal 3:1: (b)
Luk 1:42; 2:6, 7; Rom 1:3; 9:5; Fil 2:7; Heb 2:14, 16, 17; 4:15. (c)
Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk 1:35; Joh 8:46; Heb 4:15; 7:26; 1 Pet
1:19; 2:22, 3:18. (d) l Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16; Luk 2:11; Heb
2:9..(e) 1 Kor 1:30.
Vraag 19: Waaruit weet jy
dit?
Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys
bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b)
en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die
wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul
(e).
(a)Gen
3:15: (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6,
22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Hand 10:43;
3:22-24; Rom 1:2; Heb 1:1. (d) Heb 10:1, 7; Kol 2:7; Joh 5:46. (e) Rom
10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.
Vraag 20: Word al die
mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
Antwoord: Nee; (a); maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf
word en al sy weldade aanneem (b).
(a)Matt
7:14; 22:14. (b) Mark 16:16; Joh 1:12; 3:16, 18, 36; Jes 53:11; Ps
2:12; Rom 11:20; 3:22; Heb 4:3; 5:9; 10:39; 11:6.
Vraag 21: Wat is 'n ware
geloof?
Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek
alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie,
maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie
in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my
uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e),
vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(a)Jak
2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak
1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil
1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14.
(e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb
10:10, 38; Gal 2:16.
Vraag 22: Wat moet 'n
Christen glo?
Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die
artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak
leer.
(a)Joh
20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.
Vraag 23: Hoe lui die
artikels?
Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die
hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons
Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
(4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe
is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan
het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand
van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en
die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan 'n
heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10)
die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n
ewige lewe.
Vraag 24: Hoe word hierdie
artikels ingedeel?
Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons
skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God
die Heilige Gees en ons heiligmaking.
Vraag 25: Terwyl daar maar
tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die
Vader, Seun en Heilige Gees (a)?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie
onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.
(a)Deut
6:4; Ef 4:6; Jes 44:6; 45:5; 1 Kor 8:4, 6. (b) Jes 61:1; Luk 4:18;
Gen 1:2, 3; Ps 33:6; Jes 48:16; Matt 3:16, 17; 28:19; 1 Joh 5:7; Jes
6:1, 3; Joh 14:26; 15:26; 2 Kor 13:13; Gal 4:6; Ef 2:l8; Tit 3:5, 6.
Vraag 26: Wat glo jy as jy
sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en
die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die
hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy
ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy
Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie
daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal
versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my
beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f)
en ook as 'n getroue Vader wil doen (g).
(a)Gen
1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes
45:7. (b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh
1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk
12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33;
7:9-11.
Vraag 27: Wat verstaan jy
onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy
hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer
(b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare,
voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles,
ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a)Hand
17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer
5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.
Vraag 28: Wat baat dit ons
dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid
onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar
(b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons
getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal
skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy
wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a)Rom
5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c)
Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand
17:2.
Vraag 29: Waarom word die
Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders
enige saligheid te soek of te kry is nie (b).
(a)Matt
1:21; Heb 7:25. (b) Hand 4:12; Joh 15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1
Joh 5:11.
Vraag 30: Glo die mense
wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders
soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?
Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as
Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a). Slegs een van
twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie 'n volkome Verlosser nie, of
die wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat
vir hulle saligheid nodig is (b).
(a)1 Kor 1:13, 30, 31; Gal 5:4..(b) Heb 12:2; Jes 9:6; Kol 1:19, 20;
2:10; 1 Joh 1:7.
Vraag 31: Waarom word Hy
Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die
Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan
ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle
bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die
enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur
by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord
en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar
(g).
(a)Ps
45:8; Heb 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18. (b) Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37;
Jes 55:4. (c) Joh 1:18; 15:15. (d) Ps 110:4. (e) Heb 10:12, 14; 9:12,
14, 28. (f) Rom 8:34; Heb 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, l0. (g) Ps 2:6;
Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.
Vraag 32: Waarom word jy
'n Christen genoem (a)?
Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur
deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n
lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye
gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in
ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a)Hand
11:26. (b) 1 Kor 6:15. (c) 1 Joh 2:27; Hand 2:17. (d) Matt 10:32; Rom
10:10. (e) Rom I2:1; 1 Pet 2:5, 9; Op 1:6; 5:8, 10. (f) 1 Pet 2:11;
Rom 6:12, 13;. Gal 5:16, 17; Ef 6:11; 1 Tim 1:18, 19. (g) 2 Tim 2:12;
Matt 25:34.
Vraag 33: Waarom word
Christus die eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook kinders van
God is?
Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is (a),
terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is (b).
(a)Joh
1:14; Heb 1:1, 2; Joh 3:16;1 Joh 4:9; Rom. 8:32. (b) Rom 8:16; Joh
1:12; Gal 4:6; Ef 1:5, 6.
Vraag 34: Waarom noem jy
Hom ons Here?
Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle
heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare
bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).
(a)1 Pet 1:18, 19; 2:9; 1 Kor 6:20; 1 Tim 2:6; Joh 20:28.
Vraag 35: Wat beteken:
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?
Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is (a) en bly
(b), die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria (c)
deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het (d). So is Hy
tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid (e), in alles aan sy broers gelyk
(f), behalwe die sonde (g).
(a)1 Joh 5:20; Joh l:l; 17:3; Rom 1:3, Kol 1:15. (b) Rom 9:5. (c) Gal
4:4; Luk 1:31, 42, 43. (d) Matt 1:20; Luk 1:35. (e) Rom 1:3; Ps
132:11; 2 Sam 7:12; Luk 1:32; Hand 2:30. (f) Fil 2:7; Heb 2:14, 17.
(g) Heb 4:15.
Vraag 36: Watter nut
verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome
heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).
(a)Heb
7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18; 1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes
53:11; Ps 32:1.
Vraag 37: Wat verstaan jy
onder die woordjie: gely?
Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde,
maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die
hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy lyding as die enigste
versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos
(c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe
verwerf (d).
(a)Jes
53:4; 1 Pet 2:24; 3:18; 1 Tim 2:6. (b) Jes 53:10; Ef 5:2; 1 Kor 5:7;
1 Joh 2:2; Rom 3:25; Heb 9:28; 10:14. (c) Gal 3:13; Kol 1:13; Heb
9:12; 1 Pet 1:18, 19. (d) Rom 3:25; 2 Kor 5:21; Joh 3:16; 6:51; Heb
9:15; 10:19.
Vraag 38: Waarom het Hy
onder die regter Pontius Pilatus gely?
Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word
(a) en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons
moes kom (b).
(a)Joh
18:38; Matt 27:24; Luk 23:14, 15; Joh 19:4. (b) Ps 69:5; Jes 53:4, 5;
2 Kor 5:21; Gal 3:13.
Vraag 39: Sit daar iets
meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het
nie:
Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my
gerus het, op Hom geneem het (a), omdat die kruisdood deur God vervloek is
(b)
(a)Gal
3:13. (b) Deut 21:23.
Vraag 40: Waarom was dit
noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as
deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).
(a)Gen 2:17.
(b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.
Vraag 41: Waarom is Hy
begrawe?
Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).
(a)Hand
13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53; Joh 19:38.
Vraag 42: As Christus dan
vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord: Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n
afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a)Mark
8:37; Ps 49:8. (b) Fil 1:23; Joh 5:24; Rom 7:24.
Vraag 43: Watter nut
verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en
begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie,
(b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).
(a)Rom
6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1.
Vraag 44: Waarom volg
daar: en neergedaal het na die hel?
Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself
volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid
en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy
onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur
sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely.het.
(a)Jes
53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3; Matt 26:38; 27:46 Heb 5:7
Vraag 45: Watter nut het
die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons
die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a).
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Ten
derde is die opstanding van Christus vir ons n betroubare waarborg van ons
salige opstanding (c).
(a)Rom
4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor 15:16. (b) Rom 6:4; Kol 3:1, 5; Ef2:5, 6. (c) 1
Kor 15:20, 21.
Vraag 46: Wat verstaan jy
onder: wat opgevaar het na die hemel?
Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die
hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten goede (b) totdat Hy terugkom om
reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het (c).
(a)Hand
1:9; Mark 16:19; Luk 24:51: (b) Heb 9:24; 4:14; Rom 8:34; Kol 3:1.
(c) Hand 1:11; Matt 24:30.
Vraag 47: Is Christus dan
nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?
Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref,
is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en
Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).
(a)Matt
28:20. (b) Heb 8:4; Matt 26:11; Joh 16:28; 17:11; Hand 3:21. (c) Joh
14:18; Matt 28:20.
Vraag 48: Maar as die
mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in
Christus dan nie van mekaar geskei nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word
nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel
buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik
daarmee verenig bly.
(a)Jer
23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.
Vraag 49: Watter nut het
die hemelvaart van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is
(a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare
waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem
(b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se
krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van
God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).
(a)1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16;
16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.
Vraag 50: Waarom word daar
bygevoeg: en sit aan regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof
van sy Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles regeer (b).
(a)Ef
1:20-23; Kol 1:18. (b) Matt 28:18; Joh 5:22.
Vraag 51: Watter nut bring
hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons,
sy lede, uitstort (a). Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande
beskerm en bewaar (b).
(a)Hand
2:33; Ef4:8. (b) Ps 2:9; 110:1, 2; Joh 10:28: Ef 4:8.
Vraag 52: Hoe word jy
getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te
oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met
gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my
plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem
het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp
(b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap
en heerlikheid saamneem (c).
(a)Fil
3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2
Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.
Vraag 53: Wat glo jy van
die Heilige Gees?
Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God
(a). Ten tweede is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur 'n ware geloof
deel laat kry aan Christus en al sy weldade, (c) my troos (d) en ewig by my
bly (e).
(a)1 Joh 5:7; Gen 1:2; Jes 48:16;1 Kor 3:16; 6:19; Hand 5:3, 4. (b) Gal
4:6; Matt 28:19, 20; 2 Kor 1:22 ; Ef 1:13. (c) Gal 3:14;1 Pet 1:2;1 Kor
6:17. (d) Joh 15:26; Hand 9:31. (e) Joh 14:16;1 Pet 4:14.
Vraag 54: Wat glo jy van
die heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom
'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord
(d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af
tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan 'n
lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).
(a)Ef
5:26; Joh 10:11; Hand 20:28; Ef 4:11-13. (b) Gen 26:4; Op 5:9. (c) Rom
8:29; Ef 1:10-13. (d) Jes 59:21; Rom 1:16; 10:14-l7; Ef 5:26. (e) Hand
2:42, Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes 59:21; 1 Kor 11:26. (g) Matt
16:18; Joh 10:28-30; Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4, 19-21; 2 Kor 13:5; Rom
8:l0. (i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28; 1 Joh 2:19; 1 Pet 1:5.
Vraag 55: Wat verstaan jy
onder die gemeenskap van die heiliges?
Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik,
as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel
het (a). Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met
vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).
(a)1 Joh 1:3; Rom 8:32; 1 Kor 12:12, I3; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21;
13:1, 5; Fil 2:4-8.
Vraag 56: Wat glo jy van
die vergewing van die sondes?
Antwoord:. Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my
sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer
(a) wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus
skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie (c).
(a)1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19. (b) Rom 7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19;
Ps 103:3, 10, 12. (c) Joh 3:18; 5:24.
Vraag 57: Watter troos gee
die opstanding van die liggaam aan jou?
Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy
Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my,
deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die
heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).
(a)Luk
16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.
Vraag 58: Watter troos
skep jy uit die artikel van die ewige lewe?
Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in
my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n
saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens
ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys (b).
(a)2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.
Vraag 59: Maar wat baat
dit jou nou dat jy dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die
ewige lewe is (a).
(a)Hab
2:4; Rom 1:17; Joh 3:36.
Vraag 60: Hoe is jy
regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla
my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en
nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad
geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant
(e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en
heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde
gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat
Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover
ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.
(a)Rom
3:21, 22, 24; 5:1, 2; Gal 2:16; Ef 2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c)
Rom 7:23. (d) Rom 4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit 3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22.
(f) Rom 3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1 Joh 2:1. (i) 2 Kor 5:21. (j)
Rom 3:22; Joh 3:18.
Vraag 61: Waarom sê jy dat
jy slegs deur die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God
aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en
heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie
anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).
(a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1 Joh 5:10.
Vraag 62: Maar waarom kan
ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor die oordeel van God kan bestaan,
heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen
moet stem (a) en omdat ook ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak
en met sondes besmet is (b).
(a)Gal
3:10; Deut 27:26: (b) Jes 64:6.
Vraag 63: Verdien ons
goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die
toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie beloning word nie uit verdienste nie, maar uit genade
gegee (a).
(a)Luk
17:10.
Vraag 64: Maar maak
hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie?
Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof
in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie
(a).
(a)Matt
7:18; Joh 15:5.
Vraag 65: Terwyl ons slegs
deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n
geloof dan vandaan?
Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging
van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die
sakramente (b).
(a)Ef
2:8; 6:23; Joh 3:5; Filp 1:29. (b) Matt 28:19; 1 Pet 1:22-23.
Vraag 66: Wat is
sakramente?
Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om
ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat
verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God vanweë die enige
offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes
en die ewige lewe uit genade skenk (a).
(a)Gen
17:11; Rom 4:11; Deut 30:6; Lev 6:25; Heb 9:7-9, 24; Eseg 20:12; Jes
6:6, 7; 54:9.
Vraag 67 : Is die Woord en
die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus
wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?
Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en
verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer
van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is (a).
(a)Rom
6:3; Gal 3:27.
Vraag 68: Hoeveel
sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?
Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.
Vraag 69: Hoe word jy in
die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van
Christus aan die kruis jou ten goede kom?
Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby
het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die
onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as wat ek
uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.
(a)Matt
28:19. (b) Matt 28:19; Mark 16:16; Hand 2:38; Joh 1:33; Matt 3:11; Rom
6:3, 4. (c) 1 Pet 3:21; Mark 1:4; Luk 3:3.
Vraag 70: Wat beteken dit
om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?
Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang
ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir
ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede
van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer
afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).
(a)Heb
12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33;
3:5; 1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.
Vraag 71: Waar het
Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as
wat ons met die doopwater gewas word?
Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui: "Gaan dan
heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees..." (Matt 28:19); en: "Hy wat glo en
hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel
word" (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die
doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Tit
3:5; Hand 22:16).
Vraag 72: Is die
uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?
Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige
Gees reinig ons van alle sondes (b).
(a)Matt
3:11; 1 Pet 3:21; Ef 5:26. (b) 1 Joh 1:7; 1 Kor 6:11.
Vraag 73: Waarom noem die
Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van
die sondes?
Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik
daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos
die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral
deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik
geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water
gewas word.
Vraag 74: Moet die jong
kinders ook gedoop word?
Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van
God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan
die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes
(b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet
hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk
ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is
dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan die
nuwe Verbond die doop ingestel is (f).
(a)Gen
17:7. (b) Matt 19:14. (c) Luk 1:15; Ps 22:11; Jes 44:1-3; Hand 2:39.
(d) Hand 10:.47. (e) Gen 17:14. (f) Kol 2:11-I3.
Vraag 75: Hoe word jy in
die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige
offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?.
Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van
hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy
beloof (a), Ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer
en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die
brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten
tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net
so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker
van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit
die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.
(a)Matt
26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20; 1 Kor 10:16, 17; 11:23-25;
12:13.
Vraag 76: Wat beteken dit
om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is,
te drink?
Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n gelowige hart die hele lyding en
sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die
ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees,
wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde
liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy
gebeente is (c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde.
Dit wil se dat ons deur een Gees - soos die ledemate van die liggaam deur
een siel - ewig lewe en geregeer word (e).
(a)Joh
6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6:55, 56. (c) Ef 5:29, 30;
3:16; 1 Kor 6:15; 1 Joh 3:24; 4:13. (d) Kol 3:1; Hand 3:21; 1 Kor
11:26. (e) Joh 6:57; 15:1-6; Ef4:l5, l6.
Vraag 77: Waar het
Christus beloof dat Hy die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal
voed en verkwik as wat hulle van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie
beker drink?
Antwoord: By die instelling van die nagmaal wat soos volg lui (a): "In die
nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus brood geneem, en nadat Hy
gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: `Neem, eet, dit is my liggaam wat
vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná
die ete met die woorde: Hierdie beker is die nuwe vtestament in my bloed;
doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so
dikwels as julle van hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig
julle die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11:23-26). Hierdie
belofte word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: "Die beker van danksegging
wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van
Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die
liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam,
want ons het almal deel aan die een brood" (1 Kor 10:16, 17).
(a)Matt
26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19, 20.
Vraag 78: Verander die
brood en wyn dan in die werklike liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by die doop nie in die bloed van
Christus verander of die afwassing van sonde self is nie, maar slegs 'n
Goddelike teken en versekering daarvan (b), so verander die brood by die
nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c). Ooreenkomstig die
aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die liggaam van
Christus genoem (d).
(a)Matt
26:29. (b) Ef 5:26; Tit 3:5. (c) 1 Kor 10:16; 11:26. (d) Gen 17:10,
11; Eks 12:11, 13; 13:9; 1 Pet 3:21; 1 Kor 10:3, 4.
Vraag 79: Waarom noem
Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe
Testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die
liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom Christus so sê: Hy wil ons
daarmee leer dat, soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy
gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons
siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie sigbare tekens
en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking van die
Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie
heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy
verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof
ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten
volle betaal het.
(a)Joh
6:55. (b) 1 Kor 10:16.
Vraag 80: Wat is die
onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?
Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons
sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self
eens en vir altyd aan die kruis volbring het (a), en dat ons deur die
Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy menslike natuur in
die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar deur ons aanbid
wil word (d). Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes en die
gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie,
tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word.
Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe
daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as 'n
verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus en 'n afgodery
wat vervloek is (e).
(a)Heb
10:10, 12; 7:26, 27; 9:12, 25; Joh 19:30; Matt 26:28; Luk 22:19. (b) 1
Kor 10:16, 17; 6:17. (c) Joh 20:17; Kol 3:1; Heb 1:3; 8:1. (d) Matt
6:20, 21; Joh 4:21; Luk 24:52; Hand 7:55; Kol 3:1; Fil 3:20; 1 Tess
1:10. (e) Heb 9:26;10:12, 14.
Vraag 81: Wie moet na die
nagmaalstafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n afkeer van hulleself het, maar
tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat
nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om
hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter.
Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet
en drink 'n veroordeling oor hulleself (a).
(a)1 Kor 11:28; 10:19-22.
Vraag 82: Moet die mense
ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat
hulle ongelowig en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor
die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die
bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels
van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van
hulle lewe bewys.
(a)1 Kor 11:20, 34; Jes 1:11; 66:3; Jer 7:21; Ps 50:16.
Vraag 83: Wat is die
sleutels van die koninkryk van die hemel?
Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike
tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die
gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.
Vraag 84: Hoe word die
koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop-
en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik
en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik
deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as
wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem.
Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn
van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer
nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in
hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.
(a)Joh
20:21-23; Matt 16:19.
Vraag 85: Hoe word die
koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra
en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers
herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of
skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat
deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie
aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die
heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God
self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van
Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof
en bewys (a).
(a)Matt
18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8.
Vraag 86: Waarom moet ons
nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant
alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?
Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook
deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe
bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b)
word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid
kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus
kan wen (d).
(a)Rom
6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12.
(c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.
Vraag 87: Kan die mense
dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle
nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar,
egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die
koninkryk van God sal beërwe nie (a).
(a)1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.
Vraag 88: Uit hoeveel dele
bestaan die ware bekering van die mens?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding
van die nuwe mens (a).
(a)Rom
6:1, 4-6; Ef4:22-24; Kol 3:5, 6, 8-10; 1 Kor 5:7; 2 Kor 7:10.
Vraag 89: Wat is die
afsterwing van die ou mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes
vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug
(a).
(a)Rom
8:13; Joël 2:13; Hos 6:1.
Vraag 90: Wat is die
opstanding van die nuwe mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike vreugde in God deur Christus (a) en 'n lus en
liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe (b).
(a)Rom
5:1; 14:17; Jes 57:15. (b) Rom 6:10, 11; Gal 2:20.
Vraag 91: Wat is goeie
werke?
Antwoord: Slegs die wat uit 'n ware geloof (a), volgens die Wet van God
(b), tot sy eer gedoen word (c), en nie die wat op ons goeddunke of op
oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d).
(a)Rom
14:23. (b) Lev 18:4; 1 Sam 15:22; Ef 2:10. (c) 1 Kor 10:31. (d) Eseg
20:18, 19; Jes 29:13; Matt 15:7-9.
Vraag 92: Hoe lui die Wet
van die Here?
Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut
5:6-21): Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis
uitgelei het.
Die eerste gebod
Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Die tweede gebod
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die
hemel is, of van wat onder die aarde is of van wat in die water onder die
aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en nie dien nie, want Ek,
die Here jou God, is 'n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek
aan die kinders, aan die derde en die vierde geslag van die wat My haat. En
Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie
onderhou.
Die derde gebod
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here
sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
Die vierde gebod
Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou
werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die Here, dan mag jy geen
werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou
diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in
ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat
daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die sabbatdag
geseën en dit geheilig.
Die vyfde gebod
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat
die Here jou God aan jou gee.
Die sesde gebod
Jy mag nie doodslaan nie.
Die sewende gebod
Jy mag nie egbreek nie.
Die agste gebod
Jy mag nie steel nie.
Die negende gebod
Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie.
Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou
begeer nie, of sy dienskneg, of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets
wat van jou naaste is nie.
Vraag 93: Hoe word hierdie
gebooie ingedeel?
Antwoord: In twee tafels (a), waarvan die eerste in vier gebooie ons leer
hoe ons ons teenoor God moet gedra, die tweede in ses gebooie, wat ons aan
ons naaste verskuldig is (b).
(a)Deut
4:13; Eks 34:28; Deut 10:3, 4. (b) Matt 22:37, 40.
Vraag 94: Wat gebied God
in die eerste gebod?
Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery
(a), towery, waarsêery, bygeloof (b), aanroeping van heiliges of ander
skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer
ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle nederigheid (f)
en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag. Ek
moet Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende sien
ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel
(1).
(a)1 Joh 5:21; 1 Kor 6:10; 10:7, 14. (b) Lev 19:31 Deut 18:9, 10, (c)
Matt 4:10; Op 19:10; 22:8, 9. (d) Joh 17:3. (e) Jer 17:5, 7. (f) 1 Pet
5:5. (g) Heb 10:36; Kol l:11; Rom 5:3, 4; I Kor 10:10; Fil 2:14. (h)
Ps 104:27; Jes 45:7; Jak 1:17. (i) Deut 6:5; Matt 22:37. (j) Deut 6:2;
Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10; Matt 10:28. (k) Matt 4:10; Deut 10:20. (1)
Matt 5:29; 10:37; Hand 5:29.
Vraag 95: Wat is afgodery?
Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord
geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou
vertroue stel (a).
(a)Ef
5:5; 1 Kron 16:26; Fil 3:19; Gal 4:8; Ef 2:12; 1 Joh 2:23; 2 Joh 9;
Joh 5:23.
Vraag 96: Wat eis God in
die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen
ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).
(a)Jes
40:18, 19, 25; Deut 4:15, 16; Rom 1:23; Hand 17:29. (b) 1 Sam 15:23;
Deut 12:30; Matt 15:9.
Vraag 97: Mag ons dan glad
nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die
skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle
afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).
(a)Jes
40:25. (b) Eks 34:17; 23:24; 34:13; Num 33:52.
Vraag 98: Mag ons beelde
as "boeke van die leke" in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy
Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging
van sy Woord laat onderrig (b).
(a)Jer
10:8; Heb 2:18. (b) Rom 10:14, 15, 17; 2 Pet 1:19; 2 Tim 3:16, 17.
Vraag 99: Wat eis die
derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek
(a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons
nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes
skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders
as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f),
aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a)Lev
24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr
29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps
50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.
Vraag 100: Is dit dan so
'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat
God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan
en verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as
die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood
te straf (b).
(a)Spr
29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
Vraag 101: Mag 'n mens ook
godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit
vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van
God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die
Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het
dit reg gebruik (b).
(a)Deut
6:13; 10:20; Jes 48:1; Heb 6:16. (b) Gen 21:24; 31:53; Jos 9:15; 1
Sam 24:23; 2 Sam 3:35; 1 Kon 1:29; Rom 1:9; 9:1; 2 Kor 1:23.
Vraag 102: Mag 'n mens ook
by die heiliges of by ander skepsels sweer?
Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te sweer, beteken dat ek God aanroep as
die enigste kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my
te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom geen skepsel toe nie (b).
(a)2 Kor l:23; Rom 9:1. (b) Matt 5:34-36; Jak 5:12.
Vraag 103: Wat gebied God
in die vierde gebod?
Antwoord: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die
godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek veral op die rusdag
ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor
(c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die
Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe
van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin
ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).
(a)Tit
1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11;
68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim
2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23.
Vraag 104: Wat eis God in
die vyfde gebod?
Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle
eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die
verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke
geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).
(a)Ef
6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks
21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol
3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21:
Vraag 105: Wat eis God in
die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer,
haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of
gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat
vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar
begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a)Matt
5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c)
Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom
13:4.
Vraag 106: Praat hierdie
gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan
(a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku.. Dit alles is
vir Hom heimlike moord (d).
(a)Spr
14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh
3:15.
Vraag 107: Het ons die
gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê
is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons
ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig,
vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom
kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande
goed doen (d).
(a)Matt
22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18;
Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44,
45; Rom 12:20.
Vraag 108: Wat leer die
sewende gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit
hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel
binne as buite die huwelik (d).
(a)Lev
18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
Vraag 109: Verbied God in
hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees
is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle
onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat 'n mens
daartoe kan verlei (c).
(a)Ef
5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
Vraag 110: Wat verbied God
in die agste gebod?
Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal (a) en roof (b) wat die
owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en
liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry
(c). Dit kan gebeur met geweld of 'n skyn van reg, soos deur die vervalsing
van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, (d), geld, deur woeker (e) of
enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle
misbruik en verkwisting van sy gawes (g).
(a)1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1. (c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d)
Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f)
1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.
Vraag 111: Maar wat gebied
God jou in hierdie gebod?
Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder
en hom so behandel soos ek wil he dat hy my moet behandel (a). Daarby moet
ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help
(b).
(a)Matt
7:12. (b) Ef 4:28.
Vraag 112: Wat eis die
negende gebod?
Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde
verdraai (b), nie 'n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand
onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en
bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware
toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander
handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely
(g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en
bevorder (h).
(a)Spr
19:5, 9; 21:28. (b) Ps 15:3; 50:19, 20. (c) Rom 1:30. (d) Matt 7:1;
Luk 6:37. (e) Joh 8:44. (f) Spr 12:22; 13:5. (g) 1 Kor 13:6; Ef 4:25.
(h) 1 Pet 4:8.
Vraag 113: Wat eis die
tiende gebod van ons?
Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God
mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van
alle sonde wees en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê (a).
(a)Rom
7:7.
Vraag 114: Maar kan die
wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?
Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie
lewe is, nog maar 'n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog
so dat hulle met 'n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige
nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe (b).
(a)1 Joh 1:8; Rom 7:14, 15; Pred 7:20; 1 Kor 13:9. (b) Rom 7:22; Ps
1:2.
Vraag 115: Waarom laat God
die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie
lewe kan onderhou nie?
Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur
hoe langer hoe beter kan leer ken (a), en met groter verlange na die
vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek (b). Ten
tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige
Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag
word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).
(a)Rom
3:20; 1 Joh 1:9; Ps 32:5. (b) Matt 5:6; Rom 7:24, 25. (c) 1 Kor 9:24;
Fil 3:12-14.
Vraag 116: Waarom is die
gebed vir die Christene nodig?
Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van
ons eis (a): En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil
gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor
dank (b).
(a)Ps
50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1 Tess 5:17.
Vraag 117: Hoe moet 'n
gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?
Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord
geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel
het om te bid (c). Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig
ken (d) sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig (e). Ten derde het
ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie,
tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g) soos Hy dit vir
ons in sy Woord beloof het (h).
(a)Op
19:10; Joh 4:22-24. (b) Rom 8:26; 1 Joh 5:14; Jak 1:5. (c) Joh 4:24;
Ps 145:18. (d) 2 Kron 20:12. (e) Ps 2:11; 34:19; Jes 66:2. (f) Rom
10:14; Jak 1:6. (g) Joh 14:13;16:23; Dan 9:18. (h) Matt 7:8; Ps 27:8.
Vraag 118: Wat het God ons
beveel om van Hom te bid?
Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat
het, in die gebed wat Hy self aan ons geleer het (a). (a) Jak 1:17; Matt
6:33.
Vraag 119: Hoe lui hierdie
gebed?
Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u
koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons ons skulde, soos ons ook
ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons
van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die
heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
(a)Matt
6:9-13; Luk 11:2-4.
Vraag 120: Waarom het
Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?
Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike
vrees en vertroue op God sal wek. Dit moet die grond van ons gebed wees,
naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en dat Hy ons veel
minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders
aardse dinge ons ontsê (a).
(a)Matt
7:9-11; Luk 11:11-13.
Vraag 121: Waarom word
hier bygevoeg: wat in die hemel is?
Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink
nie (a) en van sy almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het
(b).
(a)Jer
23:23, 24; Hand 17:24, 25, 27. (b) Rom 10:12.
Vraag 122: Wat is die
eerste bede?
Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg
ken (a) en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag,
wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter (b).
Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig
dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word (c).
(a)Joh
17:3; Jer 9:24; 31:33, 34; Matt 16:17; Jak 1:5; Ps 119:105. (b) Ps
119:137; Luk 1:46, 47, 68, 69; Rom 11:33. (c) Ps 71:8;115:1.
Vraag 123: Wat is die
tweede bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees
dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat
dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U
opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word
(c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal
wees (e).
(a)Ps
143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps 51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom
16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor 15:28.
Vraag 124: Wat is die
derde bede?
Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.
Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee (a) om aan u wil, wat
alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees (b), sodat elkeen
sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer (c) soos
die engele in die hemel (d).
(a)Matt
16:24; Tit 2:11, 12. (b) Luk 22:42; Ef 5:10; Rom 12:2. (c) 1 Kor 7:24.
(d) Ps 103:20, 21.
Vraag 125: Wat is die
vierde bede?
Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met
alles wat vir die liggaam nodig is (a), sodat ons daardeur erken dat U die
enigste Bron is van alles wat goed is (b), en dat al ons sorge en arbeid en
ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie (c). Gee daarom dat ons ons
vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel (d).
(a)Ps
145:15; 104:27; Matt 6:26. (b) Jak 1:17; Hand 14:17; 17:27. (c) 1 Kor
15:58; Deut 8:3; Ps 37:16; 127:1, 2. (d) Ps 55:23; 62:11; 146:3; Jer
17:5, 7.
Vraag 126: Wat is die
vyfde bede?
Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.
Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons
nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie (a). Ons
bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die
ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).
(a)Ps
51:3; 143:2; 1 Joh 2:1; Rom 8:1. (b) Matt 6:14
Vraag 127: Wat is die
sesde bede?
Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly
nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld (c) en ons
eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur
die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle
sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk (e) nie,
totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).
(a)Joh
15:5; Ps 103:14. (b) 1 Pet 5:8; Ef 6:12. (c) Joh 15:19. (d) Rom 7:23;
Gal 5:17. (e) Matt 26:41; Mark 13:33. (f) 1 Tess 3:13; 5:23.
Vraag 128: Hoe sluit jy
jou gebed af?
Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning,
wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee (a) sodat
daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word (b).
(a)Rom
10:12; 2 Pet 2:9. (b) Joh 14:13; Jer 33:8, 9; Ps 115:1.
Vraag 129: Wat beteken die
woord Amen?
Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie
sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom
begeer (a).
(a)2 Kor 1:20; 2 Tim 2:13.
|
Die Dordtse Leerreëls
Die
beslissing van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die
Verenigde Nederlande, wat in die jare 1618 en 1619 in Dordrecht gehou is oor die
bekende vyf leerstellings waaroor in die Gereformeerde Kerke van hierdie
Verenigde Nederlande verskil ontstaan het.
Hoofstuk 1: Goddelike uitverkiesing en verwerping (1-18)
-
Alle mense het in Adam
gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou
God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die
sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom
leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal
het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en:
Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).
-
Die liefde van God is
egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het
sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan
hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).
-
Om mense tot geloof te
bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle
boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense
geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan
hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor
sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?
(Rom 10:14,15).
-
Die toorn van God bly op
hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem
en die Verlosser, Jesus, met 'n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom
van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige
lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).
-
Die oorsaak of skuld van
daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie,
maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is
egter 'n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur
die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8),
ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).
-
Dat God aan sommige mense
in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg
uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend
(Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef 1:11). Volgens
hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik
- hoe verhard hierdie harte ook al mag wees - en buig hulle om tot geloof.
Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel
in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring
die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense
wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en
verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en
onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die
heiliges en godvresendes gee dit 'n onuitspreeklike troos.
-
Hierdie uitverkiesing is
'n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping
'n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie
menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike
ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter
of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die
gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy
wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het
Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en
tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die
uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en
Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom.
Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te
gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die
gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid
en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik.
Soos geskrywe is: In
Christus het God Hy ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om
heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons
vir sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van
sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het
in die Geliefde (Ef 1:4,5,6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het,
dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en
die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik (Rom 8:30).
-
Hierdie uitverkiesing is
nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou
sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een
welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van
ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die
saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat
ons daarin kan wandel (Ef 1:4,5; 2:10).
-
Hierdie uitverkiesing het
nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of
enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie.
Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die
mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en
geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die
fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander
saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge
daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor
Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.
-
Die oorsaak van hierdie
genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan
nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade
as 'n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin
dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom
aangeneem het.
Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore
was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie, ..., is vir haar (nl Rebekka) gesê:
Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en
Esau het Ek gehaat (Rom 9:11,12,l3); en: Daar het gelowig geword almal wat
verordineer was tot die ewige lewe (Hand 13:48).
-
God self is alwys,
onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing
nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die
uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.
-
Die uitverkorenes word op
God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid
verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie
versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes
van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in
hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van
God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie
onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die
kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God,
die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (2 Kor 13:5).
-
Vir die kinders van God is
die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede
om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy
barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste
so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan
ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor
die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat
hulle onverskillig sou word deur 'n sondige lewe te lei. Deur die regverdige
oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die
uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor
praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel.
-
Hierdie leer van die
Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die
profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe
Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en
bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van
God - waarvoor dit in die besonder bestem is - uiteengesit word. Hierdie leer
moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder 'n
nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit
alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot 'n lewende troos
vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18).
-
Verder toon die heilige
Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik
aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle
mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die
ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy
volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die
gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie
skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof
én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het
God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy
regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie,
maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die
besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde
maak nie, want dit sou 'n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis
dat God 'n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
-
Hulle wat die lewende
geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van
kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle
ervaar nie - ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof, het
om hierdie dinge in ons te bewerk - moet nie mismoedig word wanneer hulle van
die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes
reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na
die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag.
Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam
te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van
die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie,
behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God
het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte
riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal
wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan
wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle
hulle nie met erns tot God bekeer nie.
-
Die Woord van God, waaruit
ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges
heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond
waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie
twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle
kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7; Hand 2:39; 1 Kor 7:14).
-
Teen iemand wat oor
hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die
regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O,
mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom 9:20); en ook die woorde van ons
Saligmaker: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie?
(Matt 20:15). Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied
aanbid; roep saam met die apostel uit: O diepte van die rykdom en wysheid en
kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want
wie het die gedagte van die Here geken of wie was sy raadsman gewees? Of wie
het iets aan Hom gegee, dat dit vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en
tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid! Amen (Rom
11:33-36).
Verwerping van die dwalings waardeur die Nederlandse Kerke 'n tyd lank in
beroering gebring is (1-9)
Die regsinnige
leer van die uitverkiesing en verwerping is nou uiteengesit
-
Die Sinode verwerp daarom
die dwaling van hulle wat leer: Die hele en volledige besluit van die
uitverkiesing tot saligheid is God se wil om daardie mense salig te maak wat
nog sal glo en in die geloof en geloofsgehoorsaamheid sal volhard. Oor hierdie
besluit is daar niks anders in die Woord van God geopenbaar nie. Die Sinode
leer: Die dwaalleraars mislei hiermee die opregtes en hulle weerspreek
duidelik die Heilige Skrif. Die Skrif getuig immers dat God nie alleen hulle
wat sal glo, wil salig maak nie, maar dat Hy ook sekere bepaalde mense van
ewigheid af uitverkies het. God het aan hierdie mense, in onderskeiding van
ander, in die tyd die geloof in Christus en die volharding geskenk. Soos
geskrywe is: Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld
gegee het (Joh 17:6); en: Daar het gelowig geword almal wat tot die ewige lewe
verordineer was (Hand 13:48). Hy het ons uitverkies voor die grondlegging van
die wêreld om heilig te wees, ens (Ef 1:4).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die uitverkiesing van God tot die ewige lewe is
veelsoortig: die een is algemeen en onbepaald, die ander is besonder en
bepaald. Laasgenoemde val weer in twee dele uiteen: Dit is òf 'n onvolkome
herroeplike, nie-beslissende en voorwaardelike uitverkiesing, òf 'n volkome,
onherroeplike, beslissende en volstrekte uitverkiesing. Verder: Daar is een
uitverkiesing tot die geloof en 'n ander tot die saligheid, dit wil sê daar
kan 'n uitverkiesing tot die regverdigmakende geloof wees sonder dat daar 'n
beslissende uitverkiesing tot saligheid hoef te wees. Die Sinode leer: Dit is
'n versinsel van die menslike verstand wat buite die Skrif om uitgedink is.
Dit vernietig die leer van die uitverkiesing en verbreek hierdie goue ketting
van ons saligheid. Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep;
en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy
geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik (Rom 8:30).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die welbehae en voorneme van God, waarvan die
Skrif in die leer van die uitverkiesing melding maak, bestaan nie daarin dat
God sekere, bepaalde mense bo ander uitverkies het nie. Dit bestaan daarin dat
God uit alle moontlike voorwaardes - soos byvoorbeeld die werke van die wet -
of uit die orde van alle dinge, die wesenlik onverdienstelike daad van die
geloof en die onvolmaakte gehoorsaamheid daarvan tot 'n voorwaarde vir die
saligheid uitverkies het. Dit sou Hy dan genadiglik wou reken as 'n volkome
gehoorsaamheid en dit waardig ag om met die ewige lewe te beloon. Die Sinode
leer: Hierdie skadelike dwaling maak die welbehae van God en die verdienste
van Christus kragteloos. Terselfdertyd word die mense deur nuttelose vrae van
die waarheid van die genadige regverdigmaking en van die eenvoud van die Skrif
weggelei. Daarmee word hierdie uitspraak van die apostel as onwaar bestempel:
God het ons geroep met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar
volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus
geskenk is (2 Tim 1:9).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die voorwaarde wat vir die uitverkiesing tot die
geloof vereis word, is dat die mens die lig van die natuur reg moet gebruik en
vroom, klein, nederig en geskik vir die ewige lewe moet wees - asof die
uitverkiesing op die een of ander manier van hierdie dinge sou afhang. Die
Sinode leer: Dit klink na Pelagius en is in stryd met die leer van die apostel
waar hy skrywe: Ons het vroeër gewandel in die begeerlikhede van ons vlees toe
ons die wil van ons vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature
kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in
barmhartigheid het ons deur sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, toe
ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus - uit genade is
julle gered - en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus
Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, laat betoon die uitnemende rykdom van sy
genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Uit genade is julle
gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. (Ef 2:3-9).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die onvolkome en nie-beslissende uitverkiesing van
spesifieke mense tot saligheid het tot stand gekom uit die vooruitgesiene
geloof, bekering, heiligheid en vroomheid, wat òf net begin het òf al 'n tyd
lank geduur het. Die volkome en beslissende uitverkiesing het egter tot stand
gekom uit die volharding in die vooruitgesiene geloof, in bekering, in
heiligheid en in vroomheid tot die einde toe. Dit is die waarde van die genade
en die evangelie waarvolgens hy wat uitverkies word, waardiger is as hy wat
nie uitverkies word nie. Die geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid,
vroomheid en volharding is dus nie vrugte of gevolge van die onveranderlike
uitverkiesing tot heerlikheid nie, maar noodsaaklike voorwaardes en oorsake
daarvan. In die geval van uitverkorenes, is dit vooraf vereis en vooruitgesien
asof hulle dit reeds volbring het. Die Sinode leer: Dit is in stryd met die
hele Skrif wat hierdie en dergelike uitsprake telkens weer in ons ore en harte
inskerp: Die uitverkiesing is nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep
(Rom 9:11). Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige
lewe (Hand 13:48). Hy het ons in Hom uitverkies ... om heilig ... te wees (Ef
1:4). Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies (Joh
15:16). As dit deur genade is, is dit nie meer uit die werke nie (Rom 11:6)
Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons
liefgehad het en sy Seun gestuur het (1 Joh 4:10).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Nie elke uitverkiesing tot saligheid is
onveranderlik nie, maar sommige uitverkorenes kan verlore gaan en gaan
inderdaad ook vir ewig verlore, nieteenstaande enige besluit van God. Die
Sinode leer: Met hierdie growwe dwaling maak hulle God veranderlik en
vernietig die troos wat die vromes uit die vastigheid van hulle uitverkiesing
put. Ook weerspreek hulle die heilige Skrif wat leer dat die uitverkorenes nie
verlei kan word nie (Matt 24:24); dat Christus almal wat deur die Vader aan
Hom gegee is, nie sal verloor nie (Joh 6:39), en dat God die wat Hy vantevore
verordineer, geroep en geregverdig het, ook verheerlik het (Rom 8:30).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Daar is in hierdie lewe geen vrug, geen besef en
geen sekerheid van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie,
behalwe dié wat van 'n veranderlike en onsekere voorwaarde afhang. Die Sinode
leer: Nie alleen is dit ongerymd om te beweer dat daar 'n onsekere sekerheid
is nie, maar dit stry ook met die ervaring van die heiliges. Uit die besef van
hulle uitverkiesing verheug die heiliges hulle saam met die apostel en roem
hulle in hierdie weldaad van God (Ef 1). In gehoorsaamheid aan Christus verbly
hulle hulle saam met die dissipels dat hulle name in die hemel opgeskrywe is (Luk
10:20). Ook stel hulle die besef van hulle uitverkiesing teenoor die vurige
pyle van aanvalle van die duiwel, terwyl hulle vra: Wie sal beskuldiging
inbring teen die uitverkorenes van God? (Rom 8:33).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: God het oor niemand bloot kragtens sy regverdige
wil besluit om hom in die val van Adam en in die gemeenskaplike staat van
sonde en verdoemenis te laat bly nie. Ook het Hy in die gee van die genade wat
vir die geloof en bekering nodig is, besluit om niemand verby te gaan nie. Die
Sinode leer: Dit staan vas: Hy is barmhartig oor wie Hy wil, en Hy verhard wie
Hy wil (Rom 9:18), en: Die is aan julle gegee om die verborgenhede van die
koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie (Matt
13:11), en: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie
dinge verberg het vir die wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies
geopenbaar het. Ja, Vader, so was dit u welbehae (Matt 1:25,26).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Dit is nie enkel en alleen die welbehae van God
wat die oorsaak is waarom Hy die evangelie eerder na die een as na die ander
volk stuur nie. Dit gebeur omdat die een volk beter en waardiger is as die
ander aan wie die evangelie nie meegedeel word nie. Die Sinode leer: Dit
ontken Moses as hy die Israelitiese volk soos volg toespreek: Kyk, aan die
HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat
daarin is. Maar net aan jou vaders het die HERE 'n welgevalle gehad om hulle
lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke
uitverkies, soos dit vandag is (Deut 10:14,15). En Christus het gesê: Wee jou,
Gorasin, wee jou, Betsaida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade
plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en
as bekeer het (Matt 11:21).
Hoofstuk 2: Die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood
(1-9)
-
God is nie alleen in die
hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy
geregtigheid - soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het - eis dat ons sondes,
wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar
ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan
hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen
word.
-
Ons self kan geen
voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit
oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun
het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir
ons te voldoen.
-
Hierdie dood van die Seun
van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy
dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die
hele wêreld te versoen.
-
Hierdie dood het daarom so
'n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen 'n ware en
volkome heilige mens is nie, maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam
met die Vader en die Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So
moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so 'n groot krag en waarde,
omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons
sondes verdien het, gedra het.
-
Verder is dit die belofte
van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore
sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke
en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige
onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.
-
Baie wat deur die
evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in
ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring
het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.
-
Almal wat egter waarlik
glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered
word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is
van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand
verskuldig is.
-
Dit was immers die volkome
vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader, dat die
lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al
die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die
uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar
salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed
van die kruis - waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het - uit elke volk, stam,
geslag en taal húlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid
af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was
dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook
die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle
verwerf het. Verder, dat Hy hulle van al hulle sondes - sowel die erfsonde as
die daadsonde wat ná en vóór die geloof begaan is - deur sy bloed sal reinig.
Ten slotte, dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar, en uiteindelik
sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.
-
Hierdie raadsbesluit is
die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van
die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig uitgevoer ondanks die
vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds
uitgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam
vergader sal word. Daar sal altyd 'n kerk van gelowiges wees, gegrond in die
bloed van Christus. Hierdie kerk moet sy Verlosser, wat sy lewe aan die kruis
vir die kerk gegee het - soos 'n bruidegom sy lewe vir sy bruid sal gee -
standvastig liefhê en Hom met volharding dien en van nou af tot in alle
ewigheid verheerlik.
Verwerping van die dwalings (1-7)
Die
regsinnige leer is nou uiteengesit.
-
Daarom verwerp die Sinode
die dwaling van hulle wat leer: God die Vader het sy Seun tot die kruisdood
bestem sonder 'n sekere en besondere besluit om iemand sekerlik salig te maak.
Die noodsaaklikheid, nuttigheid en waardigheid van die verdienste van die dood
van Christus sou gevolglik ongeskonde, in alle dele volmaak, volkome en as een
geheel kon bestaan selfs al sou geen enkele mens ooit werklik gedeel het in
die verlossing wat Hy verwerf het nie.
Die Sinode leer: Hierdie leer verag die wysheid
van God die Vader en die verdienste van Jesus Christus en is in stryd met die
Heilige Skrif. Ons Verlosser sê immers: Ek lê my lewe af vir die skape en Ek ken
hulle (Joh 10:15, 27).
En die profeet Jesaja sê van die Verlosser: as sy
siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng,
en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees (Jes 53:10).
Verder
weerspreek dit die geloofsartikel waarmee ons bely dat ons aan die kerk glo.
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Dit was nie die doel van die dood van Christus om
die nuwe verbond van die genade werklik deur sy bloed te bevestig nie. Dit was
alleen maar om vir die Vader eenvoudig die reg te verwerf om opnuut met die
mense 'n verbond van die genade of van die werke, net soos Hy wil, te kan
sluit.
Die Sinode
leer: Dit is immers in stryd met die Skrif wat leer dat Christus Borg en
Middelaar geword het van 'n beter, dit wil sê, van die nuwe verbond (Heb 7:22)
en dat 'n testament eers by 'n sterfgeval geldig is (Heb 9:15,17).
3.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus het deur sy
voldoening vir niemand met sekerheid die saligheid verdien nie; ook nie die
geloof waardeur hierdie voldoening van Christus kragdadiglik tot saligheid
toegeëien word nie. Hy het daarenteen, slegs die mag of die volkome wil vir die
Vader verwerf om opnuut met die mense te handel en om nuwe voorwaardes, soos Hy
wil, voor te skrywe. Die uitvoering daarvan sou van die vrye wil van die mens
afhang. Dit sou dus kon gebeur dat òf niemand òf alle mense dit sou vervul.
Die Sinode
leer: Hierdie mense minag die dood van Christus volkome en aanvaar op geen wyse
die vernaamste vrug of weldaad wat daardeur verkry is nie. Hulle roep weer die
dwaling van Pelagius uit die hel terug.
4.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God die Vader het 'n
nuwe genadeverbond met die mense deur die tussenkoms van die dood van Christus
gesluit. Hierdie verbond bestaan nie daarin dat ons deur ons geloof, vir sover
dit die verdienste van Christus aanneem, voor God regverdig en salig gemaak word
nie. Dit bestaan daarin dat God, nadat Hy die eis van die volmaakte
gehoorsaamheid aan die Wet afgeskaf het, nou die geloof self en die onvolmaakte
geloofsgehoorsaamheid as volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet beskou en dit dan
uit genade waardig ag om dit met die ewige lewe te beloon.
Die Sinode
leer: Hierdie mense weerspreek die Skrif: Hulle word deur sy genade sonder
verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God
voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof (Rom 3:24,25). Met die
goddelose Socinus voer hulle 'n nuwe en vreemde leer oor regverdiging van die
mens voor God in. Dit is in stryd met die eenstemmige belydenis van die hele
kerk.
5.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Alle mense is in die
staat van die versoening en in die genade van die verbond opgeneem, sodat
niemand vanweë die erfsonde aan die verdoemenis skuldig is of verdoem moet word
nie, maar dat alle mense van hierdie sondeskuld vry is.
Die Sinode
leer: Hierdie mening is in stryd met die Skrif wat verklaar dat ons van nature
kinders van die toorn is (Ef 2:3).
6.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat die onderskeid tussen
verwerping en toe-eiening misbruik om by die onversigtiges en onervarenes die
denkbeeld in te prent: Dat God, vir sover dit Hom betref, aan alle mense die
weldade, wat deur die dood van Christus verkry word, in gelyke mate wou meedeel.
Dat sommige die vergifnis van sondes en die ewige lewe deelagtig word en ander
nie, hang van hulle vrye wil af wat hom aanpas by die genade wat sonder
onderskeid aangebied word. Dit hang nie van die besondere gawe van die
barmhartigheid af wat kragdadig in hulle werk, dat hulle, anders as ander mense,
dié genade vir hulleself sou toe-eien nie.
Die Sinode
leer: Daardie mense wat voorgee dat hulle hierdie onderskeiding reg voorstel
probeer om die volk met die verderflike Pelagiaanse dwalings te vergiftig.
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Christus kon en moes nie vir hulle gesterf het vir
wie God volkome liefgehad en tot die ewige lewe uitverkies het nie. Inderdaad
het Hy ook nie vir hulle gesterf nie, omdat hulle die dood van Christus nie
nodig gehad het nie.
Die Sinode
leer: Hulle weerspreek die apostel wat sê: Christus het my liefgehad en het
Homself vir my oorgegee (Gal 2:20).
Met dieselfde
strekking sê hy: Wie sal beskuldinging inbring teen die uitverkorenes van God?
God is dit wat regverdig maak. Wie kan ons veroordeel? Christus is dit wat
gesterf het (Rom 8:33,34), juis vir hulle.
Hulle
weerspreek ook die Heiland wat sê: Ek lê my lewe af vir die skape (Joh 10:15);
Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.
Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee (Joh
15:12,I3).
Hoofstuk 3 en 4: Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse
waarop dit plaasvind
-
Die mens is van die begin
af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en
heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was
hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus
volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil
het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof.
Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid,
verskriklike duisternis ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel,
boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart, sowel as onsuiwerheid van
sy hele gesindheid.
-
Net soos die mens ná die
val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy
verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die
regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het.
Net Christus is hierin 'n uitsondering. Die verdorwenheid van die mens
ontstaan dus nie deur navolging, soos die Pelagiane vroeër beweer het nie,
maar deur die voortplanting van die verdorwe natuur.
-
Alle mense word daarom in
sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds
wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van
die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk,
kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of
onderneem om dit te verbeter nie.
-
Na die sondeval het daar
in die mens tog nog 'n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur
het hy 'n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die
onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in
sekere mate 'n strewe na deug en openbare gedissiplineerdheid. Vir die mens is
dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende
kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in
natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al,
veeleer verduister hy dit heeltemal op verskillende maniere en bedek dit in
ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar voor God vir hom geen
verontskuldiging nie.
-
Net soos met die lig van
die natuur, so is dit ook gesteld met die Tien Gebooie wat God deur Moses in
besonder aan die Jode gegee het. Die wet vlek wel die grootheid van die sonde
oop en oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld, maar dit dui geen
geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie.
Die wet het dus, omdat dit deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, die
oortreder onder die vloek laat bly. Daarom kan die mens nie deur die wet die
saligmakende genade verkry nie.
-
Wat nie deur die lig van
die natuur of deur die wet gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van
die Heilige Gees, deur middel van die Woord of die bediening van die
versoening. Dit is die evangelie van die Messias, waardeur God besluit het om
die gelowiges in die Ou sowel as in die Nuwe Testament salig te maak.
-
Hierdie verborgenheid van
sy wil het God in die Ou Testament aan min mense bekend gemaak, maar in die
Nuwe Testament, waar die onderskeid tussen die volke nou weggeneem is, het Hy
dit aan meer mense geopenbaar. Die oorsaak waarom hierdie bedeling so
verskillend is, moet nie aan die waardigheid van die een volk bo die ander of
aan die beter gebruik van die lig van die natuur toegeskryf word nie, maar aan
die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God. Daarom moet hulle
wat sonder en teen enige verdienste so 'n groot genade deelagtig word, dit met
'n nederige en dankbare hart erken. Die ander wat hierdie genade nie ontvang
nie, moet saam met die apostel die strengheid en regverdigheid van die oordele
van God aanbid sonder om dit met nuuskierigheid te ondersoek.
-
Almal wat egter deur die
evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid
betuig God in sy Woord wat sy wil is: die geroepenes moet na Hom toe kom. In
alle erns beloof Hy ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, die rus vir hulle
siele en die ewige lewe.
-
Baie mense wat deur die
bediening van die evangelie geroep is, kom nie na Hom toe nie en word nie
bekeer nie. Die skuld hiervoor lê nie in die evangelie of in Christus wat deur
die evangelie aangebied is nie, ook nie in God wat mense deur die evangelie
roep en aan hulle ook verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die
geroepenes self. Sommige neem deur sorgeloosheid die Woord van die lewe nie
aan nie. Ander neem dit wel aan, maar nie in die binneste van hulle hart nie,
met die gevolg dat hulle ná 'n kortstondige blydskap van die tydelike geloof
weer terugval. Ander weer, laat die saak van die Woord deur die dorings van
die sorge en deur die welluste van die wêreld verstik en dra geen vrugte nie,
soos ons Verlosser dit in die gelykenis van die saaier leer (vgl Matt 13).
-
Ander mense weer, wat deur
die verkondiging van die evangelie geroep is, kom en word bekeer. Dit moet
egter nie aan die mens toegeskryf word nie asof hy hom deur sy vrye wil van
ander onderskei wat net so 'n groot of genoegsame genade tot geloof en
bekering ontvang het. So stel die hooghartige kettery van Pelagius dit. Dit
moet aan God toegeskryf word. Hy het hulle van ewigheid af in Christus as sy
eiendom uitverkies. Hy roep almal kragdadig in die tyd en skenk hulle geloof
en bekering. Nadat hulle uit die mag van die duisternis verlos is, bring Hy
hulle ook in die ryk van sy Seun, om die deugde van Hom, wat hulle uit die
duisternis tot sy wonderbare lig geroep het, te verkondig en om nie in
hulleself nie, maar in die Here te roem. So getuig die Apostoliese geskrifte
telkens.
-
Verder: wanneer God sy
welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in
hulle werk, dan laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie.
Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat
hulle die dinge van die Gees van God reg verstaan en onderskei nie. Maar deur
die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy
ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart,
versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe
eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat
onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en
versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.
-
Dit is die wedergeboorte,
die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die
Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad
nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige
ander wyse in ons gewerk nie, sodat, na die voltooiing van God se werk, dit
dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word
of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie
aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die
getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge,
geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of
die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God
op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore
word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur
God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook
self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang
het, glo en hom bekeer.
-
Die aard van hierdie
werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is
dit vir hulle 'n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur
hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet.
-
So is die geloof dan 'n
gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied
word nie, maar omdat dit aan die mens inderdaad geskenk word en vir hom
ingegee en ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo
gee nie en daarna van die vrye wil van die mens die instemming of die
daadwerklike geloof verwag nie. Sowel die wil om te glo as die geloof self
word in die mens tot stand gebring. Immers, Hy wat in die mens werk om te wil
sowel as om te werk, bewerk alles in almal.
-
Hierdie genade is God aan
niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Hom vooraf
niks kan gee nie en waarvoor hy dan vergoed moet word? Inderdaad, wat sou God
aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie?
Die mens wat hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid
verskuldig en hy dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie
ontvang nie, heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in
sy eie dinge behae, of beroem hom, sonder om na te dink, tevergeefs op wat hy
het, terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die
openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels,
baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan
ons onbekend. Vir die ander wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid
wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons
volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself in so 'n
bevoorregte posisie geplaas het nie.
-
Die mens het egter deur
die sondeval nie opgehou om 'n mens, toegerus met verstand en wil, te wees nie.
Die sonde, wat die hele menslike geslag deurdring het, het die natuur van die
mens nie weggeneem nie, maar dit bederf en in geestelike sin gedood. Daarom
werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof
hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe
nie, en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil
geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig.
Terwyl sondige opstandigheid en verset vroeër volkome oorheers het, begin 'n
gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand kry. Hierin
lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil. Inderdaad, as
die wonderlike Werkmeester van alle goeie dinge nie so met ons gehandel het
nie, dan sou die mens glad geen hoop hê om deur sy vrye wil uit die sondeval
op te staan nie. Deur sy vrye wil het hy homself, toe hy nog gestaan het, in
die verderf gestort.
-
Die almagtige werking van
God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik
uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie
krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net
so sluit hierdie bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weergebore laat
word, volstrek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omver
nie. Inteendeel, die alwyse God het dit tot 'n saad van die wedergeboorte en
tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels, en die leraars wat hulle
opgevolg het, het dan ook die mense oor hierdie genade van God, tot sy eer en
tot onderdrukking van alle hoogmoed, gelowig onderrig. Hulle het ook nie
nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die
evangelie, onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die
kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat in die gemeente onderrig gee of
die wat onderrig ontvang, hulle ook nie nou aanmatig om God te versoek deur
die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings
word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te
heerliker word die weldaad, wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se
werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom toe, vanweë die middele
sowel as vanweë die verlossende vrug en krag daarvan, alle heerlikheid tot in
ewigheid. Amen.
Verwerping van die dwalings hoofstuk 3 en 4
Die
regsinnige leer is nou uiteengesit
-
Daarom verwerp die Sinode
die dwaling van hulle wat leer: 'n Mens kan eintlik nie sê dat die erfsonde
alleen voldoende is om die hele menslike geslag te veroordeel of om tydelike
en ewige strawwe te verdien nie.
Die Sinode leer:
Hulle weerspreek immers die apostel wat sê: Deur een mens het die sonde in die
wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense
deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom 5:12): en: Die oordeel was uit één
tot veroordeling (Rom 5:16), en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die geestelike gawes of goeie hoedanighede en
deugde soos goedheid, heiligheid en regverdigheid kon nie deel van die wil van
die mens wees toe hy in die begin geskep is nie. Daarom kon dit in die
sondeval ook nie van die wil geskei word nie.
Die Sinode
leer: Dit is in stryd met die beskrywing van die beeld van God wat, volgens die
apostel in Efésiërs 4:24, in geregtigheid en heiligheid bestaan, en beide setel
sonder twyfel in die wil.
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Hierdie geestelike gawes is in die geestelike dood
nie van die mens se wil geskei nie, aangesien die wil op sigself nooit
verdorwe was nie. Dit is slegs deur die verduistering van die verstand en
wisselvalligheid van die neigings verhinder. Wanneer hierdie hindernisse uit
die weg geruim is, kan die wil dan weer sy vrye, aangebore krag uitoefen. Dit
wil sê dit kan allerhande goeie dinge wat hom voorgehou word, self wil en self
kies of nie wil en nie kies nie.
Die Sinode
leer: Dit is 'n nuwigheid en 'n dwaling waardeur die kragte van die vrye wil
verhef word, en dit teen die uitspraak van die profeet. Bedrieglik is die hart
bo alle dinge, ja, verdorwe is dit. (Jer 17:9), en van die apostel: Onder wie (nl
die kinders van die ongehoorsaamheid) ons almal ook vroeër gewandel het in die
begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en die sinne gedoen
het (Ef 2:3).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die mens wat nie weergebore is nie, is nie werklik
en nie heeltemal dood in sondes nie. Ook is alle kragte om die geestelike
goeie te doen hom nie ontneem nie. Hy kan nog honger en dors na die
geregtigheid en die lewe en kan die offer van 'n verslae en gebroke gees, wat
God welgevallig is, bring.
Die Sinode
leer: Hierdie opvattings stry teen die duidelike getuienisse van die Skrif:
Julle was dood deur die misdade en die sondes (Ef 2:1, 5), en: al die versinsels
wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was (Gen 6:5; 8:21).
Buitendien is
honger en dors na bevryding uit die ellende, na die lewe, asook die offer van 'n
gebroke gees aan God, slegs eie aan die wedergeborenes en aan hulle wat salig
genoem word (Ps 51:10; Matt 5:6).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die verdorwe en natuurlike mens kan die algemene
genade (waaronder hulle die lig van die natuur verstaan) of die gawes wat ná
die sondeval nog in hom oorgebly het, tot sy heil gebruik. Deur dit só te
gebruik kan hy 'n groter genade, naamlik die evangeliese of verlossende genade
en die saligheid self, geleidelik en trapsgewys verkry. Op hierdie wyse betoon
God Hom van sy kant bereid om Christus aan alle mense te openbaar. Hy het die
middele wat vir die openbaring van Christus en vir geloof en bekering nodig
is, aan almal genoegsaam en kragdadig geskenk.
Die Sinode
leer: Behalwe die ervaring van alle tye getuig die Skrif immers ook dat dit vals
is, want Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en
verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge,
dié ken hulle nie (Ps 147:19,20), en God het in die tye wat verby is, toegelaat
dat al die nasies in hull eie weë sou wandel (Hand 14:16), en: Hulle (naamlik
Paulus en sy reisgenote) is deur die Heilige Gees verhinder om die woord in Asië
te verkondig; en toe hulle by die grens by Misië kom, het hulle probeer om na
Bithinië toe te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie
(Hand 16:6,7).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Met die ware bekering van die mens word geen nuwe
eienskappe, kragte of gawes in sy wil deur God gestort nie. Daarom is die
geloof, waardeur ons die eerste keer bekeer word en gelowiges genoem word, nie
'n eienskap of 'n gawe wat deur God ingestort word nie, maar net 'n daad van
die mens. Die geloof kan alleen 'n gawe genoem word vir sover as wat die mens
deur sy eie vermoë daartoe kom.
Die Sinode
leer: Daarmee weerspreek hulle die heilige Skrif, wat getuig dat God nuwe
eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte
uitstort: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart (Jer
31:33), en: Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek
sal my Gees op jou nageslag giet" (Jes 44:3), en Die liefde van God is in ons
harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Rom 5:5). Hulle is
ook in stryd met die voortdurende gebruik van die kerk van God, wat in die
woorde van die profeet so bid: Bekeer my, dan sal ek my bekeer (Jer 31:18).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die genade, waardeur ons tot God bekeer word, is
niks anders as 'n ligte aansporing nie; of - soos ander dit verklaar - dít wat
deur die aansporing plaasvind, is die mees gepaste manier om die mens tot
bekering te bring, en pas die beste by die menslike natuur. Daar is geen rede
waarom hierdie aansporende genade alleen nie genoeg sou wees om die natuurlike
mens geestelik te maak nie. God bewerk die instemming van die wil inderdaad op
geen ander manier as deur hierdie aansporing nie. Die krag van die Goddelike
werking, waardeur die sataniese werking oortref word, bestaan hierin dat God
ewig goeie dinge, maar die Satan slegs tydelike voordele belowe.
Die Sinode
leer: Dit is suiwer Pelagiaans en in stryd met die hele heilige Skrif, wat,
behalwe aansporing, nog 'n ander, baie kragtiger en Goddeliker werkswyse van die
Heilige Gees by die bekering van die mens ken: Ek sal julle 'n nuwe hart gee en
'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees
wegneem en julle 'n hart van vlees gee (Eseg 36:26).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: God gebruik by die wedergeboorte van die mens nie
daardie kragte van sy almag waardeur Hy die menslike wil kragtig en feilloos
tot geloof en bekering ombuig nie. As al die genadewerkinge wat God gebruik om
die mens te bekeer, voltooi is, kan die mens nogtans God en die Heilige Gees,
wat sy wedergeboorte beoog en hom weergebore wil laat word, só weerstaan - en
hy doen dit inderdaad ook dikwels - dat hy sy eie wedergeboorte geheel en al
verhinder. Dit bly dus in sy eie mag om weergebore te word of nie.
Die Sinode
leer: Dit beteken niks anders nie as dat al die krag van die genade van God in
ons bekering weggeneem en die werking van die almagtige God aan die wil van die
mens onderwerp word. Dit is in stryd met wat die apostels leer: Ons glo na die
werking van die krag van sy sterkte (Ef 1:19), en: dat God alle welgevalle aan
wat goed is, en alle werk van die geloof in ons met krag volkome maak (2 Tess
1:11), en: sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug
dien (2 Pet 1:3).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die genade en die vrye wil is gedeeltelike oorsake
wat altwee saam die begin van die bekering bewerk. Die genade gaan in hierdie
volgorde ook nie aan die werking van die wil vooraf nie. Dit wil sê: God help
die menslike wil nie kragtig tot bekering voordat die menslike wil nie self in
beweging kom en daarop besluit nie.
Die Sinode
leer: Die ou kerk het hierdie leer al lankal by die Pelagiane veroordeel
kragtens die woorde van die apostel: So hang dit dan nie af van die een wat wil
of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartigheid is (Rom 9:16), net
so ook: Wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? (1 Kor
4:7), en: Dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy
welbehae (Fil 2:13).
Hoofstuk 5 Die volharding van die Heiliges
-
Hulle wat God na sy
voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur
die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van
die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige
natuur en bestaan nie.
-
Hieruit ontstaan die
daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges
is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig,
hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die sondige natuur hoe langer
hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge, en
vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang. So moet hulle volhard
totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in
die hemel regeer.
-
Vanweë hierdie oorblyfsels
van die inwonende sonde, en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die
Satan, kan die bekeerdes nie in die genade volhard as hulle aan hulle eie
kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bevestig Hy
hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot
die einde toe kragtig bewaar.
-
Die mag van God, waardeur
Hy die ware gelowiges in die genade bevestig en bewaar, is so groot dat hulle
nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie. Tog word die bekeerdes nie
altyd so deur God gelei en beweeg dat hulle - deur hulle eie skuld - in
sommige besondere gevalle nie van die leiding van die genade sou kon afwyk en
deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei word en dit navolg nie.
Daarom moet hulle voortdurend waak en bid dat hulle nie in versoekings gelei
word nie. As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die
wêreld en Satan tot groot en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook
inderdaad, onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die
droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges, wat vir ons in die heilige
Skrif beskryf is, bewys dit.
-
Met sulke growwe sondes
vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood en bedroef hulle die
Heilige Gees, versteur hulle die oefening in die geloof, verwond hulle die
gewete ernstig en verloor hulle soms 'n tyd lank die besef van die genade. Dit
gebeur totdat God, wanneer hulle deur 'n opregte berou op die regte pad
terugkeer, weer die lig van sy Vaderlike aangesig oor hulle laat skyn.
-
God, wat oneindig
barmhartig is, neem, weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing,
sy Heilige Gees nie heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle
jammerlike sonde val nie. Hy laat hulle ook nie só diep val dat hulle uit die
genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie. Ook
laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees
begaan en, heeltemal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort
nie.
-
Wanneer hulle so in die
sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle
weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Tweedens vernuwe
Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot bekering. Die gevolg is
dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het van harte en volgens die wil van
God berou het en deur die geloof, met 'n gebroke hart, vergifnis in die bloed
van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God wat
nou met hulle versoen is, aanbid hulle sy ontferming en trou om daarna met
groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk.
-
Dat hulle nie heeltemal
uit die geloof en die genade uitval of ook tot die einde in die sonde bly of
verlore gaan nie, verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie,
maar weens die genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het,
kon dit nie alleen maklik gebeur het nie, maar sou dit ook ongetwyfeld gebeur
het. Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Immers, sy
raad kan nie verander, sy belofte kan nie verbreek, die roeping na sy voorneme
kan nie herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie
kragteloos gemaak word nie, net so min as wat die verseëling deur die Heilige
Gees verydel of vernietig kan word.
-
Die gelowiges kan
sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en
van die volharding van die ware gelowiges in die geloof. Hulle het hieroor
sekerheid volgens die maat van die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle
ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle
vergifnis van sondes en die ewige lewe het.
-
Hierdie sekerheid spruit
dus nie voort uit enige besondere openbaring wat sonder of buite die Woord
plaasgevind het nie, maar uit die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy
Woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar het; uit die getuienis van die
Heilige Gees: Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God
is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God,
mede-erfgename van Christus (Rom 8:16,17), en, laastens, uit die ernstige en
heilige strewe na 'n goeie gewete en goeie werke. As die uitverkorenes van God
in hierdie wêreld nie hierdie vaste troos het dat hulle die oorwinning sal
behou en hierdie onfeilbare pand van die ewige heerlikheid sou besit nie, dan
sou hulle die ellendigste van al die mense wees.
-
Voorts getuig die Skrif
dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry
en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle
geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar
God, die Vader van alle vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hulle kragte
versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms (1 Kor
10:13), en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die
volharding in hulle wakker.
-
Dit is egter totaal
onmoontlik dat hierdie sekerheid van die volharding die ware gelowiges
hoogmoedige en sorglose mense sou maak. Inteendeel, dit is 'n ware wortel
waaruit die nederigheid, die kinderlike vrees, die ware vroomheid, die
volharding in alle stryd, die vurige gebede, die standvastigheid onder die
kruis, die standvastigheid in die belydenis van die waarheid en die
standvastigheid van 'n blywende vreugde in God spruit. Ook is die oordenking
van hierdie weldaad vir hulle 'n aansporing tot ernstige en aanhoudende
beoefening van dankbaarheid en goeie werke, soos uit die getuienisse van die
Skrif en die voorbeelde van die heiliges blyk.
-
Wanneer die vertroue in
die volharding weer lewendig word in hulle wat uit 'n val in sonde weer
opgerig word, bring dit geen ligsinnigheid of verwaarlosing van die vroomheid
nie, maar eerder 'n baie groter begeerte om nougeset in die paaie van die Here
te wandel. Hierdie paaie is vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou
hulle gevolglik die sekerheid van hulle volharding. 'n Verdere gevolg is dat
die aangesig van die versoende God - waarvan die aanskouing vir die gelowiges
soeter as die lewe en die verberging bitterder as die dood is - nie weer weens
hulle misbruik van sy Vaderlike goedheid van hulle afgewend word en hulle só
in swaarder gemoedskwellings verval nie.
-
Dit het God behaag om
hierdie Goddelike genadewerk deur middel van die verkondiging van die
evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy
dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die
aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die
heilige sakramente.
-
Hierdie leer van die
volharding van die ware gelowiges, dit wil sê die heiliges, en van die
sekerheid daaroor, het God tot eer van sy Naam en tot troos van die gelowiges
uitvoerig in sy Woord geopenbaar en in die harte van die gelowiges ingeprent.
Die sondige natuur verstaan hierdie leer nie, die Satan haat dit, die wêreld
bespot dit, onkundiges en huigelaars misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit.
Die Bruid van Christus het dit egter altyd as 'n skat van onberekenbare waarde
innig liefgehad en dit volhardend verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook
in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning stand hou nie, nog minder
kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige
Gees, kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Verwerping van die dwalings oor die leer van die volharding van die heiliges
Die
regsinnige leer is nou uiteengesit.
-
Daarom verwerp die Sinode
die dwaling van hulle wat leer: Die volharding van die ware gelowiges is nie
'n vrug van die uitverkiesing of 'n gawe van God wat deur die dood van
Christus verwerf is nie. Dit is 'n voorwaarde (soos hulle sê) van die nuwe
verbond wat die mens, voor sy finale uitverkiesing en regverdiging, deur sy
vrye wil moet volbring.
Die Sinode leer: Die heilige Skrif getuig immers
dat die volharding die vrug is van die uitverkiesing en dat dit deur die krag
van die dood, die opstanding en die voorbidding van Christus aan die
uitverkorenes gegee word: Die uitverkorenes het dit verkry en die ander is
verhard (Rom 11:7), ook Romeine 8:32-35: Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar
nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook
alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes
van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is
dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die
regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde
van Christus?
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: God gee die gelowige wel genoeg krag om te volhard
en is bereid om dit in hom te bewaar, mits die mens sy plig doen. Al is alles
wat nodig is om in die geloof te volhard en wat God wil gebruik om die geloof
te bewaar, ook in werking gestel, dan nog hang dit altyd van die oordeel van
die wil af of die mens sal volhard of nie sal volhard nie.
Die Sinode
leer: Hierdie mening is duidelik 'n Pelagiaanse dwaling. Terwyl dit die mense
vry wil maak, beroof hulle God van sy eer. Dit is ook in stryd met die
deurlopende getuienis van die evangeliese leer wat die mens alle stof tot roem
ontneem en die lof vír hierdie weldaad alleen aan die genade van God toeskryf.
Dit is verder ook in stryd met die uitspraak van die apostel: Dit is God wat ons
ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag dat onse Here Jesus Christus
onberispelik te wees (1 Kor 1:8).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan nie
alleen heeltemal en onherroeplik uit die regverdigende geloof, die genade en
saligheid uitval nie, maar val inderdaad ook dikwels daar uit en gaan vir ewig
verlore.
Die Sinode
leer: Hierdie opvatting maak juis die genade van die regverdiging en die
wedergeboorte en die voortdurende bewaring deur Christus kragteloos. Dit is ook
in stryd met die nadruklike woorde van die apostel Paulus: As Christus vir ons
gesterf het toe ons nog sondaars was, veel meer dan sal ons, noudat ons
geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn (Rom 5:8,9), en
van die apostel Johannes: Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie,
omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore (1
Joh 3:9). Net so is dit in teëspraak met die woorde van Jesus Christus: Ek gee
my skape die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en
niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is
groter as almal: en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie (Joh
10:28,29).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan die sonde
tot die dood of dié teen die Heilige Gees begaan.
Die Sinode
leer: Dieselfde apostel Johannes, nadat hy in 1 Johannes 5:16, 17 melding gemaak
het van hulle wat tot die dood sondig, en dit verbied het om vir hulle te bid,
voeg dadelik in v. 18 daarby: Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie
sondig (naamlik met so 'n sonde) nie, maar hy wat uit God gebore is, bewaar
homself, en die Bose het geen vat op hom nie (1 Joh 5:18).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: 'n Mens kan in hierdie lewe geen sekerheid van die
toekomstige volharding sonder 'n besondere openbaring besit nie.
Die Sinode
leer: Deur hierdie leer word die vaste troos wat die ware gelowiges in hierdie
lewe het, weggeneem en die twyfel van die pousgesindes weer in die kerk ingevoer.
Die heilige Skrif lei egter hierdie sekerheid nie telkens uit 'n besondere en
buitengewone openbaring af nie, maar uit die kenmerke wat aan die kinders van
God eie is, en uit die standhoudende beloftes van God. Dit kom veral na vore by
die apostel Paulus in Romeine 8:39: Geen skepsel sal ons skei van die liefde van
God wat daar in Christus onse Here is nie en by Johannes: Hy wat sy gebooie
bewaar, bly in Hom en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die
Gees wat hy ons gegee het (1 Joh 3:24).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die leer van die sekerheid van die volharding en
van die saligheid is, kragtens sy eie aard en wese, 'n kussing vir die sondige
natuur en skadelik vir die vroomheid, goeie sedes, gebede en ander heilige
handelinge. Daarteenoor is dit selfs lofwaardig om daaraan te twyfel.
Die Sinode
leer: Daarmee wys hulle immers dat hulle die krag van die Goddelike genade en
die werking van die Heilige Gees wat in ons woon nie ken nie. Ook weerspreek
hulle die apostel Johannes wat met uitdruklike woorde die teendeel in sy, eerste
brief leer: Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar
wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, wanneer Hy verskyn, aan Hom gelyk
sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom
het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh 3:2,3). Buitendien word hulle weerlê
deur die voorbeeld van die heiliges van die Ou en Nuwe Testament. Hoewel hulle
van hulle volharding en saligheid seker was, het hulle nogtans in die gebede en
ander geloofshandelinge volhard.
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Die geloof van hulle wat slegs 'n tyd lank glo,
verskil net in tydsduur van die regverdigende en saligmakende geloof.
Die Sinode
leer: Christus stel immers self duidelik in Matthéüs 13:20 en Lukas 8:13 en
volgende verse nog 'n drieledige onderskeid vas tussen hulle wat net 'n tyd lank
glo en die ware gelowiges. Hy sê: Eersgenoemdes ontvang die saad op rotsagtige
grond, maar die gelowiges in goeie grond of in goeie harte; eersgenoemdes is
sonder wortel, maar die gelowiges het 'n vaste wortel; eersgenoemdes dra nie
vrug nie, maar die gelowiges dra met standvastigheid of volharding in
verskillende mate hulle vrugte.
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Dit is nie ongerymd dat die mens sy eerste
wedergeboorte verloor en daarna weer, selfs baie keer, weergebore word nie.
Die Sinode
leer: Met hierdie leer ontken hulle die onverderflikheid van die saad van God
waardeur ons weergebore word, en kom hulle in stryd met die getuienis van die
apostel Petrus: Julle wat wedergebore is, nie uit verganklike saad nie, maar uit
onverganklike (1 Pet 1:23).
-
Die Sinode verwerp die
dwaling van hulle wat leer: Christus het nêrens gebid dat die gelowiges in die
geloof onfeilbaar sou volhard nie
Die Sinode
leer: Hulle weerspreek Christus self, wat sê: Maar Ek het vir jou gebid, Petrus,
dat jou geloof nie mag ophou nie (Luk 22:32); en die evangelis Johannes, wat
getuig dat Christus nie alleen vir die apostels gebid het nie, maar ook vir
almal wat deur hulle woord sou glo: Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam en: Ek
bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose
bewaar (Joh 17:11,15, 20).
BESLUIT
Die
voorgaande is dan die duidelike, eenvoudige openhartige verklaring van die
regsinnige leer aangaande die Vyf Artikels waaroor in Nederland verskil van
mening is. Tegelykertyd is dit die verwerping van die dwalings waardeur die
Nederlandse kerke 'n tyd lank in beroering was. Die Sinode oordeel dat hierdie
uiteensetting en verwerping uit die Woord van God geneem is en met die
belydenisse van die Gereformeerde Kerke ooreenstem. Hieruit blyk dit duidelik
dat mense vir wie dit allermins betaamlik was, in stryd met alle waarheid,
eerlikheid en liefde die volk die volgende wou wysmaak:
-
dat hierdie leer 'n
oorkussing van die duiwel en die sondige natuur en 'n vesting van die Satan
is, waaruit hy vir alle mense hinderlae opstel, die meeste verwond en baie met
pyle òf van wanhoop òf van sorgeloosheid dodelik tref;
-
dat hierdie leer God tot
outeur van die sonde, 'n onregverdige, 'n tiran en 'n huigelaar maak en dat
dit niks as die herleefde leer van die Stoïsyne, Manigeërs, Libertyne en
Moslems is nie;
-
dat hierdie leer die mense
sorgloos maak en dat hulle hulle daardeur verbeel dat, op watter wyse hulle
ook al leef, dit nie die saligheid van die uitverkorenes verhinder nie en dat
hulle gevolglik sonder kommer allerhande afskuwelike sondes kan doen;
-
dat dit die verworpenes
nie tot saligheid strek nie, selfs al sou hulle inderdaad ook al die werke van
die gelowiges verrig;
-
dat volgens hierdie leer
God enkel en alleen deur sy wilsbesluit en sonder oorweging of inagneming van
enige sonde van enig-iemand die grootste deel van die wêreld vir die ewige
verderf voorbeskik en geskep het;
-
dat net soos die
verkiesing die fontein en die oorsaak van die geloof en die goeie werke is,
die verwerping ook so die oorsaak van die ongeloof en goddeloosheid is;
-
dat baie onskuldige
kinders van gelowiges van die moederbors weggeruk en op wreedaardige wyse in
die hel gegooi word, sonder dat die bloed van Christus of hulle doop of die
gebede van die kerk by hulle doop vir hulle tot voordeel kan wees.
En watter
baie ander soortgelyke bewerings is daar nie wat die Gereformeerde Kerke nie
alleen nie aanvaar nie maar ook van maar ook van ganser harte verfoei!
Daarom doen
hierdie Sinode van Dordrecht in die Naam van die Here 'n beroep op almal wat die
Naam van ons Verlosser Jesus Christus gelowig aanroep, om die geloof van die
Gereformeerde Kerke nie te beoordeel op grond van hier en daar saamgeroepte
lasteringe of op grond van persoonlike uitsprake van verskeie ouer of jonger
leraars nie. Hierdie uitsprake word dikwels slegs met kwade bedoelings aangehaal
of vermink en tot 'n verkeerde betekenis verdraai. Hulle moet eerder op grond
van die openbare belydenisse van genoemde Gereformeerde Kerke oordeel en op
grond van hierdie uiteensetting van die regsinnige leer wat met algemene
instemming van almal saam en van elke lid van die hele Sinode afsonderlik
vasgestel is.
Vervolgens
vermaan die Sinode hierdie lasteraars ernstig dat hulle moet besef watter swaar
oordeel van God hulle oor hulleself bring as hulle teen soveel kerke en teen die
belydenisse van soveel kerke valse getuienis gee, die gewetens van die swakkeres
in beroering bring en naarstiglik streef om by baie mense die gemeenskap van die
ware gelowiges verdag te maak.
Ten slotte
doen hierdie Sinode 'n beroep op alle mededienaars in die evangelie van Christus
om hulle in die behandeling van hierdie leer in die skole en in die kerke vroom
en gelowig te gedra. Hulle moet hierdie leer sowel mondeling as skriftelik tot
eer van Naam van God, tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae
harte uitlê. Hulle moet in ooreenstemming met die Skrif nie alleen na die reël
van die geloof dink nie maar ook praat. Eindelik moet hulle hulle weerhou van
alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige
Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars 'n gegronde
rede gee om die leer van die Gereformeerde Kerke sleg te maak Of te belaster.
Mag die Seun
van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van die Vader sit en aan die
mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die
waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die
getroue dienaars van sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat
al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van hoorders mag strek. Amen.
|